Archive | April 2014

Herinneringe aan my ma

images[5]

Die geur van varsgebakte brood en moerkoffie vang my onverhoeds toe ek my deur vanoggend oopmaak. Ek is meteens terug in my ma se sonnige kombuis, die skoongewaste groen en wit geruite gordyntjies wapperend in die ligte wind wat deur die venster inkom.

Ek sien hoe Mamma voor die groot koolstoof buk, die vier goudbruin brode uit die oond haal en op die skoon doek op die tafel uitkeer. Die geur daarvan is die hele huis vol. Ek loer klein oor die tafel se rand en as sy die broodmes vat en die korsie versigtig afsny, met heerlike vars botter smeer en dit op die bordjie vir my aangee, is ek meteens in die hemel.

Moeder, vandag blom die dahlias en die Namakwalandse madeliefies in my voortuin en die vygies is die blombakke nog vol. Mamma sou so daarvan gehou het, daarom stuur ek ‘n foto aan.

En vir die mooi en die lekker, sluit ek hierdie pragtige gedig van Breyten Breytenbach in:

(vir Oun)
… en jy,
ek het saam met jou grootgeword,

‘n Voorskoot vol blomme en ‘n groen sonhoed,
ek weet nie of jy lag of huil nie – “kom, bog!” – en ek ruik
die warm see-genaakbare aarde en naeltjies en kaneel en blomme –
waar jy ook loop of werskaf is woorde en blomme:
leeubekkies, kalkoentjies, ridderspore, rose, swaardlelies, perdeklou,
gesiggies, die jakobregop, magnolias, uiltjies, frangipani’s, bobbejaantjies,
katjiepierings, pointsettias – jou woorde het stuifmeel en kroonblare
en bye, ja, jy praat blomme, jy maak nog reg wat seer is,
jy omtower die reën in ‘n spel van lig;
ek hoor jou sing by die harmonium

in jou hare, ‘n robyntjie flikker aan jou hand;
vir jou lê die hele skepping aan die agterdeur en die ganse wêreld

voor die voordeur
en altyd vol vreugde – die lewe is net ‘n handomkeer
en jou hande is nooit stil nie;
die skoenlappers van die liefde
is bo jou hoof –
en nou is jy oud en vol lewe en ewig jonk
soos ‘n vrugteboom in die grond;
ek dra jou bene kantelende bloed
en die klanke van jou keel –
o moeder, seën my voor u gaan!

Breyten Breytenbach

Ek hoor jou

3d-nature-wallpapers-1024x640

Wat is dit aan ‘n skryfsel wat mens so diep raak dat die trane onwillekeurig oorstoot uit jou oë en jou keel so styf is dat jy nie kan praat nie? Al sou jy kon praat, sou daar nie woorde wees om te sê oor die onverwagte hartseer nie.

Ek lees vandag iets wat my so raak dat my hele wese uitroep in antwoord daarop. Hoe sou die skrywer geweet het van my reis, hier aan die suid-punt van Afrika? Want hy praat tog met my, dan nie? Hy hoor hoe my wese uitroep en ek is meteens daar saam met hom op sy tog teen die berg op. Daar waar die hoë wind waai en die gras ‘n golwende groen groet aan my wink, maar waar die vrae nog dynserig in die laagtes lê.

Ek kan nou vryer asemhaal, want die lug is nektar, die lug is heuning, en die groot klowe oneindige ruimtes waarin ek my werp soos die windvalk op sy vlug. Die fokus is op die pelgrimstog na bo, waar klarigheid meteens oop lê soos die wye vlaktes daar onder, waar antwoorde skoon in helder water oopspoel, en ek meteens uit dankbaarheid neersak op die growwe grond in die gras, en die groen geur in my opstyg soos die lewe self.

 

Oor misverstand en pyn

 

dc9ecf6c-371a-4a8a-8542-d637aa725985[1]

Liefde is die waagmoed om jouself weerloos te laat, het iemand eendag gesê. En dit is so. Wanneer ons liefhet is ons weerloos. Dis die dapperes wat dit waag om lief te hê, want dis hulle wat instinktief weet dat die liefde die lewe is. Sonder liefde, verskraal ons bestaan hier op aarde tot ‘n vaal eenselwigheid van dae.

Kyk maar hoe mooi is mense wat liefhet – hoe hulle straal asof daar ‘n lig binne hulle skyn. Die liefde is helder, dis verruklik, dis mooi en dit wys. Dit kan nie weggesteek word nie.

Maar as die misverstand sy opwagting maak, is daar niks soos die pyn van die liefde nie. Dan word dit donker en jou hart skeur.

Dit hoef nie so te wees nie. Luister net eers ….

Hier volg ‘n kort uittreksel uit my boek Maalkolk:

Madri hoor die deur oopgaan en sy snak toe sy vir Deon met sy rug teen die deur sien staan. Hy draai om en sluit die deur doelbewus agter hom toe. Madri se oë rek groter toe hy naderkom, en sy glip aan die anderkant van die bed af, maar hy reik oor en kry haar aan haar gesonde arm beet; pluk haar oor die bed sodat sy hulpeloos op die bed en byna onder hom beland. Sy mond is ʼn dun streep en sy oë kil terwyl hy haar bekyk. Hy vat haar ken in sy hand om te keer dat sy haar kop wegdraai, en sê tussen geklemde kake, amper fluisterend, wreed: “Wie is jy, Madri Viljoen? Waar kom jy vandaan? Wie is die kind saam met jou op die foto? Is jy getroud? Wie se kind is dit?”

Madri probeer haar kop wegdraai, weg van die verskriklike pyn en die ontnugtering in sy oë, maar hy lig haar kop oor sy arm en hou met sy ander hand haar hare vas sodat sy nie kan roer nie. “Deon, asseblief, jy verstaan nie …,” sê sy met ʼn snik wat haar lyf ruk, maar hy steur hom nie aan haar pleidooi nie, trek haar net stywer onder hom in.

“Vertel my, Madri,” sê hy onheilspellend sag, laat sy kop sak tot in haar nek, en asof hy homself nie kan help nie, trek sy mond ʼn vuurstreep teen haar nek op tot by haar mondhoek. Sy snak na haar asem en sy mond beweeg oor haar halfoop lippe, sag soos ʼn vlinder.

“Papillon; skoenlapper,” fluister hy teen haar mond. Sy het opgehou spartel en lê bewegingloos in sy arms; sy oë op haar gesig. Sy kyk nie weg nie ….

Die sagte stem

3D-Nature-Wallpapers-HD-2

Dis wanneer die lewe se volle gewig op jou druk en jy voel hoe jy verkrummel onder die donker las daarvan, dat jou siel se sagte fluistering na jou kom. Sonder woorde in die stilte kom die sagte roep om erkenning en herkenning as jy van uitputting ophou spartel.

Dis eers wanneer die hart stil word en luister dat die woordlose roep duidelik word, dat die uitnodiging gehoor word en, as jy fyn luister, sal jy die padkaart uit jou duisternis vind. Die onmeetlike siel laat hom nie inperk nie, laat hom nie bind nie, is nie afhanklik nie. Dis siel is altyd op soek na skoonheid, en kan maklik dit wat seer en donker is agterlaat in sy vlug na daar waar alle skoonheid is, daar waar vreugde woon, waar perfekte harmonie en kennis is.

Dis so eenvoudig. Sluit net jou oë en word stil. Sluit jou af van die kopgesprekke en word stil. Selfs onder die donker druk van die lewe kan jy stilte vind as jy dit soek. Sluit jou oë en wag …
Sommige sou dit gebed noem, sommige noem dit meditasie. Die betekenis is dieselfde in enige taal, maar die taal van die hart spreek die duidelikste.

Met ander oë

images

Soms praat ‘n gedig met jou en jy weet nie hoekom hierdie spesifieke gedig se stem so duidelik na jou kom nie. Jy is nie self ‘n digter nie, maar dis vir jou mooi. Net soos wat jy nie self kleure op ‘n palet kan meng en ‘n pragtige prent optower nie, maar die skildery is vir jou pragtig. Of so kan jy ook goddelike musiek hoor en luister, maar dit nie self voortbring nie en tog verlore raak daarin.

Ek het vrede gemaak met die feit daar daar skeppers en waardeerders van kuns is. Ek het myself toestemming gegee om sonder skuld of voorbehoud te geniet dit wat daar is om te geniet, geesgenot sowel as vleesgenot. Ek hoef dit nie self voort te bring om dit te geniet nie.

Ek het op die mooiste gedig van die digter Yannis Ritsos afgekom. Die gedig is vry vertaal en ek wil dit met jou deel omdat dit vir my so mooi is (en ek pienk wolke in die nag sien).

Miskien, eendag (Yannis Ritsos)(Vry vertaal)

Ek wil jou hierdie pienk wolke
wys in die middel van die nag,
maar jy sien nie

Dis nag, wat is daar om te sien?

Dus bly vir my niks anders oor
as om met jou oë te sien nie, sê hy
Sodat ek nie nie eensaam sal wees nie
en sodat jy nie eensaam sal wees nie.

En inderdaad, daar is niks om te sien
daar waar ek jou gewys het nie
Net die sterre saamgebondel
in die nag soos piekniekgangers wat
op ‘n vragmotor terugkeer van ‘n piekniek:
teleurgesteld, dors, met die
verlepte blomme in hul sweterige hande

Maar ek gaan daarop aandring
om met my eie oë te sien en miskien
sal ons op ‘n dag langs ‘n ander
weg weer ontmoet

En net omdat ek vandag na my pa verlang, die volgende gedig van Izak de Villiers:

HEILIGDOM

Dit was ʼn heiligdom, die klein gebou van sink:
binne die ruwe werkbank, rak, ou castrol-drom
en hamers in die hoek, raspers en sae, beitels blink
skerpgemaak, polikansky-almanak met meisie,
waskom
bo-op ʼn mazawattee-kis, blouseep, lampetbeker en lap
swaar kettings hang aan hake, toue, grawe, vuur
brand elke winter in die donkie, tussen houtwol krap
die kat haar lêplek reg, aan die muur
hang uie-lowwe, bore, stukke doringdraad
netjies opgerol, stoele met matte lankal uitgerafel,
reuk van pyprook, die ou voorhuisklok wat staan,
vierkantjies lig, versoolde bande opgestapel
hoekom ek Pa se plek nog jaar na jaar
bly heilig noem? Ek weet nie: God was seker daar.

Onthou jy nog:

ALGEMENE HANDELAAR

My pa se dorpswinkel was
argitektonies onooglik,
met twee verspotte uitstalvensters,
ʼn wye stoep en gewel-reklame
met spelfoute en al,
maar binne
tussen be-noude opeenhopings
van allerlei negosies
was daar
die onkoopbare koopware:
toegeneentheid en liefde
vir personeel, klante, besoekers,
handelsreisigers, skoolkinders,
en sommer in- en uitlopers wat groet.

daarom dat ʼn bepaalde spieël
in daardie kasarm van ʼn winkel
se “vroue klerasie afdeeling”
my eendag lank ná sy dood betrap:
waar ek ʼn keps soos hy dra
en sy dounat-roosknop op my lapel
en ʼn spoggerige (sy) sakdoek

en ek my wenkbroue streel soos hy
en my neussnawel syne herhaal
en my oë nadenkend word soos syne
en my mond
ʼn bekende pyn-trek kry.

Ernst van Heerden

Sielsgesprek

Soms, net soms lees mens ‘n paragraaf of ‘n gedig wat so tot jou spreek dat jy dit altyd sal onthou. ‘n Beeldskone vers of sin wat ‘n sielsgesprek met jouself aan die gang sit wat sal voortduur solank jy leef. Partykeer ruk dit die mat onder jou uit, partykeer skud dit jou fondamente tot jy snikkend jou oë toeknyp en jou hande oor jou ore druk om dit nie te hoor nie, maar, soos met alle skoonheid, volg dit jou na.

Ek het op ‘n gedig afgekom wat my so hartseer gelaat het dat ek weer en weer daarna moes terugkeer. Dis hartverskeurend mooi en dis geskryf deur die Portugese digter en filosoof Fernando Pessoa. Hier volg ‘n uittreksel uit sy gedig The Tobacco Shop.

THE TOBACCO SHOP (extract)

I am nothing.

I’ll always be nothing.

I can’t want to be something.

But I have in me all the dreams of the world.

 

Today I’m bewildered, like a man

who wondered and discovered and forgot

Today I’m torn between the loyalty I owe to the outward reality of the Tobacco Shop across the street

and to the inward reality of my feeling that everything’s a dream…….

 

perhaps you’ve merely existed, as when a lizard

has its tail cut off and the tail keeps on twitching, without the lizard

or made of myself what I was no good at making,

and what I could have made of myself I didn’t.

I put on the wrong costume

and was immediately taken for someone I wasn’t, and I said nothing and was lost.

When I went to take off the mask,

it was stuck to my face.

when I got it off and saw myself in the mirror,

I had already gown old.

I was drunk and no longer knew

how to wear the costume that I hadn’t taken off.

I threw out the mask and slept in the closet

like a dog tolerated by the management

because it is harmless,

and I’ll write down this story to prove I’m sublime.

Fernando Pessoa (Portuguese Poet/Philosopher)

 

Oor die liefde

Photo0097

Vanoggend toe die blou van die herfslug my dwing om my oë te skreef teen die helderheid daarvan en ek voel hoe ek omring van skoonheid in my tuin staan, wonder ek meteens wat die liefde dan is. Wat is dit hierdie wat mens se lewe omkeer sodat niks daarna meer dieselfde is nie? Ek het by die groot digters gaan kers opsteek en ek deel graag ‘n paar liefdesgedigte wat met die hart praat.

DIE GESKENK
Elizabeth Eybers

Jy het my meer gegee as die blou van jou oë:
ook die meerblou lug tussen wolke-oewers het myne geword
die dromerige rookblou van ver rante,
die pêrelblou van die skemering
en die roekelose blou van ’n blom
tussen groen gras.

Jy het my meer gegee as die beroering van
jou hande:
die lug het teerder om my gevloei, die aand het my inniger as voorheen
ontvang in sy koele omhelsing
en die wind het gaan lê op my bors.

Jy het my meer gegee as die besorgdheid
van jou stem:
die bome het hul takke behoedsaam geneig
en die sterre het hulle rondom geskaar soos wagte.

Jy het my meer gegee as die drang
van jou bloed:
die warm krag van die aarde het deur my gestroom,
die sap wat lentebloeisels uitstoot het gepols in my are
en die ewige lewe het ontkiem in my skoot.

Jy het my meer gegee as die droom
van een nag:
al die verlore drome van my kindertyd het teruggekeer,
en in my oë het jy sterre aangesteek,
te helder om te vlug vir daglig.

Alles wat ek verloor het en veel wat nog ongevonde was, het jy my gegee.

Jy het my meer gegee as jou liefde:
Die guns en die gawe van God.

Mooi, né?

In Hooglied is die passievolle pleit van die een wat liefhet so:

Hou my teen jou
soos die seëlring op jou bors
soos die seëlring aan jou arm.
Die liefde is sterker as die dood
die hartstog magtiger as die doderyk
strome water kan die liefde nie blus nie
riviere kan dit nie afkoel nie ….

NP van Wyk Louw druk dit soos volg uit:

Ek het jou liewer as die wind of die water
liewer as suiwer sonlig of see.
Ek het jou lief met die wonderkrag
wat die hart ’n mens kan gee…..

O, die liefde het ons nog lank nie klaar besing nie. ‘n Uittreksel uit my boek Maalkolk lui soos volg:

Madri is bly om tuis te wees, al is dit net vir ʼn rukkie. Haar arm is nog steeds in die slinger wat die dokter voorgeskryf het en sy kan hom nog nie so vryelik beweeg soos voorheen nie, maar kan tog vir kort rukkies die slinger afhaal.

Sy stap deur die huis en trek die gordyne wyer oop vir die son om in te kom. Sy sit die ketel aan vir tee, en stap eers ʼn draai deur die tuin. Sy is bly om te sien haar plantjies kom so geil op. Sy sal moet begin uitdun, maar haar tuin begin die voorkoms kry van ʼn regte kleurryke Engelse cottage-tuin, met outydse rose en al. Die agtertuin is pragtig, met die klein ronde fontein waarin die voëls vrolik en uitspattig bad dat die druppels soos diamante in alle rigtings spat. Die outydse rose dra knoppe so groot soos wat sy nog nooit gesien het nie, en sy is mal daaroor.

Sy gaan maak haar skinkbordjie met tee en gaan sit op die bankie om die voëls dop te hou. Die stilte en rustigheid verskaf vir haar eindelose vreugde en sy sal vir tannie Magda gaan vertel hoe mooi dit nou hier is. Sy dink ook daaraan om hulle te nooi vir tee as sy eers weer die gebruik van haar arm terug het. Sy is innig dankbaar dat sy hier kan bly en dat sy hierdie pragtige ou huis en tuin tot haar beskikking het.

Sy sluit haar oë in dankbare gebed vir hierdie wonderlike oomblikke, en so tref Deon haar aan toe hy by die agterdeur uitstap. Hy huiwer daar; wil haar nie steur nie. Sy is vir hom mooier en skoner as die mooiste roos in hierdie ganse tuin, en hy weet dat hy haar altyd hier wil hê; hier in hierdie huis en in hierdie tuin. Asof sy bewus is van nog ʼn teenwoordigheid, maak sy haar groot oë oop, en nog nooit was hulle so groen en so skitterend soos nou nie.

Sy kan haar blydskap om Deon te sien nie wegsteek nie en roep hom vriendelik nader.

“Haai, hallo! Jy is net betyds vir tee,” nooi sy. “Wag, ek gaan gou nog ʼn koppie haal; hier is genoeg tee in die pot,” begin sy babbel as hy niks sê nie, maar haar net stil staan en aankyk. Sy staan op en sy is vir hom nog kleiner, as dit enigsins moontlik is, maar volmaak gevorm; haar klein liggaam vol en aanloklik as sy haar gesonde hand oplig om haar wyerand sonhoed op haar kop vas te hou voordat die moedswillige bries dit van haar kop afpluk. Sy laat haar hand met hoed en al stadig sak, en die son is in haar goudrooi hare soos ʼn ligkring om haar kop. Here, kan daar iets mooier wees; ʼn vrou skoner as hierdie een, wonder Deon, amper verslae. Watter kans het hy teen hierdie aanslag op sy sinne? Sy hele wese reik na haar toe uit en sy sien dit in sy oë. Madri staan vasgenael onder sy intense blik en sy weet op hierdie oomblik dat haar lewe onlosmaaklik aan hierdie man verbind is. Hoe en hoekom weet sy nie, maar hy is haar lotsbeskikking, haar toekoms en haar tuiskoms.

Gaan lees dit want dis mooi.