Tag Archive | fluistering

Tuiste vir my Hart

Tuiste vir my Hart 2

Tuiste vir my Hart, die tweede boek in die Fynbos-reeks, volg kort op die hakke van Kwiksilwer – Boek 1. Hierdie is die verhaal van Mitzi en Daniel, twee mense wat afsonderlik op reis is na die liefde. Dit neem hulle met ompaaie, deur berge en dale, deur donker en lig om tot die kern daarvan deur te dring. In die proses leer hulle dat die liefde so maklik is, maar nooit eenvoudig nie. Dit kan nie vasgehou of ingeperk word nie en slegs as dit toegelaat word om vryelik te vloei, loop dit die hele wese vol. Eers dan is dit volbring.

Mitzi Botha bedank haar werk in Randburg en vertrek na George in die Wes-Kaap om daar ‘n pos as bestuurder van die nog onklaar Fynbos Boetiekhotel te aanvaar. Die eiendom behoort aan haar vriendin, Theana Brandt, en die restoureerder van Fynbos se gebou is Daniel Brandt. Mitzi slaan sy voete onder hom uit toe sy op die lughawe aankom saam met haar kat Rigoletto. Hy wil haar hê, maar sy wil niks met hom te doen hê nie. Haar waaksame en versigtige houding skrik Daniel egter nie af nie en hy neem hom voor om uit te vind waarvan sy vlug en vir wie sy wegkruip. Hy sal nie rus voor hy nie haar geheim ken nie, want miskien sal hy haar dan verstaan.

Die uitpluis van die raaisel skud vir hom en Mitzi tot in hul fondamente. Sal sy hom kan vergewe vir dit wat hy sonder haar toestemming weet? Sal sy weet hoe om lief te hê?

Sal Daniel kan saamleef met dit wat hy van haar weet?

Die liefde is sy eie leermeester.

Die boek is nou beskikbaar by:

https://www.amazon.com/dp/B01KVLS0MC#nav-subnav

Die vroue van Paradys

Die vroue van Paradys

Hierdie boek vertel die storie van die helende krag van die liefde. Soms gebeur daar dinge waarvoor ons nie ʼn verklaring het nie. Ons is geneig om dit te ontken, weg te wens, te onderdruk, selfs om ons daarteen te verset.

Dit help alles niks, want, soos die Bybel sê, daar is ʼn tyd vir alles onder die son.

Die liefde bepaal sy eie tyd en kies die harte wat waardig genoeg is om dit te ontvang.

Die liefde soek die Vroue van Bergh Paradys in hierdie verhaal op. Riana, Elma en Inge Bergh bevind hulle onverwags op ongewone terrein; díe van onsekerheid, verwarring en vreemde verlange na ’n onbekende iets. Hul manlike bure word telkens oor hul pad gestuur sonder dat hulle of die vroue daarvoor soek. Hulle is skielik in mekaar se geselskap, in mekaar se hare, in mekaar se harte.

Vir Inge Bergh en André Grobler verloop die pad na mekaar toe deur diep valleie en hoë berge. Hulle bly die ontwykende antwoord najaag tot die stem van die stilte eindelik harder spreek as hul teenkanting teen mekaar. Eers toe hulle besef dat dit waarvoor André in die stilte wag, reeds daar is, kom ook die besef dat die stem van die liefde die sagter een is, maar aanhoudend roep tot die hart die fluistering in die stilte herken.

Die liefde laat hom nie aanjaag nie, en laat hom nie uitsluit nie, al druk jy jou ore toe en al sluit jy jou oë daarteen.

Hierdie mooi boek is by Amazon.com en ook nou vir die eerste keer in Suid-Afrika beskikbaar by die volgende skakels:

http://www.amazon.com/dp/B00QH7DDHM

Hoog in die takke

Tuiste vir my Hart 2

Om ‘n volledige boek  te skryf en te voltooi is soos om hoog in die takke te raak. Ek moet erken dat ek bietjie so voel. Hoog in die takke. Maar ek het niks gedrink nie. Ek het net die tweede boek in die Fynbos-reeks voltooi. Twee weke en heerlike ure se skryf het my van 14 Julie af – die dag toe ek vir Kwiksilwer (Boek 1 Fynbos-reeks) op Amazon.com gepubliseer het – tot nou, 31 Julie 2016 om 6:30 by die einde gebring van Tuiste vir my Hart, die tweede boek in die reeks.
 
Ek mag seker maar ‘n glasie klink op hierdie Sondagaand, op hierdie storie wat nou wag vir die mes van die redakteur. Daar’s nog baie werk voor, maar nou gaan ek eers rus en die manuskrip ook sodat ek met vars oë en skerp skêr kan inklim om hom te slyp en te poleer tot hy blink.
 
 

Kwiksilwer – die begin en die einde

KWIKSILWER (1)

Ek het die laaste punt aan die einde van die laaste sin in die laaste paragraaf van Kwiksilwer met groot genoegdoening getik. Hoe heerlik om ʼn storie op jou rekenaarskerm te sien vorm aanneem. Hier sien ek met my eie oë hoe iets uit niets te voorskyn kom vanuit my verbeelding tot op my rekenaarskerm. ʼn Storie materialiseer en word ʼn boek – gedruk of andersins. Letterlik uit die niet. Wonderlik, is dit nie?

Kwiksilwer is klaar geskryf en ek het reeds begin met die redigering en die proeflees van die manuskrip.

Die storie vir Kwiksilwer, die eerste boek in die Fynbos-reeks, het na my toe gekom in ʼn droom. Die onderwerp vir ʼn storie kom gewoonlik self by my aan voor ek nog die vorige boek voltooi het en hier was dit nie anders nie. Ek wou hier ʼn verhaal skryf oor ʼn moderne jong vrou wat reeds stewig in haar beroep gevestig is. Die eise wat die beroepswêreld aan enige werkende vrou stel is die kern van die storie. Die rol van sosiale druk, die verwagtinge van familie en vriende, en die eise wat vroue aan hulself stel word hier uitgelig. Die fyn voetwerk om ook plek te vind vir die liefde, romanse en die gesin is ʼn wesenlike vraag waarop elke vrou haar eie antwoord moet vind.

Dis die verhaal van Theana Britz. Ek glo jy sal die storie geniet en dat dit vir jou iewers ʼn deur sal oopmaak na ʼn skrefie lig.

Geniet die reis. Ek het dit net vir jou geskryf.

 

Heel nuut & heel anders: Die Vita Faktor

Die Vita Faktor .jpg

Hierdie jaar laat nie op hom wag nie en tyd hardloop alweer soos water deur ‘n mens se vingers. En saam met die haas kom daar wonderlike dinge op my pad. Ek kry onverwags goeie nuus van Thompson Boekdrukkery (http://www.thompsonboeke.com/ / http://www.afrifiksie.com/) oor my nuutste boek in die fantasie genre, Die Vita Faktor. Ek glo die boek sal binne die volgende paar weke sy verskyning maak. Dis heeltemal ‘n nuwe rigting vir my, maar ek het my gate uit geniet met die skryf hiervan. Hou maar hierdie spasie dop vir meer nuus hieroor.

Dis ‘n lekker storie oor Marcus de Winter, die bekende en suksesvolle kunstenaar op die dorpie Duiwelspiek wat een oggend in die hospitaal wakker word na ‘n taxi hom omtrent op sy stoep raakgery het. Hy vind dat hy skielik anders is: hy raak onsigbaar en verskyn weer, hy kyk goed stukkend . . . Hy verstaan niks van wat gebeur het nie en hy wil niks daarvan weet nie. En die beeldskone vrou langs sy bed? Feia Custos vertel vir hom sy is sy buurvrou en die eienares van die koffiewinkel langs sy ateljee. Maar sy is anders en hy voel hy ken haar al het hy haar nog nooit voorheen gesien nie. Dis ‘n storie vol intrige en kinkels en onverwagte verskynsels. En natuurlik is daar die bose Timor van die Ryk van Falsum wat ten alle koste vir Marcus wil terugkry.

Dink aan die moontlikhede . . .

Think Possibilities 10491994_571903722914001_6734294162770169401_n

Ek het my hand aan Wetenskapfiksie gewaag en met hierdie nuwe boek vorendag gekom. Hou saam met my duime vas vir:

DIE VITA FAKTOR

Marcus de Virtus voer ʼn rustige bestaan as ʼn suksesvolle kunstenaar op die dorpie Duiwelspiek in die ooste van Mpumalanga. Op ‘n dag ry ʼn taxi hom raak in die straat voor sy ateljee. Wanneer hy sy bewussyn in die hospitaal herwin, ontdek hy tot sy skok en ontsteltenis dat hy oor die vermoë beskik om onsigbaar te raak. Nog ander vreemde dinge gebeur met hom.

Daar is ʼn misterieuse vrou by sy bed met opvallende oë wat net soos syne lyk. Amandelvormige viooltjie-blou oë. Presies nes syne. Wie is hierdie vrou met haar goue hare en geheimsinnige optrede? Sy oorreed hom om saam met haar te gaan. Sy neem hom op ʼn reis wat sy lewe handomkeer verander.

Die Vita Faktor neem oor en Marcus bevind homself meteens in twee wêrelde. Hy is nie meer seker wie of wat hy is nie. Sy alleen kan die raaisel van die Vita Faktor ontsluit, en hy moet haar noodgedwonge volg om ’n verklaring te vind vir die skokkende en ontstellende gebeure wat sy lewe oorgeneem het.

Is ek dapper of onnosel? Ek weet nie, maar ek het gewaag.

Dronk van skoonheid

Ou boeke Facebook10256949_495859730515867_6730570642721716078_n[1]

Ons stap meestal by die seëninge op ons pad verby. Ons is bewus van die behoefte om iets te doen, iewers heen te gaan, die natuur op te soek, musiek te luister, met iemand te gaan gesels, of ʼn boek te lees wat jy so lankal wou.

As jy sou doen wat jou hart vir jou sê, nee, waarvoor jou hart pleit, wag daar ʼn stortvloed van seën op jou. Ja, ek gebruik die woord seën by gebrek aan ʼn meer toepaslike beskrywing van dit wat in jou hart invloei, en jou heeltemal onverhoeds betrap. Dis iets wat jou walle laat oorstoom, jou beker vul tot oorlopens toe, en jou stil en verwonderd laat. Dan wonder jy hoekom jy so lank uitgestel het.

Ek het gister ʼn boek gelees wat my so onkant betrap het dat ek nou nog steier onder die impak daarvan. As jy nog nooit ʼn boek gelees het wat met jou gepraat, en jou ten diepste geraak het nie, kyk jy die seën mis op die pad waarlangs jy loop. So ʼn boek gooi horisonne vir jou oop, en laat jou wonder of jy ooit voorheen geleef het.

Boeke hou boodskappe vir die hart, daarom is dit my skatkis waaruit ek weer en weer put sonder om ooit versadig te word. By elke keer se lees vind ek weer iets nuut, en word ek weer stil om te wonder oor die skoonheid van woorde en die kuns van storie vertel.

Ek begeer daardie kuns, maar meer nog, begeer ek al daardie boekseëninge wat langs die pad vir my wag. Ek sal van nou af met groot afwagting en oop oë loop sodat ek niks mis nie, want om ʼn seën mis te loop, is om bewusteloos te lewe.

Ek ek wil voluit lewe.