Dis die jaar 1845
Améli du Pré en Vianne du Buisson is op ‘n belangrike sending per skip van Frankryk af na Engeland op pad. Améli het ’n kosbare skat in haar besit wat veilig in Engeland besorg moet word. Dis egter nie so …maklik nie, want hul skip, Du Vent, word deur twee Franse edelmanne, Jean le Veque en sy vriend André le Mon, onderskep in ’n poging om te keer dat die skat in Engeland beland, want dit is die eiendom van die Le Veque-familie. Die mans is vasbeslote om dit terug te neem na Chateau le Veque in Nantes, Frankryk. Sal Améli en Vianne die sending suksesvol voltooi, of gaan die mans hul planne in die wiele ry?
Hierdie is ’n avontuur vol vreemde gebeurtenisse, swaardgevegte, skelmstreke, humor en ’n goeie skoot romanse met ‘n verrassende einde.
Jy sal die boek hier kry:
https://www.amazon.com/dp/B01FUQWUVK
Kyk wat het die lesers oor die boek te sê:
Seerowers en hartkloppings: Rachelle du Bois doen dit wéér!
Skat van die Seerower deur Rachelle du Bois is ’n lekkerlees roman wat aanklank sal vind by tieners én volwasse lesers. Die verhaal speel hom af in 1845 toe seerowery nog hoogty gevier het. Dit is Du Bois se elfde gepubliseerde boek in twee jaar en beloof om ’n groot gunsteling by haar lesers te word.
Gedurende ’n stormagtige nag op see word Améli en Vianne, twee jong edelvroue, deur seerowers vanaf die skip, die Du Vent, ontvoer. Hierna volg ’n wilde mallemeule-rit – die verhaal is propvol spanning, naelbyt intriges en die een komiese situasie na die ander.
Die meisies durf nie die seerowers laat agterkom die juwele waarna hul soek, is aan hul persone versteek nie. Makliker gesê as gedaan, want Jean en André is nou nie juis jou gewone hierjy-seerowers nie – hulle is gekultiveerde én gedetermineerde edelmanne wat op ’n baie spesiale sending is. Boonop is hulle gevaarlik aantreklik.
Die meisies is eiewys en parmantig. Hulle laat hul nie sommer net ontvoer nie, en is heeltemal in staat om hulself te verdedig, dankie! Die edelman-seerowers besef gou dat die beeldskone en vurige demoiselles vir hulle gaan ore aansit indien hulle nie vir hul baie duidelik wys wie is nou eintlik wie se baas nie. Die vonke spat behoorlik – swaarde kletter, hande en voete word vasgebind, ‘n opperste skelm kruip onder almal se neuse weg én daar vind ‘n huwelik plaas.
Hierdie roman bied ‘n ligte leeservaring. Dit word aanbeveel vir elke leser wat daarvan hou om deur ’n goed geskryfte verhaal meegevoer te word en elke hartklop-oomblik tussen die held en heldin mee te maak. Geluk aan Du Bois met ’n pragverhaal wat sekerlik baie nuwe lesers gaan lok.
Besoek gerus Rachelle du Bois se Afrikaanse en Engelse webtuistes om meer uit te vind oor haar boeke. Skat van die Seerower word binne enkele dae gepubliseer.
Louise Viljoen
Vryskutskrywer en resensent
Jaqqui Clute skryf: