Vir my pa

10245348_1442525095986797_8433064582169431875_n[1]

Pa, jy het my geleer.

Jy het my die klein kiewiet gewys wat op sy lang bene vir sy ma weghol, sy al kwetterend agterna, oor die stofpad, asof sy hom wil aankeer. Jy het ‘n prentjie geteken van die kalant, al trappende in die sand dat die stof so om sy dun beentjies opslaan. En jy het ‘n storietjie daarby geskryf in jou mooi handskrif.

Pa, jy het my geleer van die diere, die wild wat op die rantjies staan en wat jy met jou blote oog kon tel. En ek, met my kinderoë op skrefies, moes loer om die klippe van die bokke te onderskei.

Jy het my geleer van die grond, Pa, van die reuk van nat grond, van die liefde daarvoor as jy na die pas omgedolwe sooi afbuk en ‘n handvol ryk, rooi grond in jou vingers frummel en dit na jou neus bring. Die geur van nat grond sal my altyd bybly en soms as die hunkering na die veld en die berge en die bome te erg raak, sluit ek my oë en onthou hoe ons die water in die voortjies laat afloop het om die groente nat te lei. En die reuk van die grond en die veld is skielik in my lyf..

Pa, jy het my geleer  van die goggas, vertel van die bobbejane, die wilde diere van die veld, van die slange en die beeste, en die skape, die hoenders en die eende, die ganse op die werf. Van die bome swaar van vrugte, die geur van die varsgeplukte appelkose uit jou hand.

Jy het my geleer van jou Vader, God, en luisterend jou kop gedraai na die wind, om te luister en te ruik as die reën op pad is. Jy het my gewys as die wolke aankom, en gemaan om stil te wees.

Ek los vir jou hierdie gedigte, Pa, omdat ek jou onthou…

‘N FLUISTERING IN DIE WINDSTILTE

Skielik was daar ʼn baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ʼn aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar ʼn vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ʼn fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy ʼn stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”

SONSONDERGANG

Die mymerende God

het hier versigtig

teerder

kleur gemeng

en fyn lang hale

teen die horsion getrek

 

geen grootse gloeiende passie hier

wat rooi wegsink

en saam met hom

die dag verskink

 

agter die rant in

lok die vuur

die sagte pers

van hierdie skemer uur

Onbekend

 

Langs nagtelike voetpaadjies, toe daar

geen enkel lig in ons klein dorp meer brand,

was hy my wandelmaat, sy vaste hand

het my teen elke wankeling bewaar.

Vandat my vingers sy vertroude vuis

ontglip het, bly hy onbegrypend staan

en prik sy flits se flou en lukraak baan

die donker wat ek sorgloos deurkruis.

Elizabeth Eybers

 

HEILIGDOM

Dit was ʼn heiligdom, die klein gebou van sink:

binne die ruwe werkbank, rak, ou castrol-drom

en hamers in die hoek, raspers en sae, beitels blink

skerpgemaak, polikansky-almanak met meisie,

waskom

bo-op ʼn mazawattee-kis, blouseep, lampetbeker en lap

swaar kettings hang aan hake, toue, grawe, vuur

brand elke winter in die donkie, tussen houtwol krap

die kat krap haar lêplek reg, aan die muur

hang uie-lowwe, bore, stukke doringdraad

netjies opgerol, stoele met matte lankal uitgerafel,

reuk van pyprook, die ou voorhuisklok wat staan,

vierkantjies lig, versoolde bande opgestapel

hoekom ek Pa se plek nog jaar na jaar

bly heilig noem? Ek weet nie: God was seker daar.

I L de Villiers

 

‘N BRIEF VAN HULLE VAKANSIE

Vir oubaas

Noudat ek uitgeswel is van lyf kan ek treur

oor die eelte van my vader, die lugoë van my ma

die skamel offerandes van hul gebede as hulle my

op die knieë van hul Gij Here God lê;

 

noudat ek agter ʼn baard kou kan ek huil

as hulle snags my naam fluister met die ruite

donker knippende oë in die wind, oor die visolie

vir my griep, die ingelegde perskes (albertas) op die

rak

 

In sy sestigste jaar swem my pa in Stilbaai se see

en stap myle ver oor die sand met sy reguit bene

in ʼn kortbroek en speel krieket op die duine

en eet alikruikels in die Sea View–losieshuis

 

want hys ʼn bokser, dokter, boer

ʼn kaptein en ʼn held ʼn indoena tussen grysaards –

En as die reën soos ʼn gesluierde bruid oor die see

kom

word die lieflinghond (Trixie) lam;

 

drie dae veg die veearts en buig dan die knie

en hulle dra die lyk terug na Kafferskuilsrivier

die plaas van hulle jong liefde en plant die saad

ʼn soenoffer in die diep grond se skoot

 

want nou is hulle minnaars

stil bome in die najaar met die wind

 

strelende drome in die takke

onder komete leeftye lang wêrelde

 

My ooms sterf soos kapok in die son

hartaanval beroerte kanker en tering

en my pa word stiller en meer verskriklik

van dop tot dop

 

Hier waar die harde winters en nat somers

my lyf ongenaakbaar skil, treur ek oor

die soet hart van my moeder

my pa se stil en bitter krag

Breyten Breytenbach

 

 

Advertisements

One thought on “Vir my pa

  1. So beautifully said … And such lovely thoughts en remembrance…. This Father must be a bright star in heaven!

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s