Archive | November 2016

Tyd vir ‘n blaaskans

Pearls canstockphoto6111406

Boek vier, Pad na my Hart, is uit my hande en op pad na die winkel toe. Nou moet dit plek maak vir iets anders, maar die lekker van die skryf daarvan sit nog soos heuning op my tong. Ek draai dit om en om, en bekyk dit van alle kante, terwyl ek tevrede my kop knik en stilletjies glimlag.

In my hart en gedagtes is daar reeds roeringe vir Somme vir my Hart, die vyfde boek in die Fynbos-reeks. Die nuwe idees vir die boek begin onstuitbaar soos blink borrels boontoe styg. Dit kan seker ook nie anders met die mooi voorblad wat reeds gereed is en wat my deur die volgende maand of wat gaan inspireer nie.

My verstand sê rus nou eers. Na ses nuwe boeke in 2016 is ek geregtig op ‘n blaaskans, maar watter skrywer kan nou ‘n nuwe storie weerstaan? Veral as hy so verleidelik by jou kom aanlê en allerhande moontlikhede jou naderlok tot jy na jou rekenaar gryp en begin aantekeninge maak. En as jy jou weer kom kry, skryf jy een bladsy na die ander en vergeet jy dat die dae by jou verby glip tot Kersfees skielik ‘n dag weg van jou kom staan.

Ek verlei myself met die vooruitsig van lees en weer lees van boeke wat nooit uit die mode gaan nie. Die English Classics van Jane Austen, Charles Dickens, die Brontë susters en nog vele ander; Tolstoy se War and Peace, en Anna Karenina wat my hart uitmekaar geskeur het. “Ek het gekom om te wees waar jy is . . .”

Miskien sal ek weer ‘n slag my opera DVDs uitpak en huil saam met Angela Gheorghiu as Violetta, of Renee Fleming as Taïs, of Anna Netrebko as Tatiana in Eugen Onegin, of Raina Kabaivanska en ‘n jong Domingo in Tosca. Ja, ja, ek sal die gordyne toetrek en die wêreld uitsluit en die opera besoek. Nou wel nie in La Scala of die Metropolitan nie, maar tuis is net so goed, want die herhaal knoppie is so gemaklik naby . . .

Tussen boeke en musiek kan ek ure, dae en weke laat verdwyn.

Ek hoop jy gaan dieselfde doen en dit wat jou so na aan die hart lê, maar waarvoor jy nie tyd kry nie, bymekaar kry en tyd maak vir jouself.

Moenie jou digbundels vergeet nie, hoor.

Rachelle

Advertisements

Pad na my Hart: Boek 4 Fynbos-reeks nou beskikbaar

pad-na-my-hart-1

Madelein Steyn keer na jare se afwesigheid na haar geboorteplek terug. Sy  begin werk as meestersjef by die splinternuwe Fynbos Boetiekhotel. Dinge is egter nie soos sy haar dit voorgestel het nie, want tot haar skok is Pieter Brandt ook terug in George. Hy is die allerlaaste persoon wat sy wou raakloop, want hy hou ’n bedreiging in vir haar en haar toekoms. Sy kan nie weer toelaat dat hy alles vir haar in die wiele ry nie. Dit waarna sy saans huis toe gaan is waarvoor sy lewe en sy sal veg daarvoor met alles tot haar beskikking.

Pieter is vasbeslote dat Madelein hom nie weer gaan ontglip nie. Hierdie keer gaan sy bly, want hulle het sake wat nog lank nie afgehandel is nie. Sy planne is klaar gemaak en sy strik gestel. Niks kon hom egter voorberei vir wat sou kom nie.

Sal hy breek of sal hy buig soos ʼn jong loot in ʼn orkaan? En Madelein? Sal sy staande bly in die wind?

Die boek is nou beskikbaar by:

https://www.amazon.com/dp/B01N7C04KR

 

Ek sal vandag ‘n fluit wees

flute-canstockphoto12266797

Ek kom vanoggend op hierdie wysheid van Gibran af:

When you work you are a flute through whose heart the whispering of the hours turns to music . . . And what is it to work with love? It is to weave the cloth with threads drawn from your heart, even as if your beloved were to wear that cloth.

 Kahlil Gibran

The Prophet

Ek sal dus vandag ‘n fluit wees met die fluistering van die ure soos musiek in my hart. Ek sal met liefde werk en die kleed weef met fyn drade, want dalk, net dalk sal my geliefde dit dra.

 

Omnibus: Faktor Fantasie-reeks

die-faktor-fantasie-reeks

Ek het besluit om ook die twee fantasieverhale in ‘n omnibus saam te vat. Lees bietjie wat sê ‘n leser hieronder oor hierdie twee heerlike prettige boekies. Dis net die regte leesstof om ‘n middag mee te verwyl.

DIE VITA FAKTOR
Lesersopinie:
Ek het onlangs Rachelle du Bois se heerlike debuut-fantasieverhaal, Die Vita Faktor, gelees en baie geniet. Die skryfster se verbeelding ken geen perke nie en sy gaan so gemaklik met die genre om dat mens sou dink sy is ʼn ou hand as dit by die skryf van fantasie kom. Dis ʼn voorreg om ʼn fantasieverhaal in Afrikaans te kan lees en ek hoop die skryfster kry die ondersteuning én erkenning wat sy verdien. Ek glo sy gaan ʼn hele klomp aanhangers werf. Ek is ook verheug om te verneem dat Die Vita Faktor die eerste boek in ʼn reeks is. Ek gaan beslis op die uitkyk wees vir die daaropvolgende boeke ook.
Louise Viljoen

Marcus de Virtus voer ʼn rustige bestaan as ʼn suksesvolle kunstenaar op die dorpie Duiwelspiek in die ooste van Mpumalanga. Op ‘n dag ry ʼn taxi hom raak in die straat voor sy ateljee. Wanneer hy sy bewussyn in die hospitaal herwin, ontdek hy tot sy skok en ontsteltenis dat hy oor die vermoë beskik om onsigbaar te raak. Nog vreemde dinge gebeur met hom.
Daar is ʼn misterieuse vrou by sy bed met opvallende oë wat net soos syne lyk. Amandelvormige viooltjieblou oë. Presies nes syne. Wie is hierdie vrou met haar goue hare en geheimsinnige optrede? Sy oorreed hom om saam met haar te gaan. Sy neem hom op ʼn reis wat sy lewe handomkeer verander.
Die Vita Faktor neem oor en Marcus bevind homself meteens in twee wêrelde. Hy is nie meer seker wie of wat hy is nie. Sy alleen kan die raaisel van die Vita Faktor ontsluit, en hy moet haar noodgedwonge volg om ’n verklaring te vind vir die skokkende en ontstellende gebeure wat sy lewe oorgeneem het.
Is hy van sy sinne beroof of is daar waarlik iets meer, iets buite hierdie oomblik, asemteug, plek en tyd?

DIE LUCERNA FAKTOR
Lesersopinie:
Rachelle du Bois doen dit weer! Hierdie talentvolle skrywer se 13de eBoek, Die Lucerna Faktor, die tweede boek in die opwindende Faktor-fantasiereeks, is tans te koop.
Du Bois se verbeelding ken geen perke nie. Haar verhale is skoon, propvol avontuur, malse humor, liefde en heerlike fantasie. Ondersteun gerus hierdie onafhanklike skrywer. Afrikaans kan doen met skrywers soos sy.
Louise Viljoen

Falco Scuro, die Donker Valk, keer ná ʼn besoek aan die Ryk van Sapientia terug na Lucerna. Die Ryk van Lig is egter in duisternis gehul nadat die bose Timor van Falsum Lucerna aangeval en die Ligblom uit die Sfeer van Lig gesteel het. Lucerna, die Lamp van die Heelal, is nou byna onsigbaar, bewolk en vol skaduwees.
Falco Scuro verklaar terstond oorlog teen die bose Timor. Hy en sy Ligvalke moet ten alle koste die Ligblom terugkry in Lucerna. Indien die Lig nie skyn nie, kan Lucerna nie Lig aan die ander ryke voorsien nie. Die ryke sal in totale chaos en algehele donkerte verval en die inwoners sal uiteindelik sterf.

Die Lig het nie net uit Lucerna verdwyn nie, maar ook uit Falco Scuro uit. Hoe het hy hier gekom? By hierdie punt waar hy so verdwaal het in sy eie donkerte?

Sal die Donker Valk daarin slaag om van die troebelheid binne-in homself ontslae te raak? Sal hy die skone Clara Lux, die Draer van Lig, wat die sleutel tot die raaisel hou, kan oortuig om vir altyd by hom op Lucerna te kom woon?

Die versameling is nou beskikbaar by:

https://www.amazon.com/dp/B01N0A2D8D

Die klein vreugdetjies

Photo0087

Mens hoef nie na groot goed te hunker om vreugde en blydskap te beleef nie.

My besoeke aan my webtuiste hou vir my veel vreugde in. Ek kyk elke dag waar besoekers aan my blad vandaan kom en waarna daar gesoek word. Om te sien hoe lesers en belangstellendes vanuit Kanada, Amerika, Die Europese Unie, Duitsland, Namibië en ons eie mooi Suid-Afrika hier ‘n draai kom maak, laat my dadelik met ‘n huppel in my stap en ‘n glimlag op my bakkies.

Net so lekker is dit vir my om my boekverkope te sien toeneem op die grafiek wat Amazon.com so gaaf byhou. Daar sien ek hoeveel lesers uit baie ver plekke in die wêreld ‘n boek kom soek en dis nie lank nie, of dit wys op die grafiek.

Ek glo jy is nie teleurgesteld nie, en ek hoop jy sal weer en weer hierheen terugkom. Dis lekker om jou hier te ontvang.

Ek gee vir elkeen van julle wat hierheen kom vir geselskap, of wat kom soek na ‘n boek of inligting, hierdie roos uit my tuin.

Mag hierdie dag (of as dit nou nag is by jou) vir jou veel seën en baie vreugde inhou.

Rachelle

 

Omnibus 3

omniibus-3

Ek het nog drie liefdesromans in hierdie versameling bymekaar gesit. Omnibus 3 bevat van my latere boeke en vir jou gemak het die inhoudsopgawe skakels na elke boek toe sodat jy vinnig kan spring van die een na die ander.

Nou kan jy al drie hierdie mooi boeke gelyk in jou hand hou.

Die versameling is beskikbaar by

https://www.amazon.com/dp/B01M7YCT2Z