Archive | September 2014

Nuut: Vervolgverhaal – Maandanser

e5e93981-d7e5-4887-ab93-5b06662fae29[1]

Ek het besluit om die mooi verhaal van Herman en Dirk, van Maryna en Denise, en van Trixie en Pieter as ‘n weeklikse vervolgverhaal aan te bied. Die eerste episode sal van Vrydag, 26 September 2014 te lees wees op die Vervolgverhaalblad. Herman vind eindelik weer sy voete na ‘n rampsoedige huwelik wat hom byna vernietig het. Hy is tevrede en gelukkig met sy nuwe huis en sy nuutgevonde vrede, tot die Maandanser een aand in sy tuin verskyn en hom heeltemal betower, want sy is verruklik mooi. Wie is sy en wat soek sy in sy tuin?

Dirk sien die eerste keer vir Denise in haar boetiek en sy slaan sy voete onder hom uit, want sy lyk vir hom soos ‘n eksotiese paradysvoël. Sy kunstenaarshart vind haar onweerstaanbaar en hy weet hy is nie meer dieselfde man wat daar ingestap het om vir sy sus Trixie in verestola te gaan soek vir die jaarlikse dorpsdans nie. Sy liefde vir hierdie beeldskone vrou laat hom ver en wyd reis, maar hy doen dit, want hy weet sy is die een…

Trixie kan nie verstaan vir wat haar speelmaat en jong boer van die buurplaas nou so snaaks optree nie. Sy wil vir Herman, haar boeta Dirk se vriend, hê, maar Pieter reken hy is ‘n vaak vis en buitendien is Trixie syne… Kom lees saaam aan hierdie mooi storie. Ek deel dit graag met jou.

Advertisements

Die ding met romanse

 

boat-couple-canstockphoto9097128

Om romanse te skryf is om oor die lewe te skryf. Die lewe draai om die liefde en die liefde draai om die lewe. Die een kan nie sonder die ander nie.

Ons menslike behoeftes bepaal dat ons leef om lief te hê en ons het lief om te kan lewe. Elke enkele behoefte gaan om die liefde. Hoekom sal ons dit dan ontken?

Om gehê te wees is die een basiese behoefte wat niemand kan ontken nie. Ons wil almal gehê wees. Ons menswees hang daarvan af of ons liefgehê word en of ons liefhet, of nie. En dit begin by die liefde en aanvaarding van jouself. Net jy kan jou eie waarde skat en jouself oopstel vir die liefde. As jy jouself nie liefhet nie, kan jy ook nie ʼn ander liefhê nie. As jy sonder voorbehoud kan sê: ek hou van my, dan kan jy dit ook van iemand anders sê. Jy kan nie met ʼn toe hart gee of ontvang nie. Maak oop vir die liefde. Vir jouself; dan vir daardie één spesiale mens. Eers dan sal jy kan gee sonder voorbehoud, en ontvang sonder voorbehoud. Laat die liefde vry vloei en lééf!

Dit is romanse….

Ons behoefte aan aanvaarding, vertroue, respek en koestering gaan als oor die liefde. Net deur jouself lief te hê, waarlik lief te hê as ʼn saad van die Groot Boom, kan jy ʼn ander aanvaar, vertrou, respekteer en koester. Jy moet kan gee om te ontvang. En dan stel jy jou oop vir die vreugde van liefhê en van voluit lewe. Dit gaan als oor die liefde.

Dit is romanse…

Ons behoefte om aan ons diepste begeerte en ons drome uiting te gee, gaan als oor die liefde. Die saadjie ontkiem in ons hart en ons word gedring om daaraan uiting te gee. Enige skeppende ding wat ons doen, soos skryf, musiek maak, skilder, dig, tuin maak, blomme kweek, gaan oor die liefde. Dit gaan daarom om iets wat mooi is te skep en dit met iemand anders te deel. Want wat is tog die vreugde daaraan om skoonheid vir jouself te hou? Om die skoonheid wat binne is, na buite te deel met iemand spesiaal – dis die liefde.

Dit is romanse…

Om begeer en vertroetel te word is een van die mees basiese behoeftes van die mens. Elke mens wil begeer word, wil bemin word tot die aarde se fondamente skud. Ons wil aangeraak word deur liefdevolle hande, gekoester en geëer word deur ʼn lyf wat die taal van die liefde praat. Ons wil onsself verloor in die aanraking, die gee en neem van die hartstog en passie van daardie een spesiale persoon.

Dit is romanse…

Die lewe bestaan nie net uit brood alleen nie. Dis die liefde wat dit aan die gang hou.

Die lewe is liefde. Die liefde is lewe. Die lief en die leed, die lig en die donker, die lag en die huil.

Dis alles in romanse

 

Plek van die Flaminke – ‘n kort uittreksel

Maanlig op water 10639420_817402308316462_2233912966911839937_n[1]

 

Delia is diep ingedagte toe sy in die rietpaadjie terugstap na haar huis toe. Die aand was vir haar betowerend mooi; die musiek nog in haar kop. Sy stap stadig tot by die bankie op die dek, gaan sit en kyk uit oor die silwer water van die meer. Ver anderkant wink liggies teen die koppie, en die stilte word net deur die krieke en die stemme van die paddas verbreek.

Sy staan op en klim by die trappies af tot by die boot, maak dit los en gaan sit om te begin roei, maar die roeispaan hak iewers vas. Sy probeer dit afdruk in die boot, maar dit roer nie. Iets laat haar opkyk en sy sien die donker kop van Alex oor die dek loer.

“Wag vir my; ek gaan saam,” sê hy en voor sy haar stem kan terugkry, klim hy in die bootjie en gaan sit oorkant haar. Hy stoot die boot weg van die dek af dieper die water in en begin dan ritmies roei. Delia is sprakeloos. Wat maak hy hier? Hoekom slaap hy nie? Hoe weet hy sy wou gaan roei, wat…? kom die vrae vinnig by haar op.

Hy roei die boot tot waar die maan se lig in ʼn silwer baan oor die meer lê en laat die roeispaan sak. Hulle sit stil sonder om te praat en dit voel vir Delia of hulle die enigste mense op aarde is. Sy trek haar asem in en laat dit stadig uit. Sy is meteens diep dankbaar dat hy saamgekom het, dat hy met haar geroei het tot amper in die middel van die dam.

“Alex?” sê sy sag.

“Hmm? Moenie hard praat nie, jy sal die paddas verjaag.”

Sy kyk verward om haar rond. “Maar hier is nie paddas nie. Ons is in die middel …..,” bly sy verleë stil toe sy hom hoor lag.

“Dis mooi, né,” fluister sy en hy knik sy kop, sy oë op haar verwonderde gesig. “Ek was nog nooit in die aand so ver uit nie, en die maan…” Sy wou sê die maan is romanties, maar sy bedink haar net betyds.

“Ja? Wat van die maan?”

“Die maan is pragtig.” Dis ʼn betowerende gesig, en hulle praat nie verder nie. Sy sien dat hy vir haar kyk, en sy slaan haar oë neer, maar sy ril skielik van die koue en hy kyk haar ondersoekend aan.

“Jy kry koud, ons al moet teruggaan.”

“O, nee, asseblief! Kom ons bly nog ʼn rukkie; ek kry nie so koud nie,” keer sy, maar sy kan die rillings nie keer nie.

“Kom sit hier langs my dan kan ons my baadjie deel,” nooi hy, en hy sien dat sy huiwer. “Dis te koud vir jou nou; jy sal siek word,” en hy tel hy die roeispaan op om die boot om te draai.

“Wag, ek kom,” sê sy vinnig terwyl sy versigtig opstaan en langs hom op die bankie gaan sit. Die bankie is smal, en sy sit noodgedwonge styf teen hom. Hy trek die mou naaste aan haar uit, trek haar amper onder sy blad in en hang dit om haar skouers terwyl hy sy arm om haar hou. Sy lyf is warm en veilig teen haar, en sy leun teen hom aan.

Die bootjie lig en sak saam met die deining en dis of die tyd gaan stilstaan. Dis net hulle twee, die maanlig en die sagte geklots van die golwe teen die kant van die boot. Dis onwerklik mooi, soos ʼn sprokie, en woorde is oorbodig.

Alex druk sy gesig in haar geurige hare, en sy sit doodstil, te bang om te roer. Die hele situasie is so onwerklik dat sy wonder of sy droom, maar die warm lyf van die man hier by haar vertel ʼn ander storie. Sy wil net so sit en nooit roer nie, dink sy bedwelmd.

Dit word later te koel en Alex kyk af na haar gesig teen sy skouer. “Ons moet teruggaan. Trek jy die baadjie aan terwyl ek roei.” Maar sy sit nog vir ʼn paar oomblikke stil, draai dan haar gesig na hom toe.

“Dankie dat jy saam met my gekom het, Alex. Dis ʼn onvergeetlike ervaring, en ook die musiek vroeër vanaand.”

Hy sien dat sy diep geraak is, en gee haar ʼn druk om haar skouers. “Ja, dit was goed, en dankie dat ek saam met jou kon kom. Jy kon my in die water gegooi het en my daar gelos het,” terg hy.

Sy lag saggies. “Dit sou ʼn fout gewees het, want dan het ons nie nou hier in die middel van die water in die maanlig gesit nie.”

Hy tel die roeispaan op en draai die boot behendig om; begin dan weer roei tot hulle by haar dek kom waar hy die boot vasmaak en haar uithelp tot op die trap. Hulle stap in stilte terug tot by die skuifdeure waar sy omdraai om hom weer te bedank. Hy trek haar nader en hou haar teen hom vas, soen haar op haar voorkop.

“Nag, Delia, lekker slaap,” sê hy sag en hy stoot haar by die deur in; wag tot sy die deur gesluit het voor hy omdraai en in die rietpaadjie huis toe stap.

 

My liefde vir romanse

dc9ecf6c-371a-4a8a-8542-d637aa725985[1]

Ek is mal oor romanse. Hoekom? Omdat almal een of ander tyd liefkry, en omdat ons tog almal daarna hunker om deur iemand liefgehê te word. Al is dit net een keer in ons lewe. Om lief te hê en bemin te word. Daardie iets wat liefde genoem word, en wat tog so moeilik is om vas te vang en aan te keer.

Wie wil nie tog vir ‘n uur of wat ontvlug van die werkliheid en heerlik terugsak met ‘n mooi liefdesverhaal nie? ‘n Mooi storie oor ‘n held en heldin wat ontmoet en die vonke spat, die elektrisiteit blits, die aantrekkingskrag is oombliklik. En dan kom die weerstand teen hul lotsbeskikking, die ontkenning, die herkenning van die ander, die eierdans rondom mekaar, die leer ken, die misverstand, die eerste soen, die aanraking wat die asem laat wegslaan. Dan besinning, ontkenning, misverstaan, verlies en pyn. Tot die hart en die lyf nie meer kan weerstand bied teen die betowering van die liefde nie, en die hartstog en die passie smeul, uitbars, en vlam vat. Die gelukkige einde laat mens altyd met ‘n gevoel van tevredenheid dat die twee mekaar uiteindelik gevind het.

Die heldinne in my tweede boek, Maalkolk, is sterk vroue, maar verwond en bederf. Die pragtige Adele is die enigste dogter en sy draai haar pa om haar pinkie, tot die sexy Francois op die toneel verskyn. Die karakters is mense wat ons ken, dis mense  wat in vandag se tyd in ons land lewe. Ek het verlief geraak op Francois, op sy styl, sy selfvertroue, sy volharding en ek weet van die mans in ons lewens wat so sterk en so vasbeslote aanhou om te kry wat hulle wil hê. Die liefde laat jou aanhou probeer, aanslag na aanslag loods op die geliefde se hart, soos Francois met Adele gedoen het. Haar selfvertroue en haar trots kry ‘n knou, en sy leer ‘n duur les. Die liefde laat hom nie voorskryf nie, en die pad van jou lotsbeskikking is nie altyd met rose besaai nie. Sy moes kies om te vergewe en om haarself te leer ken. Ook Francois moes leer om te veg vir die liefde van hierdie jong vrou wat haar hart so beskerm.

Dan vertel Madri en Deon hul storie. Madri is ‘n teer blom, ‘n geknakte blom en Deon sien haar en weet hier lê werk voor, maar hy is bereid om te waag. Hy kry haar lief, maar die geheimsinnige Alex kom staan tussen hulle. Sy pyn dryf hom amper van haar af weg, tot hy haar toelaat en help om weer te lewe, voluit te lewe en lief te hê. Hulle het mekaar herken en geweet: dis die een. Sy moes leer om hom te vertrou met haar pyn en hartseer, en die liefde maak dit eindelik vir haar moontlik.

Die liefde maak heel, vertroos, vertroetel en bevry. Dis hoekom ek liefdesverhale skryf. Omdat die liefde alles oorwin.

Hierdie mooi boek is beskikbaar by Kalahari.com, Amazon.com en eReads. Lees dit gerus en laat my weet wat jy dink. Dit was vir my so lekker om die boek te skryf, want ek het saam gelag en gehuil, saam gelewe en gelief.

Kontak my gerus by racsmo2011@gmail.com

Volg my op Twitter

Hou van my op Facebook

Hou van my blad en klik die regmerkie.

Volg my as jy wil. Daar’s vreugde in.

Rachelle du Bois