Tag Archive | gees

Tuiste vir my Hart

Tuiste vir my Hart 2

Tuiste vir my Hart, die tweede boek in die Fynbos-reeks, volg kort op die hakke van Kwiksilwer – Boek 1. Hierdie is die verhaal van Mitzi en Daniel, twee mense wat afsonderlik op reis is na die liefde. Dit neem hulle met ompaaie, deur berge en dale, deur donker en lig om tot die kern daarvan deur te dring. In die proses leer hulle dat die liefde so maklik is, maar nooit eenvoudig nie. Dit kan nie vasgehou of ingeperk word nie en slegs as dit toegelaat word om vryelik te vloei, loop dit die hele wese vol. Eers dan is dit volbring.

Mitzi Botha bedank haar werk in Randburg en vertrek na George in die Wes-Kaap om daar ‘n pos as bestuurder van die nog onklaar Fynbos Boetiekhotel te aanvaar. Die eiendom behoort aan haar vriendin, Theana Brandt, en die restoureerder van Fynbos se gebou is Daniel Brandt. Mitzi slaan sy voete onder hom uit toe sy op die lughawe aankom saam met haar kat Rigoletto. Hy wil haar hê, maar sy wil niks met hom te doen hê nie. Haar waaksame en versigtige houding skrik Daniel egter nie af nie en hy neem hom voor om uit te vind waarvan sy vlug en vir wie sy wegkruip. Hy sal nie rus voor hy nie haar geheim ken nie, want miskien sal hy haar dan verstaan.

Die uitpluis van die raaisel skud vir hom en Mitzi tot in hul fondamente. Sal sy hom kan vergewe vir dit wat hy sonder haar toestemming weet? Sal sy weet hoe om lief te hê?

Sal Daniel kan saamleef met dit wat hy van haar weet?

Die liefde is sy eie leermeester.

Die boek is nou beskikbaar by:

https://www.amazon.com/dp/B01KVLS0MC#nav-subnav

Die vroue van Paradys

Die vroue van Paradys

Hierdie boek vertel die storie van die helende krag van die liefde. Soms gebeur daar dinge waarvoor ons nie ʼn verklaring het nie. Ons is geneig om dit te ontken, weg te wens, te onderdruk, selfs om ons daarteen te verset.

Dit help alles niks, want, soos die Bybel sê, daar is ʼn tyd vir alles onder die son.

Die liefde bepaal sy eie tyd en kies die harte wat waardig genoeg is om dit te ontvang.

Die liefde soek die Vroue van Bergh Paradys in hierdie verhaal op. Riana, Elma en Inge Bergh bevind hulle onverwags op ongewone terrein; díe van onsekerheid, verwarring en vreemde verlange na ’n onbekende iets. Hul manlike bure word telkens oor hul pad gestuur sonder dat hulle of die vroue daarvoor soek. Hulle is skielik in mekaar se geselskap, in mekaar se hare, in mekaar se harte.

Vir Inge Bergh en André Grobler verloop die pad na mekaar toe deur diep valleie en hoë berge. Hulle bly die ontwykende antwoord najaag tot die stem van die stilte eindelik harder spreek as hul teenkanting teen mekaar. Eers toe hulle besef dat dit waarvoor André in die stilte wag, reeds daar is, kom ook die besef dat die stem van die liefde die sagter een is, maar aanhoudend roep tot die hart die fluistering in die stilte herken.

Die liefde laat hom nie aanjaag nie, en laat hom nie uitsluit nie, al druk jy jou ore toe en al sluit jy jou oë daarteen.

Hierdie mooi boek is by Amazon.com en ook nou vir die eerste keer in Suid-Afrika beskikbaar by die volgende skakels:

http://www.amazon.com/dp/B00QH7DDHM

Heel nuut & heel anders: Die Vita Faktor

Die Vita Faktor .jpg

Hierdie jaar laat nie op hom wag nie en tyd hardloop alweer soos water deur ‘n mens se vingers. En saam met die haas kom daar wonderlike dinge op my pad. Ek kry onverwags goeie nuus van Thompson Boekdrukkery (http://www.thompsonboeke.com/ / http://www.afrifiksie.com/) oor my nuutste boek in die fantasie genre, Die Vita Faktor. Ek glo die boek sal binne die volgende paar weke sy verskyning maak. Dis heeltemal ‘n nuwe rigting vir my, maar ek het my gate uit geniet met die skryf hiervan. Hou maar hierdie spasie dop vir meer nuus hieroor.

Dis ‘n lekker storie oor Marcus de Winter, die bekende en suksesvolle kunstenaar op die dorpie Duiwelspiek wat een oggend in die hospitaal wakker word na ‘n taxi hom omtrent op sy stoep raakgery het. Hy vind dat hy skielik anders is: hy raak onsigbaar en verskyn weer, hy kyk goed stukkend . . . Hy verstaan niks van wat gebeur het nie en hy wil niks daarvan weet nie. En die beeldskone vrou langs sy bed? Feia Custos vertel vir hom sy is sy buurvrou en die eienares van die koffiewinkel langs sy ateljee. Maar sy is anders en hy voel hy ken haar al het hy haar nog nooit voorheen gesien nie. Dis ‘n storie vol intrige en kinkels en onverwagte verskynsels. En natuurlik is daar die bose Timor van die Ryk van Falsum wat ten alle koste vir Marcus wil terugkry.

Droogte van die gees

images[8]

Droogte op aarde is erg. Dit laat geen lewe onaangeraak nie. Elke gras spriet, elke plant, mens en dier is bewus van die dorheid, van die smagting van die aarde na lewegewende water. Droogte se uitwerking op mens en dier is wyd bekend – sonder water kan daar nie lewe wees nie.

Maar die droogte van die gees is erger.

Die krake van dorheid en die uitgestrekte vlaktes vol niks maak daaglikse bestaan ʼn worsteling. Dis dan, wanneer niks die gees meer voed nie, dat die taaiste groeisels vatplek kry in die woesteny. Dan spruit die onkruid van venyn, afgunstigheid, kleinsieligheid, na-ywer en veroordeling uit elke kraak en skiet soos bome die lug in. Want hierdie groeisels kan nêrens anders bestaan nie – net in die dor, uitgedroogde vlaktes van die verlate gees.

Venyn word ʼn boom, maar sy blare gee nie skadu nie, sy dorings skiet soos pyle in alle rigtings en hoe groter die wonde, hoe sterker groei die boom. Maar die wortels sprei ook diep onder die oppervlak in die eie gees en dien daar dieselfde wonde toe. So teer venyn op homself en vernietig stuk vir stuk die lewe tot dit van bitterheid en na-ywer sterf.

Afguns se grypende arms skuif stadig uit en oor die krake, ongesiens kruip dit deur elke kraak en rank alles en almal wat voorkom toe. Die arms krul versmorend om elke voorwerp en elke lewe tot dit stadig doodwurg in die greep wat ook om homself gedraai is.

Kleinsieligheid is subtiel en groei amper skelm uit die dor landskap se krake. Dit word ʼn bos wat bitter bessies dra en die wat dors is nader wink met skelm oë en soet woorde, net om dan veroordelend die afgedopte vrugte die landskap vol te slinger vir ander om te vertrap en te bespot.

Na-ywer kom stadig van onder die harde kors te voorskyn en maak duister skadukolle oral waar daar lig deur die wolke breek. Dit verduister en verdoesel, dit steek weg en vertrap, dit gryp en veroordeel. Dit vergruis en verbrysel tot die ewige skadu ook oor hom sprei en hy stadig opkrul in sy eie duisternis en vergaan.

Veroordeling skiet vinnig en sterk uit die droë barse en word ʼn boom met wortels diep en uitgesprei. Dit dra penne en dit sit die voorste plekke waar die liefde hoort; waar die vrede en begrip is spring dit op en vermoor goedheid, vergifnis, geduld. Die penne dring ook diep in die eie hart en die gif daarvan sak af tot in die wortels tot die eie gees stadig verskrompel en kragteloos teen die dors vergaan.

Mag die seën van die lewegewende reën ook op die uitgedorde gees val en ‘n woud van lig en liefde, vergifnis, aanvaarding en wysheid opspring uit die krake.

 

Drie dinge

Sarika 1979659_10203447633292312_2734216978133062774_n[1]

Hoe lyk agaat? Is dit groenblou met goudstrepies? Deurskynende blougroen en afhangend van hoe die lig val, verander die kleur – meer blou, dan meer groen. Pragtige oë. Haar pa se oë – haar oë. Nege-en-vyftig jaar oud, en vir die eerste keer kyk sy in haar eie oë. Kyk sy regtig. Opvallend die kleur. Sy sien die groenblou met goudstrepies en agter die kleur, die pyn en skugterheid van ʼn bokkie.

Hulle sê ʼn mens het drie dinge nodig om te kan leef: geloof, hoop en iets om voor te leef. Waarin of waaraan glo sy, wonder sy. Sy soek ver en wyd. God? Ja, tog. Die universele, alomteenwoordige; die tydlose en ewige: infinité. Was, is en sal altyd wees. Een persoon? Nee, dink sy; kan nie in een woord, een identiteit vasgevang word nie – in alles, om alles, oral.

Hoop? Hier staan sy lank stil. Wat is hoop? Dis nie ʼn vaste wete nie. Om te hoop is onsekerheid. Om iets te weet, is anders as om te hoop. Hoop is na buite gerig. Vaste wete is om te weet sonder twyfel – ʼn vaste onwrikbare wete sonder twyfel of dubbelsin. Verhoudinge word op hoop of vertroue in iets of iemand anders gebou. Sy voel sy staan hier op wankelrige grond. Hoop sy en vertrou sy nog ander mense? God? Is sy hooploos? Hopeloos?

Soms is sy byna waansinnig hooploos en wonder sy: is sy? Bestaan sy regtig? Of is dit net in haar kop dat sy bestaan? Dan roep sy sag die aandlug in en luister intens. Miskien is daar iemand daar buite wat haar hoor? Miskien ʼn antwoord? Die volronde silwer maan gooi dan net sy lig al witter oor haar uit al wag sy byna asemloos. Maar daar is geen antwoord nie, net die ritmiese pols van haar eie bloed, die klop van haar eie hart wat haar vertel dat sy bestaan. Is bestaan die polsing van die hart? Die klein klop-klop, klop-klop van die fetus? ʼn Fetus het die vooruitsig van lewe, maar lewe sy? Hoe bevestig sy haar eie bestaan? Haar lyf – dis die manifestasie van iets wat hul ʼn mens noem. Is dit die somtotaal van bestaan, wonder sy; hierdie lyf waarvan die buitelyne al skewer trek, en alles wat gister rond en ferm was, nou verlore iewers aan iets hang? Gister! Here! As gister bestaan het, en vandag – nou, hierdie oomblik, dan is daar seker ook ʼn môre? Wat is môre, as haar vandag net aaneengestringde dae in ʼn eindelose repetisie van alle vorige dae is – soos die son en die maan volg die een dag die ander na in perfekte nabootsing van die een die ander. Môre – wat is môre dan anders as vandag?

Miskien kom dit dan by die derde ding wat mens nodig het om te lewe – iets om voor te lewe, werk sy vorentoe uit. ʼn Doel, iets wat betekenis aan die lewe gee. ʼn Droom? Sal mens kan leef sonder ʼn droom? Want sy weet dat net ʼn droom haar uit hierdie doolhof van verwarring kan lei. Kan ʼn droom ʼn mens se bestaan bevestig, wonder sy. Is die feit dat mens jou ʼn droom kan verbeel, bewys dat mens bestaan? Kan mens nog droom op hierdie ouderdom? Of is dit ʼn hersenskim? Tydmors? ʼn Droom om nog weer iets te begin, iets te wees, menswaardigheid terug te kry, te reis, te werk en ʼn bydrae te lewer. Of is sy ʼn simpele ou vrou wat nie weet wanneer om op te hou nie? Moet sy nie maar net rustig hier wegkruip tot sy doodgaan nie? Of is sy reeds dood? Wat is die verskil tussen lewe en bestaan? Versigtig nou, maan sy haarself, want sy sal haarself gek maak met al hierdie vrae. Miskien moet sy die man in die maan vra, al antwoord hy haar nie. Kan sy dalk weer betekenis vind binne die niks van vandag en môre? Is sy so verblind deur haar eie introspeksie dat dinge by haar verbygaan sonder dat sy dit besef? Sy weet meteens dat sy opgehou het om die skoonheid binne-in haar, die groot Bron, op te soek. Daar waar die wil en die vermoë lê om te transendeer – op, uit, bo-oor die daaglikse sleur; om dit wat werklik saak maak te soek en te vind. Sy sal haar oë lig na ʼn nuwe horison en kyk. Want daar is die glans en die glorie van die son, en die maan, en die aarde in al haar volheid, en dis ook hare, want sy is uit stof, en sy sal daarheen terugkeer. Na die aarde toe waaruit sy kom.

Ek skryf vir jou

images[1]

Vir wie skryf ek? Ek skryf vir jou, Alleenvrou. Vir jou wie se lewe ʼn stryd geword het. Vir jou wat alleen met een of meer klein kinders agtergebly het na ʼn egskeiding of ʼn mislukte verhouding. Vir jou wat niks het behalwe die liefde vir jou kinders en die vrees vir die toekoms nie.

Ek skryf vir jou, want ek wil vir jou vertel van jou innerlike krag, van dit wat binne jou wag, van verder kyk, van soek na die moontlikhede daar buite, terwyl jy sukkel om te oorleef. Ek skryf dit vir jou, want ek weet.

Ek skryf vir jou, Vrou, wat in ʼn rykmanshuis woon, maar elke dag ʼn bietjie meer van jou siel prysgee omdat jou man ontrou aan jou is, omdat hy sonder respek vir jou, vreemde vroue na jou bed toe bring. Vir jou, Vrou, wie se man ʼn prokureur of ʼn dokter of ʼn welaf sakeman is. Vir jou wat deur hom aangerand word – geslaan word op jou lyf waar niemand die kneusplekke kan sien nie. Net jy weet van die wonde aan jou gees. En die vrees vir die toekoms en die lewe van jou kind.  En ek vertel vir jou van ʼn vrou genaamd Mari. Want jy is Mari.

Vir jou wie se man ontrou is en wat dapper klou aan die sekuriteit van ʼn liefdelose huwelik, want jy het nooit geleer om jou eie bankrekening te hanteer, of jou eie huurooreenkoms te teken, of jou eie versekering uit te neem nie. Want hy het gesê dis nie nodig nie – hy sal vir jou sorg. Maar intussen het hy vir jou ʼn tronk gebou. Vir jou wat vervreemd van jou familie geraak het, want jy behoort aan hom, en aan niemand anders nie. Vir jou vir wie die lewe daarbuite ʼn dreigende duisternis is, nou bly jy maar by jou ontroue man, terwyl hy jou stadig vernietig. Jy en ander soos Mari.

En ek skryf vir jou, Jong Man, wat dink jy moet eers genoeg goed en geld hê om te kan liefhê. Eers as jy genoeg het, sal jy die vrou van jou hart kan opeis. Maar wanneer is genoeg? En wat laat jou dink sy gaan vir jou wag? Vir jou bring ek Thinus, Mari se broer, en sy liefde vir Deirdre.

En vir jou wat liefgekry het met die eerste oogopslag, wat weet jy het nie geleef voor sy nie daar was nie. Want voor haar was daar niks, en na haar sal daar niks wees nie. Vir jou bring ek Dewald en sy Mari.

Ek skryf vir jou, Man, wie se vrou jou aanrand. Vir jou wat so skaam en verneder is dat jy nooit met iemand daaroor praat nie, maar jou siel het in jou doodgegaan. Vir jou wat tussen jou familie, kollegas en jou vriende voorgee dat jou huwelik gelukkig is, dat alles is soos dit moet weet. Maar jy wil nie huis toe gaan nie, want die duiwel met haar flitsende oë, haar gille, haar skerp naels en venynige vuiste wag daar op jou. Want jou naam is Herman, en die liefde het jou verskrik en vernietig, en jy dink jy sal nooit weer liefhê nie. Tot daar eendag ʼn maandanser in jou tuin verskyn, en jy weer die roering voel van die liefde, en jy gedwing word om anders te kyk na dit waarvoor jy gevlug het. En jy kies om heel te word, want jy wil. En jy Beskuldig dan die LIefde.

En ek skryf vir jou, Juffrou, van die jong onderwyseres wie se kindervriend en jong man uit haar tienerjare skielik anders is. Van haar vreemde gesoek na die seun wat ʼn man geword het, en wie se gewone tergery nie net meer terg is nie, wie se aanraking nou anders is. Ek vertel vir jou van Trixie en haar buurman, Pieter Vonk. Ek bring dit alles vir jou in Beskuldig dan die Liefde.

Ek skryf vir jou wat nie dink jy kan weer begin leef na ʼn mislukte huwelik of verhouding nie, Man of Vrou. Vir julle wat bang en stukkend is. Vir jou wat nie vorentoe of agtertoe weet nie. Wat huil waar ander jou nie sien nie.  Vir jou wat vlug voor jou pa of jou man se dronkenskap. Vir jou wat jou vertroue in ander verloor het. Dis vir jou wat ek wil aanraak en verseker: ek weet van jou. Vir jou bring ek Lelani, met haar pyn, haar liefde vir haar boeta Chris, haar wantroue wat vertroue geword het. Vir jou bring ek haar oor begin, haar voor begin. Vir jou bring ek haar liefde vir Leon en sy liefde vir haar, die een wat haar geleer het dat die liefde heelmaak, ongeag jou omstandighede.

Ek skryf vir jou wat ʼn geliefde aan die dood afgestaan het, en nou alleen agterbly. Vir jou wie se fondamente geskud is en onder jou voete verkrummel het. Wie se lewe donker geword het. Vir jou wat smekend om hulp roep, maar niks hoor nie. Wat in die stilte van die nag wag, nag na nag. Vir jou bring ek Inge, wat help om André uit die donker terug te bring.

En vir jou bring ek Madri, en haar Alex uit Maalkolk.

Ek bring vir jou die skone vrou wat huiwer op die randjie van die afgrond toe sy by Oak Manor, die tuiste van Adam Blythe, aanmeld as huisbestuurder. Ek vertel vir jou van die verwoesting teweeggebring deur ongeluk en dood, van haar lewe van isolasie, pyn en verlies. Maar ek vertel ook van die rykdom van die liefde wat haar uiteindelik heel maak. En van die man in wie se skadu sy kon skuil, want sy is na hom toe gebring op ʼn voorafbepaalde tyd, en hy het vir Eve Vermont gewag. Dis alles in The Road to Eden.

Ek wil vir jou sê dat jou lewenspad vir jou vooruit bepaal is, dat die lewe soms dinge na jou gooi waarop jy nie voorbereid is nie, maar dat jy nie hulpeloos en uitgelewer is nie, want jy het altyd ʼn keuse binne jou omstandighede. En dat die fyn draad wat die een wat vir jou bedoel is aan jou verbind, onbreekbaar deur alle tye strek tot julle mekaar se paaie kruis. Ek bring vir jou Oak Seed, die jong ingenieur Martin Blythe, en die pragtige rooikop met die groen oë vir wie hy die eerste keer in die universiteitsbiblioteek sien. En hy weet: iets het onherroeplik vir hom verander. En hy het haar gesoek asof sy lewe daarvan afhang. Want sy volgende asemteug was Alicia. Sy, wat hom herken het, maar sy het hom nog nooit gesien nie. Sy het net geweet sy moet by hom wees. Sy moes kies tussen weerstand en dit wat vir haar bestem is. Tussen haar liefde vir ʼn onbekende man, en dit wat haar verstand vir haar sê.

Ek skryf vir jou, pragtige Jong Vrou, wat weet waar jy wil heen, wat weet wie jy is, jy wat dink die liefde laat hom voorskryf. Vir jou wat versigtig die kat uit die boom kyk, enkellopende Beroepsvrou, vir jou wat nog nie die hoogtes en die laagtes van die liefde gesien het nie. Vir jou wat lag, en leef asof môre nooit gaan kom nie. Vir jou bring ek na die Plek van die Flaminke, daar waar Delia, Alex en sy brak genaamd Banjo, die kunstenaar Madeleen, en die sensitiewe, maar koppige tjellis Xander, mekaar van naderby leer ken. Waar hulle agterkom liefde is nie net lywe nie, maar dat dit die hele lewe omhels en alles insluit.

En ek bring vir jou die pragtige Adele uit Maalkolk, bedorwe brokkie, pa se oogappel, wat gedink het sy gaan vir Francois maklik van die plaas af wegkry deur haar hooghartigheid en beterweterigheid. Maar sy het haar misgis, want Francois weet wie hy is, en hy weet wie hy wil hê: vir haar wat Adele is.

En ek bring jou om te luister na die Lied van Lorelei. Ek neem jou saam na die Laeveld waar twee jong, welaf sitrusboere hul lewe leef tot daar op ʼn dag ʼn spul vroumense met ʼn taxi opdaag om te kom vir onderhoude vir ʼn moontlike huwelik. En tot daar op dieselfde dag twee vroue verskyn wat alles is waarvoor hulle gewag het, wat vrouwees verpersoonlik, maar wat niks van hulle wil weet nie. En dit als oor die groot misverstand… Ek bring vir jou die lag, die chaos, die versoening.

Ek bring vir jou die boodskap dat die lewe jou vorentoe vat, soms na ʼn plek of ʼn punt toe waar jy nie wil wees nie; wat jy nie gekies het nie. Ek wil vir jou vertel dat jy daar moet wees, dat dit so moet wees as jy uiteindelik by die rusplek wil kom waar jou tuiste is. Daarom bring ek vir jou die storie van Pippa’s Story/Destined to Love, die weeskind uit Johannesburg wat alleen die pad aandurf na die klein dorpie Sierberg in die Vrystaat. Daar waar Julian du Toit vir haar wag omdat hy dit belowe het aan haar ouma. Die ouma van wie sy noot geweet het nie, en wat vir haar ʼn erfporsie ver groter gelos het as wat sy ooit besef het, want dit het Julian ingesluit.

Ek skryf om jou hoop te gee. Om jou aan te moedig om op te staan, om oor te begin en voor te begin. Om jou te help om te verstaan dat jy sterker is as wat jy dink. Dat vrees en terugslae kleiner is as die krag binne in jou. Dat jy beskik oor ʼn onblusbare gees, al voel dit nie nou vir jou so nie. Dat jy beskik oor die vermoë om te uit te styg bo al jou pyn en seerkry, al die bang môres, al die woede en vernedering, en om weer lief te hê by alle grense verby.

Ek skryf om jou te bemoedig, om te vertel dat die liefde stukkend slaan maar ook heel maak, dat dit jou oplig en uitlig, dat dit jou laat vlieg na die hoogtes waar die arend sy nes maak. Want jy is ʼn arend, nie ʼn hoender nie. Jy hoort daar bo, en daar is iemand wat jou soontoe sal vergesel, maar wat nooit namens jou sal vlieg nie. Jy moet dit self doen.

Maar bo dit alles, skryf ek vir jou oor die liefde tussen ʼn man en ʼn vrou.

Dis vir jou en oor jou wat ek skryf.

Dis romanse.

Vir meer inligting oor hierdie boeke, klik regs op https://rachelledubois.com/nuwe-boeke/. Die skakels sal jou regtuit soontoe vat.

Die boeke kos tussen R50.00 en R70.00 elk.

‘n Kort kort storie: Sy wou nog sê…

images[1]

Hy kom haastig ingestap, ʼn klein glimlag om sy mond toe hy haar sien. Sy hou hom dop en merk dat hy nie veel verander het nie. Sy het hom amper vier-en-twintig jaar gelede vir die laaste keer gesien en hy lyk nie ouer nie, net effens breër van lyf. Geen sigbare grys hare nie, nie veel plooie nie. Vir ʼn man van sy ouderdom lyk hy baie goed.

Hy skuif langs haar op die sitplek in en buk glimlaggend oor om haar te soen.

“Hoe gaan dit?” vra sy, bly om hom te sien. Uiteindelik sit hy hier by haar, na al die jare.

“Goed, en met jou? Kan ek maar anderkant sit dan kan ek jou beter sien?” vra hy en sy knik.

“Ja, natuurlik. Ek’s bly jy het darem die plek gekry. Ek het amper gedink ek sal jou moet gaan soek, en dan kom soek jy my dalk weer,” lag sy en steek haar hande spontaan na hom uit.

“Dis so goed om jou te sien.” Sy lag is dieselfde as hy dadelik albei haar hande in syne neem en dit stewig druk. Hy laat haar onmiddellik gaan en sy laat hul voor haar op die tafel rus. Sy het soveel om te vra, soveel om te sê.

“Hoe gaan dit met jou? Jy lyk goed.” Sy bekyk hom aandagtig, en hy vir haar, maar sy kan nie die kleur van sy oë sien nie. Sy soek na die kleur van die pragtige oë van die man oorkant haar, maar die lig verberg dit, steek dit vir haar weg. Sy soek na die blou wat haar so kon vashou jare gelede.

“Dit gaan goed, en met jou? Jou familie?” vra hy en kyk na die kelner wat langs die tafeltjie huiwer.

Hul gesprek draai om die stadsverkeer, die winkelsentrum, die kinders, hul geliefdes en bekendes. Hy wys foto’s op sy selfoon, maar sy weet hul het meer om te sê as waaroor hul praat. So baie meer.

Hul vul die kort swanger stiltes vinnig in met inligting oor die ekonomie, die politiek, die amper hopelose situasie in die land.

Terwyl hul praat oor ander dinge, weet sy dat die tyd deur hul vingers glip sonder dat sy sê wat sy vir hom wil sê. Sy wil vir hom sê dat sy nie spyt is oor wat gebeur het nie, dat sy gewonder hoe dit sou gewees het as dinge vir hul anders was, dat sy so verskriklik bly is om hom te sien. Sy wil vir hom sê hoe mooi hy nog vir haar is. Dat sy eens nog saam met hom by kerslig wou eet, sy huis vir hom wou mooi maak, stylvol aan sy sy wou wees. Sy wil sê hoe graag sy eens nog met hom oor die dansvloer wou sweef, in sy arms wou wees waar sy gedink het sy is veilig.

Eens, toe die aarde onder haar voete verkrummel het, en sy met moeë  arms en hande na vashouplek gesoek het. Maar sy wil ook sê dat hy die regte besluit geneem het. Dat iets in haar gesterf het toe hy weg is, en dat sy vir ʼn tyd opgehou leef het. Sy wil vir hom vertel die drif om te leef was sterker, en soos saad wat moes sterf voor dit weer kan groei, het sy weer in die donker rykdom van die grond ontkiem, en haar kop bo die grond uitgesteek om ʼn groot boom te word met baie blare, en ʼn groot skaduwee met koelte waar uitgeputte lewensreisigers ʼn oomblik kan rus.

Sy wil vir hom vertel dat sy nie meer die jong vrou is wat hy geken het nie; dat sy onomkeerbaar verander het. Nie net uiterlik nie, maar sy is ouer, wyser. Sy is nie meer die vrou met die verleidelike lyf en die stukkende lewe wat hy leer ken het soveel jare gelede nie. Sy is nie meer die slagoffer nie, sy het die oorwinnaar geword. Sy wag nie meer vir die ridder op die wit perd nie, maar sy het haar eie perd opgesaal. En sy is tot die tande toe gewapen met die wapenrusting wat sy self gekies het op haar lewenspad. Kan sy dit waag om hom daarvan te vertel? Haar wapenrusting is so anders as die konvensionele… Sal hy verstaan as sy vir hom vertel dat sy die onuitputlike bron van krag binne haar ontdek het? Dat sy nie meer vir ander wag om vir haar blomme te bring nie, maar dat sy haar saad in haar eie tuin saai, en haar eie blomme pluk? Dat sy waarlik vry is?

Sy wil vir hom sê dat sy bly is hy is hier, dat hy weer moet kom, maar dat sy net vry kan wees as sy vrylaat en dat hy daarom vry is….

Hul stilte is swanger en tog sê hul nie wat in hul hart lê nie. Hul ongesproke woorde lê tussen hulle soos ʼn muur, en as die tyd om is, groet hy, staan op en begin wegstap.

“Kom soen my,” roep sy toe hy begin aanstap en hy draai vinnig om. Sy mond is nog sag soos sy dit onthou.

En sy het steeds nie die kleur van sy oë gesien nie.