Archive | July 2014

As dit so stil raak

 

tb_waterfall_wallpaper_avantzone-1024x768

Soms, as dit so stil raak, slaan my hart op vlug na waar dit koel en groen is, waar die rivier kronkelend deur die digte bosse gaan en sy pad oop stoot tussen die hoë koppe deur. Ek hoor die visarend se roep, en voel die bries oor my gesig soos ek stadig stroomaf dryf. Die koppe styg diggroen weerskante van my op, teen die wolklose blou in.

Dis net ek en die water en die wind.

Ek sluit my oë en voel hoe dit oop raak bo my, binne my, tot ek opstyg en my lyf dobberend in die water los. Ek word gedra op die wind, gevang in die suigkrag van die dwarrel en soos saad  versprei.

Advertisements

Die sagte stem

3D-Nature-Wallpapers-HD-2

 

Dis wanneer die lewe se volle gewig op jou druk en jy voel hoe jy verkrummel onder die donker las daarvan, dat jou siel se sagte fluistering na jou kom. Sonder woorde in die stilte kom die sagte roep om erkenning en herkenning as jy van uitputting ophou spartel.

Dis eers wanneer die hart stil word en luister dat die woordlose roep duidelik word, dat die uitnodiging gehoor word en, as jy fyn luister, sal jy die padkaart uit jou duisternis vind. Die onmeetlike siel laat hom nie inperk nie, laat hom nie bind nie, is nie afhanklik nie. Dis siel is altyd op soek na skoonheid, en kan maklik dit wat seer en donker is agterlaat in sy vlug na daar waar alle skoonheid is, daar waar vreugde woon, waar perfekte harmonie en kennis is.

Dis so eenvoudig. Sluit net jou oë en word stil. Sluit jou af van die kopgesprekke en word stil. Selfs onder die donker druk van die lewe kan jy stilte vind as jy dit soek. Sluit jou oë en wag …

Sommige sou dit gebed noem, sommige noem dit meditasie. Die betekenis is dieselfde in enige taal, maar die taal van die hart spreek die duidelikste.

 

Plek van die Flaminke – die end

Flamink boot buiteblad 5eff0da2-c960-48bb-a449-656b6421f6b4[1]

Ek bied vandag die laaste episode van Plek van die Flaminke aan, en dis die einde van die reis saam met die mense van Zeesig. Ek hoop die lesers wat die vervolgverhaal gelees het, het dit geniet.

Laat hoor gerus van julle.

Want net soos die liefde jou kroon, sal hy jou ook kruisig

e5e93981-d7e5-4887-ab93-5b06662fae29[1]

Wanneer die liefde na jou roep, volg hom na, al is sy weë swaar en steil. En as sy vleuels jou omvou, gee jou aan hom oor, al mag die swaard wat tussen sy penvere verstoke is, jou wond. En glo hom wanneer hy jou aanspreek, al mag sy stem jou drome verpletter soos die noordewind wat die tuin verwoes.

Want net soos die liefde jou kroon, sal hy jou ook kruisig. Net soos hy jou laat uitspruit, sal hy jou ook snoei. Net soos hy na jou kruin opstyg en jou teerste takkies troetel wat in die sonlig bewe, so sal hy ook na jou wortels neerdaal en hulle skud waar hulle aan die aarde vaskleef.

Soos gerwe graan oes hy jou vir homself. Hy dors jou om jou nakend te maak. Hy sif jou om jou van jou doppe te bevry. Hy maal jou totdat jy wit is, hy knie jou totdat jy buigsaam is; en daarna gee hy jou oor aan sy heilige vuur, sodat jy heilige brood kan word vir die heilige fees van God.

Moenie dink dat jy die gang van die liefde kan bestuur nie, want liefde, as dit jou waardig ag, rig jou lewensgang.

Kahlil Gibran uit Die Profeet

http://www.leserskring.com

http://www.amazon.com/s/ref=nb_sb_noss?url=search-alias%3Daps&field-keywords=rachelle%20du%20bois%20maandanser

http://ereads.co.za/category/authors/rachelle-du-bois

Mari Cover b91c19b2-af79-43c8-8c44-885877c0dd74[1]

http://www.amazon.com/s/ref=nb_sb_noss?url=search-alias%3Daps&field-keywords=rachelle%20du%20bois%20mari

http://ereads.co.za/category/authors/rachelle-du-bois

Die liefdes en leeslus van die 2014 vrou

 

Loving couple canstockphoto7371359

Toe ek so veertien-vyftien jaar oud was, ontdek ek vir Tryna du Toit, en Groen Koring vang my onkant. Ek is vir ewig verander deur hierdie boek oor die ongetroude, swanger Debbie wat Leon se kind dra. O, die skok daarvan, die skande daarvan, maar die mooi van die boek en die pragtige storie dryf enige vooroordeel uit hierdie jong meisie se gedagtes. Net die jammerte bly oor, en die soeke na nog boeke, nog soortgelyke liefdesverhale. Ek ontdek die liefdesromans van Susanna M Lingua, MER, Sara Dupisani, Ettie Bierman, en nog baie ander skrywers soos hulle, ek lees die pragtige boek Bloureën, waarvan ek die skrywer se naam nie kan onthou nie, en ek huil die hele nag om.

Ek ontdek vir Elmar Steyn met sy ou Kaapse verhale en sy Franse adellikes, en sou ek aanhou opnoem, sal die name van die skrywers en boeke bladsye vol beslaan.

Sonder uitsondering is die heldinne vroulik, godsdienstig, getroue eggenote en mammas, of jong onskuldige meisies wat verlief raak op ʼn onaanvaarbare man, wat nie goed genoeg is nie, of te wild is, of met haar mors. Sy bly egter sterk, sonder uitsondering sag en vroulik, en sy bly tuis om haar smart te oorkom.

Sommige, maar min van die karakters in die verhale, is ʼn paar wilde meisiekinders, dis nou die gewilliges wat die seuns agter die skool ontmoet, rook in die skool se kleedkamers, en vroeg skool verlaat as hulle swanger raak, maar die res is stroop, soos die sosiale verwagtinge vir ʼn goeie boek bepaal.

Die liefde en die romanse blom wit, en ek lees alles waarop ek my hande kan lê, Afrikaans en Engels. Ek lees honderde Mills & Boon boeke en die heldinne is vroulik, verleidelik en meer liberaal as ons Afrikaanse heldinne, maar dit bly ʼn opwindende ervaring, en ek verwonder my oor die Engelse so anders is…

Saam met ons, nou jong vroue en meisies, groei en verander ons liefdesverhale en ons heldinne om aan te pas by die sosiale opset van ons tyd. Ons heldinne is steeds kuis en tuis, en maak kinders groot, drink tee by die kerk, en sorg dat almal by die huis is as pa van die werk af kom. Ons heldinne trou om te hou, en van los en vas is daar nie sprake nie. Ons heldinne gaan kerk toe, werk toe, skool toe en huis toe.

Later jare kry ons die geleentheid om universiteit of onderwyskollege toe te gaan, en raak verlief en trou steeds, begin met gesinne, laat vaar ons werk en beroep, en hou huis. En ons lees liefdesromans tussen kinders grootmaak en huishou, ons ontsnap vir ʼn paar ure en ons word die pragtige heldin, en beleef die ontknoping van die romanse tussen haar en die aantreklike, sterk held wat haar red van een of ander krisis.

Die kern van ons liefdesromans van vroeër jare is steeds dieselfde in 2014, maar saam met sosiale en politieke verandering, word ons heldinne weereens vroue van ons tyd. Ons is werkende of professionele beroepsvroue, onafhanklik, modern, besit ons eie huise en bestuur ons eie besighede, is tegnologies bedrewe, ry vinnige motors, neem ons eie besluite, en deel ons lewens en ons lywe met die persoon van ons keuse, sonder om aan ons te laat voorskryf of skuldig te voel. Ons is eggenote, minnaresse, mammas, oumas, susters, dogters, vriendinne. Ons gee om vir mekaar, en ons lag en huil steeds saam met mekaar. En ons het lief, en bemin hartstogtelik met oorgawe en vrymoedigheid.

Ons bly steeds romantiese wesens, liefdesdromers, en ons lees steeds die liefdesromans van ons tyd, ons meisies en vroue se stories, in ons mooi taal.

Dis waarom ek skryf. Om ons stories in Afrikaans te vertel; die stories van ons moderne vroue se lewens en liefdes, van ons drome oor wat kan wees. Ek vertel die verhale van ons smart en vreugde, en die soms onsinnige, lagwekkende goed wat met ons as vroue gebeur.

En ek saai ʼn saadjie van hoop, maak vir ʼn tydjie ʼn venster oop vir ’n blik op die hart en lewe van ons vroue, sodat ons weet ons is nie alleen nie.

En die liefde bly deur al die jare dieselfde, net soos die hart van ʼn vrou.

 

 

Liefdesgedigte uit my skatkis

Ou boeke Facebook10256949_495859730515867_6730570642721716078_n[1]

 

DEUR DIE NAG

wanneer my geliefde na my toe kom deur die nag

is die strate waar perdekarre klipklop

om plastieksakke vullis op te tel

soet met frangipanibome se verspreide blomme

oor die keie

 

wanneer my geliefde na my toe kom deur die nag

dek ek ‘n tafel by die venster

met brood en wyn en soet donker vye

en skryf hierdie klein gedig

as teenwig van papier

vir daardie ander een buite van steen en van been

wat reis deur die nag

waar donker manne donker perde lei

 

wanneer my hart na my toe kom deur die nag

eet ons die vye en drink ons die wyn en maak-maak

die liefde soet op maat van die maan se kliprefrein

Breyten Breytenbach

 

EERSTE KEER

Die dag toe ek jou die eerste keer gesien het

het die sneeu reeds iewers tussen wolke

in ‘n nessie gelê en wag dat die winter moet kraak.

 

Dit was nog somer, en stowwerig daarby, die dag

toe jy die biblioteek koponderstebo

binnegestap het, maar ‘n snapsie berglug het saam

 

met jou gekom, en toe jy opkyk, het die klipbokkies

van klip tot klip gespring, en die leikliprante

het tot teen die vensters geskuif, en die aarde

 

was skielik verder van my voete af, soos vir ‘n dassie

in die greep van ‘n berghaan. Toe word ek bewus

van die ander, en ek gryp vervaard

 

na boek en pen en praat in ‘n stem

wat nie soos myne klink nie. Daarna was elke klip en bos

en elke klipdas vervelig op sy plek. Jy was skaam

 

en die hoekige kranse agter my weer boekgevulde rakke

met wysheid onder stof en stempel. Wie het raad

vir die onrus van die dwaas?

 

Dis om die gang van die seisoene te probeer stuit.

Ek sou die hele dorp wou omdop: die reghoekige kerk,

die afgemete strate, die tabernakel van ‘n stadsaal.

 

Die stowwerige somer moes plek maak vir ‘n kaal

gestroopte herfs, die wind het gereelder uit die suide

begin waai en menige oggend was die hart

van die huis toegeys. Die oggend het begin kraak

onder die voete voor jy, gehandskoen by die stofie,

weer opkyk soos daardie eerste keer. Dit was

 

die dag toe ek geweet het ek wil die winterkoue

uit jou vingers vryf, en die sneeu het soos donsies

om ons begin val en alles wat hoekig was, versag.

– George Weideman

 

Sheba, haar lied

Ek het jou van ver gewaar, my Broer.

Hoe mooi is jy nie!

Jy het vir my gevoel soos iets wat groen is,

koel om aan te raak, ‘n plant wat stroom

in water.

Vanuit die dieptes van jou oë,

en die ingehoudenhede van jou ledemate

het ‘n stroom na my gevloei soos uit fonteine.

Jy het my jou woning gewys, en my aan my hand

in die tempel geneem

sonder om ‘n menswoord te sê.

Was ek nie toe ook reeds ommuur nie?

Daar waar ek was, het ek regop

gestaan op aarde:

dit was ons twee saam wat so gestaan het.

Jou asem het verstrik geraak met myne,

soos die rankies

van die nuwe wingerd wat bly tas-tas na mekaar.

Ons het saam na die oneindigheid gesoek.

Ek het jou toe bemin voor ek dit ooit geweet het.

Nog altyd is dit so.

As ek my vensters oopmaak in die oggend

groet ek die rooidag in jou naam.

Daar is ‘n blomgeur in die rondte – die klein bleek

blomme van die druif het reeds ontvou

nog voor die son my huis getref het.

As ek uitstap proe ek die wyn

wat nog moet kom.

Ek hou my woord met wat nie goed gesê kan word nie.

Want die tong is ‘n deugniet en ‘n danser

en ook die wynpers van die soetigheid,

die tong waarmee ek hier jou skoonheid opnoem

en die donker fermentasie van jou bloed.

Jy is ver van my maar ek is naby jou.

Ek het jou teruggeskink tot in my binneste;

dit is daar dat jy bly leef.

Ek voel jy loop in my gebeente af soos wyngees self.

Dit is ‘n wonderwerk wat my omgeef.

– Petra Muller

 

EK STUUR VIR JOU ‘N ROOIBORSDUIF  

Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif

want niemand sal ’n boodskap wat rooi is skiet nie.

Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek

weet al die jagters sal dink dis die son.

Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder

en waar hy vlieg daar skitter oseane

en bome word groen

en hy kleur my boodskap so bruin oor jou vel

 

Want my liefde reis met jou mee,

my liefde moet soos ’n engel by jou bly,

soos vlerke, wit soos ’n engel.

Jy moet van my liefde bly weet

soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie

Breyten Breytenbach

DIE LIEFDE

Wanneer die liefde na jou roep,

volg hom na,

al is sy weë swaar en steil.

En as sy vleuels jou omvou,

gee jou aan hom oor,

al mag die swaard wat tussen sy penvere

verstoke is, jou wond.

En glo hom wanneer hy jou aanspreek,

al mag sy stem jou drome verpletter

soos die noordewind wat die tuin verwoes.

 

Want net soos die liefde jou kroon,

sal hy jou ook kruisig.

Net soos hy jou laat uitspruit, sal hy jou ook snoei.

Net soos hy na jou kruin opstyg

en jou teerste takkies troetel wat in die sonlig bewe,

so sal hy ook na jou wortels neerdaal

en hulle skud waar hulle aan die aarde vaskleef.

 

Soos gerwe graan oes hy jou vir homself.

Hy dors jou om jou nakend te maak.

Hy sif jou om jou van jou doppe te bevry.

Hy maal jou totdat jy wit is.

Hy knie jou totdat jy buigsaam is

en daarna gee hy jou oor aan sy heilige vuur,

sodat jy heilige brood mag word

vir die heilige fees van God.

– Kahlil Gribran