Tag Archive | Afrikaanse e-boeke

Die uitdaging van ‘n reeks

KWIKSILWER (1)

Die uitdaging van ‘n reeks

Om ʼn reeks te skyf is ‘n uitdaging, want die skrywer moet kontinuïteit in gedagte hou. Elke boek in die reeks vertel sy eie storie, maar dit moet tog voortbou op die storie voor hom. Anders as met ʼn alleenstaande boek, moet die skrywer in gedagte hou dat die storie in ʼn reeks na die volgende boek moet lei. Daar moet dus baie noukeurig rekord gehou word van die karakters en die agtergrond waarteen elke boek afspeel. Die volgende boek tel die drade van die een voor hom op en bou voort op die lewens van die karakters wat in die voorafgaande boeke voorgekom het. Daar moet ʼn deurlopende lyn wees wat die reeks aanmekaar verbind hou, al kan mens die boeke afsonderlik lees. Ek sorg maar dat die einde van die een boek die leser prikkel om die volgende een ook te lees.

Tuiste vir my Hart 2          doepa-vir-my-hart

Toe ek Kwiksilwer  begin skryf het, het ek nie geweet dat dit op die Fynbos-reeks sal uitloop nie. Ek het eers aan die einde daarvan besluit dat dit die eerste boek van hierdie reeks sal wees. Kwiksilwer het die grond voorberei en dit het gevra dat ek die storie van die Brandt-familie verder moet vertel. Daar was darem vier broers en een meisiekind, en hulle verhale moes uit.

Ek is baie dankbaar oor die sukses van die Fynbos-reeks waarvan daar reeds vyf boeke die lig gesien het. Kwiksilwer, Tuiste vir my Hart, Doepa vir my hart, Pad na my Hart en Formule vir my Hart verkoop flink in Amazon.com se boekwinkel. Lesers se aanmoediging dui daarop dat ek moet voortbou daaraan.

pad-na-my-hart-1        formule-vir-my-hart-1

Ek het reeds begin werk aan die sesde storie, Visioen van my Hart. Hierdie boek vra veel van my en die uitdaging hier is groter, maar my voorneme is om dit te voltooi sodra die ‘manne in die basement’ (my onderbewussyn) gereed is met die storie.

Die Fynbos-reeks is nie my eerste probeerslag nie. Ek het reeds drie reekse geskryf. My eerste reeks het bestaan uit twee Engelse boeke, The Road to Eden en Oak Seed. Dit was deel van die Oak Seed-reeks.

RomanceCollection        The Road to Eden Kindle        Oak Seed Cover Fiverr Rachelle_du_Bois_1b

Daarna het ek die Faktor-reeks geskryf wat op hierdie stadium twee fantasieë insluit – Die Vita Faktor en Die Lucerna Faktor.

die-faktor-fantasie-reeks

Gaan loer gerus by die skakel Kortpad na Romanse bo aan die bladsy, of kyk regs. Jy sal al my boeke daar kry met die skakels na die winkel toe. Ek hoop jy sal dit lees en kommentaar lewer daarop.

Jou aanmoediging is vir my goud werd.

 

Tyd vir ‘n blaaskans

Pearls canstockphoto6111406

Boek vier, Pad na my Hart, is uit my hande en op pad na die winkel toe. Nou moet dit plek maak vir iets anders, maar die lekker van die skryf daarvan sit nog soos heuning op my tong. Ek draai dit om en om, en bekyk dit van alle kante, terwyl ek tevrede my kop knik en stilletjies glimlag.

In my hart en gedagtes is daar reeds roeringe vir Somme vir my Hart, die vyfde boek in die Fynbos-reeks. Die nuwe idees vir die boek begin onstuitbaar soos blink borrels boontoe styg. Dit kan seker ook nie anders met die mooi voorblad wat reeds gereed is en wat my deur die volgende maand of wat gaan inspireer nie.

My verstand sê rus nou eers. Na ses nuwe boeke in 2016 is ek geregtig op ‘n blaaskans, maar watter skrywer kan nou ‘n nuwe storie weerstaan? Veral as hy so verleidelik by jou kom aanlê en allerhande moontlikhede jou naderlok tot jy na jou rekenaar gryp en begin aantekeninge maak. En as jy jou weer kom kry, skryf jy een bladsy na die ander en vergeet jy dat die dae by jou verby glip tot Kersfees skielik ‘n dag weg van jou kom staan.

Ek verlei myself met die vooruitsig van lees en weer lees van boeke wat nooit uit die mode gaan nie. Die English Classics van Jane Austen, Charles Dickens, die Brontë susters en nog vele ander; Tolstoy se War and Peace, en Anna Karenina wat my hart uitmekaar geskeur het. “Ek het gekom om te wees waar jy is . . .”

Miskien sal ek weer ‘n slag my opera DVDs uitpak en huil saam met Angela Gheorghiu as Violetta, of Renee Fleming as Taïs, of Anna Netrebko as Tatiana in Eugen Onegin, of Raina Kabaivanska en ‘n jong Domingo in Tosca. Ja, ja, ek sal die gordyne toetrek en die wêreld uitsluit en die opera besoek. Nou wel nie in La Scala of die Metropolitan nie, maar tuis is net so goed, want die herhaal knoppie is so gemaklik naby . . .

Tussen boeke en musiek kan ek ure, dae en weke laat verdwyn.

Ek hoop jy gaan dieselfde doen en dit wat jou so na aan die hart lê, maar waarvoor jy nie tyd kry nie, bymekaar kry en tyd maak vir jouself.

Moenie jou digbundels vergeet nie, hoor.

Rachelle

Omnibus 3

omniibus-3

Ek het nog drie liefdesromans in hierdie versameling bymekaar gesit. Omnibus 3 bevat van my latere boeke en vir jou gemak het die inhoudsopgawe skakels na elke boek toe sodat jy vinnig kan spring van die een na die ander.

Nou kan jy al drie hierdie mooi boeke gelyk in jou hand hou.

Die versameling is beskikbaar by

https://www.amazon.com/dp/B01M7YCT2Z

 

Doepa vir my Hart – Fynbos-reeks

doepa-vir-my-hart

Dis tegelyk opwindend en hartseer as ‘n boek klaar geskryf is en uit die skrywer se hande is. Doepa vir my Hart het vanoggend op Amazon.com se rakke geland en is nou beskikbaar vir jou om te lees.

Dit was vir my lekker om die boek te skryf,  want hier het ek regtig my verbeelding vrye teuels gegee. Soms swaar gekry saam met Bella en Wynand, en soms saam met hulle gelag.

Hier is ‘n kort beskrywing van die derde boek in die Fynbos-reeks:

DOEPA VIR MY HART – Boek 3: Fynbos-reeks

Bella Buys is ʼn baie suksesvolle sakevrou met haar eie besigheid. Sy bestuur en bedryf Bella Donna, haar skoonheidsalon, soos ʼn kaptein sy skip. Sy is onafhanklik en sterk, maar sy is ook ʼn petite brunette wat manne se harte week maak en hulle dryf daartoe om haar te wil beskerm en hul kleim af te steek.

Wynand Brandt is ʼn mediese dokter en sy werk is om te heel. Bella lok hom soos ʼn mot na ʼn vlam. Hy verstaan dit nie, want sy is nie siek nie en sy het nie beskerming nodig nie. Hy weier om enigiets verder met haar te doen te hê, want hy is nie van plan om weer sy sagte vlerke te laat skroei nie. Wegbly van haar af is sy enigste opsie. Maar dis toe nie so maklik nie, want die liefde laat hom nie voorskryf nie. Dit bly die enigste doepa vir die hart. Sal hierdie twee mense wat van kindertyd al van mekaar weet, tot ʼn vergelyk kom en darem ruimte laat vir die hart om te gedy?

Die boek is beskikbaar by:

https://www.amazon.com/dp/B01MQ430CA