Archive | September 2016

Medisyne vir die verdwaaldes

Roeiboot in stil water 10610627_1522495954656377_8649637274352178189_n

Soms loop ons radeloos en stoei met ʼn verlepte gees. Ons is meteens swerwers in ’n vreemde land, sonder aanwysers op onbekende paaie. Ons soek na ons spesiale rusplek om ʼn wyle daar te vertoef tot ons weer verkwik na siel en liggaam, en met nuwe lewenslus die pad vorentoe kan aandurf.

Daar’s boeke by hierdie rusplek. Dis die hart se biblioteek waar ons ons geliefdes vind. Waar ons telkens omhels word deur die bekende en ook die onbekende. Waar ons nader gewink word deur allerhande beloftes van nuwe wêrelde en ervarings. Dis daar waar die arms van ons gunstelingskrywers- en boeke ons verwelkom.

As ons slim is, skuif ons die stoel reg, en verruil dan hierdie uur, of twee, of drie, of sommer die hele dag, vir ʼn reis saam na die lewens, die liefde en die avonture van ander.

In die bladsye van ʼn boek beleef ons dalk weer dít waarvan ons al vergeet het. Word ons dalk weer opnuut bewus gemaak van die wysheid en die waarheid, die skoonheid en die wonder van die lewe waarin ons ons bevind.

O, daar’s soveel vreugde in die bladsye van ʼn boek! Dit is medisyne vir die verdwaaldes.

 

 

Om in te val of nie

imagesuuza4tr0

Ek verwonder my telkens aan die diversiteit van die mens – onder andere die groepdiere en die alleenlopers.

Die groepdiere soek die sosiale lewe aktief op en floreer daarin. Sonder ander mense voel hulle verlore. Hulle jaag konstante aktiwiteit en opwinding na, want sonder dit is die lewe vaal en vervelig, en verval hulle sommer maklik in diep donkerte. Hulle het ander mense nodig om hul energie te voed en aan die gang te hou. Nie almal soek dit op dieselfde wyse op nie. Daar is dié wat helder ligte, roem en aanvaarding najaag. Daar is dié wat desperaat verlang na toelating tot ʼn sekere groep. Daar is dié wat na die erkenning smag van die voorstes in ʼn spesifieke gemeenskap. Daar is dié wat uit bewondering vir ʼn leier blindelings volg sonder om te bevraagteken.

Die gevaar hier is dat jy nooit jou eie krag leer ken nie, nooit sal weet waartoe jy regtig in staat is nie. Jy kan jou eie waarde eers raaksien wanneer jy alleen is. Wanneer jy onder die naghemel staan en self skitter soos ʼn ster. Wanneer jy geen behoefte meer het aan die gedrang en gewoel van die daaglikse lewe nie, en wanneer jy die rustigheid opsoek en vervulling vind in die stilte. Daar waar jou gees ongebonde en vry opstyg, en jy inspirasie vind in die klein dingetjies. Jy het nie meer die groot gedoe om jou, of oor jou, nodig nie. Jy is wie jy is en het niemand nodig om dit vir jou te sê nie. Jy vind meteens meer waarde in die natuur en in die onsienlike. Jy word ʼn wyse leermeester, ʼn mentor, vertrooster en helper.

Daar is plek vir elkeen iewers, soms net nie waar ons dit soek nie.