Tag Archive | Afrikaanse liefdesgedigte

Om skoon gewas te word

imagesCA41AKNQ

Daar is al baie geskryf en gesê oor trane. Is dit net mense wat huil? Diere tjank as hulle in pyn verkeer, maar net die mens stort trane. Ape het traankliere, maar die funksie daarvan is om hul oë te was en gesond te hou. In die mens se geval het een van ons menslike spesie baie lank gelede ’n neuro-verbinding gemaak tussen die traankliere en die gedeeltes van die brein waar gevoel gesetel is – emosie en die vyf sintuie van smaak, reuk, voel, sien en hoor.

Navorsing aan die Universiteit van Minnesota het in 1980 gewys dat vroue ongeveer vyf keer per maand huil, terwyl mans ongeveer een keer elke vier weke huil. Babas huil net na geboorte om hul koms aan te kondig.

Dit is alles goed en wel, maar hoekom huil ons trane? Omdat ons mense is. Omdat ons voel en ervaar en leef.

Ons huil lang trane omdat ons ʼn fout gemaak het, of seer trane omdat ons na ons kinders daar ver verlang. Ons huil trane van verlies as iemand sterf of weggaan. Ons huil bang trane as ons angstig en vreesbevange is.

Ons huil kwaai trane omdat ons woedend is – ja, ons vroue is bekend daarvoor, tot ons verleentheid en verdere woede teenoor onsself omdat ons so ontydig die trane kan laat spat voor ons baas en kollegas.

Ons huil seerkry trane oor verlore liefde, oor verhoudings met familie of vriende wat skeefloop.

Ons huil trane van teleurstelling omdat ons span verloor het, of omdat dit waarvan ons gedroom het, soos mis oor die horison verdwyn.

Ons huil trane van vreugde omdat ons bly is oor ʼn nuwe aankomeling, oor die liefde wat so blom, oor ons nuwe kar of huis, of omdat ons gesond is na ʼn lang siekbed. Ons huil trane van geluk omdat iets waarvoor ons al so lank wag, uiteindelik werklikheid geword het.

 Ons huil omdat ons oorweldig word deur skoonheid. Dit laat die mure verkrummel en die trane loop. Ons smelt en reik na iewers diep binne waar die weerloosheid wegkruip. Daar waar ons dit waag om teer te wees, om onbeskaamd toe te gee aan die skoonheid van musiek, of die grootsheid van die natuur, of ʼn woud en water waar dit groen is.

Meraai het gesê dat elke vrou ʼn blou flessie in die hemel het, en voor die flessie nie vol gehuil is nie, sal die trane nie ophou nie.

 

‘n Storie vertrek

Pippas well canstockphoto4393745

Nou dat jy weg is

uit my hande

uit my gedagtes

uitgeskryf op ‘n skerm

laat ek jou gaan

om in iemand anders se kop

nes te maak vir ‘n ruk

En ek bly agter

met ’n groot stilte

waar jy voorheen was

Dan kom die volgende storie

stuk-stuk by my aan

en skrop nes

so begin die siklus

hom weer herhaal

en gee ek my gewillig

aan die nuwe verhaal

se genade oor

Wat nie gesê word nie

Pearls canstockphoto6111406

Siekte dwing mens soms bed toe. Dis natuurlik ’n plek wat mens nie sommer andersins gewillig deur die dag opsoek nie. Tensy jy ’n boek het. Dit dwing jou tot stilte en refleksie. Dis dan wanneer ek my digbundels nader trek en stilte soek in woorde. In stiltes tussen woorde, in stiltes agter woorde, in wat nie gesê word nie. Dan soek ek en ek vind diep versteekte pêrels. ’n Skat wat ek sorgvuldig toevou en veilig wegsit om later weer na terug te keer. En elke keer vind ek meer van die kosbare juwele.

Hoe heerlik en bevrydend is ’n mooi gedig, ’n pragtige vers, ’n hartspraak deur die digter wat iets te sê het. Ek hoor, ek luister fyn, met die hart, met oog en oor. Ek is weereens verryk en ek koester die wete dat ek my besig gehou het met iets wat my skatkis voller maak. Daar is altyd plek vir meer vreugde en lig, meer skoonheid.

Want alles wat mooi en goed en opbouend is, is skoonheid. My soeke daarna is my lewensreis.

Ek plaas graag hierdie gedig van Jan de Bruyn vir jou:

Ek stuur vir jou

– behalwe groete –

alles wat ek sonder antwoord sê,

alles wat ek met die ver hande

van my oë pluk:

die wit blomme wolke

in ’n blou vlei;

die varings van stilte

wat in die berge van die jare groei.

Ek stuur vir jou ook

’n handvol van ’n môre hier

om teen jou oor te hou

soos ’n skulp

as die dae aanhou knars.

En ek stuur vir jou

die son die rooi lemoen

wat ek opgetel het

net anderkant vandag

net duskant die nag

vir lig om te drink

as ’n vaal reën aanhou val.

Ons is nie almal so nie

Old Bookscanstockphoto10993883
Ek is ‘n onafhanklike skrywer van liefdesromans- en novelles en ek is goed daarmee. Ek het reeds my merk gemaak deur 10 boeke self uit te gee en te bemark. My boeke is reeds beskikbaar by Leserskring, Kwarts, myAfrikaans, Exclusive Books, Kalahari/Takealot, Leisure Books en Amazon.com. Die elfde boek uit my hand is reeds by my beta-lesers en ek hoop om dit binne die volgende twee maande op die rakke te hê. Ja, ek is trots op wat ek bereik het, maar ek is nie arrogant nie. Dit vat toewyding, baie harde werk en self-disspline om ‘n boek te skryf. Ongelukkig is ‘n graad of kursus in kreatiewe skryfkuns nie binne almal se bereik nie, en dis ook nie ‘n vereiste nie. As jy kan lees, kan jy praat, kan jy skryf. Ek het baie gelees en geleer oor hoe om te skryf, die kuns van storievertel, die moets en moenies van die uitgewersbedryf. En ek het onophoudelik geoefen deur te skryf. Ek glo my skryfwerk is van so ‘n gehalte dat dit binne die raamwerk van goeie skrywerk val. Daarom gee ek self my boeke uit. Nie alle onafhanklike skrywers lewer swak werk nie. Die bewyse is daar. Onafhanklike skrywers het jou ondersteuning nodig en verdien erkenning.

Die vasmeerplek

Roeiboot in stil water 10610627_1522495954656377_8649637274352178189_n

Dis soms so moeilik om jou plek weer te vind, veral as daar ontwrigting en groot verandering in jou lewe plaasgevind het. Dis nie vreemd om toe te gee aan die drang om jou kop toe te trek, oë toe te knyp, en net af en toe te loer of die woeste see om jou nou kalmer geword het nie. Dis selfbehoud wat jou so laat wegkruip, terwyl jy wag dat jou eens rustige boot wat nou wild op ʼn onbekende see dobber, na stiller waters vaar waar jy veilig genoeg voel om vas te meer. En om eers weer die begin van die kraaines van drade te kry sonder om skuldig te voel omdat dit so lank neem, omdat jy so nie weet nie, omdat jy onseker is oor of jy jou lewe weer aanmekaar geweef gaan kry.

Daar is ʼn bloudruk vir jou lewe. En ʼn kompas om die pad aan te dui. Ware Noord lê binne-in jou, en soos jou boot in ʼn stil plek vasgemeer lê, so moet jy terugkeer na die stil plek binne, daar waar rus is en waar jy antwoorde kry.

Eers dan kan jy begin aanstap na waar jy moet wees. Na die plek op jou bloudruk wat jy self gekies het, en jou kompas jou rigting aandui.

Lelani – nou beskikbaar

Lelani Kwarts Cover

Uiteindelik is LELANI nou as e-boek by boekwinkels beskikbaar. Uitgegee deur Kwarts Publishers. Klik net op die die skakels onder.

 

Die dans van die reën

Rain 2 images[10]

O die dans van ons Suster!

Eers oor die bergtop loer sy skelm,

en haar oge is skaam; en sy lag saggies

En van ver af wink sy met die een hand;

haar armbande blink en haar krale skitter;

saggies roep sy.

Sy vertel die winde van die dans en sy nooi hulle uit,

want die werf is wyd en die bruilof groot.

Die grootwild jaag uit die vlakte,

hulle dam op die bulttop,

wyd rek hulle die neusgate

en hulle sluk die wind; en hulle buk,

om haar fyn spore op die sand te sien.

Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,

en hulle kruip nader en sing saggies:

“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

En haar krale skud,

en haar koperringe blink in die wegraak van die son.

Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;

sy trap af van die hoogte;

sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;

die asem van die wind raak weg.

O, die dans van ons Suster!

Eugene Marais