Archive | November 2014

Vir my vriendin

ronde fontein paradys

Vriendin

Ek wou jou vroeg al bel

om te vertel

die duif bad in my tuin

by die waterfontein

en op die kruin

van die denneboom

net aan die soom

wieg ‘n klein vink

in die sagte reën

R d B

 

 

 

Advertisements

Lelani – om voor te begin en oor te begin (nuut)

Lelani Kwarts Cover

Hierdie is die verhaal van oor begin en voor begin na gesinsgeweld twee jong mense se lewens amper vernietig.

Die pragtige Lelani Botha en haar broer Chris besluit om vir hulle ʼn nuwe lewe te skep na ʼn insident by hul ouerhuis wat hul tot in hul diepste wese ruk. Hulle besluit om die bouvallige kliphuis langs die spruit op haar pa se kleinhoewe op te knap en daar in vrede te gaan woon.

Lelani voel teen haar sin aangetrokke tot hul  buurman, Leon Postma, en bied hewig weerstand teen haar groeiende liefde vir hierdie stil, sterk man, want sy vertrou geen man behalwe haar broer Chris nie. Leon bou vir haar ʼn brug na hom toe oor die spruit tussen hul eie en sy grond, en sy moet kies of sy gaan luister na haar hart, en of sy gaan bly glo dat mans nie te vertrou is nie. Hoekom voel dit dan vir haar asof haar asem saam met hom wegloop toe hy oor die brug verdwyn na sy hom met haar skerp tong bygekom het? Hy het vir haar ʼn ultimatum gestel en sy moet kies.

Sy en Chris word weer stadig mens, en hulle vind uit dat die liefde en goedheid alles oorwin; selfs die intense wantroue en die pyn van verwerping. Die vermoë om te buig maar nooit te breek nie; die keuse om te bly staan ten spyte van hul omstandighede is ʼn wilsbesluit. Hulle sal regop staan en reguit kyk sonder verskoning vir wie hulle is of waar hulle vandaan kom.

Hierdie boek word deur Kwarts Publishers uitgegee as ‘n e-boek en sal eersdaags beskikbaar wees. Ek sal die skakels plaas sodra dit beskikbaar is. Hou hierdie spasie dop.

Die dans van die reën

Rain 2 images[10]

O die dans van ons Suster!

Eers oor die bergtop loer sy skelm,

en haar oge is skaam; en sy lag saggies

En van ver af wink sy met die een hand;

haar armbande blink en haar krale skitter;

saggies roep sy.

Sy vertel die winde van die dans en sy nooi hulle uit,

want die werf is wyd en die bruilof groot.

Die grootwild jaag uit die vlakte,

hulle dam op die bulttop,

wyd rek hulle die neusgate

en hulle sluk die wind; en hulle buk,

om haar fyn spore op die sand te sien.

Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,

en hulle kruip nader en sing saggies:

“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

En haar krale skud,

en haar koperringe blink in die wegraak van die son.

Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;

sy trap af van die hoogte;

sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;

die asem van die wind raak weg.

O, die dans van ons Suster!

Eugene Marais