Met ander oë

images

Soms praat ‘n gedig met jou en jy weet nie hoekom hierdie spesifieke gedig se stem so duidelik na jou kom nie. Jy is nie self ‘n digter nie, maar dis vir jou mooi. Net soos wat jy nie self kleure op ‘n palet kan meng en ‘n pragtige prent optower nie, maar die skildery is vir jou pragtig. Of so kan jy ook goddelike musiek hoor en luister, maar dit nie self voortbring nie en tog verlore raak daarin.

Ek het vrede gemaak met die feit daar daar skeppers en waardeerders van kuns is. Ek het myself toestemming gegee om sonder skuld of voorbehoud te geniet dit wat daar is om te geniet, geesgenot sowel as vleesgenot. Ek hoef dit nie self voort te bring om dit te geniet nie.

Ek het op die mooiste gedig van die digter Yannis Ritsos afgekom. Die gedig is vry vertaal en ek wil dit met jou deel omdat dit vir my so mooi is (en ek pienk wolke in die nag sien).

Miskien, eendag (Yannis Ritsos)(Vry vertaal)

Ek wil jou hierdie pienk wolke
wys in die middel van die nag,
maar jy sien nie

Dis nag, wat is daar om te sien?

Dus bly vir my niks anders oor
as om met jou oë te sien nie, sê hy
Sodat ek nie nie eensaam sal wees nie
en sodat jy nie eensaam sal wees nie.

En inderdaad, daar is niks om te sien
daar waar ek jou gewys het nie
Net die sterre saamgebondel
in die nag soos piekniekgangers wat
op ‘n vragmotor terugkeer van ‘n piekniek:
teleurgesteld, dors, met die
verlepte blomme in hul sweterige hande

Maar ek gaan daarop aandring
om met my eie oë te sien en miskien
sal ons op ‘n dag langs ‘n ander
weg weer ontmoet

En net omdat ek vandag na my pa verlang, die volgende gedig van Izak de Villiers:

HEILIGDOM

Dit was ʼn heiligdom, die klein gebou van sink:
binne die ruwe werkbank, rak, ou castrol-drom
en hamers in die hoek, raspers en sae, beitels blink
skerpgemaak, polikansky-almanak met meisie,
waskom
bo-op ʼn mazawattee-kis, blouseep, lampetbeker en lap
swaar kettings hang aan hake, toue, grawe, vuur
brand elke winter in die donkie, tussen houtwol krap
die kat haar lêplek reg, aan die muur
hang uie-lowwe, bore, stukke doringdraad
netjies opgerol, stoele met matte lankal uitgerafel,
reuk van pyprook, die ou voorhuisklok wat staan,
vierkantjies lig, versoolde bande opgestapel
hoekom ek Pa se plek nog jaar na jaar
bly heilig noem? Ek weet nie: God was seker daar.

Onthou jy nog:

ALGEMENE HANDELAAR

My pa se dorpswinkel was
argitektonies onooglik,
met twee verspotte uitstalvensters,
ʼn wye stoep en gewel-reklame
met spelfoute en al,
maar binne
tussen be-noude opeenhopings
van allerlei negosies
was daar
die onkoopbare koopware:
toegeneentheid en liefde
vir personeel, klante, besoekers,
handelsreisigers, skoolkinders,
en sommer in- en uitlopers wat groet.

daarom dat ʼn bepaalde spieël
in daardie kasarm van ʼn winkel
se “vroue klerasie afdeeling”
my eendag lank ná sy dood betrap:
waar ek ʼn keps soos hy dra
en sy dounat-roosknop op my lapel
en ʼn spoggerige (sy) sakdoek

en ek my wenkbroue streel soos hy
en my neussnawel syne herhaal
en my oë nadenkend word soos syne
en my mond
ʼn bekende pyn-trek kry.

Ernst van Heerden

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s