Maalkolk: ‘n kort uittreksel

dc9ecf6c-371a-4a8a-8542-d637aa725985[1]

Adele stap met die paadjie langs verby die roostuin en die baldadige bougainvillea. Sy sien die bo-deur is oop en die onderdeur op knip. Sy wonder waar is daai Gert; die blessit hond van Francois is net so voor op die wa soos sy baas. Asof hy deur haar gedagtes opgetower word, verskyn hy om die hoek van die huis met ʼn swaaiende stert en snuif nuuskierig in die lug agter die kos aan. “Ja, jou stoute ding,” raas Adele, maar sy is nie ernstig nie, want Gert is nie sommer ʼn gewone hond nie. Hy is slim en die appel van sy oubaas se oog. Waar Francois gaan, Gert saam.

“Waar is jou baas, hè?” vra sy terwyl sy aan die deur klop. Sy wag ʼn rukkie, maar toe Francois nie sy verskyning maak nie, stoot sy die onderdeur oop en sit sy kos op die tafel neer. “Halloooo …!” roep sy in die gang se rigting en dan kom Francois aangestap met ʼn kaal bolyf en ʼn handdoek in sy hande waarmee hy sy gesig en hare afdroog. Sy denim sit knus om die skraal heupe en sy sterk bruin arms en bolyf is iets om te waardeer. Adele kan haarself byna nie keer om hom aan te staar nie, en asof hy weet watse uitwerking hy op haar het, speel ʼn effense glimlag om sy mond terwyl hy haar deur sy donker wimpers betrag, kop effens agteroor gegooi.

“Nou dis nou vir jou te sê, die dogter van die huis het vir my kos gebring,” sê hy skoorsoekerig terwyl hy sy kort donker hare plat vryf.

Adele vervies haar sommer op die plek, maar besluit om sy opmerking te ignoreer. “Ek het net kom hoor of Oupiet vir jou kom sê het van die stukkende lyndraad,” sê sy en probeer om nie sy gespierde bolyf met die donker skaduwee oor sy bors raak te sien nie. Hy ontsenu haar so dat sy wegdraai en deur die vertrek begin stap. Sy merk tot haar verbasing dat hy heelwat uitstaande klein beeldhouwerke het. En teen sy mure pryk ʼn versameling oorspronklike kunswerke. Sy kan haar verbasing nie wegsteek nie en draai om net om hom reg agter haar te vind. Sy ruik die veld en die wind aan sy lyf en sy laat haar oë sak, te ontstig om na sy kunswerke te vra.

“Jy is verbaas om te sien ʼn plaaswerker kan ook die kunste geniet?” vra hy digby haar oor. Hy staan moedswillig naby haar en toe sy opkyk, sien sy duisend duiwels in sy oë dans.

Sy skuur by hom verby en sê dan ligweg: “Ja, ek moet sê ek is verras. Waar het jy die pragtige beeldhouwerke gekry? Wie is die kunstenaar?” vra sy nuuskierig.

“Sommer ʼn pel van my,” antwoord hy ontwykend.

“En die skilderye?” vra sy.

“’n Ander pel van my,” en sy kan agterkom hy is sommer stuitig. Hoekom wil hy nie vir haar sê wie die kunstenaar is nie? Het hy dalk die goed vasgelê, wonder sy, skielik agterdogtig. Wie sê hy is nie ʼn kuns dief nie? Hulle weet so min van hom af. Wie is hy regtig behalwe oom Boeta se seun? Haar nuuskierigheid is nou behoorlik geprikkel en sy kyk hom met ʼn skewe kop aan.

Sy gewaar sy moderne musieksentrum en groot platskerm-televisie en stap soontoe; sy sien die groot versameling klassieke-musiek-CD’s wat in netjiese rye staan, gerangskik volgens die komponiste. Sy weet nie wat sy verwag het nie, maar dit was beslis nie ʼn man met sulke verfynde smaak nie. Sy kyk hom onseker aan, wil hom uitvra, maar iets in sy gesig het verander; sy oë is versluier agter die digte donker wimpers. Sy voel instinktief aan dat sy weet soveel as wat hy wil hê sy moet weet, vir nou altans.

Hy staan nog steeds waar sy hom gelos het, maar hy beweeg sag en grasieus soos ʼn kat vorentoe, tot byna teen haar. Haar oë rek as hy sy hand oplig en haar ferm agter haar nek vat en nader trek tot sy gesig baie naby aan hare is, sy oë op haar mond. Sy vergeet om asem te haal en is net bewus van die hitte van sy lyf hier teen haar en sy duim wat ritmies oor haar nek en haar wang beweeg tot by haar mond. “Jy moet liewer hier wegbly, dogtertjie, voor jy jou vingers verbrand,” sê hy sag en los haar so skielik dat sy amper haar balans verloor. Adele kyk hom vir ʼn oomblik byna geskok aan, draai om en vlug by die deur uit, tot in haar siel geruk deur hierdie man se dierlike aantreklikheid en haar eie reaksie daarop. Sy voel ook erg verleë as sy sy sagte lag agter haar hoor. Hy moet bepaald dink sy gaan soos ʼn ryp appel in sy skoot val.

Hy kyk haar ingedagte agterna, skud dan sy skouers ongeduldig en vat sy hemp wat oor die stoel hang en trek dit aan. Hy lig die deksel van die geurige bord kos af en gaan sit om te eet. Daar is werk om te doen.

 

 

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s