Archive | May 2016

My nuutste poging: Kwiksilwer

KWIKSILWER (1)

Die eerste ses hoofstukke van KWIKSILWER is geskryf en ek wou vanoggend wegval met groot spoed en inspirasie. Dit was tot ek voor ‘n storie knoop te staan gekom het. Nou moet ek eers die skryf los en die dinkproses aan die gang kry. Iemand het so oulik vertel van “the boys in the basement.” Dis nou daai outjies in jou onderbewussyn. Hulle moet nou kans gegee word om vorendag te kom met ‘n oplossing. En moenie dink jy kan hulle in ‘n blik druk en aanjaag nie. O, nee. Hulle moet kans gegee word om vergadering te hou en opsies te bespreek; hulle moet die probleem oplos en die volgende scenario fyn uitwerk. Dan moet hulle die storie vorentoe vat. Intussen wag ek geduldig, staar nikssiende na die toetsbord, drink koffie, eet sjokolade, trek my deurmekaar hare nog meer regop en sug diep en onophoudelik. My huismense se reaksie? Hulle kyk my vreemd aan en wys met hul vingers in sirkels langs hul kop.

Ek het my maar besig gehou met die ontwerp van my KWIKSILWER se voorblad.

Die Lucerna Faktor nou beskikbaar

DIE LUCERNA FAKTOR

Falco Scuro, die Donker Valk, keer ná ʼn besoek aan die Ryk van Sapientia terug na Lucerna. Die Ryk van Lig is egter in duisternis gehul nadat die bose Timor van Falsum vir Lucerna aangeval en die Ligblom uit die Sfeer van Lig gesteel het. Lucerna, die Lamp van die Heelal, is nou byna onsigbaar, bewolk en vol skaduwees.

Falco Scuro verklaar terstond oorlog teen die bose Timor. Hy en sy Ligvalke moet ten alle koste die Ligblom terugkry in Lucerna. Indien die Lig nie skyn nie, kan Lucerna nie lig aan die ander ryke voorsien nie. Dan sal die Waarheid nie meer seëvier nie en die Leuen sal gedy. Die ryke sal in totale chaos en algehele donkerte verval en die inwoners sal uiteindelik sterf.

Die lig het nie net uit Lucerna verdwyn nie, maar ook uit Falco Scuro uit. Hoe het hy hier gekom? By hierdie punt waar hy so verdwaal het in sy eie donkerte?

Sal die Donker Valk daarin slaag om van die troebelheid binne-in homself ontslae te raak? Sal hy die skone Clara Lux, die Draer van Lig, wat die sleutel tot die raaisel hou, kan oortuig om vir altyd by hom op Lucerna te kom woon?

Lesersopinie deur Louise Viljoen:

Rachelle du Bois doen dit weer! Hierdie talentvolle skrywer se 13de eBoek, Die Lucerna Faktor, die tweede boek in die opwindende Faktor-fantasiereeks, is binnekort te koop.

Du Bois se verbeelding ken geen perke nie. Haar verhale is skoon, propvol avontuur, malse humor, liefde en heerlike fantasie. Ondersteun gerus hierdie onafhanklike skrywer. Afrikaans kan doen met skrywers soos sy.

Hier volg ʼn paar proetjies uit Die Lucerna Faktor:

Uittreksel:

“Klompies klein, knikkende kopbeentjies met klappende kakebene en knopperige knieë hardloop met litterige lyfies aan losserige lasse die hele Tenebris vol. Timor vryf verward oor sy ken en druk sy hand teen sy voorkop. Miskien is hy koorsig? Maar nee, sy voorkop is koel. Word hy dan nou stapelgek? Waar kom die spul grillerige geraamtetjies vandaan? Hy gil geskok toe van hulle op hom afstorm en hul ratelende tande in sy maer kuite inslaan. Hy spring en klap, trap hoog en laag, maar die benerige vingertjies gryp en klou vir ʼn vale.”

Uittreksel:

“Sy haal diep asem, word stil, roerloos, terwyl sy haar wortels uitstoot in die sagte, diep vrugbaarheid van die Aarde in. Sy lig haar arms en die groen sap van die lewe styg in haar lyf op tot sy ʼn stam vorm. Haar arms word sagte groen spriete en haar hande verander in teer nuwe blare wat stadig oopvou.

Daar vorm ʼn klein bloeisel, eers byna onsigbaar. Dit word groter, tot een vir een wasagtige blaar oopvou óm die sysagte kroonblare wat skitterend oopkelk asof daar ʼn lig van binne skyn. Die blom verhelder steeds tot kleurvolle, glansende spirale stadig daarom kolk en die hele reënwoud naderhand lyk asof dit deur die noorderligte verlig word.

Die skouspel duur nie lank nie. Die Lig verdof stadig, misterieus, tot net klein ligpuntjies meteens swiepende in die rondte tol in ʼn mal dans van kleurstrepe teen die donker.”

Uittreksel:

“Die slagslaners slaan op tromme, terwyl hulle kleurvolle pruike in alle windrigtings swaai. Snaarplukkers leun in ekstase agteroor tot hulle koppe byna aan die grond raak, terwyl die instrumente in hul benerige hande grom, huil en bewe. Die agtergrondkwakers het elkeen ʼn stormbord waarop hulle met kort stokkies tik. Voor elkeen is daar ʼn klankversterker wat hulle gille tot by die laaste linie van die verslae besoekers en deelnemers aan die Spele laat trek. Dan val die skreeubekke weg; hulle hardloop heen en weer, trippel, gil en skreeu by ronde bolle in wat op stokkies gemonteer is.”

Die boek is nou by Amazon.com beskikbaar. Klik net op die skakel hieronder.

https://www.amazon.com/dp/B01FUNBS5C

Wat as?

Photo0035

Wat as ek jou nie daardie oggend in die veld met die paadjie langs sien stap het nie? Ek sou ek nooit in jou oë gekyk en my tuiste daar gesien het nie. Ek sou nie die groen en klamte aan jou lyf geruik het nie, die mistigheid sou ons nie in-kokon het nie. Die water in die stroom sou ophou huppel en die voëls sou gedemp in die bome nesmaak. Die skuif van wolke in die helder lig sou stadiger wees, die wit bolle watte vuiler teen die blou. Die asem van die wind sou nie so sag oor my gaan nie. Die skemer sou nie so fluisterend na my roep nie.

Wat as ek jou nooit gesoen het nie? Ek sou nie weet van die geur van jou mond en die hitte van jou hande teen my lyf nie. Wat as ek jou nooit weer omhels nie? Sal my lyf jou afdruk teen my dowwer onthou? Wat as jou hand nie weer warm om myne vou nie? Sal ek alleen en los verdwaal op vreemde paaie?

Was as ek nooit jou lag weer hoor nie? My vreugde sou vlak wees soos poele in die reën, en as ek nooit weer saam met jou huil nie sal riviere droog in lope lê en soos dors aarde smekend roep.

Wat as ek jou stem verloor, die murmel van jou woorde sagter klink en weg gaan lê in holtes van vergeet? Dan sou musiek sy melodie verloor en valse wysies toor.

Wat as jy hier gebly het?

Dan sou ons saam ʼn dag gemaak het soos geen ander dag nie. Ons sou die hemel betree en die aarde skud. Ons sou die engele laat sing en die wolke teen die lug laat jaag. Ons sou saam van die bergtop tree en die vlug van die arend namaak. Ons sou sweef op die wind en die storms gaan haal. Ons sou lag oor vandag en gister onthou.

As jy net gebly het.

Die Lucerna Faktor

DIE LUCERNA FAKTOR

Die laaste paragraaf is geskryf en die laaste punt getik. Die warboel van emosies spoel heerlik oor my. Verskoon my as ek van pure lekkerte behaaglik agteroor sit en breed glimlag. Ek’s so opgewonde oor hierdie nuwe boekie in die Faktor reeks. Dis ook ‘n fantasie roman en is die tweede in die reeks.

Die groot werk van redigeer en proeflees lê nou voor. Eers wanneer Lucerna blink soos die maan, sal sy haar volledige verskyning maak. Tot dan moet ons geduldig wees.

Hier is so ‘n kykie na waaroor die storie gaan:

Falco Scuro keer na ‘n besoek aan die Ryk van Sapientia terug na Lucerna, sy Ryk van Lig. Hy vind dit in duisternis na die bose Timor van Falsum vir Lucerna aangeval en die Ligblom uit die Sfeer van Lig gesteel het. Lucerna is die Lamp van die Heelal wat nou byna onsigbaar, bewolk en vol skaduwees daar uitsien. Falco moet ten alle koste die Ligblom terug kry in Lucerna. Hy verklaar oorlog teen Timor, maar hy vind uit dat daar ander faktore is wat sy soektog na die Ligblom bemoeilik.

Die lig het nie net uit Lucerna verdwyn nie, maar ook uit hom uit. Hoe het hy hier gekom? By hierdie punt waar hy so verdwaal het in sy eie donkerte?

Sal Falco daarin slaag om van sy eie troebelheid ontslae te raak? En sal hy die skone Clara Lux, wat die sleutel tot die raaisel hou, kan oortuig om hom te vergesel na Lucerna?

Om skoon gewas te word

imagesCA41AKNQ

Daar is al baie geskryf en gesê oor trane. Is dit net mense wat huil? Diere tjank as hulle in pyn verkeer, maar net die mens stort trane. Ape het traankliere, maar die funksie daarvan is om hul oë te was en gesond te hou. In die mens se geval het een van ons menslike spesie baie lank gelede ’n neuro-verbinding gemaak tussen die traankliere en die gedeeltes van die brein waar gevoel gesetel is – emosie en die vyf sintuie van smaak, reuk, voel, sien en hoor.

Navorsing aan die Universiteit van Minnesota het in 1980 gewys dat vroue ongeveer vyf keer per maand huil, terwyl mans ongeveer een keer elke vier weke huil. Babas huil net na geboorte om hul koms aan te kondig.

Dit is alles goed en wel, maar hoekom huil ons trane? Omdat ons mense is. Omdat ons voel en ervaar en leef.

Ons huil lang trane omdat ons ʼn fout gemaak het, of seer trane omdat ons na ons kinders daar ver verlang. Ons huil trane van verlies as iemand sterf of weggaan. Ons huil bang trane as ons angstig en vreesbevange is.

Ons huil kwaai trane omdat ons woedend is – ja, ons vroue is bekend daarvoor, tot ons verleentheid en verdere woede teenoor onsself omdat ons so ontydig die trane kan laat spat voor ons baas en kollegas.

Ons huil seerkry trane oor verlore liefde, oor verhoudings met familie of vriende wat skeefloop.

Ons huil trane van teleurstelling omdat ons span verloor het, of omdat dit waarvan ons gedroom het, soos mis oor die horison verdwyn.

Ons huil trane van vreugde omdat ons bly is oor ʼn nuwe aankomeling, oor die liefde wat so blom, oor ons nuwe kar of huis, of omdat ons gesond is na ʼn lang siekbed. Ons huil trane van geluk omdat iets waarvoor ons al so lank wag, uiteindelik werklikheid geword het.

 Ons huil omdat ons oorweldig word deur skoonheid. Dit laat die mure verkrummel en die trane loop. Ons smelt en reik na iewers diep binne waar die weerloosheid wegkruip. Daar waar ons dit waag om teer te wees, om onbeskaamd toe te gee aan die skoonheid van musiek, of die grootsheid van die natuur, of ʼn woud en water waar dit groen is.

Meraai het gesê dat elke vrou ʼn blou flessie in die hemel het, en voor die flessie nie vol gehuil is nie, sal die trane nie ophou nie.