Tag Archive | Afrikaanse liefdesroman

Tyd vir ‘n blaaskans

Pearls canstockphoto6111406

Boek vier, Pad na my Hart, is uit my hande en op pad na die winkel toe. Nou moet dit plek maak vir iets anders, maar die lekker van die skryf daarvan sit nog soos heuning op my tong. Ek draai dit om en om, en bekyk dit van alle kante, terwyl ek tevrede my kop knik en stilletjies glimlag.

In my hart en gedagtes is daar reeds roeringe vir Somme vir my Hart, die vyfde boek in die Fynbos-reeks. Die nuwe idees vir die boek begin onstuitbaar soos blink borrels boontoe styg. Dit kan seker ook nie anders met die mooi voorblad wat reeds gereed is en wat my deur die volgende maand of wat gaan inspireer nie.

My verstand sê rus nou eers. Na ses nuwe boeke in 2016 is ek geregtig op ‘n blaaskans, maar watter skrywer kan nou ‘n nuwe storie weerstaan? Veral as hy so verleidelik by jou kom aanlê en allerhande moontlikhede jou naderlok tot jy na jou rekenaar gryp en begin aantekeninge maak. En as jy jou weer kom kry, skryf jy een bladsy na die ander en vergeet jy dat die dae by jou verby glip tot Kersfees skielik ‘n dag weg van jou kom staan.

Ek verlei myself met die vooruitsig van lees en weer lees van boeke wat nooit uit die mode gaan nie. Die English Classics van Jane Austen, Charles Dickens, die Brontë susters en nog vele ander; Tolstoy se War and Peace, en Anna Karenina wat my hart uitmekaar geskeur het. “Ek het gekom om te wees waar jy is . . .”

Miskien sal ek weer ‘n slag my opera DVDs uitpak en huil saam met Angela Gheorghiu as Violetta, of Renee Fleming as Taïs, of Anna Netrebko as Tatiana in Eugen Onegin, of Raina Kabaivanska en ‘n jong Domingo in Tosca. Ja, ja, ek sal die gordyne toetrek en die wêreld uitsluit en die opera besoek. Nou wel nie in La Scala of die Metropolitan nie, maar tuis is net so goed, want die herhaal knoppie is so gemaklik naby . . .

Tussen boeke en musiek kan ek ure, dae en weke laat verdwyn.

Ek hoop jy gaan dieselfde doen en dit wat jou so na aan die hart lê, maar waarvoor jy nie tyd kry nie, bymekaar kry en tyd maak vir jouself.

Moenie jou digbundels vergeet nie, hoor.

Rachelle

Omnibus 3

omniibus-3

Ek het nog drie liefdesromans in hierdie versameling bymekaar gesit. Omnibus 3 bevat van my latere boeke en vir jou gemak het die inhoudsopgawe skakels na elke boek toe sodat jy vinnig kan spring van die een na die ander.

Nou kan jy al drie hierdie mooi boeke gelyk in jou hand hou.

Die versameling is beskikbaar by

https://www.amazon.com/dp/B01M7YCT2Z

 

Ek stap die pad

pad-na-my-hart-1

Ek stap nou elke dag die pad saam met Pieter Brandt en Madelein Steyn. Die storie oor die vierde Brandt broer en die fyne Madelein in die Fynbos-reeks is besig om geleidelik te ontvou en ek is reeds kniediep in die lewens van al die mense van Pad na my Hart. Heerlik is dit vir my om te sien hoe die karakters groei en ontwikkel. Hulle doen alreeds dinge wat ek nie voorsien het nie. Die hoop en die wanhoop loop hand aan hand met die wonderlike interaksie van die Brandt familie en al hul aanhangsels.

Hier is solank  ‘n kort beskrywing van Pad na my Hart:

Madelein Steyn keer na jare se afwesigheid na haar geboorteplek terug. Sy  begin werk as meestersjef by die splinternuwe Fynbos Boetiekhotel. Dinge is egter nie soos sy haar dit voorgestel het nie, want tot haar skok is Pieter Brandt ook terug in George. Hy is die allerlaaste persoon wat sy wou raakloop, want hy hou ’n bedreiging in vir haar en haar toekoms. Sy kan nie weer toelaat dat hy alles vir haar in die wiele ry nie. Dit waarna sy saans huis toe gaan is waarvoor sy lewe en sy sal veg daarvoor met alles tot haar beskikking.

Pieter is vasbeslote dat Madelein hom nie weer gaan ontglip nie. Hierdie keer gaan sy bly, want hulle het sake wat nog lank nie afgehandel is nie. Sy planne is klaar gemaak en sy strik gestel.

Hierdie keer gaan sy bly.

 

Doepa vir my hart

doepa-vir-my-hart

Ek het nou net die laaste sin van DOEPA VIR MY HART klaar geskryf. Ek is so dankbaar en opgewonde! Maar nou kom die groot proeflees en redigering.

Wanneer sal Doepa beskikbaar wees? Hopelik teen die einde van Oktober 2016. Wees maar op die uitkyk. Die eerste twee in die Fynbos-reeks, Kwiksilwer en Tuiste vir my Hart, verkoop reeds flink op Amazon.com, en ek glo julle sal die storie van Wynand en Bella in DOEPA net so geniet.

Waaroor gaan hierdie liefdesroman? Hier is ‘n kort beskrywing net om jou leeslus bietjie aan te wakker:

Bella Buys is ʼn baie suksesvolle sakevrou met haar eie besigheid. Sy bestuur en bedryf Bella Donna, haar skoonheidsalon, soos ʼn kaptein sy skip. Sy is onafhanklik en sterk, maar sy is ook ʼn petite brunette wat manne se harte week maak en hulle dryf daartoe om haar te wil beskerm en hul kleim af te steek.

Wynand Brandt is ʼn mediese dokter en sy werk is om te heel. Bella lok hom soos ʼn mot na ʼn vlam. Hy verstaan dit nie, want sy is nie siek nie en sy het nie beskerming nodig nie. Hy weier om enigiets verder met haar te doen te hê, want hy is nie van plan om weer sy sagte vlerke te laat skroei nie. Wegbly van haar af is sy enigste opsie.

Maar dis toe nie so maklik nie, want die liefde laat hom nie voorskryf nie. Dit bly die enigste doepa vir die hart.

Sal hierdie twee mense wat van kindertyd al van mekaar weet, tot ʼn vergelyk kom en darem ruimte laat vir die hart om te gedy?

Wees saam met my bly oor hierdie derde boek in die Fynbos-reeks en hou my hande vas tot ek dit klaar blink gepoets het en dit in jou hande plaas.

Ek het dit net vir jou geskryf.

 

 

 

Die Lucerna Faktor

DIE LUCERNA FAKTOR

Die laaste paragraaf is geskryf en die laaste punt getik. Die warboel van emosies spoel heerlik oor my. Verskoon my as ek van pure lekkerte behaaglik agteroor sit en breed glimlag. Ek’s so opgewonde oor hierdie nuwe boekie in die Faktor reeks. Dis ook ‘n fantasie roman en is die tweede in die reeks.

Die groot werk van redigeer en proeflees lê nou voor. Eers wanneer Lucerna blink soos die maan, sal sy haar volledige verskyning maak. Tot dan moet ons geduldig wees.

Hier is so ‘n kykie na waaroor die storie gaan:

Falco Scuro keer na ‘n besoek aan die Ryk van Sapientia terug na Lucerna, sy Ryk van Lig. Hy vind dit in duisternis na die bose Timor van Falsum vir Lucerna aangeval en die Ligblom uit die Sfeer van Lig gesteel het. Lucerna is die Lamp van die Heelal wat nou byna onsigbaar, bewolk en vol skaduwees daar uitsien. Falco moet ten alle koste die Ligblom terug kry in Lucerna. Hy verklaar oorlog teen Timor, maar hy vind uit dat daar ander faktore is wat sy soektog na die Ligblom bemoeilik.

Die lig het nie net uit Lucerna verdwyn nie, maar ook uit hom uit. Hoe het hy hier gekom? By hierdie punt waar hy so verdwaal het in sy eie donkerte?

Sal Falco daarin slaag om van sy eie troebelheid ontslae te raak? En sal hy die skone Clara Lux, wat die sleutel tot die raaisel hou, kan oortuig om hom te vergesel na Lucerna?