Liefdesgedigte uit my skatkis

Ou boeke Facebook10256949_495859730515867_6730570642721716078_n[1]

 

DEUR DIE NAG

wanneer my geliefde na my toe kom deur die nag

is die strate waar perdekarre klipklop

om plastieksakke vullis op te tel

soet met frangipanibome se verspreide blomme

oor die keie

 

wanneer my geliefde na my toe kom deur die nag

dek ek ‘n tafel by die venster

met brood en wyn en soet donker vye

en skryf hierdie klein gedig

as teenwig van papier

vir daardie ander een buite van steen en van been

wat reis deur die nag

waar donker manne donker perde lei

 

wanneer my hart na my toe kom deur die nag

eet ons die vye en drink ons die wyn en maak-maak

die liefde soet op maat van die maan se kliprefrein

Breyten Breytenbach

 

EERSTE KEER

Die dag toe ek jou die eerste keer gesien het

het die sneeu reeds iewers tussen wolke

in ‘n nessie gelê en wag dat die winter moet kraak.

 

Dit was nog somer, en stowwerig daarby, die dag

toe jy die biblioteek koponderstebo

binnegestap het, maar ‘n snapsie berglug het saam

 

met jou gekom, en toe jy opkyk, het die klipbokkies

van klip tot klip gespring, en die leikliprante

het tot teen die vensters geskuif, en die aarde

 

was skielik verder van my voete af, soos vir ‘n dassie

in die greep van ‘n berghaan. Toe word ek bewus

van die ander, en ek gryp vervaard

 

na boek en pen en praat in ‘n stem

wat nie soos myne klink nie. Daarna was elke klip en bos

en elke klipdas vervelig op sy plek. Jy was skaam

 

en die hoekige kranse agter my weer boekgevulde rakke

met wysheid onder stof en stempel. Wie het raad

vir die onrus van die dwaas?

 

Dis om die gang van die seisoene te probeer stuit.

Ek sou die hele dorp wou omdop: die reghoekige kerk,

die afgemete strate, die tabernakel van ‘n stadsaal.

 

Die stowwerige somer moes plek maak vir ‘n kaal

gestroopte herfs, die wind het gereelder uit die suide

begin waai en menige oggend was die hart

van die huis toegeys. Die oggend het begin kraak

onder die voete voor jy, gehandskoen by die stofie,

weer opkyk soos daardie eerste keer. Dit was

 

die dag toe ek geweet het ek wil die winterkoue

uit jou vingers vryf, en die sneeu het soos donsies

om ons begin val en alles wat hoekig was, versag.

– George Weideman

 

Sheba, haar lied

Ek het jou van ver gewaar, my Broer.

Hoe mooi is jy nie!

Jy het vir my gevoel soos iets wat groen is,

koel om aan te raak, ‘n plant wat stroom

in water.

Vanuit die dieptes van jou oë,

en die ingehoudenhede van jou ledemate

het ‘n stroom na my gevloei soos uit fonteine.

Jy het my jou woning gewys, en my aan my hand

in die tempel geneem

sonder om ‘n menswoord te sê.

Was ek nie toe ook reeds ommuur nie?

Daar waar ek was, het ek regop

gestaan op aarde:

dit was ons twee saam wat so gestaan het.

Jou asem het verstrik geraak met myne,

soos die rankies

van die nuwe wingerd wat bly tas-tas na mekaar.

Ons het saam na die oneindigheid gesoek.

Ek het jou toe bemin voor ek dit ooit geweet het.

Nog altyd is dit so.

As ek my vensters oopmaak in die oggend

groet ek die rooidag in jou naam.

Daar is ‘n blomgeur in die rondte – die klein bleek

blomme van die druif het reeds ontvou

nog voor die son my huis getref het.

As ek uitstap proe ek die wyn

wat nog moet kom.

Ek hou my woord met wat nie goed gesê kan word nie.

Want die tong is ‘n deugniet en ‘n danser

en ook die wynpers van die soetigheid,

die tong waarmee ek hier jou skoonheid opnoem

en die donker fermentasie van jou bloed.

Jy is ver van my maar ek is naby jou.

Ek het jou teruggeskink tot in my binneste;

dit is daar dat jy bly leef.

Ek voel jy loop in my gebeente af soos wyngees self.

Dit is ‘n wonderwerk wat my omgeef.

– Petra Muller

 

EK STUUR VIR JOU ‘N ROOIBORSDUIF  

Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif

want niemand sal ’n boodskap wat rooi is skiet nie.

Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek

weet al die jagters sal dink dis die son.

Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder

en waar hy vlieg daar skitter oseane

en bome word groen

en hy kleur my boodskap so bruin oor jou vel

 

Want my liefde reis met jou mee,

my liefde moet soos ’n engel by jou bly,

soos vlerke, wit soos ’n engel.

Jy moet van my liefde bly weet

soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie

Breyten Breytenbach

DIE LIEFDE

Wanneer die liefde na jou roep,

volg hom na,

al is sy weë swaar en steil.

En as sy vleuels jou omvou,

gee jou aan hom oor,

al mag die swaard wat tussen sy penvere

verstoke is, jou wond.

En glo hom wanneer hy jou aanspreek,

al mag sy stem jou drome verpletter

soos die noordewind wat die tuin verwoes.

 

Want net soos die liefde jou kroon,

sal hy jou ook kruisig.

Net soos hy jou laat uitspruit, sal hy jou ook snoei.

Net soos hy na jou kruin opstyg

en jou teerste takkies troetel wat in die sonlig bewe,

so sal hy ook na jou wortels neerdaal

en hulle skud waar hulle aan die aarde vaskleef.

 

Soos gerwe graan oes hy jou vir homself.

Hy dors jou om jou nakend te maak.

Hy sif jou om jou van jou doppe te bevry.

Hy maal jou totdat jy wit is.

Hy knie jou totdat jy buigsaam is

en daarna gee hy jou oor aan sy heilige vuur,

sodat jy heilige brood mag word

vir die heilige fees van God.

– Kahlil Gribran

 

 

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s