Die Lucerna Faktor

DIE LUCERNA FAKTOR

https://www.amazon.com/dp/B01FUNBS5C

Clara Lux is die Ligblom van die Ryk van Lucerna wat Lig verskaf aan die heelal. Haar taak is om haar lig te laat skyn op die Waarheid, maar Timor van Falsum, die Ryk van Leuens, het ander planne. Hy waag dit om Lucerna binne te val en die Ligblom te steel in die afwesigheid van die heerser van Lucerna, Falco Scuro.

Die Donker Valk se lewensasem is gesteel –  sy lig is weg. Hoe het hy hier gekom? By hierdie punt waar hy so verdwaal het in sy eie donkerte? Nie net is sy ryk duister nie, hy is in homself donker. Hy neem ‘n eed dat hy Clara Lux, die Draer van Lig, sal vind en terug sal bring na waar sy hoort. Timor, die Opperheer van Leuens, beter vlug, want Falco Scuro sweer dat hy hom gaan vernietig. Sal Falco daarin slaag om sy geliefde Clara te vind voordat die bose Timor haar lig vir altyd verdoof?

LESERSOPINIE deur Louise Viljoen

Rachelle du Bois doen dit weer! Hierdie talentvolle skrywer se 13de eBoek, Die Lucerna Faktor, die tweede boek in die opwindende Faktor-fantasiereeks, is binnekort by Amazon.com te koop.

Du Bois se verbeelding ken geen perke nie. Haar verhale is skoon, propvol avontuur, malse humor, liefde en heerlike fantasie. Ondersteun gerus hierdie onafhanklike skrywer. Afrikaans kan doen met skrywers soos sy.

Hier volg ʼn paar proetjies uit Die Lucerna Faktor:

Uittreksel:

“Klompies klein, knikkende kopbeentjies met klappende kakebene en knopperige knieë hardloop met litterige lyfies aan losserige lasse die hele Tenebris vol. Timor vryf verward oor sy ken en druk sy hand teen sy voorkop. Miskien is hy koorsig? Maar nee, sy voorkop is koel. Word hy dan nou stapelgek? Waar kom die spul grillerige geraamtetjies vandaan? Hy gil geskok toe van hulle op hom afstorm en hul ratelende tande in sy maer kuite inslaan. Hy spring en klap, trap hoog en laag, maar die benerige vingertjies gryp en klou vir ʼn vale.”

Uittreksel:

“Sy haal diep asem, word stil, roerloos, terwyl sy haar wortels uitstoot in die sagte, diep vrugbaarheid van die Aarde in. Sy lig haar arms en die groen sap van die lewe styg in haar lyf op tot sy ʼn stam vorm. Haar arms word sagte groen spriete en haar hande verander in teer nuwe blare wat stadig oopvou.

Daar vorm ʼn klein bloeisel, eers byna onsigbaar. Dit word groter, tot een vir een wasagtige blaar oopvou óm die sysagte kroonblare wat skitterend oopkelk asof daar ʼn lig van binne skyn. Die blom verhelder steeds tot kleurvolle, glansende spirale stadig daarom kolk en die hele reënwoud naderhand lyk asof dit deur die noorderligte verlig word.

Die skouspel duur nie lank nie. Die Lig verdof stadig, misterieus, tot net klein ligpuntjies meteens swiepende in die rondte tol in ʼn mal dans van kleurstrepe teen die donker.”

Uittreksel:

“Die slagslaners slaan op tromme, terwyl hulle kleurvolle pruike in alle windrigtings swaai. Snaarplukkers leun in ekstase agteroor tot hulle koppe byna aan die grond raak, terwyl die instrumente in hul benerige hande grom, huil en bewe. Die agtergrondkwakers het elkeen ʼn stormbord waarop hulle met kort stokkies tik. Voor elkeen is daar ʼn klankversterker wat hulle gille tot by die laaste linie van die verslae besoekers en deelnemers aan die Spele laat trek. Dan val die skreeubekke weg; hulle hardloop heen en weer, trippel, gil en skreeu by ronde bolle in wat op stokkies gemonteer is.”