Tag Archive | Amazon.com

Medisyne vir die verdwaaldes

Roeiboot in stil water 10610627_1522495954656377_8649637274352178189_n

Soms loop ons radeloos en stoei met ʼn verlepte gees. Ons is meteens swerwers in ’n vreemde land, sonder aanwysers op onbekende paaie. Ons soek na ons spesiale rusplek om ʼn wyle daar te vertoef tot ons weer verkwik na siel en liggaam, en met nuwe lewenslus die pad vorentoe kan aandurf.

Daar’s boeke by hierdie rusplek. Dis die hart se biblioteek waar ons ons geliefdes vind. Waar ons telkens omhels word deur die bekende en ook die onbekende. Waar ons nader gewink word deur allerhande beloftes van nuwe wêrelde en ervarings. Dis daar waar die arms van ons gunstelingskrywers- en boeke ons verwelkom.

As ons slim is, skuif ons die stoel reg, en verruil dan hierdie uur, of twee, of drie, of sommer die hele dag, vir ʼn reis saam na die lewens, die liefde en die avonture van ander.

In die bladsye van ʼn boek beleef ons dalk weer dít waarvan ons al vergeet het. Word ons dalk weer opnuut bewus gemaak van die wysheid en die waarheid, die skoonheid en die wonder van die lewe waarin ons ons bevind.

O, daar’s soveel vreugde in die bladsye van ʼn boek! Dit is medisyne vir die verdwaaldes.

 

 

Kwiksilwer – die begin en die einde

KWIKSILWER (1)

Ek het die laaste punt aan die einde van die laaste sin in die laaste paragraaf van Kwiksilwer met groot genoegdoening getik. Hoe heerlik om ʼn storie op jou rekenaarskerm te sien vorm aanneem. Hier sien ek met my eie oë hoe iets uit niets te voorskyn kom vanuit my verbeelding tot op my rekenaarskerm. ʼn Storie materialiseer en word ʼn boek – gedruk of andersins. Letterlik uit die niet. Wonderlik, is dit nie?

Kwiksilwer is klaar geskryf en ek het reeds begin met die redigering en die proeflees van die manuskrip.

Die storie vir Kwiksilwer, die eerste boek in die Fynbos-reeks, het na my toe gekom in ʼn droom. Die onderwerp vir ʼn storie kom gewoonlik self by my aan voor ek nog die vorige boek voltooi het en hier was dit nie anders nie. Ek wou hier ʼn verhaal skryf oor ʼn moderne jong vrou wat reeds stewig in haar beroep gevestig is. Die eise wat die beroepswêreld aan enige werkende vrou stel is die kern van die storie. Die rol van sosiale druk, die verwagtinge van familie en vriende, en die eise wat vroue aan hulself stel word hier uitgelig. Die fyn voetwerk om ook plek te vind vir die liefde, romanse en die gesin is ʼn wesenlike vraag waarop elke vrou haar eie antwoord moet vind.

Dis die verhaal van Theana Britz. Ek glo jy sal die storie geniet en dat dit vir jou iewers ʼn deur sal oopmaak na ʼn skrefie lig.

Geniet die reis. Ek het dit net vir jou geskryf.

 

Die vreugde van sukses

Omnibus 2.jpg        Omnibus 1

Ek het die afgelope tyd gewerk aan twee klein versamelings van my vroegste boeke en dit saamgevoeg in Omnibus 1 en 2. Elkeen bevat drie boeke en ek kon tot my groot vreugde en genoegdoening self die inhoudsopgawe by elkeen inwerk.

Dit was nie net lekker om te sien hoe die boeke skaars op die winkelrak geland het voor dit opgeraap is nie. Ook die suksesvolle samestelling van die twee bundels, saam met die gemak van klik op ‘n boek se naam of hoofstuk  wat jou reguit soontoe neem, was vir my opwindend en baie bevredigend.

Ek het iets nuuts geleer en ek het dit self gedoen.

Natuurlik moes my ander werk eers wag tot ek hierdie belangrike projek voltooi het, maar die tyd wat ek opgeoffer het om die leser se gemaklike beweging binne elke versameling te verseker, het daarvoor vergoed.

Ek beplan om elkeen van my  bestaande boeke so met ‘n inhoudsopgawe met skakels toe te rus net soos dit in al die ander Kindle boeke gedoen is. Ek hoop om ook die gedeelte  agter in die boek waar die leser sterre toeken in te sluit, maar dis ‘n avontuur vir later.

Ek is so bly dat julle my boeke koop en lees. Ek sien dit aan die grafiek wat vir ons skrywers beskikbaar gemaak word deur Amazon.com. Ek is dankbaar vir elke paar oë en elke hart wat saam met my die vreugde van ‘n boek ervaar.

Geniet die boeke en gaan loer gerus hier in:

OMNIBUS 1

https://www.amazon.com/OMNIBUS/dp/B01GQLU3YO/

OMNIBUS 2

https://www.amazon.com/OMNIBUS/dp/B01GSMOA40/

Die Lucerna Faktor nou beskikbaar

DIE LUCERNA FAKTOR

Falco Scuro, die Donker Valk, keer ná ʼn besoek aan die Ryk van Sapientia terug na Lucerna. Die Ryk van Lig is egter in duisternis gehul nadat die bose Timor van Falsum vir Lucerna aangeval en die Ligblom uit die Sfeer van Lig gesteel het. Lucerna, die Lamp van die Heelal, is nou byna onsigbaar, bewolk en vol skaduwees.

Falco Scuro verklaar terstond oorlog teen die bose Timor. Hy en sy Ligvalke moet ten alle koste die Ligblom terugkry in Lucerna. Indien die Lig nie skyn nie, kan Lucerna nie lig aan die ander ryke voorsien nie. Dan sal die Waarheid nie meer seëvier nie en die Leuen sal gedy. Die ryke sal in totale chaos en algehele donkerte verval en die inwoners sal uiteindelik sterf.

Die lig het nie net uit Lucerna verdwyn nie, maar ook uit Falco Scuro uit. Hoe het hy hier gekom? By hierdie punt waar hy so verdwaal het in sy eie donkerte?

Sal die Donker Valk daarin slaag om van die troebelheid binne-in homself ontslae te raak? Sal hy die skone Clara Lux, die Draer van Lig, wat die sleutel tot die raaisel hou, kan oortuig om vir altyd by hom op Lucerna te kom woon?

Lesersopinie deur Louise Viljoen:

Rachelle du Bois doen dit weer! Hierdie talentvolle skrywer se 13de eBoek, Die Lucerna Faktor, die tweede boek in die opwindende Faktor-fantasiereeks, is binnekort te koop.

Du Bois se verbeelding ken geen perke nie. Haar verhale is skoon, propvol avontuur, malse humor, liefde en heerlike fantasie. Ondersteun gerus hierdie onafhanklike skrywer. Afrikaans kan doen met skrywers soos sy.

Hier volg ʼn paar proetjies uit Die Lucerna Faktor:

Uittreksel:

“Klompies klein, knikkende kopbeentjies met klappende kakebene en knopperige knieë hardloop met litterige lyfies aan losserige lasse die hele Tenebris vol. Timor vryf verward oor sy ken en druk sy hand teen sy voorkop. Miskien is hy koorsig? Maar nee, sy voorkop is koel. Word hy dan nou stapelgek? Waar kom die spul grillerige geraamtetjies vandaan? Hy gil geskok toe van hulle op hom afstorm en hul ratelende tande in sy maer kuite inslaan. Hy spring en klap, trap hoog en laag, maar die benerige vingertjies gryp en klou vir ʼn vale.”

Uittreksel:

“Sy haal diep asem, word stil, roerloos, terwyl sy haar wortels uitstoot in die sagte, diep vrugbaarheid van die Aarde in. Sy lig haar arms en die groen sap van die lewe styg in haar lyf op tot sy ʼn stam vorm. Haar arms word sagte groen spriete en haar hande verander in teer nuwe blare wat stadig oopvou.

Daar vorm ʼn klein bloeisel, eers byna onsigbaar. Dit word groter, tot een vir een wasagtige blaar oopvou óm die sysagte kroonblare wat skitterend oopkelk asof daar ʼn lig van binne skyn. Die blom verhelder steeds tot kleurvolle, glansende spirale stadig daarom kolk en die hele reënwoud naderhand lyk asof dit deur die noorderligte verlig word.

Die skouspel duur nie lank nie. Die Lig verdof stadig, misterieus, tot net klein ligpuntjies meteens swiepende in die rondte tol in ʼn mal dans van kleurstrepe teen die donker.”

Uittreksel:

“Die slagslaners slaan op tromme, terwyl hulle kleurvolle pruike in alle windrigtings swaai. Snaarplukkers leun in ekstase agteroor tot hulle koppe byna aan die grond raak, terwyl die instrumente in hul benerige hande grom, huil en bewe. Die agtergrondkwakers het elkeen ʼn stormbord waarop hulle met kort stokkies tik. Voor elkeen is daar ʼn klankversterker wat hulle gille tot by die laaste linie van die verslae besoekers en deelnemers aan die Spele laat trek. Dan val die skreeubekke weg; hulle hardloop heen en weer, trippel, gil en skreeu by ronde bolle in wat op stokkies gemonteer is.”

Die boek is nou by Amazon.com beskikbaar. Klik net op die skakel hieronder.

https://www.amazon.com/dp/B01FUNBS5C

Jy wil ’n boek skryf, maar . . .

Inge Kindle Cover f47e8290-c806-45cf-ac43-6f9e7b6ad723[1]

Jy wil ’n boek skryf, maar waar en hoe begin jy? In hierdie gedeelte gaan ons by die begin begin. Heel voor.

  1. Jy moet eerstens weet in watter genre jy wil skryf. Daar word onderskeid gemaak in genrefiksie :
  • Misdaadfiksie
  • Fantasie
  • Wetenskapfiksie
  • Rillers
  •  Romantiese ontspanningsfiksie – romanse en liefdesromans verskil van mekaar
  • Historiese romans
  • Chick-lit
  • Christelike romans

Kinder-en jeugboeke

Poësie

Gaan lees meer hieroor in Die Afrikaanse Skryfgids –  saamgestel deur Riana Scheepers en Leti Kleyn.

  1. Skep ’n raamwerk vir jou storie met die volgende kolomme:

Hoofkarakter/s – hier skryf jy alles oor jou hoofkarakter neer.

Subkarakters – Doen dieselfde vir soos bo vir elke subkarakter en maak  seker dat jy weet watter rol hy/sy/hulle gaan speel in die storie. Hoe meer karakters hoe meer verwikkeld raak jou storie en hoe meer moet jy kophou.

Plek waar jou storie afspeel – Land, dorp, stad, ens.

Tyd as dit nodig is, bv. vir ’n historiese roman – jaar. Let op na jou seisoene.

Hoekom is ’n raamwerk nodig?

  • Jy leer jou karakters ken. Jy moet hulle soos die palm van jou hand ken, elkeen van hulle – waarvan hulle hou, wat hulle haat, wat hulle dryf, waar hulle vandaan kom, waar hulle woon en werk, hoe hulle grootgeword het, wie belangrik was in hul vroeër jare, wat hul beroep is, waarheen hulle mik, waaroor hulle droom, wat keer of weerhou hulle daarvan om hul droom te bereik, vir wie is hulle lief, hoe lyk hulle, wat haat hulle, wat irriteer hulle, ens.Jy kan nie met halfgebakte karakters ’n storie skep nie. Jy gaan in elkeen van hulle se kop inklim en hulle word terwyl jy skryf. Jy gaan dink, doen, sê, voel, ruik, sien, hoor en proe wat hulle dink, doen, sê, voel, ruik, sien, hoor en proe.
  • Dit skep vir jou ’n prentjie van die mense waaroor jou storie gaan
  • Dit sê vir jou teen watter agtergrond jou storie afspeel
  • Dit sê vir jou waar en wanneer jou storie afspeel
  • Dit skep die ruggraat van jou storie – jy moet weet waar wil jy met die storie heen
  • Dis ’n uiters belangrike verwysingsdokument – dit sal bv. keer dat jy jou hoofkarakter nie aan die begin van jou storie Piet Vermaak noem en later deur die storie Peet Veldskoen nie. Dit sal keer dat jy nie sê die storie speel in Braamfontein af maar later word dit Bloemfontein nie.
  1. Besluit hoe lank jou boek gaan wees – kyk op die internet na kort stories, romans, sagas, ens. Daar is klaarblyklik nie eenstemmigheid oor die hoeveelheid woorde nie. Tradisionele uitgewers soos Lapa Uitgewers vereis bv. 44000 woorde vir hul Romanza reeks en 70000 of meer woorde vir ’n roman, maar daar bestaan nie konsensus oor lengte nie. Jy kan dus jou boek so lank of so kort maak as wat jy wil omdat jy dit self gaan uitgee.
  2. Skryf. Jou woordeboek (HAT, Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls) is langs jou op jou tafel, want jy kan nie ’n storie skryf wat vol spel- en taalfoute is nie.
  • Waaroor gaan jou storie?
  • Oor wie gaan jou storie?
  • Wat gebeur hier?
  • Dis belangrik dat jy van die begin af let op die tegniese aspekte van jou dokument:
  • Skryf altyd op A4 grootte
  • Skryf in Times New Roman .12pt font
  • Skryf in dubbelspasiëring
  • Moenie jou dokument “format” nie.
  • Begin elke eerste paragraaf van ’n hoofstuk teen die kantlyn en  keep van daar af elke daaropvolgende paragraaf in tot aan die einde van die hoofstuk.
  • Gebruik die Ascii tabel vir kappies, deeltekens, koppeltekens, ens. Jy sal dit gratis van die internet kan aflaai. E-boeke vereis dit.
  • Jy kan regmaak soos wat jy skryf of jy kan dit los tot jy die stuk klaar geskryf het. Ek verkies om reg te maak soos wat ek skryf.
  • Maak tyd om te skryf, verkieslik dieselfde tyd elke dag.
  • Skryf elke dag ten minste 1000 woorde.
  • Kry vir jou ’n plek waar dit stil en rustig is en waar jy kan konsentreer.
  • Maak klaar waarmee jy begin het.
  • Lees

Lees en verstaan die genre waarin jy wil skryf. Daar is uitstekende boeke wat maklik verstaanbaar is. Ek beveel die volgende boeke aan vir romantiese ontspanningsfiksie:

Writing fiction for Dummies – Randy Ingermanson & Peter Economy

Writing a Romantic Novel – Donna Baker

Dis uiters belangrik dat jy boeke gaan lees oor hoe om te skryf.  Daar is baie uitstekende boeke oor hoe om te skryf. Ek beveel die volgende boeke aan:

Die Afrikaanse Skryfgids –  saamgestel deur Riana Scheepers en Leti Kleyn

How to structure your novel – K M Weiland

Write your novel from the middle – James Scot Bell

Besoek die webwerwe van bekende uitgewers soos Lapa, Human en Rousseau, NB Uitgewers, en vergewis jouself van hul vereistes. Al gaan jy jou boek self uitgee, is daar universeel aanvaarde reëls by die skryf van boeke.

Lees alles wat jy in die hande kan kry. Lees die boeke van skrywers wat skryf wat jy wil skryf.

  • Kyk wat skryf hulle.
  • Kyk hoe skryf hulle.
  • Kyk na hul taalgebruik – jy wil ’n kwaliteit produk op die rak sit, nie een wat in SMS taal geskryf is nie.
  • Kyk hoe lyk hul voorblaaie.
  • Kyk na die agterbladteks want jy gaan dit nodig kry vir jou eie boek.
  1. Besluit of jy die boek wil laat druk. Vind solank uit wat dit sal kos. Onthou dat jy jou boek self wil uitgee en dit sluit bemarking en verspreiding in. As jy die boek laat druk, sal jy dit self moet versprei. Is jy bereid om die ekstra tyd en geld aan bestellings en posgeld te spandeer? Volgende week: Jou manuskrip is nou klaar geskryf; maar hoe nou verder?
  2. Vra jouself die vraag: wat gaan met die harde boeke gebeur as jou boek nie verkoop nie?

Ons is nie almal so nie

Old Bookscanstockphoto10993883
Ek is ‘n onafhanklike skrywer van liefdesromans- en novelles en ek is goed daarmee. Ek het reeds my merk gemaak deur 10 boeke self uit te gee en te bemark. My boeke is reeds beskikbaar by Leserskring, Kwarts, myAfrikaans, Exclusive Books, Kalahari/Takealot, Leisure Books en Amazon.com. Die elfde boek uit my hand is reeds by my beta-lesers en ek hoop om dit binne die volgende twee maande op die rakke te hê. Ja, ek is trots op wat ek bereik het, maar ek is nie arrogant nie. Dit vat toewyding, baie harde werk en self-disspline om ‘n boek te skryf. Ongelukkig is ‘n graad of kursus in kreatiewe skryfkuns nie binne almal se bereik nie, en dis ook nie ‘n vereiste nie. As jy kan lees, kan jy praat, kan jy skryf. Ek het baie gelees en geleer oor hoe om te skryf, die kuns van storievertel, die moets en moenies van die uitgewersbedryf. En ek het onophoudelik geoefen deur te skryf. Ek glo my skryfwerk is van so ‘n gehalte dat dit binne die raamwerk van goeie skrywerk val. Daarom gee ek self my boeke uit. Nie alle onafhanklike skrywers lewer swak werk nie. Die bewyse is daar. Onafhanklike skrywers het jou ondersteuning nodig en verdien erkenning.

Skat van die Seerower

Skat van die Seerower Amazon 34df4949-cda6-4d5a-b5a5-6feca07a4995[1]

Daar is min te vergelyk met die gevoel van genoegdoening wanneer ‘n manuskrip voltooi is. Die groot werk lê natuurlik nog voor na die laaste woord geskryf is, want dan begin die redigering: die proeflees, die sif en uithaal, byskryf en oorskryf. Die grootste guns is wanneer iemand aanbied om jou manuskrip te proeflees of  te beta-lees, want dan kry onpartydige oë ‘n kans om te sien wat ek nie sien nie. Onafhanklike kommentaar is ‘n juweel en ‘n geskenk waarvoor ek nie my neus optrek nie.

Ek het die laaste hoofstuk van Die Seerower se Skat voltooi, en dit voel amper vir my asof daar nou ‘n lugleegte is. Die spasie waar my  gedagtes gefokus was, en my verbeelding vrye teuels gehad het, is nou gevul met my breinkind en die eskapades op die hoogsee saam met die skone Améli du Pré, en haar vriendin Vianne du Buisson. Die lieflike demoiselles val die twee edelman seerowers Jean le Veque en André le Mon ten prooi, maar die doel van die “seerowery” is die verlore familieskat van die Le Veque familie. Die skat is aan boord van Du Vent, die skip van Améli se pa waarop sy en Vianne reis. Améli is vasbeslote om die skat na Engeland te neem soos sy belowe het, maar Jean en André het ander planne. En dit sluit nie net die verlore skat in nie…

Die soektog na ‘n geskikte voorblad duur voort, want seerowers is gewoonlik nie van die mooiste en aantreklikste nie. Maar ons twee manne is Adonisse en ons moet aan hulle reg laat geskied.

Hou maar hierdie spasie dop vir nuus oor hierdie nuutste aanbieding. Dis ‘n romanse vir tieners, maar ek glo elke volwassene sal die avontuur met groot genoegdoening meemaak.