Archive | January 2014

Die Lied van Lorelei – Tweede Boek

a8abc0f6-b3d0-4da1-b7da-fac5937ae815[1]

Die e-boek formaat van Die Lied van Lorelei is nou beskikbaar op Kindle Books SA E-Reads. (Sien die skakel by Nuwe Boeke). Ek hoop om dit ook op Kalahari.com te sien gedurende hierdie week. Die harde boek  is nog by die drukkers en behoort teen volgende week afgelewer te word. Die eerste kennisgewings na die boekwinkels toe is reeds uitgestuur en ek hou styf duim vas dat die boeke ook eersdaags in al die groot boekwinkels beskikbaar sal wees.

Elke dag gee ek een stap vorentoe en elke dag is vir my vol vreugde en opgewondenheid oor  nuwe verwikkelinge en nuwe vooruitsigte. Ek kry gedurig nuwe insigte uit my omgewing en ek leer van die kinders, die miere en die diere.

Ek sien dat liefde universeel is en dat ons almal ‘n behoefte daaraan het. En ek sien ook dat niemand ooit te veel liefde kan kry nie. Ware liefde uit die hart is ‘n kosbare juweel wat jy telkens na terugkeer om die skoonheid daarvan te bewonder. Maar liefde moet ook prettig wees, want twee mense wat saam kan lag, sal saam kan huil en saam kan liefkry.

Kom deel dit met my in Lied van Lorelei. Dis ‘n vreugdevolle, prettige boek vol liefde en lag, maar ook met sy ernstiger kant.

Geniet dit!

Nuwe jaar – nuwe voorkoms

Om te pas by my skryfwerk het ek die voorkoms van my blad aangepas. Liefde gaan tog oor die hart, oor sagtheid en weerloosheid,, oor romanse en drome. Om jou sielsmaat te ontdek en te weet waar om te soek, behoort die reis van elke vrou te wees, ongeag jou ouderdom.

Gaan nooi jou vriendinne, en ook jou vriende (want ek het n hele klompie vriende wat my boek Maalkolk geniet het) om te kom kyk en saam te lees. Die Lied van Lorelei sal hopelik binne die volgende week  op Kalahari.com beskikbaar wees. Gaan kyk gerus by my nuwe boeke hoe hy lyk en waaroor dit gaan.  Klik “hou van” op my blad as jy daarvan hou.

Ek sien uit na jul kommentaar.

Begin dit nou

Ons storm klaar weer 2014 binne en soms wonder ons waar die tyd heen is.  Ek wil my jaar begin met die wyse woorde van Wolfgang von Goethe:

“There is one elementary truth, the ignorance of which kills countless ideas and splendid thoughts: that the moment one definitely commits oneself, Providence moves too… Whatever you can do, or dream you can do, begin it. Boldness has genius, power and magic in it. Begin it now.”

Kom, moenie langer wag nie! Gaan doen dit waaroor jy al so lank droom. Begin solank kyk na waar jy wil wees, staan terug en begin dan stap vir stap beplan aan jou roete tot jy by jou doelwit uitkom. Onthou, almal van ons het iewers begin.

Verban die woorde “ek kan nie” of “ek sal dit tog nooit ….” Dit hoort nie in jou woordeskat nie.

Waar jou gedagtes en drome is, sal die lyf volg! Droom mooi drome, en begin dan stap op die pad om jou daar te kry. Niemand anders se voete gaan jou soontoe vat nie – jy moet dit self doen, maar die engele langs die pad sal jou help om daar te kom.

Word soos water en vloei om die versperrings of berge op pad na jou doelwit toe, maar hou die einddoel in gedagte! Dit mag nooit verskruif nie.

Sien jou daar!