Tag Archive | dink

Medisyne vir die verdwaaldes

Roeiboot in stil water 10610627_1522495954656377_8649637274352178189_n

Soms loop ons radeloos en stoei met ʼn verlepte gees. Ons is meteens swerwers in ’n vreemde land, sonder aanwysers op onbekende paaie. Ons soek na ons spesiale rusplek om ʼn wyle daar te vertoef tot ons weer verkwik na siel en liggaam, en met nuwe lewenslus die pad vorentoe kan aandurf.

Daar’s boeke by hierdie rusplek. Dis die hart se biblioteek waar ons ons geliefdes vind. Waar ons telkens omhels word deur die bekende en ook die onbekende. Waar ons nader gewink word deur allerhande beloftes van nuwe wêrelde en ervarings. Dis daar waar die arms van ons gunstelingskrywers- en boeke ons verwelkom.

As ons slim is, skuif ons die stoel reg, en verruil dan hierdie uur, of twee, of drie, of sommer die hele dag, vir ʼn reis saam na die lewens, die liefde en die avonture van ander.

In die bladsye van ʼn boek beleef ons dalk weer dít waarvan ons al vergeet het. Word ons dalk weer opnuut bewus gemaak van die wysheid en die waarheid, die skoonheid en die wonder van die lewe waarin ons ons bevind.

O, daar’s soveel vreugde in die bladsye van ʼn boek! Dit is medisyne vir die verdwaaldes.

 

 

Die vroue van Paradys

Die vroue van Paradys

Hierdie boek vertel die storie van die helende krag van die liefde. Soms gebeur daar dinge waarvoor ons nie ʼn verklaring het nie. Ons is geneig om dit te ontken, weg te wens, te onderdruk, selfs om ons daarteen te verset.

Dit help alles niks, want, soos die Bybel sê, daar is ʼn tyd vir alles onder die son.

Die liefde bepaal sy eie tyd en kies die harte wat waardig genoeg is om dit te ontvang.

Die liefde soek die Vroue van Bergh Paradys in hierdie verhaal op. Riana, Elma en Inge Bergh bevind hulle onverwags op ongewone terrein; díe van onsekerheid, verwarring en vreemde verlange na ’n onbekende iets. Hul manlike bure word telkens oor hul pad gestuur sonder dat hulle of die vroue daarvoor soek. Hulle is skielik in mekaar se geselskap, in mekaar se hare, in mekaar se harte.

Vir Inge Bergh en André Grobler verloop die pad na mekaar toe deur diep valleie en hoë berge. Hulle bly die ontwykende antwoord najaag tot die stem van die stilte eindelik harder spreek as hul teenkanting teen mekaar. Eers toe hulle besef dat dit waarvoor André in die stilte wag, reeds daar is, kom ook die besef dat die stem van die liefde die sagter een is, maar aanhoudend roep tot die hart die fluistering in die stilte herken.

Die liefde laat hom nie aanjaag nie, en laat hom nie uitsluit nie, al druk jy jou ore toe en al sluit jy jou oë daarteen.

Hierdie mooi boek is by Amazon.com en ook nou vir die eerste keer in Suid-Afrika beskikbaar by die volgende skakels:

http://www.amazon.com/dp/B00QH7DDHM

Kwiksilwer – die begin en die einde

KWIKSILWER (1)

Ek het die laaste punt aan die einde van die laaste sin in die laaste paragraaf van Kwiksilwer met groot genoegdoening getik. Hoe heerlik om ʼn storie op jou rekenaarskerm te sien vorm aanneem. Hier sien ek met my eie oë hoe iets uit niets te voorskyn kom vanuit my verbeelding tot op my rekenaarskerm. ʼn Storie materialiseer en word ʼn boek – gedruk of andersins. Letterlik uit die niet. Wonderlik, is dit nie?

Kwiksilwer is klaar geskryf en ek het reeds begin met die redigering en die proeflees van die manuskrip.

Die storie vir Kwiksilwer, die eerste boek in die Fynbos-reeks, het na my toe gekom in ʼn droom. Die onderwerp vir ʼn storie kom gewoonlik self by my aan voor ek nog die vorige boek voltooi het en hier was dit nie anders nie. Ek wou hier ʼn verhaal skryf oor ʼn moderne jong vrou wat reeds stewig in haar beroep gevestig is. Die eise wat die beroepswêreld aan enige werkende vrou stel is die kern van die storie. Die rol van sosiale druk, die verwagtinge van familie en vriende, en die eise wat vroue aan hulself stel word hier uitgelig. Die fyn voetwerk om ook plek te vind vir die liefde, romanse en die gesin is ʼn wesenlike vraag waarop elke vrou haar eie antwoord moet vind.

Dis die verhaal van Theana Britz. Ek glo jy sal die storie geniet en dat dit vir jou iewers ʼn deur sal oopmaak na ʼn skrefie lig.

Geniet die reis. Ek het dit net vir jou geskryf.

 

Dronk van skoonheid

Ou boeke Facebook10256949_495859730515867_6730570642721716078_n[1]

Ons stap meestal by die seëninge op ons pad verby. Ons is bewus van die behoefte om iets te doen, iewers heen te gaan, die natuur op te soek, musiek te luister, met iemand te gaan gesels, of ʼn boek te lees wat jy so lankal wou.

As jy sou doen wat jou hart vir jou sê, nee, waarvoor jou hart pleit, wag daar ʼn stortvloed van seën op jou. Ja, ek gebruik die woord seën by gebrek aan ʼn meer toepaslike beskrywing van dit wat in jou hart invloei, en jou heeltemal onverhoeds betrap. Dis iets wat jou walle laat oorstoom, jou beker vul tot oorlopens toe, en jou stil en verwonderd laat. Dan wonder jy hoekom jy so lank uitgestel het.

Ek het gister ʼn boek gelees wat my so onkant betrap het dat ek nou nog steier onder die impak daarvan. As jy nog nooit ʼn boek gelees het wat met jou gepraat, en jou ten diepste geraak het nie, kyk jy die seën mis op die pad waarlangs jy loop. So ʼn boek gooi horisonne vir jou oop, en laat jou wonder of jy ooit voorheen geleef het.

Boeke hou boodskappe vir die hart, daarom is dit my skatkis waaruit ek weer en weer put sonder om ooit versadig te word. By elke keer se lees vind ek weer iets nuut, en word ek weer stil om te wonder oor die skoonheid van woorde en die kuns van storie vertel.

Ek begeer daardie kuns, maar meer nog, begeer ek al daardie boekseëninge wat langs die pad vir my wag. Ek sal van nou af met groot afwagting en oop oë loop sodat ek niks mis nie, want om ʼn seën mis te loop, is om bewusteloos te lewe.

Ek ek wil voluit lewe.

Die vasmeerplek

Roeiboot in stil water 10610627_1522495954656377_8649637274352178189_n

Dis soms so moeilik om jou plek weer te vind, veral as daar ontwrigting en groot verandering in jou lewe plaasgevind het. Dis nie vreemd om toe te gee aan die drang om jou kop toe te trek, oë toe te knyp, en net af en toe te loer of die woeste see om jou nou kalmer geword het nie. Dis selfbehoud wat jou so laat wegkruip, terwyl jy wag dat jou eens rustige boot wat nou wild op ʼn onbekende see dobber, na stiller waters vaar waar jy veilig genoeg voel om vas te meer. En om eers weer die begin van die kraaines van drade te kry sonder om skuldig te voel omdat dit so lank neem, omdat jy so nie weet nie, omdat jy onseker is oor of jy jou lewe weer aanmekaar geweef gaan kry.

Daar is ʼn bloudruk vir jou lewe. En ʼn kompas om die pad aan te dui. Ware Noord lê binne-in jou, en soos jou boot in ʼn stil plek vasgemeer lê, so moet jy terugkeer na die stil plek binne, daar waar rus is en waar jy antwoorde kry.

Eers dan kan jy begin aanstap na waar jy moet wees. Na die plek op jou bloudruk wat jy self gekies het, en jou kompas jou rigting aandui.

Drie dinge

Sarika 1979659_10203447633292312_2734216978133062774_n[1]

Hoe lyk agaat? Is dit groenblou met goudstrepies? Deurskynende blougroen en afhangend van hoe die lig val, verander die kleur – meer blou, dan meer groen. Pragtige oë. Haar pa se oë – haar oë. Nege-en-vyftig jaar oud, en vir die eerste keer kyk sy in haar eie oë. Kyk sy regtig. Opvallend die kleur. Sy sien die groenblou met goudstrepies en agter die kleur, die pyn en skugterheid van ʼn bokkie.

Hulle sê ʼn mens het drie dinge nodig om te kan leef: geloof, hoop en iets om voor te leef. Waarin of waaraan glo sy, wonder sy. Sy soek ver en wyd. God? Ja, tog. Die universele, alomteenwoordige; die tydlose en ewige: infinité. Was, is en sal altyd wees. Een persoon? Nee, dink sy; kan nie in een woord, een identiteit vasgevang word nie – in alles, om alles, oral.

Hoop? Hier staan sy lank stil. Wat is hoop? Dis nie ʼn vaste wete nie. Om te hoop is onsekerheid. Om iets te weet, is anders as om te hoop. Hoop is na buite gerig. Vaste wete is om te weet sonder twyfel – ʼn vaste onwrikbare wete sonder twyfel of dubbelsin. Verhoudinge word op hoop of vertroue in iets of iemand anders gebou. Sy voel sy staan hier op wankelrige grond. Hoop sy en vertrou sy nog ander mense? God? Is sy hooploos? Hopeloos?

Soms is sy byna waansinnig hooploos en wonder sy: is sy? Bestaan sy regtig? Of is dit net in haar kop dat sy bestaan? Dan roep sy sag die aandlug in en luister intens. Miskien is daar iemand daar buite wat haar hoor? Miskien ʼn antwoord? Die volronde silwer maan gooi dan net sy lig al witter oor haar uit al wag sy byna asemloos. Maar daar is geen antwoord nie, net die ritmiese pols van haar eie bloed, die klop van haar eie hart wat haar vertel dat sy bestaan. Is bestaan die polsing van die hart? Die klein klop-klop, klop-klop van die fetus? ʼn Fetus het die vooruitsig van lewe, maar lewe sy? Hoe bevestig sy haar eie bestaan? Haar lyf – dis die manifestasie van iets wat hul ʼn mens noem. Is dit die somtotaal van bestaan, wonder sy; hierdie lyf waarvan die buitelyne al skewer trek, en alles wat gister rond en ferm was, nou verlore iewers aan iets hang? Gister! Here! As gister bestaan het, en vandag – nou, hierdie oomblik, dan is daar seker ook ʼn môre? Wat is môre, as haar vandag net aaneengestringde dae in ʼn eindelose repetisie van alle vorige dae is – soos die son en die maan volg die een dag die ander na in perfekte nabootsing van die een die ander. Môre – wat is môre dan anders as vandag?

Miskien kom dit dan by die derde ding wat mens nodig het om te lewe – iets om voor te lewe, werk sy vorentoe uit. ʼn Doel, iets wat betekenis aan die lewe gee. ʼn Droom? Sal mens kan leef sonder ʼn droom? Want sy weet dat net ʼn droom haar uit hierdie doolhof van verwarring kan lei. Kan ʼn droom ʼn mens se bestaan bevestig, wonder sy. Is die feit dat mens jou ʼn droom kan verbeel, bewys dat mens bestaan? Kan mens nog droom op hierdie ouderdom? Of is dit ʼn hersenskim? Tydmors? ʼn Droom om nog weer iets te begin, iets te wees, menswaardigheid terug te kry, te reis, te werk en ʼn bydrae te lewer. Of is sy ʼn simpele ou vrou wat nie weet wanneer om op te hou nie? Moet sy nie maar net rustig hier wegkruip tot sy doodgaan nie? Of is sy reeds dood? Wat is die verskil tussen lewe en bestaan? Versigtig nou, maan sy haarself, want sy sal haarself gek maak met al hierdie vrae. Miskien moet sy die man in die maan vra, al antwoord hy haar nie. Kan sy dalk weer betekenis vind binne die niks van vandag en môre? Is sy so verblind deur haar eie introspeksie dat dinge by haar verbygaan sonder dat sy dit besef? Sy weet meteens dat sy opgehou het om die skoonheid binne-in haar, die groot Bron, op te soek. Daar waar die wil en die vermoë lê om te transendeer – op, uit, bo-oor die daaglikse sleur; om dit wat werklik saak maak te soek en te vind. Sy sal haar oë lig na ʼn nuwe horison en kyk. Want daar is die glans en die glorie van die son, en die maan, en die aarde in al haar volheid, en dis ook hare, want sy is uit stof, en sy sal daarheen terugkeer. Na die aarde toe waaruit sy kom.

Word ek dalk minder?

Kwarts 10292163_1560167300869804_8558200210816162206_n

Ek kom vangoggend weer af op hierdie pragtige gedig van Yannis Ritsos en dit laat my diep dink oor my eie waarde. Word ek minder as wat ek is in die lelike dinge van elke dag?

I’m not listening to you—he says—

I find the hill beautiful

the tree beautiful

the shadow of birds on the grass

and myself beautiful—he says—

in the water

or in the mirror

whatever you say

my part isn’t diminished

in the river or in a rose.

Yannis Ritsos from The Shadows of Birds (1980)