Archive | February 2014

Plek van die Flaminke – Episode 2

Die tweede episode van die vervolgverhaal Plek van die Flaminke het so pas verskyn op die Vervolgverhale blad.

Uiteindelik maak Delia kennis met Alex, die stil Xander se broer, en hulle skop heeltemal op die verkeerde voet af.

En dan is daar Madeleen wat uiteindelik sover kom om vir Xander te vra wat sy so lank al wou…..

Geniet dit!

Nuut: Vervolgverhale

Ek is bly om van my stories as vervolgverhale aan te bied op hierdie webblad.

Ek spring weg met DIE PLEK VAN DIE FLAMINKE wat die storie vertel van die verwikkelinge in die liefdeslewens van die inwoners van Zeesig, die vakansie-oord aan die oewer van die meer op die familieplaas van die Kriel familie.

Alex Vorster keer na ‘n lang afwesigheid terug na Zeesig om die belange van die klein gemeenskap aan die oewer van die meer te bevorder en te beskerm wanneer hul vleilande en dierelewe bedreig word. Hy het egter nie rekening gehou met sy pragtige buurvrou en mede-eienaar Delia Kriel nie en die vonke begin behoorlik spat as die twee teen mekaar te staan kom.

Ook het die beeldskone jong kunstenaar Madeleen Marais en haar ma René hulle hier kom vestig. Hoe gaan Alex se diepsinnige broer, Xander, Madeleen se hart wen terwyl die aantreklike oordbestuurder Marnus Kriel soortgelyke planne het? Sal die inwoners van Zeesig geluk vind by die wat vir hulle bestem is?

Hou die spasie dop vir die eerste episode van DIE PLEK VAN DIE FLAMINKE.

https://www.facebook.com/liefdesverhaleafrikaans

Die groot stilte

Soms word ons gedwing om stil te word omdat alles anders stil is. Daar is ‘n skielike stilte in jou in-boks, en niemand bel jou nie, daar is nie posstukke in die posbus nie. Jou normale aktiwiteite kom tot stilstand want alles en almal wag – vir iets of iemand; vir ‘n gebeurlikheid of ‘n aksie, ‘n reaksie. Maar dis stil.

Dit is ook doodstil binne-in my. En ek wag. Dan kom die woorde van die Oostenrykse digter en filosoof by my op: “You need not leave your room. Remain sitting at your table and listen. You need not even listen, simply wait. You need not even wait, just learn to become quiet, and still, and solitary. The world will freely offer itself to you to be unmasked. It has no choice; it will roll in ecstasy at your feet.”

Meteens hoor ek my storie na my roep – die karakters wink en praat met my, met mekaar. En ek sien die verhaal voor my oopvou soos ‘n voetpad deur ‘n koel woud; nog sonder die einde in sig, maar ek word treë vir treë vorentoe geroep en voor ek tot stilstand kom, wink die volgende gebeurlikheid skelm tot ek vinnig woorde vind om daar te kom; dan die volgende en die volgende. Opwindend, heerlik, bevrydend!

En dit deur stil te word en te wag!

Nou hoor ek die duiwe en die voëls en die suising van die ligte wind. Die son en die lug is skielik op hierdie dag verblindend helder – dis herfs! Die wit iceberg rose in die tuin roer saggies en vra om gesny te word.

Oor skrywers en boeke

Die geboorte van ‘n boek is ‘n lang en soms pynlike proses – vanaf die eerste roeringe van die nuwe boek in die gedagtes begin posvat wanneer die een waaraan jy werk sy einde nader. Dan moet jy die nuwe idee eers eenkant sit, maar wonderlik soos ons skeppingsdrang is, verdwyn die idee nie; hy word net vir ‘n rukkie iewers gebêre en al die tyd groei hy; ontkiem hy daar in die wegsteekplek tot hy ‘n mooi sterk plantjie is as jy eindelik na hom toe terugkeer.

Dan die deurwerk en weer werk en weer en weer terugkeer na die boek wat jy nou net klaar geskryf het om seker te maak alles is soos dit moet wees. Jy laat hom rus vir ‘n dag of drie, ‘n week of meer en gaan lees hom weer, maak reg, verander, en dan is hy eindelik gereed om na die redakteur te gaan vir finale afronding. Intussen word die buiteblad ontwerp, met die drukkers geskakel en op ‘n dag hou jy hom in jou hande vas – en jy is verwonderd oor hy so mooi is.

Jy maak die eerste bladsye oop om te kyk en die reuk van die papier is in jou neus. En as jy jou kom kry begin jy hom lees asof jy die storie nog nooit gelees het nie. En dis heerlik, want jy raak weer verlief, huil van vooraf, lag van vooraf en jy skud jou kop in ongeloof en teleurstelling oor die drukkersduiwel tog sy skelm vingers in jou werk gesteek het. Maar die boek is mooi en heerlik om te lees en jy vergewe gou.

Natuurlik het Lorelei op Kalahari.com in e-formaat verskyn maar sonder sy pragtige baadjie! Dit sal hulle regstel, belowe hulle plegtig. Ek hoop om die boek self ook daar te sien binne die volgende week of twee, so hou maar dop vir nuus. Ek het die skakel vir die e-boek onder die Nuwe Boeke aangebring. Gaan kryk gerus.

Intussen het boek nommer drie ‘n jong boompie geword:  Maandanser wag om haar betowerende verskyning te maak. Maar die pad tot ook sy eendag in my hande lê, is nog steil.

Die opwinding van ‘n nuwe boek

Gister het ek die gedrukte weergawe van my tweede boek, Die Lied van Lorelei, ontvang en as ek die gevoel moet beskryf toe ek die pragtige boek in my hande hou, kan ek net sê dit was verwondering en intense vreugde. Nie net die vreugde om te weet dis my skepping en my breinkind nie, maar ook verwondering dat ek dit reggekry het om my twee boeke self te publiseer en met behulp van ‘n paar wonderlike mense te versprei. Dis regtig soos ‘n droom wat waar geword het en ek is so dankbaar vir die  voorreg om te kan skryf, maar nie net om te kan skryf nie, maar ook vir my opvoeding wat dit moontlik gemaak het om te lees, om gedagtes en emosies om te sit in woorde. En bo alles, om dit met julle te kan deel.

Dankie vir al die aanmoediging, die komplimente, die ondersteuning van oral oor die wêreld. Ek het tot  besoekers uit Indië, België en Amerika  gehad! Ek wens ek het geweet wie dit is. Laat hoor van julle daar ver, asseblief?

My derde boek is gereed vir die redakteur se fyn oog en vir die proses van omslagontwerp,  uitlê vir die drukwerk, ens. Dit neem ongeveer twee maande voor die boek terug in my hande beland. Dis ‘n duur en tydsame proses, maar heerlik bevrydend want ek het so baie geleer.

Kom wandel rustig met my deur die natuur, en luister na die musiek van die woord en die klank. Sit mooi musiek op, skop jou skoene uit, krul jou op op die rusbank en geniet hierdie heerlike boek. Daar is reeds ‘n e-weergawe hiervan op Kindle Books SA E-Reads beskikbaar en dit sal ook binne 24 tot 48 uur op Kalahari.com beskikbaar wees.

Ek hoop om die boek self op Kalahari te sien binne die volgende twee weke.

Sal julle op hoogte hou van die nuutste verwikkelinge.

Geniet dit.