Tag Archive | hart

Die blywende vreugde

Pearls canstockphoto6111406

Daar is min wat vergelyk met die gevoel van diep bevrediging as mens iets gedoen het wat aan jou vreugde en genoegdoening verskaf. Dink nou maar aan ’n goeie boek. Daardie sug van behaaglikheid as mens die laaste bladsy lees; die laaste paragraaf; die laaste sin. Dan blaai jy eers weer terug na die stukke wat jy gemerk het om weer te lees. Dit is soos reën op droë grond, soos dou in die oggend, soos wind wat deur jou waai en jou verfris na ’n lang dag se hitte.

Ek het saam met die karakters van Nicholas Sparks deur hul wonderlike lewens gestap. As leser het ek stil geword by die beskrywings van die natuur, die agtergrondsketse, die intense gevoelvolheid waarmee hierdie skrywer sy karakters in sy verhale in weef. Ek het soms onwillekeurig my oë gesluit om te voel en te sien wat hy beskryf. Die prentjies is so duidelik asof ek self daar was, in die verhaal op daardie tydstip.

Dit is ʼn kuns om die konteks en die omgewing waarbinne jou verhaal afspeel so te beskryf dat die leser dit in sy verbeelding kan sien en ervaar. Dit is ook iets wat heel dikwels afgeskeep word. Niemand bestaan tog in ʼn vakuum nie. Daar is altyd ʼn plek, ʼn omgewing, ʼn huis of blyplek, ʼn straat, ʼn beroep wat beskryf moet word. Daar is die natuur, die wind en die weer. Al hierdie dinge gee vleis aan jou storie en help die leser om die karakters in die konteks te plaas waar die verhaal hom afspeel.

Ek het geleer om met my hart en my sintuie te skryf, en te lees. Daar is geen ander manier nie.

Rachelle

 

Advertisements

Elke nuwe begin

Snail 10470891_841198432622509_2594558303180483519_n

Om weer aan die gang te kom aan die begin van ’n nuwe jaar, is ’n groot uitdaging vir sommige en ’n groot verligting vir ander. Na die lang skoolvakansie en die kans om weg te breek en te gaan uitspan op ʼn ander plek as by jou huis – dis te sê as jy gelukkig genoeg is om dit te kan doen – is dit amper ʼn skok om weer tuis te kom en van vooraf te begin hardloop om alles reg te kry vir die komende skooljaar, en ook om weer die leisels op te tel by die werk.

Vir sommige is dit ʼn verligting om weer tuis te wees na die malligheid van die feesseisoen. Of om tuis te wag dat die tydperk oor die einde van ʼn ou jaar en die oorgang na die nuwe tog net verby moet gaan.

Almal is nie altyd ewe opgewonde oor die feestyd nie, want vir party is dit ʼn tyd van seerkry, verlies, pyn en trane. Van iemand onthou wat weggegaan het of skielik deur die dood weggeruk is.

Ek gaan hierdie nuwe jaar in met die besef dat ek ʼn geleentheid het om weer ʼn nuwe begin te maak. Nie net met ʼn nuwe jaar nie, maar met elke dankbare asemteug begin ek nuut. Elke oggend wink en elke aand skitter van belofte. Daarom gaan ek die tyd gebruik om my lewe in te rig met alles wat skoon en mooi is.

Dis tog binne my bereik om dit te kan doen.

Om die skoonheid van die natuur te waardeer, die verfrissing van water, of ʼn geurige blom. Ek gaan ʼn punt daarvan maak om bewustelik elke klein plesier en vreugde raak te sien en te koester. Op hierdie manier sal ek my lewe volmaak, ten spyte van dit wat bedags by die werkplek, of op die pad, of waar ookal, gebeur. Ek gaan doelbewus soek na vreugde te midde van die chaos van die lewe.

En ek sal weet dat die oplossing vir elke probleem reeds in aantog is en spontaan sal verskyn wanneer die tyd ryp is. Ek onderneem om niks vandag te oordeel nie, om tyd te maak om in die natuur deur te bring om die intelligensie en die wonder van die lewe te ervaar.

Ek sal vandag die lewe se goeie en mees kosbare gawes gee: vriendelikheid, deernis, omgee, geld, kos, ʼn glimlag, ʼn seën, ʼn gebed, ʼn blom. Ek sal dit weer met dankbaarheid uit die hand van die lewe ontvang en so die ewige siklus van gee en dankbare ontvang in stand hou.

Ek sal vandag my keuses oorweeg en luister na my hart om te bepaal of ek myself of iemand anders skade gaan berokken of seermaak met wat ek kies om te doen of dink, want wat ek saai sal ek maai. Dit is die wet van oorsaak en gevolg en dit wat jy dink en doen, sal na jou terugkom in gelyke maat.

Ek sal mense, dinge, situasies, omstandighede en gebeurtenisse aanvaar net soos dit is op hierdie gegewe oomblik, sonder om my daarteen te verset of in opstand te kom, want ek weet dat dit is soos wat dit moet wees – nou. Ek gaan nie veg of weerstand bied teen iets wat ek nie kan verander nie. Ek sal geduldig wag vir die oplossing om spontaan te voorskyn te kom sodra die tyd ryp is.

Ek sal verantwoordelikheid vir my eie situasie aanvaar en niemand beskuldig nie, want dit is soos dit is, en die oplossing vir die probleem is reeds in aantog te midde van die chaos. Dit weet ek verseker, want ek het dit gesien.

Ek gaan niemand van my standpunt probeer oortuig, dit regverdig, of dit verdedig nie, want ek weet dat elkeen geregtig is om te wees wie hy is, of om sy lewe te kies soos hy dit wil sonder dat ek hom in ʼn rigting wil dwing. Ek sal kyk en leer uit die onbeperkte opsies wat aan my voorgehou word en my eie keuse maak sonder om ʼn ander te benadeel.

Ek sal my eie hartsbegeertes oordink en dit oorgee aan die vrugbare oneindigheid om dit vir my te bring, weer en weer. In hierdie klein hande sal die oorvloed gegee word om weer uit te deel. So sal ek skoonheid skep vir myself en vir ander.

Ek sal onsekerheid in my lewe toelaat en die wysheid van die onbekende omhels. Ek sal my losmaak van gister en môre, en hierdie oomblik omhels met al die opgewondenheid en wonder van ʼn kind, want wie weet wat wag nou vir my in hierdie opwindende minuut, uur, of dag.

Ek sal vandag die mensdom dien deur aan hulle my boeke te bring. Al die lewe se vreugde, lag en trane, al die lief en leed, die romanse, hartstog en liefde van die hart. Ek sal met hulle die waarheid en wysheid deel soos ek dit verstaan.

En ek sal liefde gee waarvan my hele hart so vol is. Daarom, liefde en vreugde en seën vir julle!

Rachelle du Bois

 

 

 

Tyd vir ‘n blaaskans

Pearls canstockphoto6111406

Boek vier, Pad na my Hart, is uit my hande en op pad na die winkel toe. Nou moet dit plek maak vir iets anders, maar die lekker van die skryf daarvan sit nog soos heuning op my tong. Ek draai dit om en om, en bekyk dit van alle kante, terwyl ek tevrede my kop knik en stilletjies glimlag.

In my hart en gedagtes is daar reeds roeringe vir Somme vir my Hart, die vyfde boek in die Fynbos-reeks. Die nuwe idees vir die boek begin onstuitbaar soos blink borrels boontoe styg. Dit kan seker ook nie anders met die mooi voorblad wat reeds gereed is en wat my deur die volgende maand of wat gaan inspireer nie.

My verstand sê rus nou eers. Na ses nuwe boeke in 2016 is ek geregtig op ‘n blaaskans, maar watter skrywer kan nou ‘n nuwe storie weerstaan? Veral as hy so verleidelik by jou kom aanlê en allerhande moontlikhede jou naderlok tot jy na jou rekenaar gryp en begin aantekeninge maak. En as jy jou weer kom kry, skryf jy een bladsy na die ander en vergeet jy dat die dae by jou verby glip tot Kersfees skielik ‘n dag weg van jou kom staan.

Ek verlei myself met die vooruitsig van lees en weer lees van boeke wat nooit uit die mode gaan nie. Die English Classics van Jane Austen, Charles Dickens, die Brontë susters en nog vele ander; Tolstoy se War and Peace, en Anna Karenina wat my hart uitmekaar geskeur het. “Ek het gekom om te wees waar jy is . . .”

Miskien sal ek weer ‘n slag my opera DVDs uitpak en huil saam met Angela Gheorghiu as Violetta, of Renee Fleming as Taïs, of Anna Netrebko as Tatiana in Eugen Onegin, of Raina Kabaivanska en ‘n jong Domingo in Tosca. Ja, ja, ek sal die gordyne toetrek en die wêreld uitsluit en die opera besoek. Nou wel nie in La Scala of die Metropolitan nie, maar tuis is net so goed, want die herhaal knoppie is so gemaklik naby . . .

Tussen boeke en musiek kan ek ure, dae en weke laat verdwyn.

Ek hoop jy gaan dieselfde doen en dit wat jou so na aan die hart lê, maar waarvoor jy nie tyd kry nie, bymekaar kry en tyd maak vir jouself.

Moenie jou digbundels vergeet nie, hoor.

Rachelle

Ek sal vandag ‘n fluit wees

flute-canstockphoto12266797

Ek kom vanoggend op hierdie wysheid van Gibran af:

When you work you are a flute through whose heart the whispering of the hours turns to music . . . And what is it to work with love? It is to weave the cloth with threads drawn from your heart, even as if your beloved were to wear that cloth.

 Kahlil Gibran

The Prophet

Ek sal dus vandag ‘n fluit wees met die fluistering van die ure soos musiek in my hart. Ek sal met liefde werk en die kleed weef met fyn drade, want dalk, net dalk sal my geliefde dit dra.

 

Doepa vir my hart

doepa-vir-my-hart

Ek het nou net die laaste sin van DOEPA VIR MY HART klaar geskryf. Ek is so dankbaar en opgewonde! Maar nou kom die groot proeflees en redigering.

Wanneer sal Doepa beskikbaar wees? Hopelik teen die einde van Oktober 2016. Wees maar op die uitkyk. Die eerste twee in die Fynbos-reeks, Kwiksilwer en Tuiste vir my Hart, verkoop reeds flink op Amazon.com, en ek glo julle sal die storie van Wynand en Bella in DOEPA net so geniet.

Waaroor gaan hierdie liefdesroman? Hier is ‘n kort beskrywing net om jou leeslus bietjie aan te wakker:

Bella Buys is ʼn baie suksesvolle sakevrou met haar eie besigheid. Sy bestuur en bedryf Bella Donna, haar skoonheidsalon, soos ʼn kaptein sy skip. Sy is onafhanklik en sterk, maar sy is ook ʼn petite brunette wat manne se harte week maak en hulle dryf daartoe om haar te wil beskerm en hul kleim af te steek.

Wynand Brandt is ʼn mediese dokter en sy werk is om te heel. Bella lok hom soos ʼn mot na ʼn vlam. Hy verstaan dit nie, want sy is nie siek nie en sy het nie beskerming nodig nie. Hy weier om enigiets verder met haar te doen te hê, want hy is nie van plan om weer sy sagte vlerke te laat skroei nie. Wegbly van haar af is sy enigste opsie.

Maar dis toe nie so maklik nie, want die liefde laat hom nie voorskryf nie. Dit bly die enigste doepa vir die hart.

Sal hierdie twee mense wat van kindertyd al van mekaar weet, tot ʼn vergelyk kom en darem ruimte laat vir die hart om te gedy?

Wees saam met my bly oor hierdie derde boek in die Fynbos-reeks en hou my hande vas tot ek dit klaar blink gepoets het en dit in jou hande plaas.

Ek het dit net vir jou geskryf.

 

 

 

Groot liefdes

Photo0061

Ek het groot liefdes in my lewe. Nee, ek praat nou nie van mense nie, want hulle beslaan ʼn hele huis op hul eie. Ek praat nou van ander dinge waarsonder ek nie kan lewe nie. Dinge wat my so verryk en so diep raak dat ek net ʼn halwe mens sou wees daarsonder.

Een so ʼn liefde is die natuur. Daar is intelligensie daar. Om dit daagliks te sien en getuie te wees daarvan is ʼn wonder op sigself. Geen mens vertel vir die lobelias om pers te blom nie, dis in hul aard om dit te doen. Geen mens vertel vir die vinke om kwetterend nes te bou in die boom voor my venster nie. Hulle doen dit, want dis in hulle aard. En buitendien is dit lente – die tyd van die liefde. Niemand wys vir die varing hoe om nuwe blare oop te rol en te vermeerder nie. Hulle doen dit, want dis in hulle aard. Die oënskynlik dooie boomstomp spruit na baie maande, of selfs jare, skielik uit. Teer, groen uitloopsels verskyn uit die donker bas – dis in sy aard om herbore te word, eindeloos soos die seisoene, oor en oor.

Net so is dit in my aard om deel te wees van die natuur se skeppingsproses. Net so is ek verbind aan die naelstring wat alles bymekaar hou en saam laat werk sonder enige instruksie, want dis in my aard.

O, dan is daar my liefde vir musiek. Het jy al met jou hart geluister na musiek wat jou uit jou self uit lig en jou neem na ʼn plek waar daar net klank is? Lieflike klank wat geen eise aan jou stel nie, behalwe net om te voel hoe jou hele wese oorgeneem en gevul word, tot net die musiek bestaan. Dis vir my die hemel, hierdie oomblikke teen skemer met die deure wyd oop en die musiek wat daaruit oor die tuin spoel. Ek bestaan dan nie. Ek raak geheel weg tot ek later, as dit stil word, net die aand se geluide hoor. Eers dan weet ek ek is nog hier in liggaam.

Boeke. Sonder boeke en woorde en wysheid kan ek nie. Ek word telkens verkwik na siel en liggaam deur ʼn mooi boek, of ʼn gedig wat fyn geweef is met woorde. Ek sou baie armer gewees het as dit nie vir boeke was wat my ledige ure en soms dae gevul het nie. Wat ʼn seën is ʼn goeie boek wat uit die hart geskryf is; wat ten doel het om vreugde te verskaf aan elke leser. ʼn Goeie boek is nie kieskeurig nie. Hy is daar vir die hande wat hom wil optel en oopmaak. Hy dwing niemand nie. Maar as jy kies om hom oop te slaan en jouself aan die woorde en die storie oor te gee, is jy verryk teen die einde. En wil jy meer hê. ʼn Onversadigbare honger is my liefde vir boeke.

Sonder stilte en rustigheid kan ek nie. Stilte krap nie die gees om nie en skraap jou nie rou nie. Ek is altyd oneindig dankbaar as ek van ʼn inkopietog af terugkeer na my huis. Na die stilte, die kalmte en die rustigheid. Dis my hawe. Dis waar ek geanker word deur my tuin, my musiek en my stilte.

Elkeen moet so ʼn plek hê. Waar jy net kan wees en kan word.

Ja, daar is meer as net hierdie paar groot liefdes vir my. Soos goeie, intelligente geselskap en goeie kos. Maar dit sal ook weer nog ‘n hele bladsy op sy eie nodig kry. Kom ons los dit vir later.

Medisyne vir die verdwaaldes

Roeiboot in stil water 10610627_1522495954656377_8649637274352178189_n

Soms loop ons radeloos en stoei met ʼn verlepte gees. Ons is meteens swerwers in ’n vreemde land, sonder aanwysers op onbekende paaie. Ons soek na ons spesiale rusplek om ʼn wyle daar te vertoef tot ons weer verkwik na siel en liggaam, en met nuwe lewenslus die pad vorentoe kan aandurf.

Daar’s boeke by hierdie rusplek. Dis die hart se biblioteek waar ons ons geliefdes vind. Waar ons telkens omhels word deur die bekende en ook die onbekende. Waar ons nader gewink word deur allerhande beloftes van nuwe wêrelde en ervarings. Dis daar waar die arms van ons gunstelingskrywers- en boeke ons verwelkom.

As ons slim is, skuif ons die stoel reg, en verruil dan hierdie uur, of twee, of drie, of sommer die hele dag, vir ʼn reis saam na die lewens, die liefde en die avonture van ander.

In die bladsye van ʼn boek beleef ons dalk weer dít waarvan ons al vergeet het. Word ons dalk weer opnuut bewus gemaak van die wysheid en die waarheid, die skoonheid en die wonder van die lewe waarin ons ons bevind.

O, daar’s soveel vreugde in die bladsye van ʼn boek! Dit is medisyne vir die verdwaaldes.