Plek van die Flaminke – ‘n kort uittreksel

Maanlig op water 10639420_817402308316462_2233912966911839937_n[1]

 

Delia is diep ingedagte toe sy in die rietpaadjie terugstap na haar huis toe. Die aand was vir haar betowerend mooi; die musiek nog in haar kop. Sy stap stadig tot by die bankie op die dek, gaan sit en kyk uit oor die silwer water van die meer. Ver anderkant wink liggies teen die koppie, en die stilte word net deur die krieke en die stemme van die paddas verbreek.

Sy staan op en klim by die trappies af tot by die boot, maak dit los en gaan sit om te begin roei, maar die roeispaan hak iewers vas. Sy probeer dit afdruk in die boot, maar dit roer nie. Iets laat haar opkyk en sy sien die donker kop van Alex oor die dek loer.

“Wag vir my; ek gaan saam,” sê hy en voor sy haar stem kan terugkry, klim hy in die bootjie en gaan sit oorkant haar. Hy stoot die boot weg van die dek af dieper die water in en begin dan ritmies roei. Delia is sprakeloos. Wat maak hy hier? Hoekom slaap hy nie? Hoe weet hy sy wou gaan roei, wat…? kom die vrae vinnig by haar op.

Hy roei die boot tot waar die maan se lig in ʼn silwer baan oor die meer lê en laat die roeispaan sak. Hulle sit stil sonder om te praat en dit voel vir Delia of hulle die enigste mense op aarde is. Sy trek haar asem in en laat dit stadig uit. Sy is meteens diep dankbaar dat hy saamgekom het, dat hy met haar geroei het tot amper in die middel van die dam.

“Alex?” sê sy sag.

“Hmm? Moenie hard praat nie, jy sal die paddas verjaag.”

Sy kyk verward om haar rond. “Maar hier is nie paddas nie. Ons is in die middel …..,” bly sy verleë stil toe sy hom hoor lag.

“Dis mooi, né,” fluister sy en hy knik sy kop, sy oë op haar verwonderde gesig. “Ek was nog nooit in die aand so ver uit nie, en die maan…” Sy wou sê die maan is romanties, maar sy bedink haar net betyds.

“Ja? Wat van die maan?”

“Die maan is pragtig.” Dis ʼn betowerende gesig, en hulle praat nie verder nie. Sy sien dat hy vir haar kyk, en sy slaan haar oë neer, maar sy ril skielik van die koue en hy kyk haar ondersoekend aan.

“Jy kry koud, ons al moet teruggaan.”

“O, nee, asseblief! Kom ons bly nog ʼn rukkie; ek kry nie so koud nie,” keer sy, maar sy kan die rillings nie keer nie.

“Kom sit hier langs my dan kan ons my baadjie deel,” nooi hy, en hy sien dat sy huiwer. “Dis te koud vir jou nou; jy sal siek word,” en hy tel hy die roeispaan op om die boot om te draai.

“Wag, ek kom,” sê sy vinnig terwyl sy versigtig opstaan en langs hom op die bankie gaan sit. Die bankie is smal, en sy sit noodgedwonge styf teen hom. Hy trek die mou naaste aan haar uit, trek haar amper onder sy blad in en hang dit om haar skouers terwyl hy sy arm om haar hou. Sy lyf is warm en veilig teen haar, en sy leun teen hom aan.

Die bootjie lig en sak saam met die deining en dis of die tyd gaan stilstaan. Dis net hulle twee, die maanlig en die sagte geklots van die golwe teen die kant van die boot. Dis onwerklik mooi, soos ʼn sprokie, en woorde is oorbodig.

Alex druk sy gesig in haar geurige hare, en sy sit doodstil, te bang om te roer. Die hele situasie is so onwerklik dat sy wonder of sy droom, maar die warm lyf van die man hier by haar vertel ʼn ander storie. Sy wil net so sit en nooit roer nie, dink sy bedwelmd.

Dit word later te koel en Alex kyk af na haar gesig teen sy skouer. “Ons moet teruggaan. Trek jy die baadjie aan terwyl ek roei.” Maar sy sit nog vir ʼn paar oomblikke stil, draai dan haar gesig na hom toe.

“Dankie dat jy saam met my gekom het, Alex. Dis ʼn onvergeetlike ervaring, en ook die musiek vroeër vanaand.”

Hy sien dat sy diep geraak is, en gee haar ʼn druk om haar skouers. “Ja, dit was goed, en dankie dat ek saam met jou kon kom. Jy kon my in die water gegooi het en my daar gelos het,” terg hy.

Sy lag saggies. “Dit sou ʼn fout gewees het, want dan het ons nie nou hier in die middel van die water in die maanlig gesit nie.”

Hy tel die roeispaan op en draai die boot behendig om; begin dan weer roei tot hulle by haar dek kom waar hy die boot vasmaak en haar uithelp tot op die trap. Hulle stap in stilte terug tot by die skuifdeure waar sy omdraai om hom weer te bedank. Hy trek haar nader en hou haar teen hom vas, soen haar op haar voorkop.

“Nag, Delia, lekker slaap,” sê hy sag en hy stoot haar by die deur in; wag tot sy die deur gesluit het voor hy omdraai en in die rietpaadjie huis toe stap.

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s