Archive | June 2017

Die storievloed

 

tb_waterfall_wallpaper_avantzone-1024x768

Die saadjie van ’n storie vat sy tyd om te ontkiem en om vrug te dra. Nuwe skrywers moet besef dat die vrug daarvan nie ryp gedruk kan word nie. Net soos met enige  lewende organisme, moet dit tyd gegun word om te groei tot volwassenheid. ʼn Storie is ʼn lewende ding; dit is iets wat in jou groei en vorm aanneem totdat jy weet waar jy met die verhaal wil heen. Wees geduldig en werk daaraan soos dit na jou toe kom.

Dit kan natuurlik gebeur dat die volledige verhaal jou oorval soos ʼn damwal wat breek, en dan moet jy swem saam met die vloei en skryf! Dit het met my gebeur in die eerste twee boeke van die Fynbos-reeks – Kwiksilwer en Tuiste vir my Hart. Doepa vir my Hart het rustiger gevloei, maar ek is weereens meegesleur deur die vloed van Pad na my Hart, die vierde boek in die reeks. Formule vir my Hart se grondwerk is reeds in die vierde boek gelê en toe kon ek rustig voortgaan met die skryf daarvan. (Kyk gerus by https://rachelledubois.com/nuwe-boeke/ vir meer inligting oor die boeke.)

Die boek waaraan ek tans werk, kom met verdrag en dit is ʼn pynlose en uitgerekte proses, want die storie laat hom nie ontken of onderdruk nie. Soos die verhaal hom binne my ontvou, sien ek hoe die storielyn stadig koers kies, soos ʼn rivier vertak en uitstoot na ander oewers. Ek moet versigtig wees om nie te lank te talm by een van die sylope nie, want die hoofaar van my storierivier is en bly die belangrikste. Ek moet dit vermy om af te dwaal na die sytakke waar die byspelers wink. Die hoofkarakters swem in die hoofaar en ek moet my aandag op hulle toespits, en net die byspelers bywerk om verder lyf te gee aan my verhaal.

Dit is krities belangrik om van die begin af te bepaal wie se storie dit is. Wie is die hoofkarakter en wat gebeur met hom/haar? Ek moes dit eers weet, anders sou ek vasval in die moeras van te veel sytakke – byspelers. Ek kan nie almal se storie skryf nie – in die liefdesroman is daar immers net een hoofkarakter, of hoogstens twee.

My voorneme is om elke dag te skryf soos wat die verhaal hom in my verbeelding afspeel. Ek het ʼn doelwit van ongeveer 2000 woorde per dag en as ek so kan voortgaan sal ek die middel van my boek binne 30 dae bereik. Dit vat ysere selfdissipline en ek gaan probeer – een dag op ʼn slag.

Kom ons skryf. Trek die rekenaar nader en skryf jou storie, maar eers as jy baie ander boeke gelees het en ook geleer het hoe om te skryf.

Rachelle

Advertisements