Archive | May 2015

Die vasmeerplek

Roeiboot in stil water 10610627_1522495954656377_8649637274352178189_n

Dis soms so moeilik om jou plek weer te vind, veral as daar ontwrigting en groot verandering in jou lewe plaasgevind het. Dis nie vreemd om toe te gee aan die drang om jou kop toe te trek, oë toe te knyp, en net af en toe te loer of die woeste see om jou nou kalmer geword het nie. Dis selfbehoud wat jou so laat wegkruip, terwyl jy wag dat jou eens rustige boot wat nou wild op ʼn onbekende see dobber, na stiller waters vaar waar jy veilig genoeg voel om vas te meer. En om eers weer die begin van die kraaines van drade te kry sonder om skuldig te voel omdat dit so lank neem, omdat jy so nie weet nie, omdat jy onseker is oor of jy jou lewe weer aanmekaar geweef gaan kry.

Daar is ʼn bloudruk vir jou lewe. En ʼn kompas om die pad aan te dui. Ware Noord lê binne-in jou, en soos jou boot in ʼn stil plek vasgemeer lê, so moet jy terugkeer na die stil plek binne, daar waar rus is en waar jy antwoorde kry.

Eers dan kan jy begin aanstap na waar jy moet wees. Na die plek op jou bloudruk wat jy self gekies het, en jou kompas jou rigting aandui.

Drie dinge

Sarika 1979659_10203447633292312_2734216978133062774_n[1]

Hoe lyk agaat? Is dit groenblou met goudstrepies? Deurskynende blougroen en afhangend van hoe die lig val, verander die kleur – meer blou, dan meer groen. Pragtige oë. Haar pa se oë – haar oë. Nege-en-vyftig jaar oud, en vir die eerste keer kyk sy in haar eie oë. Kyk sy regtig. Opvallend die kleur. Sy sien die groenblou met goudstrepies en agter die kleur, die pyn en skugterheid van ʼn bokkie.

Hulle sê ʼn mens het drie dinge nodig om te kan leef: geloof, hoop en iets om voor te leef. Waarin of waaraan glo sy, wonder sy. Sy soek ver en wyd. God? Ja, tog. Die universele, alomteenwoordige; die tydlose en ewige: infinité. Was, is en sal altyd wees. Een persoon? Nee, dink sy; kan nie in een woord, een identiteit vasgevang word nie – in alles, om alles, oral.

Hoop? Hier staan sy lank stil. Wat is hoop? Dis nie ʼn vaste wete nie. Om te hoop is onsekerheid. Om iets te weet, is anders as om te hoop. Hoop is na buite gerig. Vaste wete is om te weet sonder twyfel – ʼn vaste onwrikbare wete sonder twyfel of dubbelsin. Verhoudinge word op hoop of vertroue in iets of iemand anders gebou. Sy voel sy staan hier op wankelrige grond. Hoop sy en vertrou sy nog ander mense? God? Is sy hooploos? Hopeloos?

Soms is sy byna waansinnig hooploos en wonder sy: is sy? Bestaan sy regtig? Of is dit net in haar kop dat sy bestaan? Dan roep sy sag die aandlug in en luister intens. Miskien is daar iemand daar buite wat haar hoor? Miskien ʼn antwoord? Die volronde silwer maan gooi dan net sy lig al witter oor haar uit al wag sy byna asemloos. Maar daar is geen antwoord nie, net die ritmiese pols van haar eie bloed, die klop van haar eie hart wat haar vertel dat sy bestaan. Is bestaan die polsing van die hart? Die klein klop-klop, klop-klop van die fetus? ʼn Fetus het die vooruitsig van lewe, maar lewe sy? Hoe bevestig sy haar eie bestaan? Haar lyf – dis die manifestasie van iets wat hul ʼn mens noem. Is dit die somtotaal van bestaan, wonder sy; hierdie lyf waarvan die buitelyne al skewer trek, en alles wat gister rond en ferm was, nou verlore iewers aan iets hang? Gister! Here! As gister bestaan het, en vandag – nou, hierdie oomblik, dan is daar seker ook ʼn môre? Wat is môre, as haar vandag net aaneengestringde dae in ʼn eindelose repetisie van alle vorige dae is – soos die son en die maan volg die een dag die ander na in perfekte nabootsing van die een die ander. Môre – wat is môre dan anders as vandag?

Miskien kom dit dan by die derde ding wat mens nodig het om te lewe – iets om voor te lewe, werk sy vorentoe uit. ʼn Doel, iets wat betekenis aan die lewe gee. ʼn Droom? Sal mens kan leef sonder ʼn droom? Want sy weet dat net ʼn droom haar uit hierdie doolhof van verwarring kan lei. Kan ʼn droom ʼn mens se bestaan bevestig, wonder sy. Is die feit dat mens jou ʼn droom kan verbeel, bewys dat mens bestaan? Kan mens nog droom op hierdie ouderdom? Of is dit ʼn hersenskim? Tydmors? ʼn Droom om nog weer iets te begin, iets te wees, menswaardigheid terug te kry, te reis, te werk en ʼn bydrae te lewer. Of is sy ʼn simpele ou vrou wat nie weet wanneer om op te hou nie? Moet sy nie maar net rustig hier wegkruip tot sy doodgaan nie? Of is sy reeds dood? Wat is die verskil tussen lewe en bestaan? Versigtig nou, maan sy haarself, want sy sal haarself gek maak met al hierdie vrae. Miskien moet sy die man in die maan vra, al antwoord hy haar nie. Kan sy dalk weer betekenis vind binne die niks van vandag en môre? Is sy so verblind deur haar eie introspeksie dat dinge by haar verbygaan sonder dat sy dit besef? Sy weet meteens dat sy opgehou het om die skoonheid binne-in haar, die groot Bron, op te soek. Daar waar die wil en die vermoë lê om te transendeer – op, uit, bo-oor die daaglikse sleur; om dit wat werklik saak maak te soek en te vind. Sy sal haar oë lig na ʼn nuwe horison en kyk. Want daar is die glans en die glorie van die son, en die maan, en die aarde in al haar volheid, en dis ook hare, want sy is uit stof, en sy sal daarheen terugkeer. Na die aarde toe waaruit sy kom.

Soms…

Dandelions 10606055_1542567215963146_6262429345999328062_n[1]

Soms kry mens die drang om iets wat al lank aan die deur van jou hart klop, in te laat. Dan is die verrassing so groot as jy dit eindelik in die oë kyk en weet: dis nou, dis hier, dis dit wat ek al so lankal wou. As jy jou klaar verlustig het in die besef, draai jy die idee om en om, speel daarmee, bekyk dit van alle kante, en die moontlikhede begin een vir een by jou verby stap; die een meer opwindend as die ander. En jy weet sommer jy gaan probeer; jy moet probeer om dit te doen wat jy al so lank begeer.

Jy val weg met entoesiasme, en jy hamer en beitel aan jou skepping. Soms sak jy moedeloos terug, dink dis ʼn groot gemors; jy kan nie, want dit lyk nie goed nie, dit lees nie lekker nie, dis nie mooi nie, dis nie jy nie. En as die moedeloosheid en die wil om op te gee amper oorneem, dan staan jy op en begin jy voor, weer en weer. Jy hou aan, al fluister ʼn stemmetjie dat jy energie en tyd mors. Tot daar eendag ʼn klein vonk spat, en jy meteens weet jou skepping is uiteindelik in wording soos jy jou dit voorgestel het.

O, die vreugde as jy terugstaan en jou handewerk aanskou… Dit is ʼn stukkie van jouself wat daar voor jou staan. Dis jou breinkind en jy weet nie of jy moet lag of huil omdat dit klaar is nie. Jy koester dit nog vir ʼn rukkie, stilletjies verlustig jy jou in die wete dat iets van jou gaan agterbly – iets wat vreugde gaan verskaf aan iemand anders.

Ons gee soms te gou op en dis gewoonlik net voor ons by die punt kom waar ons idee tot vrug kom. As jy moedeloos raak, en voel asof al jou werk, al jou opoffering tevergeefs was, gaan voort, hou aan. Sukses kom nie oornag nie. Dit vat tyd vir ʼn idee om ryp te word.

Ons is soms te haastig en wil ʼn groen vrug ryp druk. Jy het jou deel nou gedoen, nou moet jy terug staan en wag vir die regte ding om op die regte tyd te gebeur. Jy het jou bestelling in die Hemel geplaas en dis in wording. Dis uit jou hande uit. Maak jou nou los hiervan, en gaan aan met iets anders.

En as die tyd gekom het, breek jou vrug oop en jou saad word op die wind gedra om te groei waar dit moet. En jy weet: die tyd daarvoor het gekom.

En dan pak jy die volgende projek met groot entoesiasme aan en is dankbaar vir alles wat jy geleer het.