Archive | June 2014

Die kosbare juweel

amazing-nature-beautiful-6

Ons kyk so maklik die heel kosbaarste juweel mis. Daardie wonderlike gawe wat verniet is, wat geen eise stel nie, geen vrees inboesem nie, geen dreigemente voorhou nie. Wat nie op hoop gevestig is nie, maar op WEET. Want weet is anders as hoop. Hoop is onseker en gevestig op iets of iemand anders, maar om te weet, is seker. Dis hartspraak, dis gut feel.

Om te weet is die vaste wete dat iets vir jou waar is, dat dit jou waarheid is waarop jy eendag, na ‘n  lang en pynlike soektog afgekom het.  Dis die pelgrimstog van die dapperes en vir die wat vreesloos die besluit geneem het om op hierdie tog te vertrek, om te vind wat vir hul self waar is. Wat sonder huiwering voort gestap het op die pad na die oopte, op na die lig toe, weg uit die verstikkende en duister gang van die lewe wat voorgehou is as die enigste.

Het jy al jou waarheid gevind? Praat jy jou eie taal, sonder om te wag op goedkeuring? Is jy sterk en dapper genoeg om jou staan te staan en te weet wat jy weet? Of praat jy nog iemand anders se taal?

Vind jou eie stem. Jy het iets om te sê. Sê dit, ongeag van teenstand of veroordeling, want jy WEET dit is waar vir jou, al is dit nie vir ander nie. Jy sal verbaas wees hoeveel ander daar is wat ook hul pad gestap en hul juweel ontdek het.

Weet jy dat dieselfde lewe wat in die kleinste grassprietjie groei, ook deur jou vloei? Dat jy deel is van dieselfde skepping wat alles tot stand gebring het? Dat jy dieselfde DNA deel as die bome, die water, die sade, die wuiwende gras? Dat dieselfde energie en inligting wat die blombolle in jou tuin laat uitspruit en blomme voortbring, ook in jou is? Het jy al gewonder hoe weet die blombol hy moet ontkiem en deur die grond breek, ‘n klein spriet vorm en dan oopvou in ‘n pragtige blom? Hoe weet die selle van die eier in die baarmoeder dat hulle moet verdeel en vermeerder, ‘n oog moet word, of ‘n maag, of ‘n klein kloppende hart?

Ek jubel, want dieselfde intelligensie wat in die heelal en die skepping is, is ook in my. En in jou. Hoekom sal ons onsself dan geringskat en sê ons is nie goed genoeg nie, of ons sal nooit kan nie…

Ons is dan uit die Goddelike, hoekom sal ons minderwaardig wees? Kies vandag om jou waarheid te soek en te vind. Ons deel die DNA van die Goddelike. Vind dit en stap sterk en vol vreugde vorentoe want dis die juweel van alle juwele.

Om te WEET is die kroonjuweel.

 

Nuutste e-boek: Lelani

content_4940663_DIGITAL_BOOK_THUMBNAIL[2]

Ek is bly om my nuuste e-boek bekend te stel.

Lelani Botha bly saam met haar broer Chris by hul pa in sy huis op ‘n kleinhoewe net buite Middelburg. Hulle vlug uit hul ouerhuis weg na ‘n insident wat hulle tot in hul diepste wese ruk. Lelani het op ‘n bouvallige kliphuis langs die spruit wat oor hul grond loop afgekom en sy en Chris restoureer dit en gaan woon saam daar. Hier word hulle weer stadig mens en vind hulle uit dat die liefde en goedheid alles oorwin; selfs die intense wantroue en die pyn van verwerping.

Die vermoë om te buig maar nooit te breek nie; die wil om te bly staan ten spyte van hul omstandighede is ‘n wilsbesluit. Hulle sal regop staan en reguit kyk sonder verskoning vir wie hulle is of waar hulle vandaan kom. En die liefde waarteen Lelani so stry kry die oorhand as sy eindelik besef dat alle mans nie eenders is nie en dat Leon haar liefhet by alle grense verby.

Soos sy ook vir hom.

Hierdie mooi boek is beskikbaar by http:// Amazon.com.

 

 

 

 

Die liefde vir die goeie

canstockphoto7032152

Ek vind myself soms ver verwyderd van die werklikheid as die musiek my saam vat met die styging en daling, die fluistering, die huppeling van die note. Musiek kan smeek, huil, jubel, fluister, afhangend van die komponis se bedoeling en die musikale kunstenaar se vertolking. Hoe heerlik om net soms my oë toe te maak en die lieflikheid oor my te laat spoel. Mens luister met die hart en dan praat die stem van skoonheid so sag, maar so duidelik.

Ek kan nie sonder goeie musiek leef nie – die drama en betowering van opera, die goddelike vertolking van die kunstenaars,  en dan ook klasieke musiek. Luister nou net na die Warsaw Concerto van Adinsell- ongelooflike klavierspel en orkeswerk waaraan ek my net oorgee. Dan is daar die lieflike klavierconcerto’s van Chopin, die Clair de Lune van Debussy, Beethoven se vyfde klavierkonsert en vele meer. Sit vir Daniel Barenboim voor die klavier, dan het jy betowering. Luister net na die eerste gedeelte van Bruch se vioolkonsert – goddelike musiek. Niks, maar niks kan jou so oplig en wegneem van die alledaagsheid nie, niks sluit vir jou die hemelse so oop nie.

Sit nou hierby heerlike kos – gee vir my ‘n ciabatta brood met olyfolie, mozzarella kaas, avokadopere, kersietamaties, vars basiliekruid en goeie rooi wyn daarby, dan kan die wêreld maar by my verbygaan…

En moenie die goeie geselskap vergeet nie – my liewe vriendin met wie ek oor poësie, filosofie, en so meer kan gesels, met wie ek my liefde vir die opera deel en ook dit wat met die hart praat, en die wyses om my tafel wat slimmigheid verkoop om ons te laat skaterlag, of ons te laat nadink of onthou…

Bring nou ook die blomme – bakke vol rose. Die wit iceberg rose in my tuin wat my huis so vol  blomme maak. Die skoonheid daarvan laat my soms verstom staan en verwonderd…

En dan die boeke – sonder boeke kan ek nie, glad nie. Wat sou ek sonder Goethe, Kafka, Mark Twain, Tolstoi, Jane Austen, al die Engelse classics en ons eie skrywers en digters wees?

Dis vir my nodig – hiersonder kan ek nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

Vir my pa

10245348_1442525095986797_8433064582169431875_n[1]

Pa, jy het my geleer.

Jy het my die klein kiewiet gewys wat op sy lang bene vir sy ma weghol, sy al kwetterend agterna, oor die stofpad, asof sy hom wil aankeer. Jy het ‘n prentjie geteken van die kalant, al trappende in die sand dat die stof so om sy dun beentjies opslaan. En jy het ‘n storietjie daarby geskryf in jou mooi handskrif.

Pa, jy het my geleer van die diere, die wild wat op die rantjies staan en wat jy met jou blote oog kon tel. En ek, met my kinderoë op skrefies, moes loer om die klippe van die bokke te onderskei.

Jy het my geleer van die grond, Pa, van die reuk van nat grond, van die liefde daarvoor as jy na die pas omgedolwe sooi afbuk en ‘n handvol ryk, rooi grond in jou vingers frummel en dit na jou neus bring. Die geur van nat grond sal my altyd bybly en soms as die hunkering na die veld en die berge en die bome te erg raak, sluit ek my oë en onthou hoe ons die water in die voortjies laat afloop het om die groente nat te lei. En die reuk van die grond en die veld is skielik in my lyf..

Pa, jy het my geleer  van die goggas, vertel van die bobbejane, die wilde diere van die veld, van die slange en die beeste, en die skape, die hoenders en die eende, die ganse op die werf. Van die bome swaar van vrugte, die geur van die varsgeplukte appelkose uit jou hand.

Jy het my geleer van jou Vader, God, en luisterend jou kop gedraai na die wind, om te luister en te ruik as die reën op pad is. Jy het my gewys as die wolke aankom, en gemaan om stil te wees.

Ek los vir jou hierdie gedigte, Pa, omdat ek jou onthou…

‘N FLUISTERING IN DIE WINDSTILTE

Skielik was daar ʼn baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ʼn aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar ʼn vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ʼn fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy ʼn stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”

SONSONDERGANG

Die mymerende God

het hier versigtig

teerder

kleur gemeng

en fyn lang hale

teen die horsion getrek

 

geen grootse gloeiende passie hier

wat rooi wegsink

en saam met hom

die dag verskink

 

agter die rant in

lok die vuur

die sagte pers

van hierdie skemer uur

Onbekend

 

Langs nagtelike voetpaadjies, toe daar

geen enkel lig in ons klein dorp meer brand,

was hy my wandelmaat, sy vaste hand

het my teen elke wankeling bewaar.

Vandat my vingers sy vertroude vuis

ontglip het, bly hy onbegrypend staan

en prik sy flits se flou en lukraak baan

die donker wat ek sorgloos deurkruis.

Elizabeth Eybers

 

HEILIGDOM

Dit was ʼn heiligdom, die klein gebou van sink:

binne die ruwe werkbank, rak, ou castrol-drom

en hamers in die hoek, raspers en sae, beitels blink

skerpgemaak, polikansky-almanak met meisie,

waskom

bo-op ʼn mazawattee-kis, blouseep, lampetbeker en lap

swaar kettings hang aan hake, toue, grawe, vuur

brand elke winter in die donkie, tussen houtwol krap

die kat krap haar lêplek reg, aan die muur

hang uie-lowwe, bore, stukke doringdraad

netjies opgerol, stoele met matte lankal uitgerafel,

reuk van pyprook, die ou voorhuisklok wat staan,

vierkantjies lig, versoolde bande opgestapel

hoekom ek Pa se plek nog jaar na jaar

bly heilig noem? Ek weet nie: God was seker daar.

I L de Villiers

 

‘N BRIEF VAN HULLE VAKANSIE

Vir oubaas

Noudat ek uitgeswel is van lyf kan ek treur

oor die eelte van my vader, die lugoë van my ma

die skamel offerandes van hul gebede as hulle my

op die knieë van hul Gij Here God lê;

 

noudat ek agter ʼn baard kou kan ek huil

as hulle snags my naam fluister met die ruite

donker knippende oë in die wind, oor die visolie

vir my griep, die ingelegde perskes (albertas) op die

rak

 

In sy sestigste jaar swem my pa in Stilbaai se see

en stap myle ver oor die sand met sy reguit bene

in ʼn kortbroek en speel krieket op die duine

en eet alikruikels in die Sea View–losieshuis

 

want hys ʼn bokser, dokter, boer

ʼn kaptein en ʼn held ʼn indoena tussen grysaards –

En as die reën soos ʼn gesluierde bruid oor die see

kom

word die lieflinghond (Trixie) lam;

 

drie dae veg die veearts en buig dan die knie

en hulle dra die lyk terug na Kafferskuilsrivier

die plaas van hulle jong liefde en plant die saad

ʼn soenoffer in die diep grond se skoot

 

want nou is hulle minnaars

stil bome in die najaar met die wind

 

strelende drome in die takke

onder komete leeftye lang wêrelde

 

My ooms sterf soos kapok in die son

hartaanval beroerte kanker en tering

en my pa word stiller en meer verskriklik

van dop tot dop

 

Hier waar die harde winters en nat somers

my lyf ongenaakbaar skil, treur ek oor

die soet hart van my moeder

my pa se stil en bitter krag

Breyten Breytenbach

 

 

Nuut: Maandanser e-boek

content_4865435_DIGITAL_BOOK_THUMBNAIL[1]

MAANDANSER

Herman sien haar waar sy  op die punte van haar tone, met haar arms bo haar kop, soos ʼn wilgertak in die wind swaai, haar rok en haar sluier sag soos die maan. Hy hou op asemhaal, te bang om te beweeg. Die meisie in die maanlig is verruklik mooi en die musiek wat amper onaards saam met elke beweging van haar vloei, maak van hom ʼn betowerde toeskouer. En dan raak die musiek stil en sy is weg…

Wie is die misterieuse jong vrou wat saans in Herman Jansen se tuin verskyn om hom te verlei met haar dans? Herman besluit hy wil haar hê en hy sal haar kry.

Dinge begin egter moeilik raak as Herman se vriend, Dirk Hofman, se pragtige en vurige jonger suster, Trixie, besluit Herman is die man vir haar. Haar jeugvriend en skoolmaat, Pieter Vonk, besluit anders. Trixie is syne…

Intussen het Dirk self sy oog op die mooie Denise Viljoen, maar sy laat haar nie sommer vang nie…

Kom leees en geniet hierdie nuutse aanbieding.

Die e-boek is tans beskikbaar by http://www.Amazon.com

Plek van die Flaminke e-boek

 

Boat couple canstockphoto9097128

Alex Vorster keer na ‘n lang afwesigheid terug na Zeesig om die belange van die klein gemeenskap aan die oewer van die meer te bevorder en te beskerm wanneer hul vleilande en dierelewe bedreig word. Hy het egter nie rekening gehou met sy pragtige buurvrou en mede-eienaar Delia Kriel nie en die vonke begin behoorlik spat as die twee teen mekaar te staan kom.

Beskikbaar by: http://Amazon.com

 

Mari e-boek

Mari voorblad content_4868902_DIGITAL_BOOK_THUMBNAIL[1]

Die oomblik toe Dewald Bosman vir Mari Wolmarans sien, het hy geweet hy wil met haar trou. Mari is die beeldskone suster van Thinus Wolmarans, plaasbestuurder op Bergvliet, die familieplaas van die Bosmans. Mari se donker verlede volg haar soos ‘n nagmerrie. Waarvan en vir wie het sy gevlug met haar driejarige seuntjie, Dirkie? Dewald vra vir Mari om met hom te trou en sy stem in, maar dit sou slegs ’n huwelik in naam wees, tot sy anders besluit. Dewald is bereid om sy hart te waag op hierdie lieflike vrou, maar sal Mari kan vergeet wat agter haar lê en hom liefkry soos hy vir haar en haar seuntjie?

Beskikbaar by: http//:Amazon.com