Die bekoring van die onbekende

images

Ek glo vas dat ek elke dag iets nuut moet leer. Dat die heelal soveel bevat wat ek nog nie weet nie. Natuurlik is die kanse skraal dat ek alles te wete sal kom wat daar is, maar ek troos my daaraan dat alle kennis reeds daar is. Alles wat te wete is, alles wat die mens kan bedink en nuuskierig oor is, is reeds iewers in die kollektiewe geheue gestoor. En ek verbeel my dat net soos in ‘n biblioteek die kennis daar gerangskik is in alfabetiese volgorde. Dit maak vir my sin dat as alle inligting op die onsigbare internet te vinde is, dit mos in die onsigbare kollektiewe geheue gereed moet wees vir wanneer ‘n weetgierige siel se nuuskierigheid die oorhand kry. En met die tik van ‘n paar sleutelwoorde sit ons verstom oor alles wat voor ons op die rekenaarskerm verskyn wat van iewers uit die kollektiewe geheuebank opgeroep is. Dan verwonder ek my oor alles wat daar is. Wat reeds daar was.

Daar is niks nuut onder die son nie . . . Alles wat is was alreeds.

Wat staan my dan te doen? Wat is dan my verantwoordelikheid teenoor hierdie wonderbaarlike geskenk wat voor my oopvou en my uitnooi om te ondersoek, te ontdek en te grawe tot ek ‘n hele versameling goeters en dinge weet wat ek nie netnou geweet het nie?

Ek moet met omsigtigheid omgaan met my nuut verworwe kennis en vaardigheid. Ek moet sif en versigtig uitsoek dit wat opbouend en goed is vir my. Die skadelike moet ek eenkant sit en my rug daarop keer.

Want nie alles is waardig nie. Nie alles is opbouend nie. Gaan lees maar in die Boek.

Ek is intens dankbaar dat daar iewers daar buite iemand was wat gewonder het oor kommunikasie. Oor hoe dit werk, hoe dit gedoen kan word op groot skaal. En toe saam met ‘n paar mede-weetgieriges die internet uitgevind het. Dis toe dat ons op rekenaars en skootrekenaars, en uiteindelik iPad en ander wonderlike goed begin tik, praat, deel en kennis versprei het. Net daar is die heelal vir ons bewustelik oopgesluit en is alle kennis beskikbaar met die tik van ‘n paar woorde.

Daar is darem boeke. Wonderlike boeke met onbeskryflike hoelveelheid kennis in. Ongelukkig is dit nie vir almal toeganklik nie. Maar die internet is op elke selfoon, rekenaar en tablet vir almal wat iets wil weet.

Vir lank het ek gesukkel met ‘n skootrekenaar wat gedreig het om die gees te gee en dit toe ook gedoen het. Ek moes leer hoe om my data daar af te kry en op ‘n klein dingetjie so groot soos my duim se eerste lit af te laai. En om dit van daar af te besigtig en weer op ‘n ander – vir my ‘n wildvreemde – toestel af te laai. En, ag tog, om die nuwe toestel te leer ken was weer ‘n perd van ‘n ander kleur. Maar, en ek is skoon pronkerig daaroor, ek het dit reg gekry en is nie bietjie trots op myself nie. Wat is die brein en die internet tog ‘n wonderlike ding!

Ek het iets nuut geleer. In die vorige jare en eergister en gister en vandag. Ek is nie meer wat ek gister was nie, want ek het nuwe vaardigheid en kennis bygekry. En dit maak van my ‘n ander mens.

Dankie daarvoor. Ek sal die wete dat ek kan, koester.

‘n Vreemde vreugde

Destinsed to Love Sjinees edxoa5_m

Soms gebeur daar iets so onwaarskynlik dat mens dit eers van alle kante moet beskou om te glo wat jy sien. Ek het in 2015 op ‘n skrywer afgekom wat sy boek in Sjinees laat vertaal het en volgens hom het dit baie goed gevaar in al die Sjinese boekwinkels. Die mark is geweldig groot en die uitgewers – Fibreread – redigeer, vertaal, druk en versprei die boek op hul koste. Daar is vanselfsprekend ‘n geskrewe kontrak (gelukkig in Engels!). Ek het navraag gedoen en mooi gelees, uitgevra en met ander skrywers gesels en toe besluit as hulle kan, kan ek ook. En siedaar, vandag verskyn my Engelse liefdesroman Destined to Love toe in Sjinees by die boekwinkel PUBU in Taiwan. Dit gaan eersdaags ook in Sjina en Hong Kong beskikbaar wees. Ek word op hoogte gehou van die vordering.

Kan daar nou lekkerder ding met my gebeur? Ek is pienk getiekel hieroor en verwonder my oor vorentoe.

Ek glo steeds in wonderwerke.

Rachelle

As ek jou nooit gesien het nie

 

Wat as ek jou nie daardie oggend in die veld met die paadjie langs sien stap het nie? Ek sou ek nooit in jou oë gekyk en my tuiste daar gesien het nie. Ek sou nie die groen en klamte aan jou lyf geruik het nie, die mistigheid sou ons nie in-kokon nie. Die water in die stroom sou ophou huppel en die voëls sou gedemp in die bome nesmaak. Die skuif van wolke in die helder lig sou stadiger wees, die wit bolle watte vuiler teen die blou. Die asem van die wind sou nie so sag oor my gaan nie. Die skemer sou nie so fluisterend na my roep nie.

Wat as ek jou nooit gesoen het nie? Ek sou nie weet van die geur van jou mond en die hitte van jou hande teen my lyf nie. Wat as ek jou nooit weer omhels nie? Sal my lyf jou afdruk teen my dowwer onthou? Wat as jou hand nie weer warm om myne vou nie? Sal ek alleen en los verdwaal op vreemde paaie?

Was as ek nooit jou lag weer hoor nie? My vreugde sou vlak wees soos poele in die reën, en as ek nooit weer saam met jou huil nie sal riviere droog in lope lê en soos dors aarde smekend roep.

Wat as ek jou stem verloor, die murmel van jou woorde sagter klink en weg gaan lê in holtes van vergeet? Dan sou musiek sy melodie verloor en valse wysies toor.

Wat as jy hier gebly het?

Dan sou ons saam ʼn dag gemaak het soos geen ander dag nie. Ons sou die hemel betree en die aarde skud. Ons sou die engele laat sing en die wolke teen die lug laat jaag. Ons sou saam van die bergtop tree en die vlug van die arend namaak. Ons sou sweef op die wind en die storms gaan haal. Ons sou lag oor vandag en gister onthou.

As jy net gebly het.

Wat sou gebeur as . . .?

 

Eende oor water 10923580_1599093370310530_691186800156967024_n

Wat sou gebeur as die Skepper stilletjies in sy binnekamer skep, en sy groot sonsondergange, sy skemeroggend werke in sy geheime ateljee rondom hom uitstal?

Wat sou gebeur as Hy sy kwaste stilletjies in kleure doop en geheimsinnig goddelik skep, sy stil misterie vasvang in ver valleie, in mistige riviere, in grootse berge? En dan sy donker deur agter hom sluit.

Wat sou gebeur as Hy skelm glimlag en die stowwerige bosveld, grys koppies en glimmende poele water na die reën, met breë kwas tot polsende lewe roep en dan sy vensters agter donker doek verberg?

Wat sou gebeur as Hy skelmpies asem blaas in die eende in die plaasdam, die skroppende hoenders in die agterplaas, die kiewiet wat op lang bene kwetterend agter haar kuiken aan roep, dan die son en maan in sy ateljee uitdoof om homself alleen en in afsondering te verlustig in sy skepsels?

Wat sou gebeur as Hy die sluier van die reën oor die wuiwende gras, die geur van die grond, die roep van die visarend, die swart doringbome, alleen in sy ateljee skep en sy kluis se slotte sluit.

Wat sou gebeur as Hy sy wonderwoorde van ons weerhou? As hy skelmpies goddelik dig, groot werke skryf en dit wegsteek in diep laaie?

Wat sou gebeur as Hy sy musiekinstrument te voorskyn bring en note uit sy vingers drup soos nektar, maar die ore van sy hoorders sluit?

O, hoe sou dit wees as Hy sy skepping van sy skepsels weerhou en hulle dan dieselfde doen?

Die blywende vreugde

Pearls canstockphoto6111406

Daar is min wat vergelyk met die gevoel van diep bevrediging as mens iets gedoen het wat aan jou vreugde en genoegdoening verskaf. Dink nou maar aan ’n goeie boek. Daardie sug van behaaglikheid as mens die laaste bladsy lees; die laaste paragraaf; die laaste sin. Dan blaai jy eers weer terug na die stukke wat jy gemerk het om weer te lees. Dit is soos reën op droë grond, soos dou in die oggend, soos wind wat deur jou waai en jou verfris na ’n lang dag se hitte.

Ek het saam met die karakters van Nicholas Sparks deur hul wonderlike lewens gestap. As leser het ek stil geword by die beskrywings van die natuur, die agtergrondsketse, die intense gevoelvolheid waarmee hierdie skrywer sy karakters in sy verhale in weef. Ek het soms onwillekeurig my oë gesluit om te voel en te sien wat hy beskryf. Die prentjies is so duidelik asof ek self daar was, in die verhaal op daardie tydstip.

Dit is ʼn kuns om die konteks en die omgewing waarbinne jou verhaal afspeel so te beskryf dat die leser dit in sy verbeelding kan sien en ervaar. Dit is ook iets wat heel dikwels afgeskeep word. Niemand bestaan tog in ʼn vakuum nie. Daar is altyd ʼn plek, ʼn omgewing, ʼn huis of blyplek, ʼn straat, ʼn beroep wat beskryf moet word. Daar is die natuur, die wind en die weer. Al hierdie dinge gee vleis aan jou storie en help die leser om die karakters in die konteks te plaas waar die verhaal hom afspeel.

Ek het geleer om met my hart en my sintuie te skryf, en te lees. Daar is geen ander manier nie.

Rachelle

 

Die storievloed

 

tb_waterfall_wallpaper_avantzone-1024x768

Die saadjie van ’n storie vat sy tyd om te ontkiem en om vrug te dra. Nuwe skrywers moet besef dat die vrug daarvan nie ryp gedruk kan word nie. Net soos met enige  lewende organisme, moet dit tyd gegun word om te groei tot volwassenheid. ʼn Storie is ʼn lewende ding; dit is iets wat in jou groei en vorm aanneem totdat jy weet waar jy met die verhaal wil heen. Wees geduldig en werk daaraan soos dit na jou toe kom.

Dit kan natuurlik gebeur dat die volledige verhaal jou oorval soos ʼn damwal wat breek, en dan moet jy swem saam met die vloei en skryf! Dit het met my gebeur in die eerste twee boeke van die Fynbos-reeks – Kwiksilwer en Tuiste vir my Hart. Doepa vir my Hart het rustiger gevloei, maar ek is weereens meegesleur deur die vloed van Pad na my Hart, die vierde boek in die reeks. Formule vir my Hart se grondwerk is reeds in die vierde boek gelê en toe kon ek rustig voortgaan met die skryf daarvan. (Kyk gerus by https://rachelledubois.com/nuwe-boeke/ vir meer inligting oor die boeke.)

Die boek waaraan ek tans werk, kom met verdrag en dit is ʼn pynlose en uitgerekte proses, want die storie laat hom nie ontken of onderdruk nie. Soos die verhaal hom binne my ontvou, sien ek hoe die storielyn stadig koers kies, soos ʼn rivier vertak en uitstoot na ander oewers. Ek moet versigtig wees om nie te lank te talm by een van die sylope nie, want die hoofaar van my storierivier is en bly die belangrikste. Ek moet dit vermy om af te dwaal na die sytakke waar die byspelers wink. Die hoofkarakters swem in die hoofaar en ek moet my aandag op hulle toespits, en net die byspelers bywerk om verder lyf te gee aan my verhaal.

Dit is krities belangrik om van die begin af te bepaal wie se storie dit is. Wie is die hoofkarakter en wat gebeur met hom/haar? Ek moes dit eers weet, anders sou ek vasval in die moeras van te veel sytakke – byspelers. Ek kan nie almal se storie skryf nie – in die liefdesroman is daar immers net een hoofkarakter, of hoogstens twee.

My voorneme is om elke dag te skryf soos wat die verhaal hom in my verbeelding afspeel. Ek het ʼn doelwit van ongeveer 2000 woorde per dag en as ek so kan voortgaan sal ek die middel van my boek binne 30 dae bereik. Dit vat ysere selfdissipline en ek gaan probeer – een dag op ʼn slag.

Kom ons skryf. Trek die rekenaar nader en skryf jou storie, maar eers as jy baie ander boeke gelees het en ook geleer het hoe om te skryf.

Rachelle

Die groot vraag

Writers block

Daar is een vraag wat elke skrywer moet vra en antwoord voor daar met ‘n nuwe boek begin word: wat is die kern van die storie, of dan nou, waaroor gaan die verhaal? Jy moet dit in een sin kan beskryf. Jy weet oor wie dit gaan; die hoofkarakters is aan jou goed bekend. Maar waaroor gaan die storie nou eintlik? Voor jy nie hierdie vraag kan antwoord nie sal jy aanhou skryf tot by ‘n punt en dan daar vashaak. ʼn Storie moet ʼn baie duidelike begin, middel en ʼn einde hê, en sonder ʼn baie duidelike kernprobleem of doelwit sal jou verhaal plat val.

Dis belangrik om eers mooi te dink oor die volgende vrae voor jy druk op jouself toepas en met ‘n halfgewaste storie vorendag kom:

  • Wie se storie is dit?
  • Wat gebeur hier?
  • Wat is op die spel vir die karakters, hul mense, hul omgewing?

Ek stel voor jy formuleer heel eerste die sinopsis – die kort beskrywing wat op die agterblad van jou boek gaan staan en jou boek gaan verkoop of nie. Dit moet ongeveer 250 – 300 woorde bevat. Jy moet dit in drie stappe kan vertel:

  • Wie is betrokke? Hier moet jy jou hoofkarakter kortliks bekend stel. Wie sy is, wat sy doen, ensovoorts
  • Wat? Wat gebeur toe wat dinge deurmekaarkrap?
  • En nou? Nou is daar moeilikheid (of dalk nie? Dit sal van jou storie afhang.)

Nou het jy klaar ’n idee van waaroor jou storie gaan. Die volgende stap in die uitpluis van jou kernprobleem is egter uiters belangrik. Ek stel voor dat jy so te werk gaan:

Skryf die spieëloomblik – dit is die toneel reg in die middel van die boek – die draaipunt. Dit is daardie punt waar die karakters te staan kom voor hul eie tekortkominge, waar hulle selfondersoek doen, wanneer hulle besef dat dinge nie is soos wat dit lyk of moet wees nie. Dis ʼn diep en emosionele ervaring as hulle agterkom dat iets sal moet verander, synde hulself of hul situasie. Dit moet die kruks van jou storie wees – die kern van jou verhaal. Dit is waaroor jou storie gaan. Jy moet hierdie kern kan bepaal voor jy wegval en skryf.

Ja, jy moet weet ongeveer hoe lank jou boek gaan wees en dit sal bepaal word deur die genre waarin jy wil skryf. Gaan doen maar bietjie navorsing oor die algemene riglyne en vereistes van die uitgewers, alhoewel dit vir my voorkom of daar nie regtig universele konsensus is oor presies hoe lank ʼn storie moet wees nie. (Aantal woorde.)

Nou kan jy by die eerste hoofstuk begin en dan stelselmatig na die draaipunt toe werk. Dit moet in elke hoofstuk opbou na die spieëloomblik toe. Van die middel af begin die konflik erger oplaai soos wat die karakters probeer om die probleem op te los. Wat is dit wat hul keer om hul doel te bereik? Jy kan maar so ʼn stok of twee in die speke steek om dinge interessant te hou en die konflik aan te blaas, maar dit moet volgehou word tot by die resolusie daarvan aan die einde van die storie.

Ek het nou met my sowel as met voornemende skrywers gepraat, want dit is waar ek myself op die oomblik bevind. Ek het die naam, die voorblad, die karakters, maar ek weet nie waaroor my storie gaan nie. Ek het dit al twee keer begin en gelos. Miskien sal my eie raad die hek waarvoor ek reeds te lank staan oop gooi en my deurlaat om die pad te begin stap saam met die interessante mense in die sesde boek van die Fynbos-reeks, Visioen van my Hart.

Kom ons skryf!

Rachelle