Tag Archive | goeie

Tuiste vir my Hart

Tuiste vir my Hart 2

Tuiste vir my Hart, die tweede boek in die Fynbos-reeks, volg kort op die hakke van Kwiksilwer – Boek 1. Hierdie is die verhaal van Mitzi en Daniel, twee mense wat afsonderlik op reis is na die liefde. Dit neem hulle met ompaaie, deur berge en dale, deur donker en lig om tot die kern daarvan deur te dring. In die proses leer hulle dat die liefde so maklik is, maar nooit eenvoudig nie. Dit kan nie vasgehou of ingeperk word nie en slegs as dit toegelaat word om vryelik te vloei, loop dit die hele wese vol. Eers dan is dit volbring.

Mitzi Botha bedank haar werk in Randburg en vertrek na George in die Wes-Kaap om daar ‘n pos as bestuurder van die nog onklaar Fynbos Boetiekhotel te aanvaar. Die eiendom behoort aan haar vriendin, Theana Brandt, en die restoureerder van Fynbos se gebou is Daniel Brandt. Mitzi slaan sy voete onder hom uit toe sy op die lughawe aankom saam met haar kat Rigoletto. Hy wil haar hê, maar sy wil niks met hom te doen hê nie. Haar waaksame en versigtige houding skrik Daniel egter nie af nie en hy neem hom voor om uit te vind waarvan sy vlug en vir wie sy wegkruip. Hy sal nie rus voor hy nie haar geheim ken nie, want miskien sal hy haar dan verstaan.

Die uitpluis van die raaisel skud vir hom en Mitzi tot in hul fondamente. Sal sy hom kan vergewe vir dit wat hy sonder haar toestemming weet? Sal sy weet hoe om lief te hê?

Sal Daniel kan saamleef met dit wat hy van haar weet?

Die liefde is sy eie leermeester.

Die boek is nou beskikbaar by:

https://www.amazon.com/dp/B01KVLS0MC#nav-subnav

So, jy het ‘n boek geskryf . . .

canstockphoto7959079

So, jy het ‘n boek geskryf

Jy het dit na drie of meer uitgewers gestuur in die hoop dat hulle sou belangstel om dit uit te gee. In jou geestesoog het jy gesien hoe jou boek in sy pragtige omslag op die winkelrakke pryk. Jy het maande lank hoopvol gewag, die pos dopgehou.

Dis nou een jaar en etlike maande later. Al drie die uitgewers het jou manuskrip afgekeur en nou lê dit en stof vergaar iewers in ’n laai. Jy verstaan nie hoekom nie – jou ma het gesê dis pragtig, jou vrou/man dink jy’s ’n ster, jou boeties en sussies spog oor hul skrywer broer/suster. Maar jy is moedeloos en dink aan opgee, want as jy goed geskryf het, sou hulle mos jou storie aanvaar het vir publikasie, dan nie? Jy gaan nooit jou boek in jou hande hou of in die e-boekwinkels sien nie. Sug.

Verkeerd.

  • Jy kan deesdae ‘n boek skryf, laat proeflees/beta-lees/redigeer en self uitgee.
  • Jy kan dit so vining of so tydsaam doen as wat jy wil en jy wag vir niemand nie.
  • Die tegnologie het self-publikasie moontik gemaak en vandag kan enige skrywer ’n boek skryf, dit self uitgee, en dit by ’n boekwinkel soos Amazon.com verkoop.
  • Dit is selfs moontlik om jou boeke by al die Suid-Afrikaanse boekwinkels te plaas.
  • Dis ’n nuwe manier van boeke skryf en verkoop en het die buitelandse markte op hol.
  • Skrywers wag nou nie meer vir toestemming om te skryf en hul stories te verkoop nie. Hulle doen dit self.

Hou die volgende in gedagte as jy onafhanklik wil skryf en self wil uitgee:

  • Baie tyd, toewyding, self-dissipline en vasbyt is nodig.
  • Wees gereed vir baie ure se sit voor die rekenaar om jou storie uit jou kop uit op die rekenaarskerm te kry.
  • Sukses kom nie oornag nie.
  • Maak seker jou verhaal is goed geskryf, met geloofwaardige karakters, ’n sterk storielyn, sterk dialoog en vloeiende narratief. Lees, lees, lees ander skrywers se boeke; leer van hulle.
  • Moenie die fout maak om te dink jy kan ’n leser flous met ’n minderwaardige produk nie. Jou boek moet blink soos die son voor hy winkel toe gaan.
  • Jy moet jou eie werk doen – hierdie manier van boeke skryf en uitgee is baie nuut in Suid-Afrika en skrywers moet die geleentheid aangryp om so vining moontlik soveel moontlik boeke te skryf en in die winkels te kry.
  • Jy sal jou eie bemarkingsveldtog moet loods tensy jy iemand wil huur om dit vir jou te doen.
  • Jy het ’n webwerf nodig en tensy jy geld beskikbaar het, gaan jy dit self moet ontwerp.
  • Jy moet jou eie boek in ’n e-boek omskep wat op alle tablette gelees kan word.
  • Jy moet besluit of jy harde kopieë van jou boek wil laat druk. Dis baie duur en die boek moet op een of ander manier versprei word. E-boeke kos niks om uit te gee nie.
  • Moenie dink jy gaan oornag ryk word nie. Lesers moet eers van jou weet voor hulle jou boeke koop en as jou boek van goeie gehalte is, sal hulle weer jou boeke koop en ook vir ander daarvan vertel.
  • Moenie ontmoedig raak nie. Die eerste probeerslag is nooit die beste nie, maar soos met alle dinge, moet jy eers kruip voor jy kan loop.
  • As jy nie ander boeke lees oor hoe om te skryf nie, sal jy nie weet hoe nie en gaan lesers nie jou boeke koop en lees nie.

Dit kan verseker gedoen word volgens een skrywer wat reeds elf boeke geskryf en self uitgegee het.

As jy egter voel jy wil eerder die tradisionele pad volg en jou naam in koerantopskrifte sien, dan is die groot uitgewers vir jou. Jy moet kennis neem dat uitgewers (bv. Lapa, NB Uitgewers, Human & Rousseau, ens.) honderde manuskripte moet keur. Hulle is besige mense met baie streng vereistes waaraan tot die letter voldoen moet word en as jy nie vooraf uitgevind het wat hul van jou wil hê nie, sal hulle jou manuskrip afkeur.

Skat van die Seerower

Skat van die Seerower Amazon 34df4949-cda6-4d5a-b5a5-6feca07a4995[1]

Daar is min te vergelyk met die gevoel van genoegdoening wanneer ‘n manuskrip voltooi is. Die groot werk lê natuurlik nog voor na die laaste woord geskryf is, want dan begin die redigering: die proeflees, die sif en uithaal, byskryf en oorskryf. Die grootste guns is wanneer iemand aanbied om jou manuskrip te proeflees of  te beta-lees, want dan kry onpartydige oë ‘n kans om te sien wat ek nie sien nie. Onafhanklike kommentaar is ‘n juweel en ‘n geskenk waarvoor ek nie my neus optrek nie.

Ek het die laaste hoofstuk van Die Seerower se Skat voltooi, en dit voel amper vir my asof daar nou ‘n lugleegte is. Die spasie waar my  gedagtes gefokus was, en my verbeelding vrye teuels gehad het, is nou gevul met my breinkind en die eskapades op die hoogsee saam met die skone Améli du Pré, en haar vriendin Vianne du Buisson. Die lieflike demoiselles val die twee edelman seerowers Jean le Veque en André le Mon ten prooi, maar die doel van die “seerowery” is die verlore familieskat van die Le Veque familie. Die skat is aan boord van Du Vent, die skip van Améli se pa waarop sy en Vianne reis. Améli is vasbeslote om die skat na Engeland te neem soos sy belowe het, maar Jean en André het ander planne. En dit sluit nie net die verlore skat in nie…

Die soektog na ‘n geskikte voorblad duur voort, want seerowers is gewoonlik nie van die mooiste en aantreklikste nie. Maar ons twee manne is Adonisse en ons moet aan hulle reg laat geskied.

Hou maar hierdie spasie dop vir nuus oor hierdie nuutste aanbieding. Dis ‘n romanse vir tieners, maar ek glo elke volwassene sal die avontuur met groot genoegdoening meemaak.

Dronk van skoonheid

Ou boeke Facebook10256949_495859730515867_6730570642721716078_n[1]

Ons stap meestal by die seëninge op ons pad verby. Ons is bewus van die behoefte om iets te doen, iewers heen te gaan, die natuur op te soek, musiek te luister, met iemand te gaan gesels, of ʼn boek te lees wat jy so lankal wou.

As jy sou doen wat jou hart vir jou sê, nee, waarvoor jou hart pleit, wag daar ʼn stortvloed van seën op jou. Ja, ek gebruik die woord seën by gebrek aan ʼn meer toepaslike beskrywing van dit wat in jou hart invloei, en jou heeltemal onverhoeds betrap. Dis iets wat jou walle laat oorstoom, jou beker vul tot oorlopens toe, en jou stil en verwonderd laat. Dan wonder jy hoekom jy so lank uitgestel het.

Ek het gister ʼn boek gelees wat my so onkant betrap het dat ek nou nog steier onder die impak daarvan. As jy nog nooit ʼn boek gelees het wat met jou gepraat, en jou ten diepste geraak het nie, kyk jy die seën mis op die pad waarlangs jy loop. So ʼn boek gooi horisonne vir jou oop, en laat jou wonder of jy ooit voorheen geleef het.

Boeke hou boodskappe vir die hart, daarom is dit my skatkis waaruit ek weer en weer put sonder om ooit versadig te word. By elke keer se lees vind ek weer iets nuut, en word ek weer stil om te wonder oor die skoonheid van woorde en die kuns van storie vertel.

Ek begeer daardie kuns, maar meer nog, begeer ek al daardie boekseëninge wat langs die pad vir my wag. Ek sal van nou af met groot afwagting en oop oë loop sodat ek niks mis nie, want om ʼn seën mis te loop, is om bewusteloos te lewe.

Ek ek wil voluit lewe.

Word ek dalk minder?

Kwarts 10292163_1560167300869804_8558200210816162206_n

Ek kom vangoggend weer af op hierdie pragtige gedig van Yannis Ritsos en dit laat my diep dink oor my eie waarde. Word ek minder as wat ek is in die lelike dinge van elke dag?

I’m not listening to you—he says—

I find the hill beautiful

the tree beautiful

the shadow of birds on the grass

and myself beautiful—he says—

in the water

or in the mirror

whatever you say

my part isn’t diminished

in the river or in a rose.

Yannis Ritsos from The Shadows of Birds (1980)

Die vreugde van 2014: ek het probeer

images[8]

Hierdie jaar was ʼn besonder bedrywige, maar baie suksesvolle jaar vir my. In alle opsigte is daar voldoen aan elke behoefte. Elke versugting en begeerte wat ek uitgespreek het, elke wens is vervul.

Ek kan dit maar net toeskryf aan die feit dat ek doen waarvoor ek hier is. Dit wat ek veronderstel is om te doen, is om te skryf. Dit is my lewensdoel en waarvoor ek bestem is.

Ek het eers werklik begin leef toe ek hierdie waarheid begryp. Want hierdie besef het gekom saam met die wete dat ek eers regtig lééf as ek besig is om te skryf. Dis al wat ek wou doen, en as ek daarmee besig is, bestaan niks anders vir my nie. Die storie vloei uit my uit soos ʼn rivier en dis met verwondering dat ek nou net voor Kersfees terugsit en besef ek het hierdie jaar 10 boeke gepubliseer – agt het ek self uitgegee, en twee is deur Kwarts Uitgewers op die groot boekwinkels se webwerwe versprei.

Voldoen al my stories aan die groot geeste se vereistes? Nee, by verre nie, maar ek moes iewers begin, en vandag het ek meer geleer en gelees as wat ek ooit gedink het ek sal doen. Maar ek wou, en ek het.

Dis heerlik, dis wonderlik en ek loop op lig!

My doel is om deur my skryfwerk en my boeke inspirasie, wysheid en vreugde te bring. Om die lag in die dag te sit, om die mooi uit te wys, om elke oomblik se romanse bewustelik aan te gryp. Want die lewe is vol van romanse – dis nie net in die lyflike nie, maar ook in die hart. Waar daar liefde is, is daar lewe, is daar romanse.

Gaan doen wat jou hart vir jou sê om te doen. Wat is jou begeerte? Wat is die een ding wat jy bo alles begeer om te doen? Moenie sê: “ek kan nie, want…” Vergeet van ek kan nie. Vra liewer: “hoe kan ek dit doen?” Begin dan met die einddoel. Waarheen mik jy? Skryf dit neer en staan terug. Begin dan jou pad beplan met die eerste treë, dan die volgende, en die volgende wat jy moet gee om daar te kom.

Word soos water – vloei om die hindernisse op jou pad. Vind ʼn weg bo-oor of daarom, maar moet nooit fokus verloor nie. Jy sal dalk ʼn ander roete volg, maar jou einddoel bly dieselfde. Word stil en wag vir wysheid en inspirasie. Gaan sit stil, maak jou oë toe en vra: hoe moet ek hier maak? Jy sal verbaas wees oor die antwoord wat spontaan vir jou gegee word. Treë vir treë sal jou pad vir jou oop gaan – mits jy doen wat jou hart vir jou sê. Dit gebeur as jy jou lewensdoel vervul.

Doen dit. Die keuse is joune. Die vrugte daarvan is meer as waarvan jy ooit kon droom.

 

Die liefde vir die goeie

canstockphoto7032152

Ek vind myself soms ver verwyderd van die werklikheid as die musiek my saam vat met die styging en daling, die fluistering, die huppeling van die note. Musiek kan smeek, huil, jubel, fluister, afhangend van die komponis se bedoeling en die musikale kunstenaar se vertolking. Hoe heerlik om net soms my oë toe te maak en die lieflikheid oor my te laat spoel. Mens luister met die hart en dan praat die stem van skoonheid so sag, maar so duidelik.

Ek kan nie sonder goeie musiek leef nie – die drama en betowering van opera, die goddelike vertolking van die kunstenaars,  en dan ook klasieke musiek. Luister nou net na die Warsaw Concerto van Adinsell- ongelooflike klavierspel en orkeswerk waaraan ek my net oorgee. Dan is daar die lieflike klavierconcerto’s van Chopin, die Clair de Lune van Debussy, Beethoven se vyfde klavierkonsert en vele meer. Sit vir Daniel Barenboim voor die klavier, dan het jy betowering. Luister net na die eerste gedeelte van Bruch se vioolkonsert – goddelike musiek. Niks, maar niks kan jou so oplig en wegneem van die alledaagsheid nie, niks sluit vir jou die hemelse so oop nie.

Sit nou hierby heerlike kos – gee vir my ‘n ciabatta brood met olyfolie, mozzarella kaas, avokadopere, kersietamaties, vars basiliekruid en goeie rooi wyn daarby, dan kan die wêreld maar by my verbygaan…

En moenie die goeie geselskap vergeet nie – my liewe vriendin met wie ek oor poësie, filosofie, en so meer kan gesels, met wie ek my liefde vir die opera deel en ook dit wat met die hart praat, en die wyses om my tafel wat slimmigheid verkoop om ons te laat skaterlag, of ons te laat nadink of onthou…

Bring nou ook die blomme – bakke vol rose. Die wit iceberg rose in my tuin wat my huis so vol  blomme maak. Die skoonheid daarvan laat my soms verstom staan en verwonderd…

En dan die boeke – sonder boeke kan ek nie, glad nie. Wat sou ek sonder Goethe, Kafka, Mark Twain, Tolstoi, Jane Austen, al die Engelse classics en ons eie skrywers en digters wees?

Dis vir my nodig – hiersonder kan ek nie.