Archive | July 2016

Hoog in die takke

Tuiste vir my Hart 2

Om ‘n volledige boek  te skryf en te voltooi is soos om hoog in die takke te raak. Ek moet erken dat ek bietjie so voel. Hoog in die takke. Maar ek het niks gedrink nie. Ek het net die tweede boek in die Fynbos-reeks voltooi. Twee weke en heerlike ure se skryf het my van 14 Julie af – die dag toe ek vir Kwiksilwer (Boek 1 Fynbos-reeks) op Amazon.com gepubliseer het – tot nou, 31 Julie 2016 om 6:30 by die einde gebring van Tuiste vir my Hart, die tweede boek in die reeks.
 
Ek mag seker maar ‘n glasie klink op hierdie Sondagaand, op hierdie storie wat nou wag vir die mes van die redakteur. Daar’s nog baie werk voor, maar nou gaan ek eers rus en die manuskrip ook sodat ek met vars oë en skerp skêr kan inklim om hom te slyp en te poleer tot hy blink.
 
 

Dit is goed vir die hart

Pearls canstockphoto6111406

Die inhoud van die skatkis van my hart groei daagliks. Ek werk elke dag om net die mooiste en die skoonste daarin te bêre. Die beste van alles is dat niks wat daarin is, ooit kan vergaan, verweer of verval nie, want dis tydloos. Niemand kan dit wegneem of wegsteek waar ek dit nie kan vind nie, want alles wat ooit van geweet is, geskryf en gelees is, is steeds daar. Ek dink graag daaraan as een oneindige poel sonder grense wat beskikbaar is vir my om weer en weer met my klein kruik te skep tot dit vol is.

Ek is so dankbaar vir die baie seëninge wat elke dag op my pad kom. Vir elke glimlag, vir elke sagte woord, vir elke klein toenadering of blyk van vriendskap.

Dat ek kan lees en skryf bly vir my een van die wondere van mens wees. Die woorde van skrywers deur die eeue is steeds ‘n bron van vreugde en inspirasie, en my skatkis word vol van hul nalatenskap.

Ek begeer om ook iets na te laat. Iets wat blywend is en wat dalk iemand anders se hart kan vul met vreugde, genot en ‘n gevoel van verkwik en verfris te wees, hand aan hand met opwinding en afwagting, met verwondering oor mense, die liefde, hartstog en die taal van die lyf en die hart.

Ek kyk met groot genot na elkeen van die vyftien boeke wat ek geskryf het. Ek druk elkeen van hulle aan my hart, want wat daarin staan, is nie net ‘n mooi storie nie. Dis ‘n verhaal van  groei en ontwikkeling, van deurdruk en deursettingsvermoë. Nie net van die karakters in my stories nie, maar dis ook getuie van my eie groeiproses as skrywer en die wilskrag om te doen wat ek gedring word om te doen. Elkeen van ons het unieke talente en ek leef myne uit deur te skryf en te deel met lesers wat dalk op soek is na iets vir die hart.

My heel nuutste boek, Kwiksilwer, is die eerste een in die Fynbos-reeks en die mooie Theana Britz se storie is klaar vertel, maar sy leef steeds voort in die res van die reeks, want sy is deel van ‘n familie. Ek het begin skryf aan die storie op 14 Mei 2016 en het die boek op Amazon.com gepubliseer op 14 Julie 2016. Ek kon daarin slaag om by my daaglikse doelwit te hou en het dit voltooi binne twee maande omdat die storie so dringend bly aanklop het.

Die tweede boek in die Fynbos-reeks is Tuiste vir my Hart en ek vorder flink met die skryf daarvan. Daar is alreeds 78 bladsye en 25 000 woorde geskryf. Die storie ontwikkel self en dring daarop aan om tot uiting te kom. Dis soos ‘n saadjie wat ontkiem – ek kan dit nie keer nie. Dit wil uit en dit wil lewe. Ek staan elke oggend op met nuwe inspirasie en ek is diep dankbaar.

Ek het my eerste boek in Augustus 2013 voltooi en het daarna die ander veertien geskryf en self uitgegee. Gaan loer gerus by https://rachelledubois.com/nuwe-boeke/ vir meer inligting. Die boeke wissel van liefdesromans- en novelles tot fantasieverhale/romanse.

Is dit vir my lekker? Is ek vervuld en tevrede? Ja, ek is en sou niks wou verander nie. Ek kom niks kort nie, ek wil niks meer hê nie. Ek begeer net een ding en dit is dat lesers my boeke sal lees en geniet.

Want ek het dit net vir jou geskryf.

 

 

Kwiksilwer maak haar buiging

KWIKSILWER (1)

Die storie vir Kwiksilwer, die eerste boek in die Fynbos-reeks, het na my toe gekom in ʼn droom. Die onderwerp vir ʼn storie kom gewoonlik self by my aan voor ek nog die vorige boek voltooi het en hier was dit nie anders nie. Ek wou hier ʼn verhaal skryf oor ʼn moderne jong vrou wat reeds stewig in haar beroep gevestig is. Die eise wat die beroepswêreld aan enige werkende vrou stel is die kern van die storie. Die rol van sosiale druk, die verwagtinge van familie en vriende, en die eise wat vroue aan hulself stel word hier uitgelig. Die fyn voetwerk om ook plek te vind vir die liefde, romanse en ’n gesin is ʼn wesenlike vraag waarop elke vrou haar eie antwoord moet vind.

Theana Britz is ’n ambisieuse en suksesvolle joernalis by die gewilde tydskrif, Glans. Sy is op soek na daardie één storie wat haar tot op die hoogste sport by die tydskrif sal neem.  ʼn Onderhoud met Benjamin A Brandt, wêreldbekende rillerskrywer, kan dit vir haar doen. Daar is egter een probleem: daar is niks omtrent die geheimsinnige man bekend nie. Haar soektog neem haar op ʼn onverwagte reis na ʼn ongewone bestemming. Sy kom te staan voor die keuse tussen haar beroep en haar liefde vir ‘n man wat die sleutel hou tot alles wat sy begeer, maar wat nog altyd buite haar bereik was.

Ben Brandt laat hom nie maklik opspoor nie, want sy privaatheid deel hy met niemand nie; veral nie met joernaliste nie. Hy maak seker dat daar nêrens inligting is oor waar hy hom bevind nie en dat daar geen ander persoonlike inligting oor hom te kry is nie.

Sake raak egter baie ingewikkeld wanneer die skugter man en die verfynde Theana op die lughawe in mekaar vasloop. En eerste indrukke is blywend, of hoe?

Die boek is nou beskikbaar by:

https://www.amazon.com/dp/B01IF63EHQ

Kwiksilwer – die begin en die einde

KWIKSILWER (1)

Ek het die laaste punt aan die einde van die laaste sin in die laaste paragraaf van Kwiksilwer met groot genoegdoening getik. Hoe heerlik om ʼn storie op jou rekenaarskerm te sien vorm aanneem. Hier sien ek met my eie oë hoe iets uit niets te voorskyn kom vanuit my verbeelding tot op my rekenaarskerm. ʼn Storie materialiseer en word ʼn boek – gedruk of andersins. Letterlik uit die niet. Wonderlik, is dit nie?

Kwiksilwer is klaar geskryf en ek het reeds begin met die redigering en die proeflees van die manuskrip.

Die storie vir Kwiksilwer, die eerste boek in die Fynbos-reeks, het na my toe gekom in ʼn droom. Die onderwerp vir ʼn storie kom gewoonlik self by my aan voor ek nog die vorige boek voltooi het en hier was dit nie anders nie. Ek wou hier ʼn verhaal skryf oor ʼn moderne jong vrou wat reeds stewig in haar beroep gevestig is. Die eise wat die beroepswêreld aan enige werkende vrou stel is die kern van die storie. Die rol van sosiale druk, die verwagtinge van familie en vriende, en die eise wat vroue aan hulself stel word hier uitgelig. Die fyn voetwerk om ook plek te vind vir die liefde, romanse en die gesin is ʼn wesenlike vraag waarop elke vrou haar eie antwoord moet vind.

Dis die verhaal van Theana Britz. Ek glo jy sal die storie geniet en dat dit vir jou iewers ʼn deur sal oopmaak na ʼn skrefie lig.

Geniet die reis. Ek het dit net vir jou geskryf.