Tag Archive | gedagtes

Medisyne vir die verdwaaldes

Roeiboot in stil water 10610627_1522495954656377_8649637274352178189_n

Soms loop ons radeloos en stoei met ʼn verlepte gees. Ons is meteens swerwers in ’n vreemde land, sonder aanwysers op onbekende paaie. Ons soek na ons spesiale rusplek om ʼn wyle daar te vertoef tot ons weer verkwik na siel en liggaam, en met nuwe lewenslus die pad vorentoe kan aandurf.

Daar’s boeke by hierdie rusplek. Dis die hart se biblioteek waar ons ons geliefdes vind. Waar ons telkens omhels word deur die bekende en ook die onbekende. Waar ons nader gewink word deur allerhande beloftes van nuwe wêrelde en ervarings. Dis daar waar die arms van ons gunstelingskrywers- en boeke ons verwelkom.

As ons slim is, skuif ons die stoel reg, en verruil dan hierdie uur, of twee, of drie, of sommer die hele dag, vir ʼn reis saam na die lewens, die liefde en die avonture van ander.

In die bladsye van ʼn boek beleef ons dalk weer dít waarvan ons al vergeet het. Word ons dalk weer opnuut bewus gemaak van die wysheid en die waarheid, die skoonheid en die wonder van die lewe waarin ons ons bevind.

O, daar’s soveel vreugde in die bladsye van ʼn boek! Dit is medisyne vir die verdwaaldes.

 

 

Om in te val of nie

imagesuuza4tr0

Ek verwonder my telkens aan die diversiteit van die mens – onder andere die groepdiere en die alleenlopers.

Die groepdiere soek die sosiale lewe aktief op en floreer daarin. Sonder ander mense voel hulle verlore. Hulle jaag konstante aktiwiteit en opwinding na, want sonder dit is die lewe vaal en vervelig, en verval hulle sommer maklik in diep donkerte. Hulle het ander mense nodig om hul energie te voed en aan die gang te hou. Nie almal soek dit op dieselfde wyse op nie. Daar is dié wat helder ligte, roem en aanvaarding najaag. Daar is dié wat desperaat verlang na toelating tot ʼn sekere groep. Daar is dié wat na die erkenning smag van die voorstes in ʼn spesifieke gemeenskap. Daar is dié wat uit bewondering vir ʼn leier blindelings volg sonder om te bevraagteken.

Die gevaar hier is dat jy nooit jou eie krag leer ken nie, nooit sal weet waartoe jy regtig in staat is nie. Jy kan jou eie waarde eers raaksien wanneer jy alleen is. Wanneer jy onder die naghemel staan en self skitter soos ʼn ster. Wanneer jy geen behoefte meer het aan die gedrang en gewoel van die daaglikse lewe nie, en wanneer jy die rustigheid opsoek en vervulling vind in die stilte. Daar waar jou gees ongebonde en vry opstyg, en jy inspirasie vind in die klein dingetjies. Jy het nie meer die groot gedoe om jou, of oor jou, nodig nie. Jy is wie jy is en het niemand nodig om dit vir jou te sê nie. Jy vind meteens meer waarde in die natuur en in die onsienlike. Jy word ʼn wyse leermeester, ʼn mentor, vertrooster en helper.

Daar is plek vir elkeen iewers, soms net nie waar ons dit soek nie.

 

 

 

 

Die vroue van Paradys

Die vroue van Paradys

Hierdie boek vertel die storie van die helende krag van die liefde. Soms gebeur daar dinge waarvoor ons nie ʼn verklaring het nie. Ons is geneig om dit te ontken, weg te wens, te onderdruk, selfs om ons daarteen te verset.

Dit help alles niks, want, soos die Bybel sê, daar is ʼn tyd vir alles onder die son.

Die liefde bepaal sy eie tyd en kies die harte wat waardig genoeg is om dit te ontvang.

Die liefde soek die Vroue van Bergh Paradys in hierdie verhaal op. Riana, Elma en Inge Bergh bevind hulle onverwags op ongewone terrein; díe van onsekerheid, verwarring en vreemde verlange na ’n onbekende iets. Hul manlike bure word telkens oor hul pad gestuur sonder dat hulle of die vroue daarvoor soek. Hulle is skielik in mekaar se geselskap, in mekaar se hare, in mekaar se harte.

Vir Inge Bergh en André Grobler verloop die pad na mekaar toe deur diep valleie en hoë berge. Hulle bly die ontwykende antwoord najaag tot die stem van die stilte eindelik harder spreek as hul teenkanting teen mekaar. Eers toe hulle besef dat dit waarvoor André in die stilte wag, reeds daar is, kom ook die besef dat die stem van die liefde die sagter een is, maar aanhoudend roep tot die hart die fluistering in die stilte herken.

Die liefde laat hom nie aanjaag nie, en laat hom nie uitsluit nie, al druk jy jou ore toe en al sluit jy jou oë daarteen.

Hierdie mooi boek is by Amazon.com en ook nou vir die eerste keer in Suid-Afrika beskikbaar by die volgende skakels:

http://www.amazon.com/dp/B00QH7DDHM

Kwiksilwer – die begin en die einde

KWIKSILWER (1)

Ek het die laaste punt aan die einde van die laaste sin in die laaste paragraaf van Kwiksilwer met groot genoegdoening getik. Hoe heerlik om ʼn storie op jou rekenaarskerm te sien vorm aanneem. Hier sien ek met my eie oë hoe iets uit niets te voorskyn kom vanuit my verbeelding tot op my rekenaarskerm. ʼn Storie materialiseer en word ʼn boek – gedruk of andersins. Letterlik uit die niet. Wonderlik, is dit nie?

Kwiksilwer is klaar geskryf en ek het reeds begin met die redigering en die proeflees van die manuskrip.

Die storie vir Kwiksilwer, die eerste boek in die Fynbos-reeks, het na my toe gekom in ʼn droom. Die onderwerp vir ʼn storie kom gewoonlik self by my aan voor ek nog die vorige boek voltooi het en hier was dit nie anders nie. Ek wou hier ʼn verhaal skryf oor ʼn moderne jong vrou wat reeds stewig in haar beroep gevestig is. Die eise wat die beroepswêreld aan enige werkende vrou stel is die kern van die storie. Die rol van sosiale druk, die verwagtinge van familie en vriende, en die eise wat vroue aan hulself stel word hier uitgelig. Die fyn voetwerk om ook plek te vind vir die liefde, romanse en die gesin is ʼn wesenlike vraag waarop elke vrou haar eie antwoord moet vind.

Dis die verhaal van Theana Britz. Ek glo jy sal die storie geniet en dat dit vir jou iewers ʼn deur sal oopmaak na ʼn skrefie lig.

Geniet die reis. Ek het dit net vir jou geskryf.

 

Die vreugde van sukses

Omnibus 2.jpg        Omnibus 1

Ek het die afgelope tyd gewerk aan twee klein versamelings van my vroegste boeke en dit saamgevoeg in Omnibus 1 en 2. Elkeen bevat drie boeke en ek kon tot my groot vreugde en genoegdoening self die inhoudsopgawe by elkeen inwerk.

Dit was nie net lekker om te sien hoe die boeke skaars op die winkelrak geland het voor dit opgeraap is nie. Ook die suksesvolle samestelling van die twee bundels, saam met die gemak van klik op ‘n boek se naam of hoofstuk  wat jou reguit soontoe neem, was vir my opwindend en baie bevredigend.

Ek het iets nuuts geleer en ek het dit self gedoen.

Natuurlik moes my ander werk eers wag tot ek hierdie belangrike projek voltooi het, maar die tyd wat ek opgeoffer het om die leser se gemaklike beweging binne elke versameling te verseker, het daarvoor vergoed.

Ek beplan om elkeen van my  bestaande boeke so met ‘n inhoudsopgawe met skakels toe te rus net soos dit in al die ander Kindle boeke gedoen is. Ek hoop om ook die gedeelte  agter in die boek waar die leser sterre toeken in te sluit, maar dis ‘n avontuur vir later.

Ek is so bly dat julle my boeke koop en lees. Ek sien dit aan die grafiek wat vir ons skrywers beskikbaar gemaak word deur Amazon.com. Ek is dankbaar vir elke paar oë en elke hart wat saam met my die vreugde van ‘n boek ervaar.

Geniet die boeke en gaan loer gerus hier in:

OMNIBUS 1

https://www.amazon.com/OMNIBUS/dp/B01GQLU3YO/

OMNIBUS 2

https://www.amazon.com/OMNIBUS/dp/B01GSMOA40/

So, jy het ‘n boek geskryf . . .

canstockphoto7959079

So, jy het ‘n boek geskryf

Jy het dit na drie of meer uitgewers gestuur in die hoop dat hulle sou belangstel om dit uit te gee. In jou geestesoog het jy gesien hoe jou boek in sy pragtige omslag op die winkelrakke pryk. Jy het maande lank hoopvol gewag, die pos dopgehou.

Dis nou een jaar en etlike maande later. Al drie die uitgewers het jou manuskrip afgekeur en nou lê dit en stof vergaar iewers in ’n laai. Jy verstaan nie hoekom nie – jou ma het gesê dis pragtig, jou vrou/man dink jy’s ’n ster, jou boeties en sussies spog oor hul skrywer broer/suster. Maar jy is moedeloos en dink aan opgee, want as jy goed geskryf het, sou hulle mos jou storie aanvaar het vir publikasie, dan nie? Jy gaan nooit jou boek in jou hande hou of in die e-boekwinkels sien nie. Sug.

Verkeerd.

  • Jy kan deesdae ‘n boek skryf, laat proeflees/beta-lees/redigeer en self uitgee.
  • Jy kan dit so vining of so tydsaam doen as wat jy wil en jy wag vir niemand nie.
  • Die tegnologie het self-publikasie moontik gemaak en vandag kan enige skrywer ’n boek skryf, dit self uitgee, en dit by ’n boekwinkel soos Amazon.com verkoop.
  • Dit is selfs moontlik om jou boeke by al die Suid-Afrikaanse boekwinkels te plaas.
  • Dis ’n nuwe manier van boeke skryf en verkoop en het die buitelandse markte op hol.
  • Skrywers wag nou nie meer vir toestemming om te skryf en hul stories te verkoop nie. Hulle doen dit self.

Hou die volgende in gedagte as jy onafhanklik wil skryf en self wil uitgee:

  • Baie tyd, toewyding, self-dissipline en vasbyt is nodig.
  • Wees gereed vir baie ure se sit voor die rekenaar om jou storie uit jou kop uit op die rekenaarskerm te kry.
  • Sukses kom nie oornag nie.
  • Maak seker jou verhaal is goed geskryf, met geloofwaardige karakters, ’n sterk storielyn, sterk dialoog en vloeiende narratief. Lees, lees, lees ander skrywers se boeke; leer van hulle.
  • Moenie die fout maak om te dink jy kan ’n leser flous met ’n minderwaardige produk nie. Jou boek moet blink soos die son voor hy winkel toe gaan.
  • Jy moet jou eie werk doen – hierdie manier van boeke skryf en uitgee is baie nuut in Suid-Afrika en skrywers moet die geleentheid aangryp om so vining moontlik soveel moontlik boeke te skryf en in die winkels te kry.
  • Jy sal jou eie bemarkingsveldtog moet loods tensy jy iemand wil huur om dit vir jou te doen.
  • Jy het ’n webwerf nodig en tensy jy geld beskikbaar het, gaan jy dit self moet ontwerp.
  • Jy moet jou eie boek in ’n e-boek omskep wat op alle tablette gelees kan word.
  • Jy moet besluit of jy harde kopieë van jou boek wil laat druk. Dis baie duur en die boek moet op een of ander manier versprei word. E-boeke kos niks om uit te gee nie.
  • Moenie dink jy gaan oornag ryk word nie. Lesers moet eers van jou weet voor hulle jou boeke koop en as jou boek van goeie gehalte is, sal hulle weer jou boeke koop en ook vir ander daarvan vertel.
  • Moenie ontmoedig raak nie. Die eerste probeerslag is nooit die beste nie, maar soos met alle dinge, moet jy eers kruip voor jy kan loop.
  • As jy nie ander boeke lees oor hoe om te skryf nie, sal jy nie weet hoe nie en gaan lesers nie jou boeke koop en lees nie.

Dit kan verseker gedoen word volgens een skrywer wat reeds elf boeke geskryf en self uitgegee het.

As jy egter voel jy wil eerder die tradisionele pad volg en jou naam in koerantopskrifte sien, dan is die groot uitgewers vir jou. Jy moet kennis neem dat uitgewers (bv. Lapa, NB Uitgewers, Human & Rousseau, ens.) honderde manuskripte moet keur. Hulle is besige mense met baie streng vereistes waaraan tot die letter voldoen moet word en as jy nie vooraf uitgevind het wat hul van jou wil hê nie, sal hulle jou manuskrip afkeur.

Wat nie gesê word nie

Pearls canstockphoto6111406

Siekte dwing mens soms bed toe. Dis natuurlik ’n plek wat mens nie sommer andersins gewillig deur die dag opsoek nie. Tensy jy ’n boek het. Dit dwing jou tot stilte en refleksie. Dis dan wanneer ek my digbundels nader trek en stilte soek in woorde. In stiltes tussen woorde, in stiltes agter woorde, in wat nie gesê word nie. Dan soek ek en ek vind diep versteekte pêrels. ’n Skat wat ek sorgvuldig toevou en veilig wegsit om later weer na terug te keer. En elke keer vind ek meer van die kosbare juwele.

Hoe heerlik en bevrydend is ’n mooi gedig, ’n pragtige vers, ’n hartspraak deur die digter wat iets te sê het. Ek hoor, ek luister fyn, met die hart, met oog en oor. Ek is weereens verryk en ek koester die wete dat ek my besig gehou het met iets wat my skatkis voller maak. Daar is altyd plek vir meer vreugde en lig, meer skoonheid.

Want alles wat mooi en goed en opbouend is, is skoonheid. My soeke daarna is my lewensreis.

Ek plaas graag hierdie gedig van Jan de Bruyn vir jou:

Ek stuur vir jou

– behalwe groete –

alles wat ek sonder antwoord sê,

alles wat ek met die ver hande

van my oë pluk:

die wit blomme wolke

in ’n blou vlei;

die varings van stilte

wat in die berge van die jare groei.

Ek stuur vir jou ook

’n handvol van ’n môre hier

om teen jou oor te hou

soos ’n skulp

as die dae aanhou knars.

En ek stuur vir jou

die son die rooi lemoen

wat ek opgetel het

net anderkant vandag

net duskant die nag

vir lig om te drink

as ’n vaal reën aanhou val.