Archive | July 2017

Die blywende vreugde

Pearls canstockphoto6111406

Daar is min wat vergelyk met die gevoel van diep bevrediging as mens iets gedoen het wat aan jou vreugde en genoegdoening verskaf. Dink nou maar aan ’n goeie boek. Daardie sug van behaaglikheid as mens die laaste bladsy lees; die laaste paragraaf; die laaste sin. Dan blaai jy eers weer terug na die stukke wat jy gemerk het om weer te lees. Dit is soos reën op droë grond, soos dou in die oggend, soos wind wat deur jou waai en jou verfris na ’n lang dag se hitte.

Ek het saam met die karakters van Nicholas Sparks deur hul wonderlike lewens gestap. As leser het ek stil geword by die beskrywings van die natuur, die agtergrondsketse, die intense gevoelvolheid waarmee hierdie skrywer sy karakters in sy verhale in weef. Ek het soms onwillekeurig my oë gesluit om te voel en te sien wat hy beskryf. Die prentjies is so duidelik asof ek self daar was, in die verhaal op daardie tydstip.

Dit is ʼn kuns om die konteks en die omgewing waarbinne jou verhaal afspeel so te beskryf dat die leser dit in sy verbeelding kan sien en ervaar. Dit is ook iets wat heel dikwels afgeskeep word. Niemand bestaan tog in ʼn vakuum nie. Daar is altyd ʼn plek, ʼn omgewing, ʼn huis of blyplek, ʼn straat, ʼn beroep wat beskryf moet word. Daar is die natuur, die wind en die weer. Al hierdie dinge gee vleis aan jou storie en help die leser om die karakters in die konteks te plaas waar die verhaal hom afspeel.

Ek het geleer om met my hart en my sintuie te skryf, en te lees. Daar is geen ander manier nie.

Rachelle

 

Advertisements