Archive | August 2015

‘n Wonderwerk het gebeur

Dit verskaf vir my soveel vreugde om by enige van ons groot boekwinkels se webwerf te gaan soek na my e-boeke en hul daar te vind. Netjies onder mekaar staan hul daar en glimlag vir my. En ek glimlag soos ‘n idioot terug. Ek glimlag nie net nie; nee, ek sit gemaklik terug in my skryfstoel en verlekker my in hoe mooi hul almal lyk. Ek weet vandag hoe dit voel om (so effentjies) die vrug van jou arbeid te sien. Die proe sal nog kom; ek glo dit onwrikbaar.

Jy kan solank gaan loer by Takealot (voorheen Kalahari.com), Leserskring, Leisure Books, eReads SA, myAfrikaans, Kwarts Publishers en jy sal selfs vir MARI  by Kobo Books vind. By Amazon.com sal jy al my boeke vind.

Al my boeke is nog nie by alle winkels te kry nie, maar jy behoort ‘n goeie versameling by die winkels bo te vind. My drie Engelse boeke is reeds in Suid-Afrika beskikbaar by eReads SA by hierdie skakels:

Destined to Love: http://ereads.co.za/product/destined-to-love/

The Road to Eden: http://ereads.co.za/product/the-road-to-eden/

Oak Seed: http://ereads.co.za/product/oak-seed/

Met my elfde boek, Skat van die Seerower, so op die hond se stert, kan ek regtig sonder voorbehoud sê dat ek baie hard gewerk het die afgelope twee jaar, maar dat ek tevrede is met dit wat ek gedoen het. Die groot toets lê natuurlik by die lesers. Dis julle wat my lot as skrywer sal bepaal.

Ek sluit dus af met die pleidooi dat jul die insetsel hieronder sal lees en dat jy vir elke boek wat jy lees, ‘n kort resensie skryf op Twitter, Facebook, Amazon, of op die skrywer se webblad. Twee sinne is genoeg, of meer as jy so voel.

Ek pleit nie net vir my nie, maar vir alle skrywers wat so afhanklik is van die lesers se terugvoer.

11752571_10155866090970722_272654106127386564_n

Ons is nie almal so nie

Old Bookscanstockphoto10993883
Ek is ‘n onafhanklike skrywer van liefdesromans- en novelles en ek is goed daarmee. Ek het reeds my merk gemaak deur 10 boeke self uit te gee en te bemark. My boeke is reeds beskikbaar by Leserskring, Kwarts, myAfrikaans, Exclusive Books, Kalahari/Takealot, Leisure Books en Amazon.com. Die elfde boek uit my hand is reeds by my beta-lesers en ek hoop om dit binne die volgende twee maande op die rakke te hê. Ja, ek is trots op wat ek bereik het, maar ek is nie arrogant nie. Dit vat toewyding, baie harde werk en self-disspline om ‘n boek te skryf. Ongelukkig is ‘n graad of kursus in kreatiewe skryfkuns nie binne almal se bereik nie, en dis ook nie ‘n vereiste nie. As jy kan lees, kan jy praat, kan jy skryf. Ek het baie gelees en geleer oor hoe om te skryf, die kuns van storievertel, die moets en moenies van die uitgewersbedryf. En ek het onophoudelik geoefen deur te skryf. Ek glo my skryfwerk is van so ‘n gehalte dat dit binne die raamwerk van goeie skrywerk val. Daarom gee ek self my boeke uit. Nie alle onafhanklike skrywers lewer swak werk nie. Die bewyse is daar. Onafhanklike skrywers het jou ondersteuning nodig en verdien erkenning.

Skat van die Seerower

Skat van die Seerower Amazon 34df4949-cda6-4d5a-b5a5-6feca07a4995[1]

Daar is min te vergelyk met die gevoel van genoegdoening wanneer ‘n manuskrip voltooi is. Die groot werk lê natuurlik nog voor na die laaste woord geskryf is, want dan begin die redigering: die proeflees, die sif en uithaal, byskryf en oorskryf. Die grootste guns is wanneer iemand aanbied om jou manuskrip te proeflees of  te beta-lees, want dan kry onpartydige oë ‘n kans om te sien wat ek nie sien nie. Onafhanklike kommentaar is ‘n juweel en ‘n geskenk waarvoor ek nie my neus optrek nie.

Ek het die laaste hoofstuk van Die Seerower se Skat voltooi, en dit voel amper vir my asof daar nou ‘n lugleegte is. Die spasie waar my  gedagtes gefokus was, en my verbeelding vrye teuels gehad het, is nou gevul met my breinkind en die eskapades op die hoogsee saam met die skone Améli du Pré, en haar vriendin Vianne du Buisson. Die lieflike demoiselles val die twee edelman seerowers Jean le Veque en André le Mon ten prooi, maar die doel van die “seerowery” is die verlore familieskat van die Le Veque familie. Die skat is aan boord van Du Vent, die skip van Améli se pa waarop sy en Vianne reis. Améli is vasbeslote om die skat na Engeland te neem soos sy belowe het, maar Jean en André het ander planne. En dit sluit nie net die verlore skat in nie…

Die soektog na ‘n geskikte voorblad duur voort, want seerowers is gewoonlik nie van die mooiste en aantreklikste nie. Maar ons twee manne is Adonisse en ons moet aan hulle reg laat geskied.

Hou maar hierdie spasie dop vir nuus oor hierdie nuutste aanbieding. Dis ‘n romanse vir tieners, maar ek glo elke volwassene sal die avontuur met groot genoegdoening meemaak.