Archive | February 2017

Romanse is vir my

tb_waterfall_wallpaper_avantzone-1024x768

Ek wil nie eers dink aan ‘n lewe sonder skoonheid nie. Vir my is skoonheid ‘n allesomvattende begrip wat elke faset van die lewe insluit. Natuurlik is daar díe skoonheid van die uiterlike, maar ware skoonheid is ver meer as net die fisieke. Skoonheid sluit goedheid, integriteit, eerbaarheid, egtheid, opregtheid in. Dit is ook die mens se onblusbare gees, die menslike vermoë om te kies, en uit te styg bo pyn en teleurstelling. Dit omsluit ook die wonder van musiek, die natuur, die ganse skepping waarvan ek deel is.
Dit sluit natuurlik romanse in, of moet ek liewer vra of romanse nie al hierdie dinge insluit nie? Want wat is die lewe sonder romanse? Romanse is die hele spektrum van die lewe, nie net die liefde nie. Romanse is om te lag en te huil, om lief te hê en te verloor, om te bemin en bemin te word. Dit is siekte en dood en oorwinning. Die liefde alleen maak jou sterk genoeg om weer al die vreugde en pret en avontuur van die lewe met oorgawe te ervaar en te aanvaar.
Dit is romanse. Dit is waaroor ek skryf.
Advertisements

Jy soek en soek

Snail 10470891_841198432622509_2594558303180483519_n

Ek merk op dat sommige mense ‘n hopelose soektog na die boeke op hierdie webtuiste het. Jy sal al die skakels op die Kortpad na romanse blad hier bo kry. Klik op die Kortpad knoppie. Of nog makliker: gaan kyk regs op die tuisblad. Al die boeke se name is daar en as jy daarop klik, kry jy die boek met die kort beskrywing daarvan, sowel as die skakel na waar dit te kry is.

Ek hoop regtig dit help, want ek wil jou tog nie as leser verloor nie. Ek hoop jy hou van wat jy sover gesien het.

Onthou, ek het die boeke net vir jou geskryf.

Rachelle

Formule vir my Hart: Fynbos-reeks Boek 5

 

formule-vir-my-hart-1

Ek het gewoonlik gemengde gevoelens as ek die einde van die skryf van ‘n boek nader en hier was dit dan nou ook nie anders nie. FORMULE VIR MY HART is die vyfde boek in die Fynbos-reeks en dit is die storie van Talia Brandt en Charl Buys, twee mense wat mekaar al baie jare ken en tog ook nie ken nie.

Die storie is die logiese uitvloei uit die voorafgaande reekse en steeds is daar verdere geleentheid vir nog stories in die reeks. Ek gaan nou niks verder verklap nie, maar lees solank die kort beskrywing hier onder om jou lus te maak:

Talia Brandt is ‘n sakevrou en eienaar van ‘n baie suksesvolle besigheid. Sy is onafhanklik, lewendig en bekkig. Sy het alles wat sy wil hê, behalwe een hartsbegeerte wat haar bly ontwyk. Hoe meer sy daarna gryp, hoe minder kan sy dit vasvat. Toe Charl Buys op ‘n dag vir haar ‘n moontlike geleentheid aanbied wat alles waaroor sy droom werklikheid kan maak, kan sy dit nie glo nie. Wat sit agter sy aanbod?

Charl werk met ‘n plan en as dinge uitwerk soos hy dit wil hê, gaan hy twee vlieë met een klap slaan. Die probleem is die pragtige Talia, want as sy vir haar eiewys hou, gaan al sy versigtige planne soos mis voor die son verdwyn.

Daar wag ‘n storm op die horison wat nie Talia of Charl sou kon voorsien nie. Die toets wat op hulle wag, gaan hulle tot die uiterste beproef. Sal hulle dit slaag of gaan hulle in die proses vernietig word?

Die boek is nou by Amazon.com beskikbaar (https://www.amazon.com/dp/B06WRQ17BJ )

As jy nog nie die vorige boeke in die reeks gelees het nie, gaan kyk gerus by https://rachelledubois.com/nuwe-boeke/ vir die skakels. Of nog makliker, klik net op Kortpad na romanse bo aan die bladsy.

Geniet dit!

Rachelle