Archive | March 2015

Die fluistering in die aandwind

Photo0035

Wanneer gaan jy die sagte fluistering hoor as jy aanhou praat?

Die kosbare boodskap gaan jy nie van die preekstoel af hoor nie, nie op Facebook, Twitter of in boeke vind nie. Jy gaan dit nie by ‘n vriend of vriendin hoor nie.

Dit word in jou hart gefluister waar net jy dit kan hoor. Raak stil, sny jou aanhoudende binnegesprek af, en luister.

Soek die stilte op. God se stem was in die fluistering van die aandwind…

Net dan gaan jy dit hoor. Luister net en hou op praat…

 

Advertisements

Tyd en geduld

imagesCALLR7ZC

Dis geen wonder geduld word so hoog aangeskryf in die Bybel en in talle ander geskrifte nie. Dis seker die moeilikste deug om op aanspraak te maak. En ek sukkel, o, ek sukkel met geduld. Ek wil so graag alles nou laat gebeur, en natuurlik kan mens nie ʼn groen vrug ryp druk nie. Mens kan tyd nie aanjaag nie. Tyd luister nie na jou nie, dit wag nie op jou nie, dit stap teen sy eie pas en jy moet maar saamstap of agterbly. Natuurlik vra tyd nie vir jou wat jy wil hê nie. Jy kan maar jou bestelling plaas; tyd sal besluit of dit op jou versoekdatum afgelewer sal word soos jy bestel het. Geduld en tyd loop saam en jy kan die een nie van die ander skei nie.

Ek het die les hieronder by Paulo Coelho geleer:

“When I draw my bow,” says Herrigel to his Zen master, “there comes a point when I feel I will get breathless if I don’t let fly at once.”

“If you continue to try to provoke the moment when you must release the arrow, you will never learn the art of the archer,” says his master.

“Sometimes, it is the archer’s own overactive desire that ruins the accuracy of the shot.”

A Warrior of the Light sometimes thinks: “If I do not do something, it will not be done.”

“It is not quite like that: he must act, but he must allow for the Universe to act too.”

Verandering

Maalkolk Amason 8Mar2015 4172cf27-6692-48a5-b5cf-9cf7fa459ee6[1]

Iemand sê nou die dag vir my dat ons nie ander uitkomste kan verwag as ons dieselfde dinge oor en oor doen nie. Ons moet anders dink en doen as ons ʼn ander resultaat verwag. Toe skraap ek my moed bymekaar en besluit dis nou of nooit. Hier moet verandering kom.

ʼn Skrywer se eerste pennevrugte is mos maar teer plantjies wat gekoester en vertroetel wil word. En hulle sit so lekker in die hart, so gereed om uitgehaal en bekyk te word met groot genoegdoening. Maar mettertyd kom mens agter hulle dra nie vrugte nie. Hulle boodskap roep nie hard genoeg nie, verbygangers vertoef nie onder hul skadu nie. En toe wonder ek oor die onvrugbare vyeboom… Is dit nou my beurt om byl in te lê en af te kap? Of sal ek net bietjie snoei? Ek besluit om by ʼn punt begin, dalk maar net eers bolangs regmaak, wilde lote snoei en die klein jakkalsies uit die wingerd kry.

Om die groeiproses aan te help, begin ek by die skryf van beter loktekste en ek gaan boekomslae verander waar dit nodig is.

Hou dus maar hierdie spasie dop vir die mooiste omslae en ‘n kort beskrywing wat jou regop gaan laat sit. Ja, dit sal ‘n tydjie neem, maar ek sal een vir een kosbare storie vat en dit nuut vir jou aanbied tot jy dit nie meer kan uithou nie. Jy sal jou nuuskierigheid nie kan bedwing nie en jy sal moet gaan kyk wat is binne-in.

Die put van lees en skryf

Pippas well canstockphoto4393745

Ek het my die afgelope twee weke die tyd gegun om boeke te lees wat ek nog altyd wou. En dit was pure vreugde. My lesery was tweedoelig: eerstens om die ou klassieke gunstelinge op te soek, en tweedens om te gaan kyk wat en hoe die wêreld se voorste liefdesromanskrywers skryf.

Nouja, ek kan met sekerheid sê ek het geleer – baie geleer.

Omdat ek as onafhanklike Afrikaanse skrywer my eie idee het van waaroor daar geskryf kan en moet word, het ek veral boeke gelees uit die penne van Amerikaanse, Britse, en Ierse skrywers.

Kyk, hulle speel nie. Hulle noem ʼn ding op sy naam. Daar’s nie doekies omdraai of ligvoets trippel oor dinge wat ons nooit eers aan sal dink om te sê of te oor te praat nie. Daar’s geen heilige koeie nie – alles word tot op die been oopgevlek. Maar hulle is pynlik eerlik; amper skokkend eerlik, en daar’s min sentiment te bespeur. Sommige boeke is woordpornografie – en ek is nie preuts nie – met min of geen storielyn nie. Ek het min tyd met hulle verwyl. En dan was daar die wat ek moeilik kon neersit. Ag, ʼn mooi boek is ʼn heerlikheid wat mens lank bybly.

Maar ek wil nie soos hulle skryf nie. Ek wil ook nie Mills en Boon-tipe romanse skryf nie. Ek het niks teen hul kort romantiese ontvlugtingstories nie. Dit val in die smaak van ʼn groot leserskring. En dit raak niks dieper as die oppervlak nie.

Ek wil eerder ʼn boek skryf wat jou gaan by bly – iets wat jy saam met jou gaan dra en onthou solank as wat jy kan onthou. ʼn Boek waaroor jy met groot vreugde en genoegdoening gaan nadink. In mooi Afrikaans oor ons mense wat vandag leef, oor hul seerkry en swaarkry, liefkry en heel word. Ek wil nie oor geloof of politiek skryf nie. Dis ideologie. Ek wil oor mense en hul lewens skryf, mense soos ek en jy. Ek wil ‘n onuitputlike bron van vreugde en genoegdoening vir jou skep met woorde. Ek wil vir jou hoop bring, en liefde.

Daarom bring ek vir jou stories wat ek in woorde toegedraai het en wat uit my hart kom. Ek bring dit vir jou want dis ʼn gawe wat ek ontvang het  En dat jy meer hiervan sal wil lees.

Dis jou storie. Lees dit en geniet dit.