Oor die liefde

Photo0097

Vanoggend toe die blou van die herfslug my dwing om my oë te skreef teen die helderheid daarvan en ek voel hoe ek omring van skoonheid in my tuin staan, wonder ek meteens wat die liefde dan is. Wat is dit hierdie wat mens se lewe omkeer sodat niks daarna meer dieselfde is nie? Ek het by die groot digters gaan kers opsteek en ek deel graag ‘n paar liefdesgedigte wat met die hart praat.

DIE GESKENK
Elizabeth Eybers

Jy het my meer gegee as die blou van jou oë:
ook die meerblou lug tussen wolke-oewers het myne geword
die dromerige rookblou van ver rante,
die pêrelblou van die skemering
en die roekelose blou van ’n blom
tussen groen gras.

Jy het my meer gegee as die beroering van
jou hande:
die lug het teerder om my gevloei, die aand het my inniger as voorheen
ontvang in sy koele omhelsing
en die wind het gaan lê op my bors.

Jy het my meer gegee as die besorgdheid
van jou stem:
die bome het hul takke behoedsaam geneig
en die sterre het hulle rondom geskaar soos wagte.

Jy het my meer gegee as die drang
van jou bloed:
die warm krag van die aarde het deur my gestroom,
die sap wat lentebloeisels uitstoot het gepols in my are
en die ewige lewe het ontkiem in my skoot.

Jy het my meer gegee as die droom
van een nag:
al die verlore drome van my kindertyd het teruggekeer,
en in my oë het jy sterre aangesteek,
te helder om te vlug vir daglig.

Alles wat ek verloor het en veel wat nog ongevonde was, het jy my gegee.

Jy het my meer gegee as jou liefde:
Die guns en die gawe van God.

Mooi, né?

In Hooglied is die passievolle pleit van die een wat liefhet so:

Hou my teen jou
soos die seëlring op jou bors
soos die seëlring aan jou arm.
Die liefde is sterker as die dood
die hartstog magtiger as die doderyk
strome water kan die liefde nie blus nie
riviere kan dit nie afkoel nie ….

NP van Wyk Louw druk dit soos volg uit:

Ek het jou liewer as die wind of die water
liewer as suiwer sonlig of see.
Ek het jou lief met die wonderkrag
wat die hart ’n mens kan gee…..

O, die liefde het ons nog lank nie klaar besing nie. ‘n Uittreksel uit my boek Maalkolk lui soos volg:

Madri is bly om tuis te wees, al is dit net vir ʼn rukkie. Haar arm is nog steeds in die slinger wat die dokter voorgeskryf het en sy kan hom nog nie so vryelik beweeg soos voorheen nie, maar kan tog vir kort rukkies die slinger afhaal.

Sy stap deur die huis en trek die gordyne wyer oop vir die son om in te kom. Sy sit die ketel aan vir tee, en stap eers ʼn draai deur die tuin. Sy is bly om te sien haar plantjies kom so geil op. Sy sal moet begin uitdun, maar haar tuin begin die voorkoms kry van ʼn regte kleurryke Engelse cottage-tuin, met outydse rose en al. Die agtertuin is pragtig, met die klein ronde fontein waarin die voëls vrolik en uitspattig bad dat die druppels soos diamante in alle rigtings spat. Die outydse rose dra knoppe so groot soos wat sy nog nooit gesien het nie, en sy is mal daaroor.

Sy gaan maak haar skinkbordjie met tee en gaan sit op die bankie om die voëls dop te hou. Die stilte en rustigheid verskaf vir haar eindelose vreugde en sy sal vir tannie Magda gaan vertel hoe mooi dit nou hier is. Sy dink ook daaraan om hulle te nooi vir tee as sy eers weer die gebruik van haar arm terug het. Sy is innig dankbaar dat sy hier kan bly en dat sy hierdie pragtige ou huis en tuin tot haar beskikking het.

Sy sluit haar oë in dankbare gebed vir hierdie wonderlike oomblikke, en so tref Deon haar aan toe hy by die agterdeur uitstap. Hy huiwer daar; wil haar nie steur nie. Sy is vir hom mooier en skoner as die mooiste roos in hierdie ganse tuin, en hy weet dat hy haar altyd hier wil hê; hier in hierdie huis en in hierdie tuin. Asof sy bewus is van nog ʼn teenwoordigheid, maak sy haar groot oë oop, en nog nooit was hulle so groen en so skitterend soos nou nie.

Sy kan haar blydskap om Deon te sien nie wegsteek nie en roep hom vriendelik nader.

“Haai, hallo! Jy is net betyds vir tee,” nooi sy. “Wag, ek gaan gou nog ʼn koppie haal; hier is genoeg tee in die pot,” begin sy babbel as hy niks sê nie, maar haar net stil staan en aankyk. Sy staan op en sy is vir hom nog kleiner, as dit enigsins moontlik is, maar volmaak gevorm; haar klein liggaam vol en aanloklik as sy haar gesonde hand oplig om haar wyerand sonhoed op haar kop vas te hou voordat die moedswillige bries dit van haar kop afpluk. Sy laat haar hand met hoed en al stadig sak, en die son is in haar goudrooi hare soos ʼn ligkring om haar kop. Here, kan daar iets mooier wees; ʼn vrou skoner as hierdie een, wonder Deon, amper verslae. Watter kans het hy teen hierdie aanslag op sy sinne? Sy hele wese reik na haar toe uit en sy sien dit in sy oë. Madri staan vasgenael onder sy intense blik en sy weet op hierdie oomblik dat haar lewe onlosmaaklik aan hierdie man verbind is. Hoe en hoekom weet sy nie, maar hy is haar lotsbeskikking, haar toekoms en haar tuiskoms.

Gaan lees dit want dis mooi.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s