Archive | December 2016

Die een of die ander

Vir baie van ons was 2016 ‘n uitsonderlike jaar en gaan ons 2017 binne met gemengde gevoelens. Ek glo dat ons teen dié tyd soos hierdie deurmekaar voël voel en tog net wag dat die nuwe jaar moet aanbreek sodat al die malligheid van hierdie maand agter die rug kan kom. Ek is na liggaam en siel uitgeput deur die malende menigtes in die winkels waar ek dit in waag om tog net die nodigste te koop om ons aan die gang te hou voor ons dood van die honger en die dors. Want hier koop ons bottels water en word ons deur dors in die maalstroom ingedwing.

deurmekaar-voel-10410162_740164296077826_6968485937201793029_n

Maar dan kom die genadige stilte van my huis waar ek verkies om kop omhoog, moedig en dankbaar in die strate van onthou te stap. Ek loop saam met die mooi wat in 2016 op my pad gekom het, en ook saam met die kruipende en ongemaklike wete dat niks ooit dieselfde bly nie. Baie het vir my en my geliefdes verander in 2016 en ek wil nie te veel dink aan 2017 nie. Dit sal wees soos dit moet wees. Solank ek net aan dit wat goed en mooi was en is, kan vashou.

walking-tall-1653468_1593117787574755_6315055851831620153_n

Ek wil jou nooi om saam te stap.

“Walk tall!” my liewe vriende. Kom ons pak die nuwe jaar dapper aan en ons draai hom op sy kop. En dan gaan staan ons op die hoop wat ons gemaak het en kraai dit uit. Hard en duidelik: “Ek het dit gedoen! Dis myne!”

Mag 2017 ‘n jaar vol wonders vir jou wees, vol vertroosting en berusting vir die wat verloor het, vol moed en dankbaarheid vir die wat nuwe uitdagings aanpak. Ek weet een ding: ons hou ‘n sak vol keuses in ons hande en as ons dít kies wat skoon en mooi en vol van goedheid is, sal dit na ons toe terugkeer.

Soos ‘n boemerang sal dit ons weer vind.

Rachelle

 

 

 

‘n Werk in wording

rare-precious-opal-fosilised-wood-from-humbolt-county-nevada

Dit is altyd goed om hierdie tyd van die jaar terug te kyk na waarmee ek besig was, wat ek vermag het, en dan te reflekteer oor wat ek geword het. Want ook ek is  ʼn werk in wording, omdat dit wat ek geskep het, my ook oorgemaak het. Ek is nie meer dieselfde as wat ek was voor ek met my skepsels kennis gemaak het nie. Ek is nou anders, ryker, voller en wyser en steeds word ek meer.

Daar is by my geen haas of angstigheid om vorentoe te storm nie. Daar is net maar die tevredenheid en die rustigheid van weet dat alles is soos dit moet wees, dat ek dit so gedoen het, en dat die verantwoordelikheid daarvan myne is.

As ek my skepsels op ʼn ry staanmaak en elkeen bekyk, dan is ek tevrede dat ek iets gedoen het wat waardevol is – vir my en klaarblyklik ook vir ander. Oor die sukses van my pogings is ek is diep dankbaar.

Ek is nie ʼn groot literêre wonder nie, my werk is nie dié soort wat ander na hul asems sal laat snak en vir my ʼn prys sal besorg nie. Dit is ook nie die doel daarvan nie. Die doel is slegs om vreugde te verskaf aan elkeen wat dit lees.

Op die 2016 rakkie pryk daar ses nuwe gesigte. My doelwit vir 2017? Ek sal eers weet as ek daar kom, maar ek het reeds begin werk aan die vyfde boek in die Fynbos-reeks.

Ek hoop om my skryfwerk voort te sit in die nuwe jaar, maar ek gaan dit nie vooruitloop nie.

Want dit is ʼn werk in wording, net soos ek.

Mag hierdie feesseisoen vir jou baie vreugde en seën inhou. En mag jou besluit en die uitkoms van jou eie wording in 2017 die een wees wat jy die meeste begeer.

Rachelle

 

Die fantasie van 2016

Hierdie jaar het vir my op ‘n hoë noot begin met die skryf en uitgee van twee fantasieverhale in Afrikaans. Ek het my hand gewaag aan iets wat vir my splinternuut was en my eerste tree gegee met DIE VITA FAKTOR. Ek het dit so geniet dat ek toe sommer voortgaan en DIE LUCERNA FAKTOR ook skryf.

Die fantasiegenre is nog relatief nuut in Afrikaans en die moontlikhede is groot. Dis ook vir mý nuut en daar het vir my ‘n nuwe wêreld van moontlikhede oopgegaan.

Hoekom fantasie?

Ek het ʼn goeie verbeelding – soos enige skrywer. Ek lees en kyk wyd en is oop vir nuwe idees en konsepte. Daar is natuurlik onbeperkte beweegruimte in die fantasiegenre om my verbeelding vrye teuels te gee. Enigiets kan werk, enigiets is moontlik, al die inligting en kennis is daar buite. Ek moes dit net vat en saamsnoer in ʼn lekker storie gevul met interessante karakters, gebeurlikhede en ook ʼn goeie skoot humor.

Ek het die twee boeke in die Faktor-reeks geskryf omdat ek gereed was vir iets nuuts na 12 liefdesromans uit my pen. Ek het besluit dis tyd om my skryf- en storievaardigheid uit te brei en die fantasiewêreld was ʼn aantreklike alternatief.

Waar kom ek aan my karakters?

Die tegnologie neem mens op verbeeldingsvlugte waar die mees onwaarskynlike karakters tot lewe geroep kan word. Bring hulle aarde toe, klee hulle met beide menslike en bo-aardse eienskappe en laat hulle in ʼn denkbeeldige plek weg van die aarde af woon. En daar begin jou karakter ontwikkel in iemand wat jy later soos die palm van jou hand ken.

Waar kom ek aan die titels van die boeke?

Die titel het eers werklik in my gedagtes gevestig na ek Die Vita Faktor klaar geskryf het. My vraag aan myself was: waaroor gaan die boek werklik? Dit gaan oor die lewe en die dood. Oor die Ryk van Sapientia, wat vir die lewe staan -Vita beteken Lewe – teenoor Timor en Tenebris – die plek van die dood.

Die Lucerna Faktor gaan oor lig en donker. Die Ryk van Lig (Lucerna beteken lamp) wat teenoor Timor en sy Ryk van Falsum en die duisternis staan. In Die Lucerna Faktor het ek voortgebou op die grondslag wat ek in die eerste boek gelê het met die bestaande karakters en het daarby twee nuwe karakters geskep, Falco Scuro en die Ligblom, Clara Lux. Die omgewing bly dieselfde en natuurlik is die duistere en uiters vermaaklike Timor ook deurlopend teenwoordig

Hoe ontwikkel ek intrige en karakters? 

Ek begin deur die sinopsis te skryf en dan die spieëloomblik waar die hoofkarakter teen homself te staan kom reg in die middel van die boek. Van daar af weet ek waaroor die boek handel en wie die karakters is. Ek gebruik ʼn raamwerk met mylpale waartussen die intrige ontvou en die karakters ontwikkel.

Ek het geweet Marcus de Virtus (Die Vita Faktor) is meer as waarvan hy bewus is en het die storie dus uit hierdie kernvraag ontwikkel: “Is hy van sy sinne beroof of is daar waarlik iets meer, iets buite hierdie oomblik, asemteug, plek en tyd?”

In Die Lucerna Faktor kom Falco Scuro voor sy eie donkerheid te staan met die kernvraag: Hoe het hy hier gekom? By hierdie punt waar hy so verdwaal het in sy eie donkerte? Van daar af ontwikkel die storie weerskante toe.

Hoe belangrik is die skurke in my verhaal?

Sonder die skurk is daar nie ʼn storie nie. In Die Faktor-reeks speel Timor ʼn sleutelrol met sy onheiligheid. Hy span ook saam om die humor te laat werk.

Meer oor die hoofkarakters

In DIE VITA FAKTOR is die hoofkarakter Marcus de Winter, ʼn koppige man wat weet wat hy wil hê en hy weet hy wil niks te doen hê met die vreemde dinge wat skielik met hom gebeur nie. Hy laat hom nie gebruik nie en hy laat hom nie voorsê nie. Hy bied hewig weerstand teen die gedagte dat hy van elders afkomstig is, tot die bewyse van ʼn ander bestaan op ʼn ander plek nie meer ontken kan word nie. Toe hy eers besef dat hy vir groter dinge bestem is, werp hy hom hart en siel in sy taak. Hy is immers die Opperbeskermer van die Ryk van Sapientia. (https://www.amazon.com/dp/B01FWLXH3S )

DIE LUCERNA FAKTOR se Falco Scuro is ‘n baie sterk, manlike karakter wat sy verantwoordelikheid om lig aan die ander ryke te verskaf, baie ernstig opneem. Toe die onhebbelike Timor die lig uit Lucerna steel, sak die duisternis oor Falco se ryk en die ander ryke toe. Falco se karakter is sterk en gevaarlik, onwrikbaar en passievol. Toe Timor dit waag om die Ligblom van Lucerna,  Clara Lux, te ontvoer, ontstaan daar chaos met ‘n woedende Falco op Timor se spoor. Maar wat gebeur toe Clara vir Timor ontglip en verdwyn? (https://www.amazon.com/dp/B01FUNBS5C )

Elke boek bring sy eie vreugde.  Ek is baie dankbaar en so opgewonde oor hierdie sprong na ʼn heeltemal nuwe wêreld. Ek hoop jy gaan die twee boekies lees en dit saam met my geniet.

Die boeke kan gekry word by https://www.amazon.com/dp/B01N0A2D8D

Rachelle du Bois