Archive | January 2015

Swaelvlug

Swaeltjie

Die eerste verkenners het laat gistermiddag opgedaag. Hulle het ʼn kort entjie uitmekaar gaan sit en die een heel regs het eerste begin praat. Sy stem was aan my onbekend en dit was by die aanhoor van die vreemde, melodieuse fluit dat ek opgekyk het. Drie van hulle het in ʼn kort rytjie op die telefoondraad hoog bokant die grasperk gaan sit en na die bure se dak gekyk. Ek het asem opgehou, te bang om te roer vir ingeval hulle skrik en soos klein geveerde skaduwees die lug in verdwyn.

Hulle was onmiskenbaar met hul gevurkte sterte. Die eerste swaeltjies het gekom. Dit is te vroeg, het ek gedink op die voorlaaste dag van Januarie.

Het hulle net weer kom kyk of alles nog veilig is by die swerm se bymekaarkomplek voor hul lang vlug na die Noorde? Het hulle dalk kom kyk of hier dalk al ander wag? Maak hulle gereed om te vertrek?

Miskien ons kan ʼn vroeë winter verwag. Die seisoen draai reeds met korter dae en sagte skemer wat smiddae vroeër kom. Sou die eerste kosmos reeds skaam hul pienk en wit gesiggies wys tussen die lang gras?

Hoe mooi is die eindelose kom en gaan van die seisoene; die tydloosheid van  die ewig voorstuwende krag na die afsterwe van hierdie lewe en die daaropvolgende onkeerbare roering van die begin van ‘n nuwe lewe.

En die wonder van lewe en dood, begin en einde inherent in elke lewende wese wat deel is van die Skepping.

Laat ons onthou dat elke oomblik ʼn nuwe begin en die einde van die vorige is, dat elke asemteug ʼn begin en ʼn einde is.

En laat ons mooi oomblikke agterlaat.

Ek skryf vir jou

images[1]

Vir wie skryf ek? Ek skryf vir jou, Alleenvrou. Vir jou wie se lewe ʼn stryd geword het. Vir jou wat alleen met een of meer klein kinders agtergebly het na ʼn egskeiding of ʼn mislukte verhouding. Vir jou wat niks het behalwe die liefde vir jou kinders en die vrees vir die toekoms nie.

Ek skryf vir jou, want ek wil vir jou vertel van jou innerlike krag, van dit wat binne jou wag, van verder kyk, van soek na die moontlikhede daar buite, terwyl jy sukkel om te oorleef. Ek skryf dit vir jou, want ek weet.

Ek skryf vir jou, Vrou, wat in ʼn rykmanshuis woon, maar elke dag ʼn bietjie meer van jou siel prysgee omdat jou man ontrou aan jou is, omdat hy sonder respek vir jou, vreemde vroue na jou bed toe bring. Vir jou, Vrou, wie se man ʼn prokureur of ʼn dokter of ʼn welaf sakeman is. Vir jou wat deur hom aangerand word – geslaan word op jou lyf waar niemand die kneusplekke kan sien nie. Net jy weet van die wonde aan jou gees. En die vrees vir die toekoms en die lewe van jou kind.  En ek vertel vir jou van ʼn vrou genaamd Mari. Want jy is Mari.

Vir jou wie se man ontrou is en wat dapper klou aan die sekuriteit van ʼn liefdelose huwelik, want jy het nooit geleer om jou eie bankrekening te hanteer, of jou eie huurooreenkoms te teken, of jou eie versekering uit te neem nie. Want hy het gesê dis nie nodig nie – hy sal vir jou sorg. Maar intussen het hy vir jou ʼn tronk gebou. Vir jou wat vervreemd van jou familie geraak het, want jy behoort aan hom, en aan niemand anders nie. Vir jou vir wie die lewe daarbuite ʼn dreigende duisternis is, nou bly jy maar by jou ontroue man, terwyl hy jou stadig vernietig. Jy en ander soos Mari.

En ek skryf vir jou, Jong Man, wat dink jy moet eers genoeg goed en geld hê om te kan liefhê. Eers as jy genoeg het, sal jy die vrou van jou hart kan opeis. Maar wanneer is genoeg? En wat laat jou dink sy gaan vir jou wag? Vir jou bring ek Thinus, Mari se broer, en sy liefde vir Deirdre.

En vir jou wat liefgekry het met die eerste oogopslag, wat weet jy het nie geleef voor sy nie daar was nie. Want voor haar was daar niks, en na haar sal daar niks wees nie. Vir jou bring ek Dewald en sy Mari.

Ek skryf vir jou, Man, wie se vrou jou aanrand. Vir jou wat so skaam en verneder is dat jy nooit met iemand daaroor praat nie, maar jou siel het in jou doodgegaan. Vir jou wat tussen jou familie, kollegas en jou vriende voorgee dat jou huwelik gelukkig is, dat alles is soos dit moet weet. Maar jy wil nie huis toe gaan nie, want die duiwel met haar flitsende oë, haar gille, haar skerp naels en venynige vuiste wag daar op jou. Want jou naam is Herman, en die liefde het jou verskrik en vernietig, en jy dink jy sal nooit weer liefhê nie. Tot daar eendag ʼn maandanser in jou tuin verskyn, en jy weer die roering voel van die liefde, en jy gedwing word om anders te kyk na dit waarvoor jy gevlug het. En jy kies om heel te word, want jy wil. En jy Beskuldig dan die LIefde.

En ek skryf vir jou, Juffrou, van die jong onderwyseres wie se kindervriend en jong man uit haar tienerjare skielik anders is. Van haar vreemde gesoek na die seun wat ʼn man geword het, en wie se gewone tergery nie net meer terg is nie, wie se aanraking nou anders is. Ek vertel vir jou van Trixie en haar buurman, Pieter Vonk. Ek bring dit alles vir jou in Beskuldig dan die Liefde.

Ek skryf vir jou wat nie dink jy kan weer begin leef na ʼn mislukte huwelik of verhouding nie, Man of Vrou. Vir julle wat bang en stukkend is. Vir jou wat nie vorentoe of agtertoe weet nie. Wat huil waar ander jou nie sien nie.  Vir jou wat vlug voor jou pa of jou man se dronkenskap. Vir jou wat jou vertroue in ander verloor het. Dis vir jou wat ek wil aanraak en verseker: ek weet van jou. Vir jou bring ek Lelani, met haar pyn, haar liefde vir haar boeta Chris, haar wantroue wat vertroue geword het. Vir jou bring ek haar oor begin, haar voor begin. Vir jou bring ek haar liefde vir Leon en sy liefde vir haar, die een wat haar geleer het dat die liefde heelmaak, ongeag jou omstandighede.

Ek skryf vir jou wat ʼn geliefde aan die dood afgestaan het, en nou alleen agterbly. Vir jou wie se fondamente geskud is en onder jou voete verkrummel het. Wie se lewe donker geword het. Vir jou wat smekend om hulp roep, maar niks hoor nie. Wat in die stilte van die nag wag, nag na nag. Vir jou bring ek Inge, wat help om André uit die donker terug te bring.

En vir jou bring ek Madri, en haar Alex uit Maalkolk.

Ek bring vir jou die skone vrou wat huiwer op die randjie van die afgrond toe sy by Oak Manor, die tuiste van Adam Blythe, aanmeld as huisbestuurder. Ek vertel vir jou van die verwoesting teweeggebring deur ongeluk en dood, van haar lewe van isolasie, pyn en verlies. Maar ek vertel ook van die rykdom van die liefde wat haar uiteindelik heel maak. En van die man in wie se skadu sy kon skuil, want sy is na hom toe gebring op ʼn voorafbepaalde tyd, en hy het vir Eve Vermont gewag. Dis alles in The Road to Eden.

Ek wil vir jou sê dat jou lewenspad vir jou vooruit bepaal is, dat die lewe soms dinge na jou gooi waarop jy nie voorbereid is nie, maar dat jy nie hulpeloos en uitgelewer is nie, want jy het altyd ʼn keuse binne jou omstandighede. En dat die fyn draad wat die een wat vir jou bedoel is aan jou verbind, onbreekbaar deur alle tye strek tot julle mekaar se paaie kruis. Ek bring vir jou Oak Seed, die jong ingenieur Martin Blythe, en die pragtige rooikop met die groen oë vir wie hy die eerste keer in die universiteitsbiblioteek sien. En hy weet: iets het onherroeplik vir hom verander. En hy het haar gesoek asof sy lewe daarvan afhang. Want sy volgende asemteug was Alicia. Sy, wat hom herken het, maar sy het hom nog nooit gesien nie. Sy het net geweet sy moet by hom wees. Sy moes kies tussen weerstand en dit wat vir haar bestem is. Tussen haar liefde vir ʼn onbekende man, en dit wat haar verstand vir haar sê.

Ek skryf vir jou, pragtige Jong Vrou, wat weet waar jy wil heen, wat weet wie jy is, jy wat dink die liefde laat hom voorskryf. Vir jou wat versigtig die kat uit die boom kyk, enkellopende Beroepsvrou, vir jou wat nog nie die hoogtes en die laagtes van die liefde gesien het nie. Vir jou wat lag, en leef asof môre nooit gaan kom nie. Vir jou bring ek na die Plek van die Flaminke, daar waar Delia, Alex en sy brak genaamd Banjo, die kunstenaar Madeleen, en die sensitiewe, maar koppige tjellis Xander, mekaar van naderby leer ken. Waar hulle agterkom liefde is nie net lywe nie, maar dat dit die hele lewe omhels en alles insluit.

En ek bring vir jou die pragtige Adele uit Maalkolk, bedorwe brokkie, pa se oogappel, wat gedink het sy gaan vir Francois maklik van die plaas af wegkry deur haar hooghartigheid en beterweterigheid. Maar sy het haar misgis, want Francois weet wie hy is, en hy weet wie hy wil hê: vir haar wat Adele is.

En ek bring jou om te luister na die Lied van Lorelei. Ek neem jou saam na die Laeveld waar twee jong, welaf sitrusboere hul lewe leef tot daar op ʼn dag ʼn spul vroumense met ʼn taxi opdaag om te kom vir onderhoude vir ʼn moontlike huwelik. En tot daar op dieselfde dag twee vroue verskyn wat alles is waarvoor hulle gewag het, wat vrouwees verpersoonlik, maar wat niks van hulle wil weet nie. En dit als oor die groot misverstand… Ek bring vir jou die lag, die chaos, die versoening.

Ek bring vir jou die boodskap dat die lewe jou vorentoe vat, soms na ʼn plek of ʼn punt toe waar jy nie wil wees nie; wat jy nie gekies het nie. Ek wil vir jou vertel dat jy daar moet wees, dat dit so moet wees as jy uiteindelik by die rusplek wil kom waar jou tuiste is. Daarom bring ek vir jou die storie van Pippa’s Story/Destined to Love, die weeskind uit Johannesburg wat alleen die pad aandurf na die klein dorpie Sierberg in die Vrystaat. Daar waar Julian du Toit vir haar wag omdat hy dit belowe het aan haar ouma. Die ouma van wie sy noot geweet het nie, en wat vir haar ʼn erfporsie ver groter gelos het as wat sy ooit besef het, want dit het Julian ingesluit.

Ek skryf om jou hoop te gee. Om jou aan te moedig om op te staan, om oor te begin en voor te begin. Om jou te help om te verstaan dat jy sterker is as wat jy dink. Dat vrees en terugslae kleiner is as die krag binne in jou. Dat jy beskik oor ʼn onblusbare gees, al voel dit nie nou vir jou so nie. Dat jy beskik oor die vermoë om te uit te styg bo al jou pyn en seerkry, al die bang môres, al die woede en vernedering, en om weer lief te hê by alle grense verby.

Ek skryf om jou te bemoedig, om te vertel dat die liefde stukkend slaan maar ook heel maak, dat dit jou oplig en uitlig, dat dit jou laat vlieg na die hoogtes waar die arend sy nes maak. Want jy is ʼn arend, nie ʼn hoender nie. Jy hoort daar bo, en daar is iemand wat jou soontoe sal vergesel, maar wat nooit namens jou sal vlieg nie. Jy moet dit self doen.

Maar bo dit alles, skryf ek vir jou oor die liefde tussen ʼn man en ʼn vrou.

Dis vir jou en oor jou wat ek skryf.

Dis romanse.

Vir meer inligting oor hierdie boeke, klik regs op https://rachelledubois.com/nuwe-boeke/. Die skakels sal jou regtuit soontoe vat.

Die boeke kos tussen R50.00 en R70.00 elk.

Woorde soos water

tb_waterfall_wallpaper_avantzone-1024x768

Ek is so opgewonde omdat ek reeds my nuwe boek se eerste twee hoofstukke voltooi het. Na ‘n effense gesukkel is ek eindelik terug in my gewone roetine en kom die woorde flink en vinnig. Ek het reeds ‘n naam vir die boek, maar wil dit nie nou al bekend maak nie, want soos dit met skryf gaan, besluit een of meer van die karakters dalk om iets heeltemal teen dit wat jy vir hom of vir haar beplan het, te doen. Dit gooi natuurlik die hele storie deurmekaar en krap die res van die karakters om en dan doen hulle weer iets wat ek nie beplan het nie. Mens weet nooit wat gaan gebeur nie…. Dit is dus veiliger om die naam in jou agterkop te hou tot die storie voltooi is. Miskien pas dit nie meer nie.

Maar ek vorder flink so tussen al die ander take deur en ek hoop om ten minste 2000 woorde per dag te skryf. Dis nie te veel gevra nie en aansienlik stadiger as wat ek voorheen geskryf het. Maar wie weet, miskien raak ek so geïnspireerd en vol energie dat ek baie meer as dit neerpen.

En dit hang natuurlik van my karakters af. Hulle wil dalk nie saam speel nie….

‘n Kort kort storie: Sy wou nog sê…

images[1]

Hy kom haastig ingestap, ʼn klein glimlag om sy mond toe hy haar sien. Sy hou hom dop en merk dat hy nie veel verander het nie. Sy het hom amper vier-en-twintig jaar gelede vir die laaste keer gesien en hy lyk nie ouer nie, net effens breër van lyf. Geen sigbare grys hare nie, nie veel plooie nie. Vir ʼn man van sy ouderdom lyk hy baie goed.

Hy skuif langs haar op die sitplek in en buk glimlaggend oor om haar te soen.

“Hoe gaan dit?” vra sy, bly om hom te sien. Uiteindelik sit hy hier by haar, na al die jare.

“Goed, en met jou? Kan ek maar anderkant sit dan kan ek jou beter sien?” vra hy en sy knik.

“Ja, natuurlik. Ek’s bly jy het darem die plek gekry. Ek het amper gedink ek sal jou moet gaan soek, en dan kom soek jy my dalk weer,” lag sy en steek haar hande spontaan na hom uit.

“Dis so goed om jou te sien.” Sy lag is dieselfde as hy dadelik albei haar hande in syne neem en dit stewig druk. Hy laat haar onmiddellik gaan en sy laat hul voor haar op die tafel rus. Sy het soveel om te vra, soveel om te sê.

“Hoe gaan dit met jou? Jy lyk goed.” Sy bekyk hom aandagtig, en hy vir haar, maar sy kan nie die kleur van sy oë sien nie. Sy soek na die kleur van die pragtige oë van die man oorkant haar, maar die lig verberg dit, steek dit vir haar weg. Sy soek na die blou wat haar so kon vashou jare gelede.

“Dit gaan goed, en met jou? Jou familie?” vra hy en kyk na die kelner wat langs die tafeltjie huiwer.

Hul gesprek draai om die stadsverkeer, die winkelsentrum, die kinders, hul geliefdes en bekendes. Hy wys foto’s op sy selfoon, maar sy weet hul het meer om te sê as waaroor hul praat. So baie meer.

Hul vul die kort swanger stiltes vinnig in met inligting oor die ekonomie, die politiek, die amper hopelose situasie in die land.

Terwyl hul praat oor ander dinge, weet sy dat die tyd deur hul vingers glip sonder dat sy sê wat sy vir hom wil sê. Sy wil vir hom sê dat sy nie spyt is oor wat gebeur het nie, dat sy gewonder hoe dit sou gewees het as dinge vir hul anders was, dat sy so verskriklik bly is om hom te sien. Sy wil vir hom sê hoe mooi hy nog vir haar is. Dat sy eens nog saam met hom by kerslig wou eet, sy huis vir hom wou mooi maak, stylvol aan sy sy wou wees. Sy wil sê hoe graag sy eens nog met hom oor die dansvloer wou sweef, in sy arms wou wees waar sy gedink het sy is veilig.

Eens, toe die aarde onder haar voete verkrummel het, en sy met moeë  arms en hande na vashouplek gesoek het. Maar sy wil ook sê dat hy die regte besluit geneem het. Dat iets in haar gesterf het toe hy weg is, en dat sy vir ʼn tyd opgehou leef het. Sy wil vir hom vertel die drif om te leef was sterker, en soos saad wat moes sterf voor dit weer kan groei, het sy weer in die donker rykdom van die grond ontkiem, en haar kop bo die grond uitgesteek om ʼn groot boom te word met baie blare, en ʼn groot skaduwee met koelte waar uitgeputte lewensreisigers ʼn oomblik kan rus.

Sy wil vir hom vertel dat sy nie meer die jong vrou is wat hy geken het nie; dat sy onomkeerbaar verander het. Nie net uiterlik nie, maar sy is ouer, wyser. Sy is nie meer die vrou met die verleidelike lyf en die stukkende lewe wat hy leer ken het soveel jare gelede nie. Sy is nie meer die slagoffer nie, sy het die oorwinnaar geword. Sy wag nie meer vir die ridder op die wit perd nie, maar sy het haar eie perd opgesaal. En sy is tot die tande toe gewapen met die wapenrusting wat sy self gekies het op haar lewenspad. Kan sy dit waag om hom daarvan te vertel? Haar wapenrusting is so anders as die konvensionele… Sal hy verstaan as sy vir hom vertel dat sy die onuitputlike bron van krag binne haar ontdek het? Dat sy nie meer vir ander wag om vir haar blomme te bring nie, maar dat sy haar saad in haar eie tuin saai, en haar eie blomme pluk? Dat sy waarlik vry is?

Sy wil vir hom sê dat sy bly is hy is hier, dat hy weer moet kom, maar dat sy net vry kan wees as sy vrylaat en dat hy daarom vry is….

Hul stilte is swanger en tog sê hul nie wat in hul hart lê nie. Hul ongesproke woorde lê tussen hulle soos ʼn muur, en as die tyd om is, groet hy, staan op en begin wegstap.

“Kom soen my,” roep sy toe hy begin aanstap en hy draai vinnig om. Sy mond is nog sag soos sy dit onthou.

En sy het steeds nie die kleur van sy oë gesien nie.

Opgewondenheid oor dit wat kom

imagesCALLR7ZC

Ons is reeds by die sewende dag van 2015 en die adrenalien pomp, daar’s opgewondenheid, angstigheid, frustrasie en afwagting in die lug. Ek hoor dit deur my venster en ek sien dit in die verkeer. Waar gaan jy heen? Wat gaan jy doen?

Ek het vir myself net ‘n paar doelwitte gestel:

  1. Om meer te groei, om wyser te word, om meer te gee en te geniet.
  2. Om ten minste vier of meer boeke te skryf, maar met groter sorg, aandag en fyner afwerking.
  3. Om die nuwe boek waarmee ek reeds in Desember 2014 begin het, klaar te skryf. Ek het nog nie ‘n naam daarvoor nie, maar die groot lekkerte van skryf is reeds in my bloed, en die eerste vyf hoofstukke is klaar geskryf.

Ek het besluit om nie die tradisionele roete te volg deur weer groot uitgewers te nader vir moontlik publikasie van my boeke nie. Miskien weer later. Daar was verskeie redes vir my besluit. Eerstens neem dit te lank – maande – en teen daardie tyd het ek alreeds weer drie of meer boeke geskryf. Tweedens, so vinnig soos wat die inspirasie vloei, so vinnig skryf ek. En as die boek klaar is, wil ek hom so gou as moontlik daar buite kry vir lesers om te geniet. Ek sou dit haastigheid noem met ʼn goeie skeut opgewondenheid en vreugde oor ʼn skepping wat voltooi is.

ʼn Baie groot en aangename verrassing was my liefdesroman Inge se wonderlike ontvangs. Binne die eerste paar minute nadat ek dit op Amazon.com vrygestel het, het die eerste boeke begin verkoop. Dit is met dankbaarheid dat ek gesien het hoe my ander Afrikaanse boekeverkope ook begin styg. Mari is die topverkoper, met Maalkolk en die ander ʼn kortkop agter. (Gaan loer op die Kortpad na Romanse blad bo of klik op https://rachelledubois.com/nuwe-boeke/

Gelukkig is daar deesdae ander keuses ten opsigte van publikasie waarvan selfpublikasie een is. Die beskikbaarheid van draagbare tegnologie soos iPads, Kindle Readers, en so meer het ‘n  geweldige ontploffing in aanvraag na e-boeke te weeg gebring, en maak dus die deure oop vir onafhanklike skrywers soos ek om ons werk in die openbare arena beskikbaar te stel.

Ongelukkig is daar slordige skryfwerk ook tussen self-uitgewers, en kleef die swak beeld aan onafhanklike skrywers, maar die kieskeurige leser kan hierdie swak werk heeltemal uitskakel deur ‘n oorsig te gee van hoe jy die boek gevind het en sterre daaraan toe te ken.

Sommige boeke laat net die lees van die eerste paar hoofstukke toe voor jy agterkom die boek is slordig geskryf en swak afgewerk. Dis dan wanneer jy die boek van jou tablet afvee, maar voor jy dit doen, “rate” die boek eers.  Dis uiters belangrik vir die skrywers en lesers om te sorg dat swak werk uitgewys word  Dit kan die skrywer net help om te verbeter.

Ek los jou as leser dan ook met ‘n taak en pleit dat jy elkeen van my boeke wat jy reeds gelees het, eerlik sal beoordeel en jou ervaring sal deel. Kom gesels met my daaroor, en vertel vir ander wat jy daarvan dink.

Kom ons maak 2015 ‘n jaar vol van leesgenot. Ek het die “Kortpad na romanse” -blad hierbo aangeheg met die skakels na waar jy die boeke in die hande kan kry. Gaan kyk gerus en geniet. Daar is ook kort beskrywings van elke boek om jou te help besluit.

Geniet dit! Ek gaan beslis.