Archive | July 2015

Dronk van skoonheid

Ou boeke Facebook10256949_495859730515867_6730570642721716078_n[1]

Ons stap meestal by die seëninge op ons pad verby. Ons is bewus van die behoefte om iets te doen, iewers heen te gaan, die natuur op te soek, musiek te luister, met iemand te gaan gesels, of ʼn boek te lees wat jy so lankal wou.

As jy sou doen wat jou hart vir jou sê, nee, waarvoor jou hart pleit, wag daar ʼn stortvloed van seën op jou. Ja, ek gebruik die woord seën by gebrek aan ʼn meer toepaslike beskrywing van dit wat in jou hart invloei, en jou heeltemal onverhoeds betrap. Dis iets wat jou walle laat oorstoom, jou beker vul tot oorlopens toe, en jou stil en verwonderd laat. Dan wonder jy hoekom jy so lank uitgestel het.

Ek het gister ʼn boek gelees wat my so onkant betrap het dat ek nou nog steier onder die impak daarvan. As jy nog nooit ʼn boek gelees het wat met jou gepraat, en jou ten diepste geraak het nie, kyk jy die seën mis op die pad waarlangs jy loop. So ʼn boek gooi horisonne vir jou oop, en laat jou wonder of jy ooit voorheen geleef het.

Boeke hou boodskappe vir die hart, daarom is dit my skatkis waaruit ek weer en weer put sonder om ooit versadig te word. By elke keer se lees vind ek weer iets nuut, en word ek weer stil om te wonder oor die skoonheid van woorde en die kuns van storie vertel.

Ek begeer daardie kuns, maar meer nog, begeer ek al daardie boekseëninge wat langs die pad vir my wag. Ek sal van nou af met groot afwagting en oop oë loop sodat ek niks mis nie, want om ʼn seën mis te loop, is om bewusteloos te lewe.

Ek ek wil voluit lewe.

Laat die Liefde

Snail 10470891_841198432622509_2594558303180483519_n

Die vroeë oggend vind my stil en nadenkend oor die dinge wat ek geleer het uit al die gisters en die jare vooraf. Ek onthou die lang,  steil en kronkelende pad wat agter my lê; die soms uiters pynlike roete wat my gebring het tot by hierdie oomblik.

Ek moes rus wanneer die pad te moeilik en te steil was; wanneer ek met groot moeite en bewend van uitputting gewonder het of ek nie moet opgee en ʼn ander, makliker roete volg nie.

Dan het die Liefde my sag kom aanraak, en my op die hoogte laat staan om stil en verwonderd die lofwaardigheid van my doel te onthou. Liefde het my verskrikte hart aangeraak, dit stil gemaak, met dapperheid gevul, en my terug geneem na die pad wat ek moes stap.

Ek woon nou in die teenwoordigheid van die Liefde, en ek is dankbaar oor die treë wat my tot hier gebring het.

 

 

 

 

Ek is geskape na die beeld…

Kwarts 10292163_1560167300869804_8558200210816162206_n

Jy kyk na my en jy sien niks. Net die gesig van ʼn mens – nog ʼn mens wat by jou deure instap en geen bydrae kan lewer ter stywing van jou koffers nie. Daarom draai jy jou rug, of druk jou neus omhoog en noem jou prys.

Jou stywenek afkeer is duidelik. Ek hoort nie hier nie. Hierdie is die plek van die wat het. En die wat nie het nie, is nie welkom nie.

Jou arme mens. Jy is armer van gees as die armstes onder ons. Wat laat jou dink dat dit wat jy het saak maak? Hoe jammer tog dat jy dalk nooit die rykdom sal ken van die eenvoud nie.

Jou afkeer of aanvaarding raak my nie. Dis geskoei op mindere waardes en valse versekering wat besittings jou gee. Jy het nog nooit die krag van die selfkennis en die weet van dit wat waar is ontdek nie.

Daarom laat sak ek nie my oë voor joune nie, en buig ek nie my skouers krom van skaamte nie. Want ek is geskape uit Die Een en my waarde is ver bo die van korale.