Archive | March 2014

O, die mooi daarvan!

1974989_10201187738970247_1581018051_n[1]
Toe die lug vanoggend donker raak en die reën onaangekondig begin uitsak word ons verplig om vinnig af te skakel. Muurproppe word uitgetrek, rekenaars afgesit, radio en klank af. En toe stilte.

In hierdie stilte is elkeen met sy of haar eie gedagtes besig. Ons praat nie. Ons dink, elkeen op sy of haar eie besig met wat?

My gedagtes is by dit wat vir my waardevol is, by dit waarsonder ek nie kan wees nie en waarna ek my sonder enige moeite of inspanning wend.

Ek hoor die klank van die skoonste musiek en ek is deurdrenk daarvan; ek sluit my oë en hoor die eb en vloei van die golwe van Mendelsohn se Hebride simfonie. Ek sien die water, ek sien die golwe in die grot in spoel.

Ek sien die blombedekte veld – die lieflike kosmos so ver soos die oog kan sien in ʼn pienk en pers waas. Ek is daar, tussen die blomme en ek hoor nie die verkeer ruisend in die straat voor die huis nie, of die buurman wat aanhoudend kap en klop en sweis nie.

Ek voel die aanraking van die herfswind teen my gesig en in my hare. Soms lig en soms skielik koud, en die blink blare van die boom buite my venster wink my nader. Ek voel die sagte nuwe blaartjies aan die punt van die tak as die boom na my toe neig en met sy blare oor my kop streel. Maar ek is binne en die reën suis teen die vensters en die blitse hardloop teen die wolke.

Ek sien die silwer maan hoog bo as hy opkom oor die horison en daar is nie watertorings of stink rookwalms of jaende karre oor die hobbels in die pad voor die huis nie. Net die maan met sy silwer ligstrale wat my venster toe roep. As ek hom soek, loer hy skielik agter die wuiwende boomtak uit en glimlag wit vir my.

Ek ruik weer die geur van die spanspek, sien hoe hy oranje en pitterig voor my oopval as die mes die sappige skywe sny en die geur daarvan is my sinne vol. Die vrugte in die bak op die tafel vat my na ʼn eiland paradys waar die ewige see blou onder die son uitstrek …..

Die eerste byt aan ‘n geel perske van ‘n vrugteboom af; die reuk van ‘n tamatie wat jy nou net afgepluk het, die reuk van vars groenbone nou net van die stoel afgepluk. Hemels ….

Die dieprooi wyn wat lieflik in die glas glip as ek dit skink en die glas lig na my vriendin oorkant die tafel; die ryk geur daarvan, die kleur daarvan in die fyn glas waarop die lig speel. Die pragtig gedekte tafel, met servette en rose, geselskap en musiek….. altyd die musiek.

Die beeldskone vers wat homself oor en oor herhaal wanneer ek my oë toemaak, waarna ek met verwondering weer en weer terugkeer sonder dat ek die boek in my hande hou – ek kan maar net my oë sluit en die vers kom vanself by my aan.

Die vroeë oggend vol van klank van voëls en bome en blomme; die duif wat roep, die swaels wat nou swerms maak en op die bure se dak in hul honderde saamtrek vir die groot uittog na waar dit warmer is.

Die ewige see met die skuim wat woedend oor die rotse klim by Stormsrivier; hoe hy weer en weer die sand kom klap om sy naam te herhaal … ek is see….. ek is see….

Die staproetes by Hermanus tussen die duinegroeisels en veldblomme deur met die klam wind in my hare … Ek het alles wat ek kan begeer, nou, op hierdie oomblik.

Die bewende boompie voor die agterdeur waarin die voëls mekaar jaag dat dit lyk of daar ʼn stormwind in woed. Die ronde fontein waarin die voëls bad dat die druppels soos diamante in alle rigtings spat in die roostuin vol outydse rose; geurig, beeldskoon.

Die sagte gordyn wat in die nagwind voor die oop vensters uitbol terwyl Brahms se musiek in die lieflike donkerte oor my spoel.

Die grys reën wat oor die veld neersif – Die Dans van ons Suster! Die reuk van ryk rooi grond na die reën.

Die lieflike liefde waarin twee mense versmelt tot die een word soos die ander maar tog anders; waar die besef tuiskom dat ʼn sielsmaat of sielsgenoot waarlik iemand is wat jou aanvul en wat jou lewe verryk; dit waarsonder jy nie kan lewe nie. Hierdie maat wat op jou pad kom as jy vra maar nie soek nie, as jy wag, maar nie jag nie…. Eendag, eendag verskyn jou maat en jy weet dis nie ʼn hersenskim nie. Wees bedag op hierdie oomblik en moenie verlei word deur desperaatheid nie. Die liefde laat hom nie aanjaag nie en doen hom nie voor as iets anders nie.

O, hoe mooi is dit tog vir my. Daarom skryf ek daaroor in my boeke sodat ek weer en weer daarna kan terugkeer in elke nuwe boek en elke nuwe herroeping hiervan bring nuwe vreugde mee.

Dit is skoonheid vir my.

Die vreugde van vriendskap

Vriendskap is ‘n kosbare plantjie. Mens besef dit nie altyd nie maar as jy daardie een vriend of vriendin raakloop met wie jy skoonheid kan deel, het jy ‘n rare resep vir blywende vreugde.

Wat is skoonheid dan nou? Hier praat ek van die etstetiese. Vir my beteken dit lieflike musiek, ‘n pragige boek, blomme, gedigte, ‘n tuin met groen koelte en stilte, en so meer. Skoonheid hef mens op, neem jou weg van die alledaagse; laat jou vergeet van jou neerdrukkende omgewing en maak jou pyn draagliker.

Soek ek dit doelbewus op? Ja, beslis, want my soeke is na wat blywend en opheffend is. En groter vreugde as om dit met ‘n vriend of vriendin te deel, kry jy nie.

Kyk na die vriendskap wat later liefde sou word tussen Lerina en Marius uit die boek “Die Lied van Lorelei”:

“Jy skuld my nog my lesse,” en toe sy omdraai, staan hy daar met sy kop eenkant toe. Sy kyk hom vraend aan.

“Nóú? Wil jy nou nóú gedigte lees?” vra sy verbaas en hy knik.

“Ja, ek dink dit sal die aand goed afrond, of hoe?” en sy is nie seker of hy ernstig is nie. Sy kyk hom ‘n oomblik onseker aan en staan dan terug dat hy kan inkom.

“Nou toe, kom ons lees gedigte. Daar is sulke mooies. Het jy enige voorkeur?” vra sy terwyl sy neersak op een van die gemakstoele langs die ronde tafel met die digbundels op. “Is jy lus vir koffie? Moet ek gou vir ons maak voor ons lees?” vra sy.

“Dit sal lekker wees, dankie,” kom dit van Marius, wat reeds met ’n klein bundel in sy hande staan.

Sy maak vir hulle geurige koffie, en hulle gaan sit weerskante van die tafeltjie by die lamp.

“Waarna het jy gekyk?” vra sy en hy gee vir haar DJ Opperman se bundel, wys dan met sy vinger wat sy moet lees. Sy sien dat dit “Wandeling” is, en sy begin in haar mooi stem lees:

“Ek het met jou deur koeltes van die bos
na die verlore vrede teruggekeer …..

Sy word stil en toe hy niks sê nie, kyk sy op en vind sy blik op haar gesig, sy oë donker en intens. Sy voel effens ontsenu en kyk vinnig af; wil vra wat hy nog wil hoor, maar hy spring haar voor en vra: “Wat is ‘n swal … swalu..? Dit is mos wat daar staan, of het ek verkeerd gehoor?” wil hy weet.

Sy glimlag vir hom en verduidelik. “Dis ‘n swaeltjie waarvan Opperman praat.”

“Nou hoekom sê hy anders?” vra hy nuuskierig.

“Dit is wat hulle ‘n skrywer se privilegie noem. Skrywers, of dan nou digters, mag ‘n woord skep of aanpas dat dit inpas by die gedig. Hier sou die woord ‘swaeltjie’ die gedig se ritme versteur en het hy ‘swalu’ gebruik.”

“Dis mooi. Sal jy dit weer lees?” vra hy soos ‘n kind en deernis stoot in Lerina op vir hierdie man. Sy weet hy het op die juweel van poësie afgekom en hou dit versigtig in sy hand; bewus dat dit iets kosbaar is sonder om dit ten volle te verstaan. Hy wil meer weet en daarom doen sy soos hy gevra het en lees dit weer, stadiger hierdie keer.

Hy is stil en sy praat ook nie. Hulle sit net so in mekaar se teenwoordigheid, tevrede dat die ander een daar is.

“Lerina?” kom dit later sag van Marius.

“Ja, Marius?”

“Kan ek weer kom? Sal jy weer vir my lees? Is daar nog … soos hierdie?”

“Ja, daar is baie. Kom ek wys gou vir jou een van Pablo Neruda se gedigte, dan sal jy verstaan wat nou met jou gebeur het.”

Sy soek tussen die bundels op die tafel en kry die klein blou bundeltjie met gedigte wat in die fliek Il Postino opgeneem is. Sy blaai tot sy by die gedig “Poetry” kom, en gee die boekie vir Marius aan; wys vir hom waar hy moet lees. Sy oë beweeg oor die woorde, gaan weer terug, en weer, en sy los hom dat hy self soek terwyl haar blik elke klein detail van die man voor haar inneem. Sy sien sy donker wimpers skadu’s gooi oor sy wange, sy gesig ‘n voorbeeld van klassieke skoonheid met die hoë wangbene, die sterk ken en die mond nou sag, en op ‘n manier weerloos terwyl hy konsentreer op dit wat hy voor hom sien.

Hy kyk skielik op, vang haar waar sy vir hom kyk, en skud sy kop effens.

“Sjoe, dis baie, baie mooi,” kom dit dan verwonderd, en hy begin dit stadig hardop lees, haak soms vas, maar gaan tog in sy sagte stem voort:

“And it was at that age – Poetry arrived
in search of me …… ”

Lerina stil doodstil, amper sonder om asem te haal. Nog nooit was sy so geraak deur hierdie gedig nie; nog nooit was dit so mooi soos dit nou stamelend en onseker uit Marius se mond kom nie, en haar oë is nat toe hy eindelik opkyk met verwondering op sy gesig.”

Mooi, né? Kry vir jou ‘n vriend of vriendin met wie jy saam lees, saam luister, saam soek na dit wat mooi is. Vra maar vir daardie spesiale vriend en dan wag jy. Hy of sy sal kom …..

My plek – my wortels

Nou met die dae lange reën raak mens mos instrospektief en bedink baie dinge en terwyl ek die dae soos krale aan ‘n snoer ryg (met die wete dat ek hulle nie weer gaan kry nie), besef ek dat elkeen van ons se wortels iewers is; of dit nou ‘n huis, ‘n plek, ‘n streek is. Miskien by ‘n ander mens? Wie weet. Toe ek F A Venter se  stukkie hieronder lees, het ek geweet waar myne is:

“Ek hoor hoe dié wêreld vir my fluister uit die stomme grond, deur die flikkering van sterre, die sagte roep van honger hase, die astrante geskreeu van die bakore. Dit roep na my, dié stilte, die geur van die dooie veld, en ek wonder of ek nie maar hier hoort nie soos die vaal korhaan en die kommandovoël met sy onskuldige geel oë nie. As ek net verstaan wat ek moet verstaan. Ek het Matriek geskryf, maar ek verstaan nog nie eens my eie hart nie.” 

Die bos en die veld het my nog altyd geroep. Die see ook, maar daar is niks, niks wat vergelyk met die geur van die veld na die reën nie. As die grasse laag hang met die waterdruppels ingeryg soos kristalle en die voëls begin die verkroestheid van hul vere afskud in die doringbome, dan sing my hart en my hele wese van vreugde, want dis hier waar ek hoort. Het jy al gesien hoe die lug en die lig helder word, en dan, voor die son uitkom, die groot reënboog in die wolke? Het jy al in die veld gedans in die nat modder, met klein hande omhoog in verwondering oor die mooi?

Ek verlang na die veld; na die voëls, na die skoon lug, na die riviere en die waterstrome wat nog skoon en suiwer kon kronkel. Waar ons die ure om kon speel, klipkrale in die grond bou en dan vergeet van die tyd terwyl jy klippe soek met diamante daarin wat skitter as jy die klip kantel. Waar mens op die gras langs die rivier kon lê en jou hande na bo strek – na die onbereikbare blou van die lug, en voel hoe die ryk aarde onder jou met jou praat. Hoe jy saam met die wilgertakke kon swaai en meteens losgelaat word om te vlieg op die sagte wind soos die voëls daar hoog.

Wanneer laas het jy die bries teen jou gesig gevoel, die reënnat wind teen jou aan voel waai en vir ‘n oomblik stilgestaan om dankie te sê.

As ek toe geweet het hoe kosbaar die herinneringe sou wees, het ek dit beter toegedraai en versigtig gebêre vir die uithaal en onthou.

Op ‘n dag soos vandag.

Die krag van die gedig

Die dag is nat en tries met mistigheid daarby en ek voel dis net die regte tyd om ‘n boek te gryp en op die gemakstoel op te krul. Met leesgoed en my koffie byderhand sit ek gemaklik met die radio aan. Classic FM speel die mooiste musiek en ek raak weg in ‘n wêreld van woorde. Die mooiste woorde van digters oud en jonk – van voortyd af en van nou. Elke gedig vertel ‘n storie. Sommige laat my glimlag, en ek lees dit weer oor dit so mooi is.

Daar is ander wat my laat verlang na wat was toe ons kinders was; toe ons huis gevul was met liefde en lag en musiek. En boeke. O, die boeke! Hoe het ek skelm gelees, want as jy lees, so het my ma geglo, werk jy nie. En ons mag nie sit en niksdoen nie. Ons moes werk! Uit radeloosheid het ek my boek gegryp en onder die bed gaan sit en lees. En waar het my boeke my nie oral heen laat reis nie – ek het wêrelde leer ken waarvan ek nooit eers kon droom nie.

En toe ontdek ek die gedig en nuwe wêrelde gaan weer vir my oop. Iemand skryf in my autograph boek toe ek in standerd sewe was die gedig “Die Geskenk” van Elizabeth Eybers, en die wonder van die liefdesgedig kom staan voor my en ek weet, ek weet dat niks ooit weer dieselfde gaan wees nie, want ek het hier so ‘n kosbare juweel ontdek dat ek dit sal koester vir die res van my lewe. So lees ek toe ook Shakespeare, Petra Müller, Louis Esterhuizen, Breyten Breytenbach. N P van Wyk Louw, Sheila Cussons, Antjie Krog, D J Opperman en nog meer volg en my skat word al groter.

En ek waag dit – ek waag my hand aan ‘n gedig, en soos Pablo Neruda kom vind die gedig my – en ook my mond het nie woorde nie, maar ek probeer. Ek het nie geleer gedigte skryf nie, ek het nie grade of literêre kennis oor hoe om te skryf; oor hoe om te ontleed en dekonstrueer en rekonstrueer nie. Al wat ek weet is dat dit vir my so mooi is soos niks anders ooit voor dit was nie. Dat hier iets is wat tot my spreek soos geen ander nie. En ek lees en luister, en ek word ryk – skatryk. En ek leer dat dit nie net myne is nie, maar dat dit vir ons almal daar is om te geniet.

Sommige laat my baie stil word binne – so stil dat ek wegraak in diep bepeinsing. Daarom wil ek vandag vir jou net een gedig gee – net een om mee te begin – laat dit dan dié een van D J Opperman wees oor die stilte en die vrede; en die liefde:

Wandeling

Ek het met jou deur koeltes van die bos
na die verlore vrede teruggekeer,
die skemering oor die nat gedrupte mos,
die bessies, blomme en die wit-blou veer

Wat van die snelle swalu glip en los
bly hang in trae kringe bo die meer,
waar muggies oor die helder water tros
en visse blink-pens na die son omkeer.

Jy het my van die mense weggelei
na hierdie stil en afgeslote ryk,
waar met verwondering voor elke treë
ek sien hoe God hier kalmer vorm kry
deur bessies en die orgideë
en oë van visse na my kyk.

Lees dit – lees dit weer en weer en kyk wat gebeur. O, die krag van die gedig. Dit lig jou op en uit na waar jy nie gedink het jy kan gaan nie.

Geniet dit saam met my. Ek nooi jou; kom wees my leesgenoot net vir die lekkerte daarvan.