Archives

Die Lucerna Faktor nou beskikbaar

DIE LUCERNA FAKTOR

Falco Scuro, die Donker Valk, keer ná ʼn besoek aan die Ryk van Sapientia terug na Lucerna. Die Ryk van Lig is egter in duisternis gehul nadat die bose Timor van Falsum vir Lucerna aangeval en die Ligblom uit die Sfeer van Lig gesteel het. Lucerna, die Lamp van die Heelal, is nou byna onsigbaar, bewolk en vol skaduwees.

Falco Scuro verklaar terstond oorlog teen die bose Timor. Hy en sy Ligvalke moet ten alle koste die Ligblom terugkry in Lucerna. Indien die Lig nie skyn nie, kan Lucerna nie lig aan die ander ryke voorsien nie. Dan sal die Waarheid nie meer seëvier nie en die Leuen sal gedy. Die ryke sal in totale chaos en algehele donkerte verval en die inwoners sal uiteindelik sterf.

Die lig het nie net uit Lucerna verdwyn nie, maar ook uit Falco Scuro uit. Hoe het hy hier gekom? By hierdie punt waar hy so verdwaal het in sy eie donkerte?

Sal die Donker Valk daarin slaag om van die troebelheid binne-in homself ontslae te raak? Sal hy die skone Clara Lux, die Draer van Lig, wat die sleutel tot die raaisel hou, kan oortuig om vir altyd by hom op Lucerna te kom woon?

Lesersopinie deur Louise Viljoen:

Rachelle du Bois doen dit weer! Hierdie talentvolle skrywer se 13de eBoek, Die Lucerna Faktor, die tweede boek in die opwindende Faktor-fantasiereeks, is binnekort te koop.

Du Bois se verbeelding ken geen perke nie. Haar verhale is skoon, propvol avontuur, malse humor, liefde en heerlike fantasie. Ondersteun gerus hierdie onafhanklike skrywer. Afrikaans kan doen met skrywers soos sy.

Hier volg ʼn paar proetjies uit Die Lucerna Faktor:

Uittreksel:

“Klompies klein, knikkende kopbeentjies met klappende kakebene en knopperige knieë hardloop met litterige lyfies aan losserige lasse die hele Tenebris vol. Timor vryf verward oor sy ken en druk sy hand teen sy voorkop. Miskien is hy koorsig? Maar nee, sy voorkop is koel. Word hy dan nou stapelgek? Waar kom die spul grillerige geraamtetjies vandaan? Hy gil geskok toe van hulle op hom afstorm en hul ratelende tande in sy maer kuite inslaan. Hy spring en klap, trap hoog en laag, maar die benerige vingertjies gryp en klou vir ʼn vale.”

Uittreksel:

“Sy haal diep asem, word stil, roerloos, terwyl sy haar wortels uitstoot in die sagte, diep vrugbaarheid van die Aarde in. Sy lig haar arms en die groen sap van die lewe styg in haar lyf op tot sy ʼn stam vorm. Haar arms word sagte groen spriete en haar hande verander in teer nuwe blare wat stadig oopvou.

Daar vorm ʼn klein bloeisel, eers byna onsigbaar. Dit word groter, tot een vir een wasagtige blaar oopvou óm die sysagte kroonblare wat skitterend oopkelk asof daar ʼn lig van binne skyn. Die blom verhelder steeds tot kleurvolle, glansende spirale stadig daarom kolk en die hele reënwoud naderhand lyk asof dit deur die noorderligte verlig word.

Die skouspel duur nie lank nie. Die Lig verdof stadig, misterieus, tot net klein ligpuntjies meteens swiepende in die rondte tol in ʼn mal dans van kleurstrepe teen die donker.”

Uittreksel:

“Die slagslaners slaan op tromme, terwyl hulle kleurvolle pruike in alle windrigtings swaai. Snaarplukkers leun in ekstase agteroor tot hulle koppe byna aan die grond raak, terwyl die instrumente in hul benerige hande grom, huil en bewe. Die agtergrondkwakers het elkeen ʼn stormbord waarop hulle met kort stokkies tik. Voor elkeen is daar ʼn klankversterker wat hulle gille tot by die laaste linie van die verslae besoekers en deelnemers aan die Spele laat trek. Dan val die skreeubekke weg; hulle hardloop heen en weer, trippel, gil en skreeu by ronde bolle in wat op stokkies gemonteer is.”

Die boek is nou by Amazon.com beskikbaar. Klik net op die skakel hieronder.

https://www.amazon.com/dp/B01FUNBS5C

Geesgesprek

clouds-jwn6

Ek was volstrek alleen met die son en die aarde. En terwyl ek daar lê op die gras, praat ek in my gees met die aarde, die son en die lug en veraf see, verder as wat my oog kan reik. Ek dink aan die vastheid van die aarde – ek voel hoe dit my dra; deur die gras waarop ek lê, voel ek hoe die groot aarde met my praat. Ek dink aan die drywende lug – die suiwerheid daarvan wat ook die skoonheid daarvan is; die lug raak my aan en gee my iets van dié suiwerheid en skoonheid. Ek praat met die see, en al is dit so ver, sien ek dit in my gedagte – groen aan die rand van die aarde en blou in die dieptes; ek verlang om die krag daarvan te besit, om iets te mag hê van die see se geheimenis en heerlikheid. Toe wend ek my tot die son in ʼn groot verlange om in my gees sy lig en skittering en onvermoeide volharding te kan opneem. Ek kyk na die blou lug bo my, ek reik op na die diepte daarvan en adem die lieflikheid van die kleur in. Die ryk blou van die onbereikbare blom van die lug buig oor my en bring my die harterus van vleklose kleur. Toe voel ek ʼn emosie van gees wat buite bereik van woorde is. Ek noem dit gebed, maar dié woord is eintlik te klein om die gevoel wat ek ervaar het te beskryf. Tog sê ek dit was gebed, want ʼn ander woord daarvoor het ek nie.

Richard Jefferies

Dis in die klein dingetjies

Blom met doudruppel 10347726_1585513098335224_1013801709968826731_n

Soms is dit nodig om jou dag anders te begin, om die roetine van al die vorige dae, weke en maande bietjie af te skud. Dit werk vir my, want soos my dag in roetine verval, so verval my liggaam en gees met niks wat vernuwe of verlig nie. Daarom het ek vanoggend saam met my eerste koppie koffie my geliefde digbundel uit die kas gehaal en my verlustig in die wysheid, die vreugde en hartseer van digters van alle tye. So wissel die verwondering van Tragore oor die tydloosheid van die liefde die ontsettende vervreemding van Pessaro in The Tobaco Shop af. Dan kom Em Claire met haar boodskap van hoop in die mooi gedig “Don’t regret all these moments that have brought you here,” en vind ek saam met Jannis Ritsos vreugde in die dag wat voorlê. Ek is verkwik deur skoonheid in die gedigte van nog ander digters soos Pablo Neruda en Omar Khayyam, en ek krimp saam ineen oor die pyn van die kort stuk oor die perspektief oor elkeen se Tuin van Eden uit Marvin’s Room: “Perhaps everybody has a garden of Eden, I don’t know, but they have scarcely seen their garden before they see the flaming sword …”

Dan kom Breyten Breytenbach se gedig “vir Oun” en ek is terug by my ma in haar tuin en haar woorde van blomme. My gees lig en ek word verfris deur die lieflike reën en die wil om voluit te lewe.

Die vreugde is in die klein dingetjies wat ons so maklik miskyk. Lees wat sê Knut Hansen hieroor in Die Klein Vreugde: “Dit kan reën en die wind kan waai – dis nie die dinge wat tel nie. Dikwels op ‘n reëndag kan ‘n klein vreugdetjie so van ‘n mens besit neem dat jy jou in ‘n wêreld van jou eie terugtrek. ‘n Mens staan voor jou en kyk en jy lag saggies, terwyl jy af en toe omkyk. Waaraan dink jy nou? ‘n Helder ruit in ‘n venster, ‘n straal sonlig op die ruit, ‘n uitsig op ‘n klein stroompie en miskien ‘n stukkie blou lug daarbo. Dit hoef nie meer te wees nie.”

Vir my is dit genoeg.

 

Die dans van die reën

Rain 2 images[10]

O die dans van ons Suster!

Eers oor die bergtop loer sy skelm,

en haar oge is skaam; en sy lag saggies

En van ver af wink sy met die een hand;

haar armbande blink en haar krale skitter;

saggies roep sy.

Sy vertel die winde van die dans en sy nooi hulle uit,

want die werf is wyd en die bruilof groot.

Die grootwild jaag uit die vlakte,

hulle dam op die bulttop,

wyd rek hulle die neusgate

en hulle sluk die wind; en hulle buk,

om haar fyn spore op die sand te sien.

Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,

en hulle kruip nader en sing saggies:

“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

En haar krale skud,

en haar koperringe blink in die wegraak van die son.

Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;

sy trap af van die hoogte;

sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;

die asem van die wind raak weg.

O, die dans van ons Suster!

Eugene Marais