Archive | June 2015

Diep goud

3628364581429334064[1]

Die voordeel van pyn

Dis in die donkerste tye, wanneer mens diep en ver soek na antwoorde, dat mens op die goud afkom. Het jy al daaraan gedink dat jy dalk nooit sou gedoen het wat jy nou doen as dit nie vir die seer en die donker was nie? Dit is so dat mens eers die donker moet ken om die lig te kan sien. Om eers die lewe se onderkant te ervaar om te weet wat bo beteken.

Hoe gaan jy by jou eie wonderbaarlike self en diepte uitkom as jy in die vlak grond dolwe?  Hoe gaan jy weet van jou eie krag as jy nie jou eie swakheid ken nie?

Goud vind jy nie op die oppervlak nie. Nee, dis ’n aar wat onder die grond loop. En as jy die goud in die duisternis ontdek het, raak alles weer vir jou lig en dan besef jy die waarde van swaarkry en seerkry. En dan weet jy jy is gelouter deur pyn om die suiwerste goud – die krag en die drang na oorlewing – diep binne jouself gevind het.

Eers dan kan jy terugkyk en sê: Ek het dit gedoen; ek is daardeur; ek weet nie hoe nie, maar hier is ek. En ek is nou anders as wat ek voorheen was. Niks sal ooit weer dieselfde vir my wees nie, want ek is suiwer goud.

En dan sê jy dankie met oorgawe en jy juig, want jy is sterker as wat jy gedink het.

Advertisements