Archive | August 2014

Maalkolk: ‘n kort uittreksel

dc9ecf6c-371a-4a8a-8542-d637aa725985[1]

Adele stap met die paadjie langs verby die roostuin en die baldadige bougainvillea. Sy sien die bo-deur is oop en die onderdeur op knip. Sy wonder waar is daai Gert; die blessit hond van Francois is net so voor op die wa soos sy baas. Asof hy deur haar gedagtes opgetower word, verskyn hy om die hoek van die huis met ʼn swaaiende stert en snuif nuuskierig in die lug agter die kos aan. “Ja, jou stoute ding,” raas Adele, maar sy is nie ernstig nie, want Gert is nie sommer ʼn gewone hond nie. Hy is slim en die appel van sy oubaas se oog. Waar Francois gaan, Gert saam.

“Waar is jou baas, hè?” vra sy terwyl sy aan die deur klop. Sy wag ʼn rukkie, maar toe Francois nie sy verskyning maak nie, stoot sy die onderdeur oop en sit sy kos op die tafel neer. “Halloooo …!” roep sy in die gang se rigting en dan kom Francois aangestap met ʼn kaal bolyf en ʼn handdoek in sy hande waarmee hy sy gesig en hare afdroog. Sy denim sit knus om die skraal heupe en sy sterk bruin arms en bolyf is iets om te waardeer. Adele kan haarself byna nie keer om hom aan te staar nie, en asof hy weet watse uitwerking hy op haar het, speel ʼn effense glimlag om sy mond terwyl hy haar deur sy donker wimpers betrag, kop effens agteroor gegooi.

“Nou dis nou vir jou te sê, die dogter van die huis het vir my kos gebring,” sê hy skoorsoekerig terwyl hy sy kort donker hare plat vryf.

Adele vervies haar sommer op die plek, maar besluit om sy opmerking te ignoreer. “Ek het net kom hoor of Oupiet vir jou kom sê het van die stukkende lyndraad,” sê sy en probeer om nie sy gespierde bolyf met die donker skaduwee oor sy bors raak te sien nie. Hy ontsenu haar so dat sy wegdraai en deur die vertrek begin stap. Sy merk tot haar verbasing dat hy heelwat uitstaande klein beeldhouwerke het. En teen sy mure pryk ʼn versameling oorspronklike kunswerke. Sy kan haar verbasing nie wegsteek nie en draai om net om hom reg agter haar te vind. Sy ruik die veld en die wind aan sy lyf en sy laat haar oë sak, te ontstig om na sy kunswerke te vra.

“Jy is verbaas om te sien ʼn plaaswerker kan ook die kunste geniet?” vra hy digby haar oor. Hy staan moedswillig naby haar en toe sy opkyk, sien sy duisend duiwels in sy oë dans.

Sy skuur by hom verby en sê dan ligweg: “Ja, ek moet sê ek is verras. Waar het jy die pragtige beeldhouwerke gekry? Wie is die kunstenaar?” vra sy nuuskierig.

“Sommer ʼn pel van my,” antwoord hy ontwykend.

“En die skilderye?” vra sy.

“’n Ander pel van my,” en sy kan agterkom hy is sommer stuitig. Hoekom wil hy nie vir haar sê wie die kunstenaar is nie? Het hy dalk die goed vasgelê, wonder sy, skielik agterdogtig. Wie sê hy is nie ʼn kuns dief nie? Hulle weet so min van hom af. Wie is hy regtig behalwe oom Boeta se seun? Haar nuuskierigheid is nou behoorlik geprikkel en sy kyk hom met ʼn skewe kop aan.

Sy gewaar sy moderne musieksentrum en groot platskerm-televisie en stap soontoe; sy sien die groot versameling klassieke-musiek-CD’s wat in netjiese rye staan, gerangskik volgens die komponiste. Sy weet nie wat sy verwag het nie, maar dit was beslis nie ʼn man met sulke verfynde smaak nie. Sy kyk hom onseker aan, wil hom uitvra, maar iets in sy gesig het verander; sy oë is versluier agter die digte donker wimpers. Sy voel instinktief aan dat sy weet soveel as wat hy wil hê sy moet weet, vir nou altans.

Hy staan nog steeds waar sy hom gelos het, maar hy beweeg sag en grasieus soos ʼn kat vorentoe, tot byna teen haar. Haar oë rek as hy sy hand oplig en haar ferm agter haar nek vat en nader trek tot sy gesig baie naby aan hare is, sy oë op haar mond. Sy vergeet om asem te haal en is net bewus van die hitte van sy lyf hier teen haar en sy duim wat ritmies oor haar nek en haar wang beweeg tot by haar mond. “Jy moet liewer hier wegbly, dogtertjie, voor jy jou vingers verbrand,” sê hy sag en los haar so skielik dat sy amper haar balans verloor. Adele kyk hom vir ʼn oomblik byna geskok aan, draai om en vlug by die deur uit, tot in haar siel geruk deur hierdie man se dierlike aantreklikheid en haar eie reaksie daarop. Sy voel ook erg verleë as sy sy sagte lag agter haar hoor. Hy moet bepaald dink sy gaan soos ʼn ryp appel in sy skoot val.

Hy kyk haar ingedagte agterna, skud dan sy skouers ongeduldig en vat sy hemp wat oor die stoel hang en trek dit aan. Hy lig die deksel van die geurige bord kos af en gaan sit om te eet. Daar is werk om te doen.

 

 

 

Advertisements

Hoe het jy begin skryf?

canstockphoto7959079
Ek wil so graag ʼn boek skryf, hoor ek baiekeer van mense. En dan kom die vraag: hoe het jy begin?

Ek het net eendag gaan sit en begin skryf. Dit na jare, en letterlik duisende, boeke se lees. As ek sê duisende, dan bedoel ek duisende. Ek het begin lees toe ek tien jaar oud was, en het alles verslind waarop ek my hande kon lê. Engels sowel as Afrikaans.

Ek wou altyd skryf, en het altyd geskryf. Gediggies, versies, kort stukkies prosa.

Ek het later jare hardop gesê: Ek wil ʼn boek skryf. Dit was nie meer net ʼn droom nie, dit was ʼn drang.

Dit was eers in Julie 2013 dat ek my eerste boek,  Maandanser, aangepak het. Die meisie in die maanlig in Herman Jansen se tuin. Van Dirk en Denise en hul mooi liefde, van Trixie en haar speelmaat, die seun van hul buurman op die plaas, en van sy vreemde verandering. Want skielik is hy nie meer dieselfde nie. Hy is vreemd anders, en sy verstaan haarself nie meer nie.

En lag en ek huil terwyl ek skryf, want daar is humor en daar is trane terwyl my karakters leef. Ek voltooi die 47,963 woorde en stuur dit teen die einde van Augustus 2013 aan die uitgewer vir moontlike publikasie. Hulle laat weet dit sal vier maande neem voor ek van hulle sal hoor. So lank kan ek nie sit en niksdoen nie.

Hierdie boek is beskikbaar by:

http://www.amazon.com/s/ref=nb_sb_noss?url=search-alias%3Daps&field-keywords=rachelle%20du%20bois%20maandanser

http://ereads.co.za/category/authors/rachelle-du-bois

In die tussentyd begin ek skryf aan my tweede boek, Maalkolk. Ek skryf 34,161 woorde en voltooi die boek binne drie weke op 23 September 2013. Dis ʼn hartsboek, ʼn mooi boek wat die storie vertel van Madri en Deon, en hul liefde vir mekaar, maar die seer uit haar verlede staan tussen hulle. Dis ook die verhaal van Adele en Francois, van misverstand en begeerte wat later liefde word, van gee en neem.

Ek besluit om hierdie boek self uit te gee terwyl ek wag vir Maandanser, en ek laat dit professioneel redigeer en druk. Toe ek hierdie boek in my hande hou wou my hart bars van vreugde. Ek besluit om dit ook as e-boek beskikbaar te maak.

Die boek is beskikbaar by:

http://www.amazon.com/s/ref=nb_sb_noss?url=search-alias%3Daps&field-keywords=rachelle%20du%20bois%20maalkolk

http://ereads.co.za/category/authors/rachelle-du-bois

Ek begin dadelik hierna met my derde boek, Plek van die Flaminke, ʼn heerlike humoristiese verhaal oor die mense van die vakansieoord, Zeesig. Ek giggel en lag uit my maag terwyl ek skryf oor die dinge van Delia en die sexy Alex, oor sy stil, dodelik aantreklike broer Xander, wat die tjello en viool kan laat huil en jubel, en sy Madeleen. Van die stryd en die stoei om mekaar se harte en lywe. En ek jubel, want ek voltooi hierdie boek van 35,667 woorde aan die einde van Oktober 2013, en besluit om dit ook self uit te gee as e-boek terwyl ek wag vir Maandanser. Die boek was as vervolgverhaal beskikbaar op my webblad by http://rachelledubois.com.

Die boek is tans beskikbaar by:

http://www.amazon.com/s/ref=nb_sb_noss?url=search-alias%3Daps&field-keywords=rachelle%20du%20bois%20plek%20van%20die%20flaminke

http://ereads.co.za/category/authors/rachelle-du-bois

Teen 25 November 2014, het ek my vierde boek, Die Lied van Lorelei met sy 44,613 woorde klaar geskryf. Humor uit die boonste rakke, uit die maag lag vir die dinge van hierdie welaf sitrusboere in die noorde van Mpumalanga. Natuurlik is my helde sterk en sexy, en my heldinne pragtig en ook sexy, en hulle dans ʼn eierdans om mekaar, na hul jonger boeties ingryp en hul by Die Opsitkers inskryf.

Ek besluit om hierdie boek ook te laat redigeer en te laat druk. Ek gee dit self uit as boek en e-boek in Januarie, 2014. Weereens beleef ek die vreugde om my pragtige breinkind in my hande te hou.

Die boek is tans beskikbaar by:

http://www.amazon.com/s/ref=nb_sb_noss?url=search-alias%3Daps&field-keywords=rachelle%20du%20bois%20die+lied+van+Lorelei

http://ereads.co.za/category/authors/rachelle-du-bois

Intussen laat die uitgewer my weet Maandanser is afgekeur. Vier maande se wag verby. Maar ek leer uit wat hulle sê: my taal- en skryfvaardighede is goed, ek het beslis potensiaal as skrywer, maar ek vertel die storie, ek wys nie die emosie van my helde en heldinne nie. En, die boek is uit die held se oogpunt geskryf, en nie die heldin s’n soos hulle vereis nie. Ek lees al die inligting, en ek koop die boeke wat hul aanbeveel. Ek lees en ek leer, en ek skryf verder.

Teen die middel van Desember 2013, het ek my vyfde boek, Mari, met sy 45, 312 woorde klaar geskryf. Mari, vir wie Dewald liefgekry het die oomblik toe hy haar sien. Mari, wat stukkend weggevlug het uit ʼn huwelik wat haar nie net fisiek nie, maar ook emosioneel afgetakel het. En haar broer, Thinus, met die persblou oë soos die van sy sus. Thinus, wat glo dat sy omstandighede hom weerhou daarvan om die vrou wat hy liefhet, te gaan haal en haar syne te maak.

Ook hierdie boek het ek self uitgegee as e-boek en die boek is tans beskikbaar by:

http://www.amazon.com/s/ref=nb_sb_noss?url=search-alias%3Daps&field-keywords=rachelle%20du%20bois%20mari

http://ereads.co.za/category/authors/rachelle-du-bois

Ek skryf nou ernstiger boeke, oor die lewe, nie net oor die liefde nie, en ek put soveel bevrediging daaruit. Mense leef en kry seer, hul lag, en werk, hul dra mekaar, help mekaar, kry lief, en verloor. En deur dit alles speel die noodlot sy rol. My heldinne groei as mense, en my helde is sterk, maar deernisvol. Hulle staan sterk saam met die liefde van hul lewe en hul oorwin wat ookal op hul pad kom.

Ek begin dadelik werk aan die volgende boek. Ek stuur op 31 Desember 2013 my sesde boek, Lelani, met sy 44,000 woorde aan die uitgewers vir moontlike publikasie. Hulle erken ontvangs en laat weet hulle sal oor vier maande hul besluit bekend maak.

Intussen begin ek skryf aan Bergh Paradys (of Inge) en voltooi my sewende boek met sy 63, 536 woorde in Maart 2014, waarna ek dit ook aan dieselfde uitgewers stuur in die hoop dat hulle hierdie manuskrip sal aanvaar vir publikasie.

Ek hoor na amper vyf maande (Mei 2014) van die uitgewers dat Lelani afgekeur is. Hierdie keer het my boek darem tot by die manuskripverwerker gevorder, maar dis die verkeerde genre. Dit moet onder die liefdesroman ingedeel word. Die heldin se pyn en leed pas nie in die genre van romanse nie. Romanse is ʼn soort van “hit en run” affêre wat geen ernstige lewensvraagstukke of die heldin se groei as mens aanraak nie. Die lewe is die domein van die liefdesroman.

Dis my domein. Dis wat ek wil skryf.

Ek besluit om Lelani aan ‘n ander uitgewer te stuur en ek hoor op 14 Oktober 2014 dat hulle die manuskrip aanvaar vir publikasie. Hopelik sal hierdie pragtige boek wat  die volgende kommentaar uitgelok het, voor die einde van November 2014 beskikbaar wees op bekende boekwinkels se rake:

’n Passievolle verhaal wat mooi uitgebeeld word deur die skrywer. Die taalgebruik in die boek is goed, met interessante  verwysings na bekende digters se werke, wat baie goed by die storie inpas. Die verskeie karakters in die boek word geloofwaardig uitgebeeld. Dit is ‘n lekker lees verhaal, wat die leser se aandag sal hou tot die einde. Dit is ‘n liefdesnovelle wat baie goed in die genre slaag.”

Ek onttrek Bergh Paradys omdat ek vermoed dis ook die verkeerde genre, en stuur dit in Julie 2014 na ʼn ander uitgewer. Ek merk dit duidelik as ʼn liefdesroman. Ek wag om in November 2014 van hulle te hoor. Vier maande se wag.

Intussen val ek weg met my agtste boek, my eerste Engelse roman, genaamd Pippa’s Story met sy 65,987 woorde. Ek voltooi hierdie heerlike boek op 5 Augustus 2014 en kry dit op 21 Augustus 2014 terug van die Engelse redakteur af. Dit word aanvaar deur Kwarts Publishers en is vanaf 13 Oktober 2014, as e-boek beskikbaar by die skakels hieronder.. My hart swel van vreugde en as ek ʼn ballon was, het ek nou hoog gesweef. Die kommentaar van die uitgewer was:

“I loved the way the author used vivid descriptions of nature, the farm and some of the scenes where people interact with each other. There is a fresh and original feel in some of the chapters which I enjoyed. She also kept the suspense around the ‘secret of the key’ lovely till the end. I also loved the happy ending.”

Dis ʼn mooi boek, en ek het sonder om een keer te wonder waarheen nou, geskryf tot ek klaar was. Die boek het ook as vervolgverhaal op my Engelse webblad by http://rachelleduboisenglish14.com verskyn.

Die boek is tans beskikbaar by:

http://www.kalahari.com/eBooks/Pippa-s-Story-eBook_p_49782861

http://www.kwarts.co.za/E-Books/tabid/95/CategoryID/0/Level/a/ProductID/5404/Default.aspx?txtSearch=pippa%27s+story&SortField=ProductName%2cFree2

http://www.leisurebooks.com/Product/ProductDetail/856497

Op 10 Augustus 2014 begin ek werk aan my negende boek, en tweede Engelse liefdesroman genaamd Eve Vermont. Ek voltooi dit op 28 September 2014, en stuur dit  na die redigeerder. Ek hoop om dit teen die middel van Oktober terug te kry vir korreksies. En dan….. die publikasie!  Dis ʼn prag boek, ‘n seer boek, ʼn bly boek, ʼn vreugdevolle lewensboek. En ek huil terwyl ek skryf, want ek lewe soos wat Eve Vermont lewe.

Ek het reeds begin skryf aan my tiende storie, ‘n opvolgboek vir Eve Vermont, genaamd Oak Seed. Die eerste tien hoofstukke is reeds klaar gekryf. En ek is opgewonde en bly, want dit gaan ‘n mooi boek wees.

Is ek tevrede met wat ek vermag het in die jaar vanaf Augustus 2013 tot vandag, 22 Augustus 2014? Ek dink so. Diep tevrede en baie dankbaar, want ek het agt boeke wat die moeite werd is om te koop en te lees, geskryf, waarvan sewe reeds uitgegee is en beskikbaar is as e-boeke.

Is ek klaar met Afrikaans? Nee, ek sal nooit klaar wees met my taal nie, en die volgende Afrikaanse boek se saad het al ontkiem in my kop. Die storie lê en wag, maar eers moet ek klaarspeel met die skone Eve Vermont.

My raad aan voornemende skrywers is om allereers te gaan kyk na wat jy wil skryf. Gaan lees boeke oor die onderwerpe. Kyk hoe skryf die skrywers, wat skryf hulle. Lees boeke oor hoe om te skryf, daar is baie op die mark.

En dan plaas jy jou op jou stoel voor jou rekenaar neer, en skryf. Skryf net. Begin net en skryf alles wat in jou kop kom. Dis oefening. Maak vir jou ʼn raamwerk waaroor jou storie gaan, en gaan doen navorsing oor jou onderwerp. Ken jou karakters, weet wie hulle is.

Praat met my. Ek hoor graag wat jy dink as jy reeds van my boeke gelees het of sal wil lees.

Lelani

Lelani Kwarts Cover

Sy sien Leon se lyf, die spiere oor sy rug duidelik onder die dun materiaal van sy hemp, as hy vooroor reik na die goed voor hom op die grond en asof hy voel sy kyk vir hom, kyk hy op. Haar asem is skielik weg en sy voel hoe haar hart swaar slae slaan as sy blou oë hare gevange hou. Hy staan op en vir lang oomblikke kyk hulle woordeloos na mekaar. Hy laat die goed stadig uit sy hande val en stap na haar toe, in haar wese in en as hy stil voor haar kom staan, weet sy nie meer waar sy eindig en waar hy begin nie. Sy oë is intens en donker.

“Ek bou vir jou ʼn brug, Lelani,” kom dit sag, voor hy af buk om haar los te maak; die toue val weg van haar af en sy is vry. Sy weet wat hy vir haar sê. Sy kyk woordeloos na hom en hy staan nog so naby haar, asof hy onwillig is om die oomblik te laat gaan. Haar hart staan stil oor sy nabyheid; sy oë is op haar en sy voel sy asem vlindersag teen haar mond. Sy sluit haar oë, tegelyk verskrik en verruk oor haar verlange na sy nabyheid en toe sy later haar oë lig, sien sy dat hy met sy rug na haar toe staan, sy hande deur sy hare trek en oor sy gesig vryf.

“Sal julle Saterdagaand by ons kom eet, Lelani? Jy en Chris?” Sy kyk na Chris en sy sien dat hy hulle dophou, maar hy draai vinnig weg toe hy sien sy kyk vir hom. Sy kyk terug na Leon en sy kry haar stem terug, vreemd hees.

“Dankie, Leon, ons sal graag kom. Kan… kan ek iets saambring?”

Hy draai terug na haar toe en skud sy kop. “Net vir jou,” sê hy sag, “en Chris kan homself bring,” glimlag hy effens. Hy stap terug na Chris toe waar hy vir hom wag met ʼn simpel grinnik op sy gesig, maar Leon kyk hom net stil aan sonder om iets te sê.

Lelani sukkel om tot verhaal te kom. Sy is diep geroer deur dit wat tussen hulle gebeur het, maar as sy dit ʼn naam moet gee, kan sy nie. Sy is verwonderd en sonder woorde.

Die eerste roering in haar hart het begin en toe hy weer omdraai en na haar kyk, bestaan daar meteens vir haar niks anders as net hy nie.

Hy is ʼn man, Lelani, ʼn man, waarsku haar verstand, maar haar hart fluister ʼn ander, sagter boodskap.

 

Dit roep na my

Photo0035

 

DIT ROEP NA MY, Dié STILTE

Ek hoor hoe dié wêreld vir my fluister uit die stomme grond, deur die flikkering van sterre, die sagte roep van honger hase, die astrante geskreeu van die bakore. Dit roep na my, dié stilte, die geur van die dooie veld, en ek wonder of ek nie maar hier hoort nie soos die vaal korhaan en die kommandovoël met sy onskuldige geel oë nie. As ek net verstaan wat ek moet verstaan. Ek het Matriek geskryf, maar ek verstaan nog nie eens my eie hart nie.

 

F A Venter

 

 

 

Laat winter

Dust canstockphoto18028404

 

Die wind waai die rook en die stof in dwarrels by die deur in. Die lug is dofbruin en laas nag se gebrande gras lê in swart smeersels die badkamer vol. Iemand het verlede week se vol asbliksakke op die hoek by die watertoring aan die brand gesteek, en die smeulende gemors stoot sy eie brandreuk die strate in, tot in die huis, tot in my mond, tot in my neus, tot in my brandende oë.

Die begeerte om terug te klim in my bed, en my kop onder die komberse toe te trek, raak al groter. En toe kom hierdie vers by my op, en ek skryf dit neer. Vir my. Vir my skryf ek dit neer, terwyl ek die sakdoek teen my betraande oë druk, en die Vaseline in my neus druk teen die brand.

 
SEISOEN

In hierdie bruin seisoen

hier pas ek nie

nêrens is ‘n rusplek

dus vind ek sin

in hiberneer
die asem van die wind

verwoed

om elke hoek

in elke gleuf

‘n skuifsel sand

my sinne deurmekaargepluk

en windverwaaid

ingesluk

 

die onrus waai saam

met die wind

die binnekamers van my wese in

tot ek oplaas

daar sin in vind

en luister

 

na die boodskap van die wind

wat mal vertel van die seisoen

wat kom

wat heilig mooi met sagte groen

gebore word

uit reën en wolk

 

Maandanser – ‘n kort uittreksel

e5e93981-d7e5-4887-ab93-5b06662fae29[1]

Sy staan lank voor die skuifdeur en kyk uit oor die maanverligte tuin. Dan onthou sy skielik van die deur in die tuinmuur waarop sy vanmiddag afgekom het. Sy het nie eers geweet daar is ʼn deur tussen hulle en hul onbekende bure nie. Die deur is half versteek tussen die rankplante agter die groot boom in die hoek van die erf. Sy besluit om sommer dadelik te gaan kyk wat agter die toe deur lê, en glip vinnig buitentoe. Soos ʼn skaduwee flits sy oor die grasperk en verdwyn agter die boom en die varing in. Dan sien sy die deur en lig versigtig die knip op. Dit kraak oop en sy staan vir ʼn oomblik doodstil sonder om asem te haal. Wat as daar iemand daar naby is, net agter die deur, dink sy skrikkerig. Maar die sprokiesagtige maanlig en die wil om te weet, laat haar versigtig om die deur loer. Sy sien dit maak reg agter ʼn groot boom oop en daar is groot, goed versorgde struike in die beddings langs die muur. Sy tree vorentoe en loer deur die digte struik reg voor haar.

Die grasperk strek voor haar uit en die tuin is vol diamante. Die swembad blink blou in die lig van die stylvolle lampe om die rand. Dit herinner haar skielik aan Venesië – daardie eiland van kanale met blinkblou water en winkende ligte wat dit so verruklik mooi maak in die aand. Dis ʼn toneel uit een van die fantasieë wat haar begroet, en dit voel vir haar of sy deel daarvan is, een met die maan, die skitterende aand.

Sy staan doodstil, en dan hoor sy die pragtige musiek by die oop deure uitvloei, sy sien asof in ʼn droom die beweging van die man in die skemerte van die patio, sien hoe hy terugsak in die stoel. Die musiek sterf weg en dis asof die heelal asem ophou in afwagting vir wat gaan kom.

Die man staan op en roer sy skouers asof ʼn onrustigheid in hom lê. Hy knoop sy hemp oop, en toe hy broek begin uittrek, vlug sy verskrik agter die boomstomp in. Sy tree agteruit en terug deur die deur. Maar sy loer tog weer, want iets onsigbaars dwing haar. Sy sien sy gespierde lyf met ʼn sierlike duik onder die water verdwyn en hy swem rustig ʼn paar lengtes heen en terug. Hy lig hom met een sterk beweging uit die water tot op die rand van die swembad en laat die water van hom afrol; sy gespierde bors verberg onder ‘n effense donker skaduwee . Hy slaan haar asem weg want hy lyk soos die Dawid-beeld van Michaelangelo wat sy in Florence gesien het.

As ʼn mens ʼn man beeldskoon kan noem, dan is hierdie ʼn beeldskone man, dink sy.

 

Die e-boek is tans beskikbaar by:

http://www.amazon.com/s/ref=nb_sb_noss?url=search-alias%3Daps&field-keywords=rachelle%20du%20bois%20maandanser

http://ereads.co.za/category/authors/rachelle-du-bois

 

 

 

 

Die eerste oogopslag

 

Mari Cover b91c19b2-af79-43c8-8c44-885877c0dd74[1]

As jy ooit liefgehad het, regtig liefgehad het, sal jy onthou hoe dit was toe julle mekaar die eerste keer gesien het. En toe jy geweet het: dis dit.

Soos hier:

Sy sit met haar slanke bene voor haar uitgestrek, enkels gekruis; haar voete glad en die toonnaels goedversorg en sonder naellak, soos haar vingernaels. Hy neem elke gelaatstrek in, maak notas in sy kop, kyk na haar mond en ’n vreemde roering trek deur sy lyf.

Dirkie gaan leun teen haar bene aan, met sy kop op haar skoot, en sy vryf liefdevol oor sy donker hare. “Is jy moeg, Dirkie?” Hy lig sy kop op, knik en sy tel hom op haar skoot. “Sit maar so ’n rukkie hier by my.”

Dewald is verstom oor die gewaarwording wat deur hom trek en hom sidderend van verlange laat. Hy wil haar hê, en hy wil kinders by haar hê. By haar, niemand anders nie.

Hy draai verskrik deur sy eie gedagtes weg en stap by die voordeur uit in die tuin. Wat de hel gaan aan met hom? Het hy nou gek geraak?  Sy eens rustige bestaan is skielik ’n warboel en niks is soos dit eens was nie. Die dag is helderder, die son skerper, die kosmos skielik mooier.

(‘n Kort uittreksel uit Mari)

Ek sluit hierdie gedig van Petra Muller in wat die eerste oogopslag so mooi beskryf:

Oëmblik

Die son het in jou oë

saad geskiet

en hang, en hang

die ligte tyd, verward,

bly staan en huiwer

in die dynsigheid

 

en roekeloos ontplof

die droë distelknop

en gee sy wit vag

blind oor

aan die windloosheid

 

en blind hervat

die hart sy slag;

 

die tyd

sy blinde spoor

 

Petra Müller