Archive | April 2019

Onverwagte lekkerte

Kwarts 10292163_1560167300869804_8558200210816162206_n

My dae is deesdae rustig en die gang van tyd byna ongemerk. Ek vind myself in die herfs van my jare. Dis ‘n mooi seisoen. Omdat ek  deel is van die natuur weet ek dat die winter ook vir my kom soos wat die dae nou koeler word en die swaeltjies hoog in die blou-blou lug begin sirkel. Ek verwag nie te veel deesdae nie, en is dankbaar vir die vrede en die geborgenheid van my gesin.

Ek is bly en tevrede as ek sien lesers soek nog na my boeke en as ek gunstige terugvoer kry is dit vir my so lekker soos ryk donker sjokolade. Soos enige skrywer is dit vir my ‘n pluimpie om te weet dat my boeke gelees en geniet word.

Daarom was ek aangenaam verras toe ek so paar weke gelede ‘n oproep kry van ‘n jong man wat hom voorstel as ‘n voornemende skrywer. Hy beplan ‘n boekuitstalling in die stad se Mall en wil my graag insluit by die plaaslike skrywers waarvan daar heelwat is wat in hul moedertaal skryf en hulle boeke gaan uitstal.

Die uitstalling vind hierdie naweek plaas en dis uiters bevredigend om te sien hoeveel mense nog belangstel om ‘n gawe boek te bekom. Die doel is ook om soveel boeke aan ons plaaslike biblioteke te voorsien as wat ons kan.

Ek is effens skaam oor my bydrae, want dis die eerste twee boeke wat ek ooit geskryf het en die enigste twee waarvan daar harde weergawes is. Maar dis my struikelende breinkinders en my eerste pogings, so ek sal myself vergewe en glimlag omdat ek so dapper was om te probeer. Die ontdekking dat ek kan, was vir my soos ‘n skone kristal waaruit ligstrale van inspirasie skiet en my binneste verlig met woorde wat al vinniger vloei.

Die opgewondenheid toe ek die eerste boek in my hande hou, die reuk daarvan, en my naam op die voorblad, was genoeg aansporing om weer te probeer, en weer en weer tot ek 19 boeke geskryf het waarvan sommige in versamelings saamgevat is. Daar is altesaam 23 boeke (elektroniese weergawes) op ‘n ry op Amazon.com se rak.

Soos wat ek geskryf het, het ek geleer en beter gevaar. Jy kan dit ook doen. Dis diep bevredigend en iets om jou stilletjies oor te verkneukel. Omdat jy so dom was en tog so dapper om die stories in jou kop op papier te sien werklikheid word.

Gaan loer gerus by Kortpad na romanse bo-aan hierdie bladsy of kyk regs waar al my boeke verskyn. Ek gee ook raad oor hoe om ‘n boek te skryf as jy lus is om te probeer. Klik net bo op die hofie wat jou soontoe sal vat.

Wees dapper en probeer. Jy sal dit so geniet (nadat jy die eerste paar pogings in die asblik gegooi het!)

Rachelle

 

 

 

 

 

 

Die bekoring van die onbekende

images

Ek glo vas dat ek elke dag iets nuut moet leer. Dat die heelal soveel bevat wat ek nog nie weet nie. Natuurlik is die kanse skraal dat ek alles te wete sal kom wat daar is, maar ek troos my daaraan dat alle kennis reeds daar is. Alles wat te wete is, alles wat die mens kan bedink en nuuskierig oor is, is reeds iewers in die kollektiewe geheue gestoor. En ek verbeel my dat net soos in ‘n biblioteek die kennis daar gerangskik is in alfabetiese volgorde. Dit maak vir my sin dat as alle inligting op die onsigbare internet te vinde is, dit mos in die onsigbare kollektiewe geheue gereed moet wees vir wanneer ‘n weetgierige siel se nuuskierigheid die oorhand kry. En met die tik van ‘n paar sleutelwoorde sit ons verstom oor alles wat voor ons op die rekenaarskerm verskyn wat van iewers uit die kollektiewe geheuebank opgeroep is. Dan verwonder ek my oor alles wat daar is. Wat reeds daar was.

Daar is niks nuut onder die son nie . . . Alles wat is was alreeds.

Wat staan my dan te doen? Wat is dan my verantwoordelikheid teenoor hierdie wonderbaarlike geskenk wat voor my oopvou en my uitnooi om te ondersoek, te ontdek en te grawe tot ek ‘n hele versameling goeters en dinge weet wat ek nie netnou geweet het nie?

Ek moet met omsigtigheid omgaan met my nuut verworwe kennis en vaardigheid. Ek moet sif en versigtig uitsoek dit wat opbouend en goed is vir my. Die skadelike moet ek eenkant sit en my rug daarop keer.

Want nie alles is waardig nie. Nie alles is opbouend nie. Gaan lees maar in die Boek.

Ek is intens dankbaar dat daar iewers daar buite iemand was wat gewonder het oor kommunikasie. Oor hoe dit werk, hoe dit gedoen kan word op groot skaal. En toe saam met ‘n paar mede-weetgieriges die internet uitgevind het. Dis toe dat ons op rekenaars en skootrekenaars, en uiteindelik iPad en ander wonderlike goed begin tik, praat, deel en kennis versprei het. Net daar is die heelal vir ons bewustelik oopgesluit en is alle kennis beskikbaar met die tik van ‘n paar woorde.

Daar is darem boeke. Wonderlike boeke met onbeskryflike hoelveelheid kennis in. Ongelukkig is dit nie vir almal toeganklik nie. Maar die internet is op elke selfoon, rekenaar en tablet vir almal wat iets wil weet.

Vir lank het ek gesukkel met ‘n skootrekenaar wat gedreig het om die gees te gee en dit toe ook gedoen het. Ek moes leer hoe om my data daar af te kry en op ‘n klein dingetjie so groot soos my duim se eerste lit af te laai. En om dit van daar af te besigtig en weer op ‘n ander – vir my ‘n wildvreemde – toestel af te laai. En, ag tog, om die nuwe toestel te leer ken was weer ‘n perd van ‘n ander kleur. Maar, en ek is skoon pronkerig daaroor, ek het dit reg gekry en is nie bietjie trots op myself nie. Wat is die brein en die internet tog ‘n wonderlike ding!

Ek het iets nuut geleer. In die vorige jare en eergister en gister en vandag. Ek is nie meer wat ek gister was nie, want ek het nuwe vaardigheid en kennis bygekry. En dit maak van my ‘n ander mens.

Dankie daarvoor. Ek sal die wete dat ek kan, koester.