Dis wanneer die lewe se volle gewig op jou druk en jy voel hoe jy verkrummel onder die donker las daarvan, dat jou siel se sagte fluistering na jou kom. Sonder woorde in die stilte kom die sagte roep om erkenning en herkenning as jy van uitputting ophou spartel.
Dis eers wanneer die hart stil word en luister dat die woordlose roep duidelik word, dat die uitnodiging gehoor word en, as jy fyn luister, sal jy die padkaart uit jou duisternis vind. Die onmeetlike siel laat hom nie inperk nie, laat hom nie bind nie, is nie afhanklik nie. Dis siel is altyd op soek na skoonheid, en kan maklik dit wat seer en donker is agterlaat in sy vlug na daar waar alle skoonheid is, daar waar vreugde woon, waar perfekte harmonie en kennis is.
Dis so eenvoudig. Sluit net jou oë en word stil. Sluit jou af van die kopgesprekke en word stil. Selfs onder die donker druk van die lewe kan jy stilte vind as jy dit soek. Sluit jou oë en wag …
Sommige sou dit gebed noem, sommige noem dit meditasie. Die betekenis is dieselfde in enige taal, maar die taal van die hart spreek die duidelikste.