Archive | October 2014

Wat sou gebeur as God…

3d-nature-wallpapers-1024x640

Wat sou gebeur as die Skepper stilletjies in sy binnekamer skep, en sy groot sonsondergange, sy skemeroggendwerke in sy geheime ateljee rondom hom uitstal?

Wat sou gebeur as hy sy kwaste stilletjies in kleure doop en geheimsinnig goddelik skep, sy stil misterie vasvang in ver valleie, in mistige riviere, in grootse berge, en dan sy donker deur agter hom sluit?

Wat sou gebeur as hy skelm glimlag en die stowwerige bosveld, grys koppies en glimmende poele water na die reën met breë kwas tot polsende lewe roep, en dan sy vensters agter donker doek verberg?

Wat sou gebeur as hy skelmpies asem blaas in die eende in die plaasdam, die skroppende hoenders in die agterplaas, die kiewiet wat op lang bene kwetterend agter haar kuiken aan roep, dan die son en maan in sy ateljee uitdoof om homself in afsondering te verlustig in sy skepsels?

Wat sou gebeur as hy die sluier van die reën oor die wuiwende gras, die geur van die grond, die roep van die visarend, die swart doringbome, alleen in sy ateljee skep en dan sy kluis se slotte sluit?

Wat sou gebeur as hy sy wonderwoorde van ons weerhou? As hy skelmpies goddelik dig, groot werke skryf en dit wegsteek in diep laaie?

Wat sou gebeur as hy sy musiekinstrument te voorskyn bring en note uit sy vingers drup soos nektar, maar die ore van sy hoorders sluit?

O, hoe sou dit wees as hy sy skepping van ons weerhou?

 

Om voor te begin en oor te begin – Lelani

canstock1222490[1]

Ek is so opgewonde, want my boek LELANI  is aanvaar vir publikasie. Een van die dae is die e-boek te koop by boekwinkels hier in Suid-Afrika. Ongelukkig sal die omslag verander en sal ‘n ander omslag ontwerp word vir hierdie mooi verhaal.

Lelanie is ‘n diep en seer boek. Die storie delf diep onder die oppervlak na dit wat in mense se lewens gebeur en waaroor hulle nie praat nie, soos Lelani se pa wat ontaard in ‘n dronklap en geweldenaar na haar ma se dood. Maar sy en haar boeta, Chris,  maak ‘n keuse: hulle besluit om ‘n nuwe begin te maak na ‘n diep ontstellende gebeurtenis waar sy doen wat sy gehoop het nooit nodig sou wees nie. Sy beskerm haarself teen haar pa op die enigste manier wat sy ken en dit vernietig haar amper.

Lelani voel teen haar sin aangetrokke tot Leon Postma en bied hewig weerstand teen haar groeiende liefde vir hierdie stil, sterk man, want sy vertrou geen man behalwe haar broer Chris nie.  Sy en Chris begin om die bouvallige kliphuis langs die spruit op te knap en leefbaar te maak. Leon bou vir haar ‘n brug na hom toe oor die spruit tussen hul eie en sy grond, en sy moet kies of sy gaan luister na haar hart, en of sy gaan bly glo dat mans nie te vertrou is nie. Hoekom voel dit dan vir haar asof haar asem saam met hom wegloop toe hy oor die brug verdwyn na sy hom met haar skerp tong bygekom het?

Hy stel vir haar ‘n ultimatum en sy moet kies.

Sy en Chris word weer stadig mens, en hulle vind uit dat die liefde en goedheid alles oorwin; selfs die intense wantroue en die pyn van verwerping. Die vermoë om te buig maar nooit te breek nie; die keuse om te bly staan ten spyte van hul omstandighede is ‘n wilsbesluit. Hulle sal regop staan en reguit kyk sonder verskoning vir wie hulle is of waar hulle vandaan kom.

Die kommentaar van die redigeerder was die volgende:

“’n Passievolle verhaal wat mooi uitgebeeld word deur die skrywer. Die taalgebruik in die boek is goed, met interessante  verwysings na bekende digters se werke, wat baie goed by die storie inpas. Die verskeie karakters in die boek word geloofwaardig uitgebeeld. Dit is ‘n lekker lees verhaal, wat die leser se aandag sal hou tot die einde. Dit is ‘n liefdesnovelle wat baie goed in die genre slaag.”

 

Oor dit wat verby is

clouds-jwn6

Hoe is dit dan dat ons kla oor te min tyd, en tog mors ons dit wat ons het op onbenulligheid? Hoekom gee ons so min aandag aan dit waarop dit werklik aankom?

Ons leef ons moeg vandag omdat ons gister se pyn, ontnugtering en bitterheid saam met ons dra. Dit word ʼn las waaronder ons knak en tog keer ons gewillig dag na dag terug om dit wat agter ons lê op te tel, en weer saam met ons te dra.

Ons verloor ons vryheid om voluit te leef deur vas te hou aan gister. Aan dit wat verby is, nooit weer sal kom nie, en waaraan ons niks kan verander nie. Ons bly oor ons skouer kyk om vandag te leef en beplan ons môres op gister se pynlike ondervinding. En ons strompel kreupel en seer voort die lewe in met hierdie ondraaglike las.

Dit hoef nie so te wees nie. Jy kan dit verander deur anders te kies. Kies om gister agter te laat en te fokus op nou, hier waar jy nou is.

Word stil en laat gister se seerkry stadig wegdryf, soos ʼn wolk wat ontbind, soos vlieswolkies wat al yler word en verdwyn. Laat dit gaan.

Môre is nog nie hier nie; trouens, dit kan dalk nooit kom nie. Die volgende uur is nog nie hier en kan dalk nooit vir jou kom nie. Jy het net nou, hierdie oomblik.

Kies dan om dit te vul met liefde en blydskap. Vul hierdie oomblik met vreugde, en die volgende een, en die een daarna, soos kosbare pêrels aan ʼn string, en as jy weer sien het jy ʼn uur vol vreugde, daarna ʼn dag, en dan ʼn lewe vol daarvan .

Kies om jouself te bevry van wat verby is, van die seer en die swaar. Laat jou gewonde gees heel word, nou, in hierdie gedagte wat maar ʼn oomblik is.

Laat jou gees vry op sy vlug na waar jy moet wees. Jy is ʼn kosbare pêrel, ʼn oomblik in die Skepping se groot plan. Die vreugde is reeds daar.

Vat dit net en vul jou oomblikke daarmee. Laat jouself toe om saam te vloei met die natuurlike voortstuwing van die lewe.

Kies om dit te doen. Want jy kan en jy moet as jy voluit wil leef.