Archive | May 2014

Storieverteller

canstockphoto7959079

Ek is ‘n verteller van stories, nog nie ‘n volwaardige, professionele skrywer van boeke nie.

Ek wil so graag ‘n skrywer wees, maar ek is nog nie een nie, so verstaan ek, al het daar reeds agt boeke uit my pen voortgekom.  Al het ek reeds vyf van my stories self gepubliseer en uitgegee.

‘n Skrywer, ‘n rêrige, vaardige skrywer, wat goeie boeke skryf, is iemand wat voel, wat die held of die heldin word. Hy/sy vertel nooit ‘n storie nie. Die storie word geleef, asof die skrywer die held of heldin is. Ek het probeer, dit gaan al beter, maar ek is nog nie daar nie… Boeke waaruit ek moet leer hoe om te skryf, is op pad, en ek byt vas, al vlieg die tyd skrikwekkend vining by my verby.

En as jy romanse skryf, moet jy nie te diep onder die oppervlak delf nie – moenie boeke skryf met diepte, of wat vandag se lewe vertel soos dit is nie. Skryf oor mooi goedjies – bolangs. Dit kan ek nie doen nie, want ek het ‘n storie om te vertel, oor die lewe, oor die mense, oor die pyn, en swaarkry en lag van gewone mense. Ek kan nie oppervlakkig skryf nie – daar moet altyd pitkos wees, vir die skrywer en vir die leser.

Ek het van Oktober, 2013, agt boeke geskryf. Ek het ure, dae, maande, voor my rekenaar gesit en die lekkerste, lekkerste ding gedoen wat ek nog ooit gedoen het. Nie een enkele dag het ek gewonder wat volgende in die storie gaan gebeur nie. Ek het GEWEET. En ek het dit so vertel.

Daarom deel ek graag my pennevrugte met julle, al is ek nog nie ‘n gerekende skrywer, met goeie literêre werke onder die blad nie. Al vertel ek nog. (En wat meer is, ek vertel so lekker!)

Kom lees saam met my, lag saam en huil saam as dit moet. Ek het. Terwyl ek geskryf het.

As ek eendag groot is, dan sal die groot en bekende uitgewers my boeke uitgee en sal lesers my boeke by die groot boekwinkels op die rakke sien.

Tot dan wil ek steeds my vreugde deel, op die enigste manier wat ek weet hoe. Deur self te publiseer – e-boeke by Kalahari.com (e-boeke en harde boeke van Maalkolk en Die Lied van Lorelei), en by Amazon. com. Gaan kyk daar, ook vir die drie nuwes wat gister bygekom het – Mari, Maandanser en Plek van die Flaminke (die volledige storie) wat tans as vervolgverhaal hier aangebied word.

Geniet dit, en laat van julle hoor.

 

 

 

Maandanser

content_4865435_DIGITAL_BOOK_THUMBNAIL[1]

Dit verskaf vir my groot vreugde om uiteindelik die boek wat ek heel eerste geskryf het, die lig te laat sien.

Maandanser vertel die verhaal van Herman Jansen en die geheimsinnige meisie wat saans in die  maanlig in sy tuin kom dans en dan weer net so geheimsinnig verdwyn.

Hy sien haar waar sy fyn op die punte van haar tone, met haar arms bo haar kop, soos ʼn wilgertak in die wind swaai, haar rok en haar sluier sag soos die maan. Hy hou op asemhaal, te bang om te beweeg. Die meisie in die maanlig is verruklik mooi en die musiek wat amper onaards saam met elke beweging van haar vloei, maak van hom ʼn betowerde toeskouer. En dan raak die musiek stil en sy is weg…

Hy het hom voorgeneem hy sal nooit weer liefhê nie, nie na…. Maar hy het nie rekening gehou met die Maandanser nie.

Wie is die misterieuse jong vrou wat saans in Herman Jansen se tuin verskyn om hom te verlei met haar dans?

Kom lees en geniet saam hierdie storie wat die heel eerste uit my pen was en waaroor ek so ongelooflik bly was. Dat ek dit kon doen! Dat ek dit kon regkry…

Te kry op Amazon.com

 

 

 

e-Boeke op Amazon.com

a8abc0f6-b3d0-4da1-b7da-fac5937ae815[1]         dc9ecf6c-371a-4a8a-8542-d637aa725985[1]  e5e93981-d7e5-4887-ab93-5b06662fae29[1]

Drie van my boeke (soos bo) is van Dinsdag (27 Mei) af beskikbaar as e-boeke  by Amazon.com. Ek hoop om binnekort die harde boeke self ook daar te lys vir die wat van ‘n regte boek in die hand hou.  Hou maar hierdie spasie dop, want my plan is om die res van my boeke ook as e-boeke uit te gee.

Gaan kyk gerus by Amazon.com

 

Plek van die Flaminke – volledige verhaal

Flamink boot buiteblad 5eff0da2-c960-48bb-a449-656b6421f6b4[1]

Vir die wat die vorige episodes van Plek van die Flaminke misgeloop het, is die volledige verhaal  as e-Boek beskikbaar by http://Amazon.com

Kom geniet dit saam met my.

Rose vir die Moeders

Photo0061

Ek dra graag hierdie blad aan al ons Moeders op – Sondag is Moedersdag en hier is iets spesiaals vir elke ma wat mans en kinders het wat vir haar lief is. Ek begin met Antjie Krog se gedig:

Ma

Ma, ek skryf vir jou ’n gedig

sonder fênsie leestekens

sonder woorde wat rym

sonder bywoorde

net sommer ’n kaalvoet gedig –

want jy maak my groot

in jou krom klein handjies

jy beitel my met jou swart oë

en spits woorde

jy draai jou leiklipkop

jy lag en breek my tente op

maar jy offer my elke aand vir jou Here God.

jou moesie-oor is my enigste

telefoon

jou huis my enigste bybel

jou naam my breekwater teen die lewe

ek is so jammer mamma

dat ek nie is

wat ek graag vir jou wil wees nie

Antjie Krog

 

En dan  so mooi deur Jeanne Goosen:

 

Kersfees en

by Copernicus leen ek ‘n slim slim slypglasie

om by die luik van die hemel in te loer

Keppler speel met sy spieëls

en baljaar tussen die mane van uranus

En daar is die Meester ook

met sy boskasie vol skoenlappers

Hy is besig

Bak en brou ‘n nuwe skepsel

‘n dingetjie –

iets tussen ‘n komieklike insek

en ‘n wollerige knaagdiertjie

Uit papirus kry dit twee vlerke

wat hy met sy spuug aan die krom skouers vasplak

Hy brand ook sy voorletters daarop uit

want dit is sy eiendom, sy maaksel

Maar wysig God altyd wys?

want kyk:

Hy pas twee OK Basaarsloffies aan die pootjies

en met haakspelde

speld hy ‘n voorskoot aan die lyf vas

God staan terug

peins

sê dan nadenkend vir sy engel:

sy sal op kruie wei en ‘n soet reuk versprei

en ek sal haar nie aarde toe stuur nie

maar ‘n woning in die hemel gee

Voorts pluis God watte uit ‘n wolk

weef ‘n tweevertrek kokon

en betig wind en weer toornig

om hulle plek ten alle tye te ken

En dan druk God sy skepsel teen sy bors

lig die snaakse gesiggie na hom

en plaas sy mond op hare

God blaas

en die vlerke roer in die ligte bries

Ek huil vreugde uit die twee riviere van my oë

want op aarde het my ma min gehad.

-Jeanne Goosen

En dan die wonder van Breyten Breytenbach:

(vir Oun)

… en jy,

ek het saam met jou grootgeword,

 

‘n Voorskoot vol blomme en ‘n groen sonhoed,

ek weet nie of jy lag of huil nie – “kom, bog!” – en ek ruik

die warm see-genaakbare aarde en naeltjies en kaneel en blomme –

waar jy ook loop of werskaf is woorde en blomme:

leeubekkies, kalkoentjies, ridderspore, rose, swaardlelies, perdeklou,

gesiggies, die jakobregop, magnolias, uiltjies, frangipani’s, bobbejaantjies,

katjiepierings, pointsettias – jou woorde het stuifmeel en kroonblare

en bye, ja, jy praat blomme, jy maak nog reg wat seer is,

jy omtower die reën in ‘n spel van lig;

ek hoor jou sing by die harmonium

 

in jou hare, ‘n robyntjie flikker aan jou hand;

vir jou lê die hele skepping aan die agterdeur en die ganse wêreld

 

voor die voordeur

en altyd vol vreugde – die lewe is net ‘n handomkeer

en jou hande is nooit stil nie;

die skoenlappers van die liefde

is bo jou hoof –

en nou is jy oud en vol lewe en ewig jonk

soos ‘n vrugteboom in die grond;

ek dra jou bene kantelende bloed

en die klanke van jou keel –

o moeder, seën my voor u gaan!

Breyten Breytenbach

 

Die eerste liefde

Photo0054

Mens vergeet nooit jou eerste liefde nie. Dit bly jou altyd by, of jou eerste liefde reeds gesneuwel het, en of dit die liefde van jou lewe is. En daar is niks wat die eerste liefde so mooi beskryf soos ‘n gedig nie.

Lees en geniet saam met my George Weideman se pragtige gedig Die Eerste Keer

DIE EERSTE KEER

Die dag toe ek jou die eerste keer gesien het

het die sneeu reeds iewers tussen wolke

in ʼn nessie gelê en wag dat die winter moet kraak.

Dit was nog somer, en stowwerig daarby, die dag

toe jy die biblioteek koponderstebo

binnegestap het, maar ʼn snapsie berglug het saam

met jou gekom, en toe jy opkyk, het die klipbokkies

van klip tot klip gespring, en die leikliprante

het tot teen die vensters geskuif, en die aarde

was skielik verder van my voete af, soos vir ʼn dassie

in die greep van ʼn berghaan. Toe word ek bewus

van die ander, en ek gryp vervaard

na boek en pen en praat in ʼn stem

wat nie soos myne klink nie.

Daarna was elke klip en bos

en elke klipdas vervelig op sy plek. Jy was skaam

en die hoekige kranse agter my weer boekgevulde rakke

met wysheid onder stof en stempel. Wie het raad

vir die onrus van die dwaas?

Dis om die gang van die seisoene te probeer stuit.

Ek sou die hele dorp wou omdop: die reghoekige kerk,

die afgemete strate, die tabernakel van ʼn stadsaal.

Die stowwerige somer moes plek maak vir ʼn kaal

gestroopte herfs, die wind het gereelder uit die suide

begin waai en menige oggend was die hart

van die huis toegeys. Die oggend het begin kraak

onder die voete voor jy, gehandskoen by die stofie,

weer opkyk soos daardie eerste keer. Dit was

die dag toe ek geweet het ek wil die winterkoue

uit jou vingers vryf, en die sneeu het soos donsies

om ons begin val en alles wat hoekig was, versag.

– George Weideman