Archive | January 2016

DIE VITA FAKTOR nou beskikbaar

Die Vita Faktor

Marcus de Virtus voer ʼn rustige bestaan as ʼn suksesvolle kunstenaar op die dorpie Duiwelspiek in die ooste van Mpumalanga. Op ‘n dag ry ʼn taxi hom raak in die straat voor sy ateljee. Wanneer hy sy bewussyn in die hospitaal herwin, ontdek hy tot sy skok en ontsteltenis dat hy oor die vermoë beskik om onsigbaar te raak. Nog vreemde dinge gebeur met hom.

Daar is ʼn misterieuse vrou by sy bed met opvallende oë wat net soos syne lyk. Amandelvormige viooltjieblou oë. Presies nes syne. Wie is hierdie vrou met haar goue hare en geheimsinnige optrede? Sy oorreed hom om saam met haar te gaan. Sy neem hom op ʼn reis wat sy lewe handomkeer verander.

Die Vita Faktor neem oor en Marcus bevind homself meteens in twee wêrelde. Hy is nie meer seker wie of wat hy is nie. Sy alleen kan die raaisel van die Vita Faktor ontsluit, en hy moet haar noodgedwonge volg om ’n verklaring te vind vir die skokkende en ontstellende gebeure wat sy lewe oorgeneem het.

Is hy van sy sinne beroof of is daar waarlik iets meer, iets buite hierdie oomblik, asemteug, plek en tyd?

Die eerste kommentaar op DIE VITA FAKTOR. Ek het die proef kopie aan drie lesers gegee en hierdie is hul mening:

Ek het onlangs Rachelle du Bois se heerlike debuut-fantasieverhaal, Die Vita Faktor, wat deur Thompson Boekdrukkery uitgegee word, gelees en baie geniet. Die skryfster se verbeelding ken geen perke nie en sy gaan so gemaklik met die genre om dat mens sou dink sy is ‘n ou hand as dit by die skryf van fantasie kom. Dis ‘n voorreg om ‘n fantasieverhaal in Afrikaans te kan lees en ek hoop die skryfster kry die ondersteuning én erkenning wat sy verdien. Ek glo sy gaan ‘n hele klomp aanhangers werf. Ek is ook verheug om te verneem dat Die Vita Faktor die eerste boek in ‘n reeks is. Ek gaan beslis op die uitkyk wees vir die daaropvolgende boeke ook.

Louise Viljoen

“Baie dankie vir die lees van die boek. Dis anders maar tog baie interessant! Iets ongewoon en anders as die normale. Het die boek werklik geniet!” skryf Sanet Horn Rautenbach

“Dis ‘n vreeslike oulike boek en ek het dit baie geniet. Dit lees so maklik en ek kan dit hartlik aanbeveel,” is die mening van Suzette Grové

Die boek is nou beskikbaar by:

Sagteband:
eBoek:

 

Afrifiksie is ‘n Afrikaanse webwerf en hulle konsentreer spesifiek op die bevordering Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasie. Gaan loer gerus by hulle in.

Gaan lees solank die lusmaker hier: http://afrifiksie.com/lusmaker-die-vita-faktor.

Thompsons Boekdrukkery gee die boek uit en jy kan hulle hier besoek:

http://thompsonboeke.com/index.php

Advertisements

DIE VITA FAKTOR

Snail 10470891_841198432622509_2594558303180483519_n

Daar is so baie werk aan die skryf en uitgee van ‘n boek. ‘n Skrywer moet baie geduldig wees. Niks mag deurgejaag word of half gedoen word nie. Dit vat tyd en geduld voor die boek uiteindelik in die lesers se hande beland. En dan kom die afwagting, die opwinding van iets nuuts, van ‘n nuwe storie met interessante karakters en baie kinkels en draaie voor die verhaal eindelik tot ‘n einde kom. Hopelik is die leser spyt as die einde van die boek op hande is, en nog beter is dit as die leser die boek liefdevol oor die buiteblad stryk en vergenoeg neersit.

‘n Skrywer begeer niks meer  of niks minder nie. Ek hoop dat Die Vita Faktor jou met genoegdoening en tevredenheid sal laat en ook sal laat uitsien na die volgende in Die Faktor reeks. Ek is reeds besig met Die Lucerna Faktor en ek glo jy gaan dit net so geniet soos hierdie eerste poging van my. Die boeke gaan in gedrukte vorm en ook as e-boek beskikbaar wees.

Ek is so bevoorreg om die eerste lesersopinie oor my nuwe WF/Fantasie, Die Vita faktor, hier te kan plaas. Ek sien uit daarna om die proef kopie in my hande te hou. Een van die dae, een van die dae …

Kort Leseropinie – DIE VITA FAKTOR

Ek het onlangs Rachelle du Bois se heerlike debuut-fantasieverhaal, Die Vita Faktor, wat deur Thompson Boekdrukkery uitgegee word, gelees en baie geniet. Die skryfster se verbeelding ken geen perke nie en sy gaan so gemaklik met die genre om dat mens sou dink sy is ‘n ou hand as dit by die skryf van fantasie kom. Dis ‘n voorreg om ‘n fantasieverhaal in Afrikaans te kan lees en ek hoop die skryfster kry die ondersteuning én erkenning wat sy verdien. Ek glo sy gaan ‘n hele klomp aanhangers werf. Ek is ook verheug om te verneem dat Die Vita Faktor die eerste boek in ‘n reeks is. Ek gaan beslis op die uitkyk wees vir die daaropvolgende boeke ook.

Louise Viljoen

 

 

Heel nuut & heel anders: Die Vita Faktor

Die Vita Faktor .jpg

Hierdie jaar laat nie op hom wag nie en tyd hardloop alweer soos water deur ‘n mens se vingers. En saam met die haas kom daar wonderlike dinge op my pad. Ek kry onverwags goeie nuus van Thompson Boekdrukkery (http://www.thompsonboeke.com/ / http://www.afrifiksie.com/) oor my nuutste boek in die fantasie genre, Die Vita Faktor. Ek glo die boek sal binne die volgende paar weke sy verskyning maak. Dis heeltemal ‘n nuwe rigting vir my, maar ek het my gate uit geniet met die skryf hiervan. Hou maar hierdie spasie dop vir meer nuus hieroor.

Dis ‘n lekker storie oor Marcus de Winter, die bekende en suksesvolle kunstenaar op die dorpie Duiwelspiek wat een oggend in die hospitaal wakker word na ‘n taxi hom omtrent op sy stoep raakgery het. Hy vind dat hy skielik anders is: hy raak onsigbaar en verskyn weer, hy kyk goed stukkend . . . Hy verstaan niks van wat gebeur het nie en hy wil niks daarvan weet nie. En die beeldskone vrou langs sy bed? Feia Custos vertel vir hom sy is sy buurvrou en die eienares van die koffiewinkel langs sy ateljee. Maar sy is anders en hy voel hy ken haar al het hy haar nog nooit voorheen gesien nie. Dis ‘n storie vol intrige en kinkels en onverwagte verskynsels. En natuurlik is daar die bose Timor van die Ryk van Falsum wat ten alle koste vir Marcus wil terugkry.