Archive | December 2015

‘n Tyd vir stilte

images[8]

Ek gaan hierdie Kerstyd gebruik om te reflekteer oor die jaar wat verby is en ook die jaar wat voorlê. Daar het so baie wonderlike dinge gebeur met my en myne hierdie jaar. Daar is ook die seer van ‘n ma aan die dood afstaan. Afgesien daarvan was 2015 weereens vir my ‘n hoogtepunt – ‘n jaar vol vreugde, liefde en vrede. Ook ‘n suksesvolle jaar omdat ek daarin geslaag het om my doelwit te behaal – om twee boeke vir 2015 te skryf en uit te gee. En nog lekkerder, ook ‘n derde boek, Die Vita Faktor, wat tans by die uitgewers is. Ek het waarlik baie om voor dankbaar te wees.


Kom ons oordink  hierdie jaar wat verby is. Kom ons kyk wat ons geleer het, wat ons ingesit het en wat ons uitgekry het. Kom ons sien uit na 2016 en besluit sommer nou al dat dit ‘n wonderlike gawe is wat ons kan vul met alles van ons keuse – vreugde, vrede, en liefde of angs, woede en bitterheid.

Waarmee gaan jy die gawe van tyd vul?

Ek kies die vreugde, vrede en liefde.  Ek wens dit vir elkeen van julle toe. In oorvloed.

Wees geseënd en hou die liefde lewendig.

Ons gesels weer in 2016.

Advertisements

Dink aan die moontlikhede . . .

Think Possibilities 10491994_571903722914001_6734294162770169401_n

Ek het my hand aan Wetenskapfiksie gewaag en met hierdie nuwe boek vorendag gekom. Hou saam met my duime vas vir:

DIE VITA FAKTOR

Marcus de Virtus voer ʼn rustige bestaan as ʼn suksesvolle kunstenaar op die dorpie Duiwelspiek in die ooste van Mpumalanga. Op ‘n dag ry ʼn taxi hom raak in die straat voor sy ateljee. Wanneer hy sy bewussyn in die hospitaal herwin, ontdek hy tot sy skok en ontsteltenis dat hy oor die vermoë beskik om onsigbaar te raak. Nog ander vreemde dinge gebeur met hom.

Daar is ʼn misterieuse vrou by sy bed met opvallende oë wat net soos syne lyk. Amandelvormige viooltjie-blou oë. Presies nes syne. Wie is hierdie vrou met haar goue hare en geheimsinnige optrede? Sy oorreed hom om saam met haar te gaan. Sy neem hom op ʼn reis wat sy lewe handomkeer verander.

Die Vita Faktor neem oor en Marcus bevind homself meteens in twee wêrelde. Hy is nie meer seker wie of wat hy is nie. Sy alleen kan die raaisel van die Vita Faktor ontsluit, en hy moet haar noodgedwonge volg om ’n verklaring te vind vir die skokkende en ontstellende gebeure wat sy lewe oorgeneem het.

Is ek dapper of onnosel? Ek weet nie, maar ek het gewaag.