Archive | September 2015

Wat nie gesê word nie

Pearls canstockphoto6111406

Siekte dwing mens soms bed toe. Dis natuurlik ’n plek wat mens nie sommer andersins gewillig deur die dag opsoek nie. Tensy jy ’n boek het. Dit dwing jou tot stilte en refleksie. Dis dan wanneer ek my digbundels nader trek en stilte soek in woorde. In stiltes tussen woorde, in stiltes agter woorde, in wat nie gesê word nie. Dan soek ek en ek vind diep versteekte pêrels. ’n Skat wat ek sorgvuldig toevou en veilig wegsit om later weer na terug te keer. En elke keer vind ek meer van die kosbare juwele.

Hoe heerlik en bevrydend is ’n mooi gedig, ’n pragtige vers, ’n hartspraak deur die digter wat iets te sê het. Ek hoor, ek luister fyn, met die hart, met oog en oor. Ek is weereens verryk en ek koester die wete dat ek my besig gehou het met iets wat my skatkis voller maak. Daar is altyd plek vir meer vreugde en lig, meer skoonheid.

Want alles wat mooi en goed en opbouend is, is skoonheid. My soeke daarna is my lewensreis.

Ek plaas graag hierdie gedig van Jan de Bruyn vir jou:

Ek stuur vir jou

– behalwe groete –

alles wat ek sonder antwoord sê,

alles wat ek met die ver hande

van my oë pluk:

die wit blomme wolke

in ’n blou vlei;

die varings van stilte

wat in die berge van die jare groei.

Ek stuur vir jou ook

’n handvol van ’n môre hier

om teen jou oor te hou

soos ’n skulp

as die dae aanhou knars.

En ek stuur vir jou

die son die rooi lemoen

wat ek opgetel het

net anderkant vandag

net duskant die nag

vir lig om te drink

as ’n vaal reën aanhou val.

Advertisements

Uiteindelik is die Seerower klaar en daar …

Skat van die Seerower Amazon 34df4949-cda6-4d5a-b5a5-6feca07a4995[1]

My nuutste breinkind is eindelik uit my hande en in die hande van die verspreiders. SKAT VAN DIE SEEROWER sal eersdaags te kry wees op die webwerwe van die meeste boekwinkels in Suid-Afrika. Wees op die uitkyk vir hierdie heerlike avontuur wat hom afspeel in die jaar 1845. Améli du Pré en Vianne du Buisson is op ‘n belangrike sending per skip van Frankryk af na Engeland op pad. Améli het ’n kosbare skat in haar besit wat veilig in Engeland besorg moet word. Dis egter nie so maklik nie, want hul skip, Du Vent, word deur twee Franse edelmanne, Jean le Veque en sy vriend André le Mon, onderskep in ’n poging om te keer dat die skat in Engeland beland, want dit is die eiendom van die Le Veque-familie. Die mans is vasbeslote om dit terug te neem na Chateau le Veque in Nantes, Frankryk. Sal Améli en Vianne die sending suksesvol voltooi, of gaan die mans hul planne in die wiele ry?

Hierdie is ’n avontuur vol vreemde gebeurtenisse, swaardgevegte, skelmstreke, humor en ’n goeie skoot romanse met ‘n verrassende einde.

Dis ‘n romanse vir tieners (en vir almal wat soos tieners voel maar nie meer is nie … ) Gaan lees gerus wat lesers oor die boek te sê het by https://rachelledubois.com/nuwe-boeke/

Die boek kos R70.00 en is reeds beskikbaar by:

http://ereads.co.za/product/skat-van-die-seerower/